Nuusbrief-header
3 Desember 2021
kunstekuiers_2021
facebook instagram custom 
Geagte Ouers / Voogde

Die meerderheid van ons matrieks het Woensdag hul laaste vraestel geskryf en oudergewoonte met skoolklere en al, lafenis in die skoolswembad gaan soek. Ons is trots op hierdie groep leerders wat ten spyte van ’n beproewende graad 11-jaar, met steeds ’n paar onderbrekings vanjaar, hul beste gelewer het. Ons sien uit na mooi uitslae!
Die res van die skool het ook vandag hul penne neergesit - wel gedaan, Jan van Riebeeckers: jul het ’n uitdagende jaar met durf aangepak en suksesvol afgehandel. Mag jou uitslae ’n ware weerspieëling wees van dit wat jy bereid was om in te sit!

Ons is amper gereed vir 2022, maar die volgende paar dae gaan vir die onderwysers ’n groot uitdaging wees om te verseker dat die skooljaar goed afgesluit word - en dat die nodige in plek is vir ’n suksesvolle 2022.

Ek deel graag ’n paar personeel- en ander sake vir 2022 met u:

Bestuurspan 2022
Me. Lizette Visser: Adjunkhoof & Dissipline
Me. Huibrecht Steyn: Departementshoof: Studentesake & Koshuise
Me. Liza Serrao: Interne Departementshoof: Akademie
Me. Roosmaryn Schwartz: Interne Departementshoof: Verrykingsprogrambestuurder
Mnr. Geruan Geldenhuys: Direkteur van Kultuur en Musiek
Mnr. Sampie Griessel: Direkteur van Sport
Mnr. Jan Henning: Portefeuljehoof: Pastoraal & Skoolgees

Graadhoofde 2022
Graad 8: Me. Annelie Nimmo & Assistent-graadhoof: Mnr. Jan Henning
Graad 9: Me. Sonet Meyer
Graad 10: Me. Elize Gouws
Graad 11: Me. Huibrecht Steyn
Graad 12: Me. Liza Serrao

Huishoofde 2022
Hoof van die Huisprogam: Me. Elize Gouws
Drommedaris: Mnr. Jan Henning & Me. Ella van Rensburg
Goede Hoop: Mnr. Meiring Oosthuizen & Me. Janet Lotriet
Reijger: Mnr. Werner Cronjé & Me. Ananda Visser

Leerderleierskapmentors 2022
Matriekraad: Me. Huibrecht Steyn
Matriekkomitee: Me. Liza Serrao
VRL: Mnr. Hans-Peter Klink & Me. Janet Lotriet

Baie sterkte aan al dié personeellede vir die belangrike bestuursrol wat hul volgende jaar gaan vervul.

NUWE SKOOLTYE VIR 2022
Aangesien ons meer onderrigtyd wil verseker en belangrike verrykingsgeleenthede gedurende die skooldag wil skep, verander die skoolprogramtye vir volgende jaar.

Maandae en Vrydae:
Aantree by graadrye: 7:40
Skool verdaag om 14:30

Dinsdae, Woensdae, Donderdae
Aanmeld in regsisterklas: 8:00
Skool verdaag om 14:30
Ons akademiese intervensieprogram word op hierdie drie dae vanaf 7:00-7:45 aangebied vir leerders wat verdere akademiese hulp benodig.

Sportoefeninge en kultuurbedrywighede begin daagliks om 15:00.
Elke leerder moet aan ten minste een somer- en een wintersport deelneem asook aan ten minste een kultuuraktiwiteit per semester.

JvR-SWEMKLUB OPEN IN JANUARIE 2022
Ons is baie opgewonde om aan te kondig dat die nuwe JvR-SWEMKLUB onder leiding van die Suid-Afrikaanse swemkampioen, Ayrton Sweeney, in Januarie open! Ons hoop om ons watersportprogram in die nabye toekoms met heerlike geleenthede vir ons Jan van Riebeeckers uit te brei.

