Nuusbrief-header
19 November 2021
kunstekuiers_2021
facebook instagram custom 
Geagte Ouers / Voogde

’n Groot dankie aan almal in die Jan van Riebeeck-gemeenskap wat my verjaardag gister so spesiaal gemaak het - ek waardeer dit baie. Die kinders en onderwysers het my omtrent bederf.

Ek het gister opnuut besef hoe talentvol en kreatief ons leerders is!
Ek deel graag met u ’n gedig wat die baie talentvolle Giulia Nel in die graad 10 geskryf het.

GISTER, VANDAG, MORE
Die konsep van tyd
Is ’n vreemde ding
Vandag word gister
En more raak vandag
En alles wat jy gedink het
of gesê het
of gedoen het
Val W
E
G
Alles verander
en tyd loop aan
en die gedagte van grootword
Is nou ’n realiteit
En voordat jy jou oë uitvee is jy 40 en
vandag is nie gister nie
En more is nie vandag nie
En die wêreld hou aan draai
En alles maak nou sin
En tyd is net ’n konsep
En nie die realiteit nie

CAVAN GEKEUR VIR DIE BURGER-JEUGLEIERSKONFERENSIE
Baie geluk aan ons JvR-hoofleier, Cavan McKeown, wat as een van 50 topjeugleiers in die land gekeur is om deel te wees van die 63ste Die Burger Jeugleierskonferensie.
Vanjaar se konferensie word vanaf 13-15 Desember aangebied.

Die jeugleiers neem jaarliks hier deel aan gesprekke rondom leierskap, kry die geleentheid om hul eie leierskapvaardighede te slyp en neem belangrike aktuele kwessies krities onder die loep. Ons is baie trots op jou, Cavan. Geniet dit!

CAYLE STOLTZ OP PAD ENGELAND TOE
Ons is baie trots en saam met Cayle opgewonde vir die wonderlike geleentheid dat hy ’n volle beurs ontvang het om vanaf Januarie tot Maart volgende jaar as uitruilstudent by die spogseunskool Harrow School in Engeland skool te gaan.
Cayle sal ook in die Master Newlands-koshuis tuisgaan.

Dit is ’n wonderlike verrykingsgeleentheid vir Cayle en hy sien ook baie uit om by hul buitemuurse program en studenteaktiwiteite betrokke te raak. Ons gaan sy reis en bedrywighede met groot belangstelling dophou. Geniet dit, Cayle!

ONS BOU!
Die bouwerk aan ons nuwe studenteplein het in alle erns begin. Ons is opgewonde om oor ’n paar maande dié nuwe fasiliteit aan ons leerders beskikbaar te stel.

Baie dankie aan mnr. Jean Lombaard en die Grond en Gebroue-komitee van die beheerliggaam asook die JvR-gedenktrust vir hul harde werk en ondersteuning om hierdie projek ’n werklikheid te maak. Kyk hier na die eerste paar dae se werk: FOTO1,
FOTO2, FOTO3, FOTO4.

JAN VAN RIEBEECK-KULTUURKUIERS 2021
Ons bied met groot trots ons heel eerste Jan van Riebeeck-Kunstekuiers aan!

Moenie die ses puik kunstenaars (sien die banier bo) hier in die laaste skoolweek by ons misloop nie! Bespreek nou by Quicket: https://qkt.io/Y3dLEx.

Sluit 2021 saam met JvR op 'n hoë kultuurnoot af - ons sien uit daarna om u en u vriende hier te verwelkom!

NUWE EREKLEURE
’n Herinnering dat alle leerders met erebaadjies asseblief hul baadjies (met hul name op ’n papiertjie vassteek) by tannie Sannette van Loggerenberg inhandig sodat die nuwe omboorsel op die erebaadjie vasgewerk word.
Die koste beloop R240 (R150 vir arbeid en R90 vir die koord). Slegs kontant word aanvaar en dit moet betaal word wanneer die baadjie ingehandig word.

Alle baadjies se koorde moet voor die begin van die 2022-skooljaar vasgewerk wees. Baie dankie vir jul samewerking!