Jan van Riebeeckers wat vanaf volgende week reeds 'n bietjie die water wil toets met waterpolo-vaardighede en swemafrigting, kan nou reeds met Ayrton kontak maak.

Kliek gerus hier om na al die opsies in die skoolvakansie te kyk. Sessies (die aantal per week soos aangedui) vir Jan van Riebeeckers is gratis.

JAN VAN RIEBEECK-SEILPROGRAM
Ons is trots om in samewerking met Mills Boat Academy ’n kielboot-seilprogram aan Jan van Riebeeckers bekend te stel - ’n eerste vir skole in die Wes-Kaap!
Leer hoe om ’n stuurman te wees, deel te neem aan wedrenne én te kwalifiseer as ’n Suid-Afrikaanse dag-skeepskaptein.
Ons leerders sal opgelei word deur ’n SAS-geakkrediteerde instrukteur asook Olimpiese stuurmanne om die beste en veiligste opleidingsomgewing te verseker.

Ons beplan ’n vraag-en-antwoord-sessie volgende Maandag, 13 Desember om die belangstelling te toets. Indien u seun/dogter in hierdie unieke en besondere geleentheid belangstel, stuur asseblief teen 10 Desember ’n e-pos na seil@janvanriebeeck.co.za.

Kliek ook gerus hier vir meer inligting.

AKADEMIE
Kontrolering van punte
Leerders het die geleentheid om eerskomende Maandag, 6 Desember hul eksamenskrifte te kontroleer. Leerders wat van hierdie geleentheid gebruik wil maak, kan tussen 8:00 en 9:30 by hul vakonderwysers aanmeld.
Die punte word om 10:00 die oggend gefinaliseer, so geen leerder sal daarna skrifte kan kontroleer nie.

Leerders mag slegs hul eie skrifte kontroleer. Die skrifte kan ook nie elektronies aan leerders of ouers gestuur word nie.

Leerders moet asseblief hul volle skooldrag aan hê. Die busroetes sal self met leerders reël oor die bustye op 6 Desember.

Rapporte
Leerders ontvang op Woensdag, 15 Desember hul rapporte, asook die jaarblad.
Hul kan die rapporte tussen 7:30 en 9:00 in die Rooiplein afhaal. Die busroetes sal self met leerders reël vir die tye waarop die busse loop.

Leerders / Ouers / Voogde wat nie die rapporte kan kom afhaal nie, kan reël dat iemand dit namens hul kom afhaal. Hul moet hiervoor skriftelike toestemming verskaf.

Handboeke
Alle uitstaande handboeke moet eerskomende Maandag ingehandig word. Leerders kan die boeke by me. Griessel in die boekestoor inhandig.
U sal ’n rekening ontvang vir u kind se uitstaande boeke wat nie teen Maandag ingehadnig is nie. Ons maak staat op almal se samewerking!

Boekelyste vir 2022
Kliek gerus hier om die 2022-boekelyste af te laai.

JAN VAN RIEBEECK-KULTUURKUIERS 2021
Ons bied met groot trots volgende week ons heel eerste Jan van Riebeeck-Kunstekuiers aan!

Moenie die ses puik kunstenaars (sien die banier bo) hier by ons misloop nie! Bespreek nou by Quicket: https://qkt.io/Y3dLEx.

Sluit 2021 saam met JvR op 'n hoë kultuurnoot af - ons sien uit daarna om u en u vriende hier te verwelkom!

NUWE EREKLEURE
’n Herinnering dat alle leerders met erebaadjies asseblief hul baadjies (met hul name op ’n papiertjie vassteek) by tannie Sannette van Loggerenberg inhandig sodat die nuwe omboorsel op die erebaadjie vasgewerk word.
Die koste beloop R240 (R150 vir arbeid en R90 vir die koord). Slegs kontant word aanvaar en dit moet betaal word wanneer die baadjie ingehandig word.

Alle baadjies se koorde moet voor die begin van die 2022-skooljaar vasgewerk wees. Baie dankie vir jul samewerking!