ONTMOET ONS NUWE AFRIKAANSONDERWYSERES: ME. ELLA VAN RENSBURG

Me. Ella van Rensburg is aangestel in die pos van me. Anneri Lombard wat ’n pos by Hoërskool Bellville aanvaar het.

Me. Ella van Rensburg voltooi vanjaar ʼn honneursgraad in Vertaling en Redigering aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy het eers die graad BA Taal en Kultuur asook haar Nagraadse Onderwyssertifikaat (Cum Laude) vanaf US verwerf. Haar honneurswerkstuk handel oor die vertaling van nie-standaardvorme van Afrikaans in poësie – ʼn baie interessante veld vir haar!

Me. Van Rensburg kom oorspronklik van Bellville af en matriklueer aan die Hoërskool DF Malan. Sy was hier reeds akademies baie sterk en slaag graad 12 met ’n indrukwekkende A-gemiddeld. Op skool speel sy vir die eerste span hokkie, sy speel ook saksofoon in die orkes en dien as sportredakteur op hul skoolkoerantredaksie. Sy dien ook in haar matriekjaar op die studenteraad.

Op universiteit was sy deurlopend betrokke by studenteleierskap en sluit haar studentejare as Primaria van Huis ten Bosch-koshuis af. Sy speel koshuishokkie, speel perkussie vir die koshuis se a capella-groep en dien op vele ander koshuiskomitees.
Haar akademiese prestasies op universiteit besorg haar lidmaatskap van die toppresteerdersvereniging, Golden Key International Honour Society, en sy verwerf ook ’n dekaanstoekenning omdat sy ’n toppresteerder in haar fakulteit is. Die rektor beloon me. Van Rensburg met ’n rektorstoekenning vir uitstaande leierskap.

Me. Van Rensburg werk sedert 2020 as ’n vryskut joernalis, kopieskrywer en sosiale media-bemarkingskonsultant. Ons sien uit na die bydrae wat sy op dié gebiede ook by JvR gaan lewer.

Sy is die derde generasie van haar familie wat deur die skool se gange gaan stap: haar oupa, Albertus Gerhardus van Rensburg (bynaam: Bees) was werksaam by JvR vanaf 1950 tot 1984. Hy was eers 'n onderwyser (Biologie) voordat hy adjunkhoof en toe skoolhoof geword het. Haar ouma en oupa het vir 'n ruk in Welgemeend gewoon en haar ouma was Huis Jordaan se matrone. Haar pa, ook Gerhard van Rensburg, is in Huis Jordaan gebore en het daar gebly tot en met graad 1. Hy was ook hoofseun in 1977.

Me. Van Rensburg sien baie daarna uit om die Van Rensburg-familiebande te laat voortleef en haar onderwysloopbaan by Hoërskool Jan van Riebeeck af te skop.

Baie welkom, me. Van Rensburg! Ons is opgewonde dat u deel raak van ons span!

JvR-BUSVERVOER 2022
Daar is ’n netwerk van busroetes wat ons leerders daagliks veilig en gerieflik na en van die skool en na buitemuurse aktiwiteite vervoer - onthou: Jan van Riebeeck is nooit te ver nie!
Baie dankie aan Dewald en Theresa Lombard wat ’n puik diens lewer om ons leerders se veilige skool toe en huis toe te verseker - ons is baie dankbaar daarvoor!

Enige navrae omtrent ons busvervoer vir volgende jaar kan aan Dewald of Theresa gerig word:
Dewald Lombard: 0732650834 / e-pos: dewald@actdfin.co.za
Theresa Lombard: 0832444312 / e-pos: theresa@actdfin.co.za

Om aansoek te doen vir 2022, kliek gerus op die volgende skakel. U sal al die huidige stoppunte ook daar kan sien. Theresa sal u kontak met die verdere nodige inligting.