ONTMOET ONS NUWE IGO-ONDERWYSERES: ME. LIESL HARVEY
Me. Liesl Harvey is aangestel in die pos van mnr. Huntie Meyer wat aan die einde van die jaar aftree.

Me. Harvey matrikuleer in 1999 en na skool verhuis hul na Taiwan waar sy haar onderwysloopbaan afskop. Sy en haar gesin keer in 2005 terug na Suid-Afrika en sy skryf vir ’n argitekdiploma in wat sy in 2008 voltooi. Hierna wys sy haar staal in die praktyk en werk saam met ’n argitek om verskeie huise en ontwikkelings te ontwerp. Me. Harvey se man word na Lydenburg, Mpumalanga, verplaas en dis by Hoërskool Lydenburg waar sy haar passie vir Ingenieursgrafika en -Ontwerp ontdek. Sy tree gedurende haar tyd hier as eksaminator van die vak op.
In 2014 voltooi sy haar B.Ed. (Senior en Verdere Onderwys Opleidingsgraad) deur die Universiteit van Suid-Afrika.

In 2016 besluit hul gesin om Kaap toe trek en me. Harvey word aangestel by Elkanah House Privaatskool waar sy IGO en Tegnologie aanbied. Sy spog met ’n 100% slaagsyfer vir die afgelope vyf jaar hier en het die belangstelling in die vak geweldig laat groei. Haar leerders weet hul moet hard werk omdat sy hoë standaarde stel.

Hierdie talentvolle onderwyser kan ook Visuele Kunste en Ontwerp asook Engels Huistaal aanbied. Sy is ’n taalkenner en het baie ondervinding as proefleser van akademiese skrifte, die herskryf van dokumente asook die skryf van besigheidsdokumente en kurrikulummateriaal.

As opgeleide grafiese ontwerper is sy goed vertroud in die gebruik van programme soos AutoCAD architectural design, Adobe Photoshop & InDesign en CorelDraw. Ons sien uit na die bydrae wat me. Harvey in die grafiese ontwerp van ons publikasies en dokumente gaan lewer.

Soos dit ’n goeie IGO-onderwyser betaam, vra me. Harvey vir ons Jan van Riebeeckers slegs één belangrike iets: teken perfék! Sy sien uit om by Jan van Riebeeck 'n verskil te maak.

Baie welkom, me. Harvey! Ons is opgewonde dat u deel raak van ons span!

SLUITKASSIES
Alle leerders moet asseblief die sluitkassies ontruim voordat hul vir die vakansie vertrek. Alle goedere wat agterbly sal uitgehaal word en dit beteken dus dat slotte geknip sal word in gevalle waar leerders nie die sluitkassies ontruim het nie.
Baie dankie by voorbaat vir almal se samewerking!

KERSFEESGESKENKMANDJIE VIR ONS ONDERSTEUNINGPERSONEEL
Dankie aan al die Jan van Riebeeckers wat bygedra het tot die Kersfeesgeskenkmandjie vir ons ondersteuningpersoneel - dit word waardeer!
Indien u nog ’n finasiële bydrae wil lewer, is u welkom om dit vandag via Karri te doen.

GRAADSAKE
Graad 12-spanboudag 2022
Die graad 12-spanboudag vind op 27 Januarie vanaf 07:00 tot 14:30 plaas.
Francois Malherbe sal die dag fasiliteer en daar gaan op leierskap, groepidentiteit en skoolwaardes gefokus word.
Francois is 'n Curiosity Officer en is ’n lid van die Explorers Club.
Vir meer inligting kan u gerus by die volgende skakels meer gaan lees:
www.curiositycompany.org; https://explorers.org/

Die dag se kostes beloop R260 per leerder en sluit etes (pouse en middagete) asook die fasiliteerderkoste in. Alle betalings geskied via Karri.

Daar is ook ’n opsie om 'n leerder te borg. Indien u 'n spesifieke leerder wil borg, kan u die leerder se naam en van aan me. L. Serrao e-pos: liza.serrao@janvanriebeeck.co.za. Die Karri-lys sluit 17 Januarie 2022.

Ons sien uit na ’n heerlike afskop vir ons matrieks se belangrike jaar!

KOSHUISSAKE
Heraansoek vir koshuisverblyf in 2022
Ouers/Voogde wat wil aansoek doen vir koshuisverblyf vir leerders vir volgende jaar, moet asseblief die aansoekvorm voltooi en voor 5 Desember terugstuur.

Laai die vorm gerus hier af.

SPORTSAKE
Tennis
Ons is baie trots op Peet Karsten wat die afgelope naweek as die o/16-seunwenner uit die stryd getree het by die Tennis Suid-Afrika Kaapstad-meesterskampioenskappe. Peet verwerf ook sy WP Kleure vir Tennis!

Mooi so, Peet en afrigter, Yurich Daniels!

VERRYKINGSAKE (KLUBS & VERENIGINGS)
#JanOMGEE en #JanAFRIKAANS
’n GROOT WOORD VAN DANK aan elkeen wat hul harte en hande oopgemaak het deur ons Kerspakkies aan te vul.

Ons beplan om Maandag die pakkies met sorg saam te stel en ons kan nie wag om dié omgeepakkies op Dinsdag, 7 Desember te gaan aflewer nie!

Dankie vir die hulp om die jaar op 'n omgee-noot af te sluit!

KLEREWINKEL
Die klerewinkel sal vir ons graad 9 tot 12-ouers/voogde oop wees op 7,8,9,10,13 en14 Desember, daagliks vanaf 8:00 tot 13:00. Kontak gerus ook vir me. Sanette van Loggerenberg vir enige navrae. Haar nommer is 084 690 2798.

Mooi naweek!

Vriendelike JvR-groete
Pieter Rademeyer
Skoolhoof

VERJAARDAE: 4 TOT 10 DESEMBER 2021
Baie geluk aan al ons Jan van Riebeeckers wat die volgende week verjaar!

4 DESEMBER
Roxo Onela (8V)

7 DESEMBER
Andrée van Zyl (9R)
Tiana van den Berg (10R)

9 DESEMBER
Leon October (10J)

ONTMOET ONS ONDERWYSERS: ME. SANET TALJAARD

Me. Sanet Taljaard se kaalvoetjare lê om ’n sandsteenhuis op ’n plaas naby Bethlehem in die Oos-Vrystaat. Konserte vir die skape en speel in die mielieblare berei haar voor vir ’n BA Drama Hons.-en- HOD-kwalifikasie van Kovsies.
By bevoorregte skole soos Oranje Meisieskool (Bloemfontein) en veral minderbevoorregte skole tussen die mynhope van Carletonville, leer sy dat onderwys nederigheid, geduld en hope luistervaardighede verg. Dat Drama ʼn handige instrument is om kinders te laat vlieg, ontdek sy dwarsdeur haar onderwysloopbaan. Hoog was die opwinding vir onderwyseres en kind by Hoërskool Grens (Oos Londen) toe hulle twee keer die geleentheid kry om op nasionale vlak deel te neem aan die ATKV-tienertoneelkompetisie te Aardklop.
Kreatiewe projekte word deel van haar lewe toe sy Kaap toe trek. Terwyl sy deeltyds klasgee by CPUT (Wellington), bestuur sy ʼn Drama-skool saam met haar dogter, publiseer ʼn paar ondeunde flitsverhale in die Sarie-tydskrif, speel in ʼn paar Woordfees-produksies en proe wyn.
Tussen die lieflike berg en die see begin sy in 2018 haar passie vir Afrikaans en Drama uitleef by Hoërskool Jan van Riebeeck. As hoof van ons dramaprogram begelei me. Taljaard ons leerders tot hoë hoogtes en prestasies in talle nasionale kompetisies. Sy bied ook vanaf 2022 Dramatiese Kunste vir ons graad 10's aan.
Taljaard, S
facebook instagram custom 
MailPoet