Noordelike Voorstede-aansoeke
https://forms.gle/3BLPesxw2Qi8KF9v7

Weskus/Tableview-aansoeke
https://forms.gle/j1GWdb7ZJsGwypyb8

Suidelike Voorstede-aansoeke
https://forms.gle/TqPeMxWuiwhN2EkW9

JAN VAN RIEBEECK-JAARBLAD 2021
’n Jaarboek is ’n uitstekende manier om ’n jaar in die lewe van JvR te dokumenteer en is daarom ook ’n waardevolle stuk geskiedenis, nie net vir die huidige Jan van Riebeeckers nie, maar ook vir die wat later hulle merk hier wil laat.

Ons publiseer vanjaar ’n volkleur glansblad (digitaal, met beperkte gedrukte kopieë) om gratis aan ons leerders te versprei. Daar sal ook eksemplare te koop aangebied word vir oudleerders en ander belangstellendes.

Indien u deel wil wees van die projek, wil ons u graag aanmoedig om dit te oorweeg om ’n bladsy in die boek te skenk, hetsy deur advertensiespasie te koop of bloot ’n bladsy te borg. Daar is verskeie borgopsies.

Laai gerus die borgvorm en inligtingstuk hier af. U kan betalings maak sodra u bevestig het watter borgopsie u verkies.

Baie dankie by voorbaat vir u ondersteuning - ons waardeer dit!

JvR-SWIMATHON: ONS LAASTE FONDSINSAMELINGSPROJEK VIR 2022
Ons is in die pylvak van die jaar en wil graag 2021 afsluit met ’n 6-uur Swemathon op Vrydag, 3 Desember vanaf 12:00 – 18:00.

Die doelwit is om 100 km af te lê en daarmee saam R100 000 in te samel vir die opgradering van ons sportfasiliteite.

Help ons om die jaar op ’n hoogtepunt af te sluit met ‘n bietjie gesonde kompetisie tussen leerders, ouers, alumni en die breër gemeenskap terwyl ons ook sosiaal verkeer rondom die swembadarea.
Ons nooi dus alle ouers, leerders, alumni, besighede, Vriende van Jan van Riebeeck en die gemeenskap uit om saam te kom swem en fietstrap.

Sien asseblief die brief met inligting rondom die struktuur van die dag hier: https://bit.ly/3owKnkU
Sien asseblief die donasievorm vir leerders hier: https://bit.ly/3DmaxNw
Sien asseblief die spaninskrywingsvorm hier: https://bit.ly/3kIfqZT

Dui asseblief solank u gekose tydgleuf aan op die aanlynvorm sodat ons ’n idee van programsamestelling kan vorm.

Hierdie is slegs ’n meningsopname en spanne sal gekontak word om programreëlings te finaliseer: https://forms.office.com/r/YSssbsZcQE

Dankie by voorbaat vir u ondersteuning!

AKADEMIE
Leerders word herinner dat hul elke oggend tydens register hul handboeke van die vorige dag se eksamen inhandig. Leerders wat nie handboeke inhandig nie, sal vir die handboeke moet betaal.

Rig asseblief enige navrae in verband met die eksamen aan me. Serrao by liza.serrao@janvanriebeeck.co.za.

GRAADSAKE
Graad 12
Die graad 12's ontvang hul getuigskrifte op die laaste dag van hul eksamen.

Ons bied ook aan die graad 12's die opsie om ’n Engelse getuigskrif te ontvang.
Die professionele vertalingkoste hiervoor beloop R100 en betalings kan vanaf volgende week via Karri gedoen word indien u sou belangstel.

Graad 11
Matriektrui 2022
Graad 11-leerders kan matriektruie via Karri bestel. Die koste van die trui is R 320. U het die keuse om die volle bedrag eenmalig te betaal of in vier gelyke bedrae van R80.00. Bestellings sluit 30 November.

Daar is ook ’n opsie om ’n trui te borg vir diegene wat belangstel – stel asseblief vir me. Serrao per e-pos (liza.serrao@janvanriebeeck.co.za) in kennis indien u ’n spesifieke leerder in gedagte het.

Om te verseker dat die matriektruie betyds afgelewer word, kan geen laatbestellings ongelukkig aanvaar word nie.

VERRYKINGSAKE (KLUBS & VERENIGINGS)
Die #JanOMGEE en #JanAFRIKAANS-klubs beoog 'n uitreik op Dinsdag, 7 Desember.

Ons wil geskenkpakkies saamstel en benodig die volgende produkte:
Enige sjokolade
Deodorant
Tandepasta
Waslappie
Seep
Pakkie sneesdoekies
Handeroom
Leë skoenbokse
Kersfeespapier

Dit sal wonderlik wees as die Jan van Riebeeckers vir die volgende twee weke produkte skool toe kan bring.
Indien u eerder ’n finansiële bydrae wil maak, kan u dit gerus op Karri doen - dankie daarvoor ook!

Om die jaar op 'n omgee-noot af te sluit, sal 'n hoogtepunt wees. Dankie vir jul ondersteuning!

#JanDIER & #JanSEE- UITSTAPPIE 2021
Ons wil graag die laaste kwartaal optimaal benut en beplan 'n prettige dag vir die lede van dié klubs en alle belangstellendes vir Donderdag, 9 Desember vanaf 8:00 tot 12:00.
Met hierdie aksie wil ons strande skoonmaak en ook ons hondkinders bederf.

Leerders wat belangstel moet me. Lotriet gedurende volgende week gaan spreek vir finale en logistieke reëlings. Daar sal busvervoer beskikbaar wees en leerders sal om 12:00 terug wees by die skool.
Ons sien uit na hierdie gesellige samesyn.

#JanKAAP
Jy moet weet waar jy vandaan kom sodat dit jou kan lei na waarheen jy op pad is.
Kom stap so bietjie in die verlede saam met die #JanKAAP-klub.

Ons beplan 'n leersame en ontspanne toer in die verlede vir Woensdag, 8 Desember vanaf 8:00 tot 12:00. Hou solank dié datum oop op die kalender. Volgende week deel ons al die inligting.

KLEREWINKEL
Ouers/Voogde wat graag iets by die klerewinkel wil koop, kan ’n afspraak met me. Sannette van Loggerenberg maak. Haar nommer is 084 690 2798.
Stuur ook gerus ’n e-pos na sannette.loggerenberg@janvanriebeeck.co.za.

Dankie vir u getroue ondersteuning!
Mooi naweek!

Vriendelike JvR-groete
Pieter Rademeyer
Skoolhoof

VERJAARDAE: 20 TOT 27 NOVEMBER 2021
Baie geluk aan al ons Jan van Riebeeckers wat die volgende week verjaar!

20 NOVEMBER
Fritz Gaum (8J)
Zinnedean Robyn (10V)

21 NOVEMBER
Ashwin Wilson (10J)

22 NOVEMBER
Kayla Stoffberg (12R)

23 NOVEMBER
Willica Beukes (9V)
Catherine Shaw (8R)

24 NOVEMBER
Me. Jeanne Potgieter

26 NOVEMBER
Charise Grobbelaar (9J)

27 NOVEMBER
Aron Roets (9V)
Anne Liebenberg (9R)

ONTMOET ONS ONDERWYSERS: ME. HUIBRECHT STEYN
Me. Huibrecht Steyn verwerf in 1987 haar Baccalaureusgraad in Natuurwetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch. Sy voltooi ook ʼn Nagraadse Diploma in Hoër Onderwys en verwerf ʼn diploma in gimnasiumbestuur. In 1989 begin sy skoolhou by Jan van Riebeeck.

Sy is departementshoof, deel van die skool se bestuurspan en vakhoof van Lewenswetenskappe. Sy is ook die graad 10's se graadvoog en superintendent van Huis Jordaan.

Daar is bykans nie ’n skoolaktiwiteit waarby me. Steyn nié op ’n manier betrokke is nie.
Sy organiseer en bestuur vele funksies hier en moedig leerders met haar entoesiame vir die lewe aan om ook van hulself te gee. Sy skakel met die OOV, doen hartswerk in die sosiaal-maatskaplike portefeulje en as mentoronderwyser vir die matriekraad, leef sy haar passie vir leierskapontwikkeling uit.

Sy geniet dit om weekliks saam met die leerders te gaan stap as deel van die fiksheidsportprogram.
Steyn, H
facebook instagram custom 
MailPoet