|
|
|
|
UIT DIE SKOOLHOOF SE KANTOOR
Ons kyk terug op ’n baie besige en suksesvolle kwartaal hier by Hoërskool Jan van Riebeeck: ons leerders het werklik in die klaskamer, op die kultuurverhoog én die sportveld hul uitstekende van hul taak gekwyt! Ons is werklik baie trots op dit wat hier by ons skool gebeur het. Tussendeur kon hul ook lekker ontspan met die talle sosiale geleenthede wat aangebied is. Welgedaan aan almal wat elke geleentheid aangegryp het - en die beste daarvan gemaak het!
|
Ouers/Voogde het vanoggend per e-pos u kind se rapport ontvang. Ek wil elke ouer aanmoedig om saam met u kind te kyk na die positiewe, maar ook saam planne te beraam vir aspekte wat aandag moet geniet. Die akademiese uitslae van die skool oor die algemeen lyk werklik uitmuntend, maar daar is ook baie leerders wat onmiddellik by intervensieklasse en ekstra hulpgeleenthede moet uitkom om te verseker dat hul hul jaar suksesvol sal kan afsluit. Die middeljaareksamen begin reeds op 16 Mei, so ons het slegs ’n maand om baie nuwe akademiese werk te doen - almal moet nou eienaarskap van hul werk neem en verseker dat hersiening of konsolidering van die eerste kwartaal se werk gedoen word. Baie geluk aan ons toppresteerders - die Top 20-presteerders in elke graad sal vroeg in die nuwe kwartaal aangekondig word.
|
Baie sterkte aan al ons sportspanne wat ons skool die vakansie by verskeie toernooie verteenwoordig. Ons eerste netbalspan het vroeg vanoggend reeds na Gauteng vertrek om aan die Menlopark-toernooi deel te neem. Hul is ook volgende week in die Paarl by die Paarl Gimnasium-toernooi en ons seuns speel die naweek by die Paul Roos-rugbyfees op Stellenbosch. Geniet dit!
|
Ons sien ook baie uit na ons musiekblyspel, FAME, wat op 16 April begin. Baie dankie aan ons hele geselskap wat maande reeds vir hierdie produksie voorberei - ons is trots op jul harde werk en sien uit na openingsaand. Bespreek u kaartjies so gou as moontlik (die skakel is hier onder beskikbaar).
|
Ons groet vandag twee personeellede wat die afgelope kwartaal afgelos het: me. Daniella Matter (Engels) en me. Marie Cross (RTT, Wiskunde en LO). Baie dankie vir jul harde werk en waardevolle bydraes hier by ons skool! Ons sien daarna uit om mnr. Theon Theron en me. Ananda Visser ook weer volgende kwartaal terug te verwelkom nadat hul die kwartaal om mediese redes met verlof was. Beide is nou weer fiks en gesond en gereed vir die tweede kwartaal. Me. Leatitia Potgieter sluit ook by ons in die Engelsdepartement (sien gerus ’n verwelkomingsprofiel oor haar op ons Facebookblad) aan.
|
Baie dankie aan die hele personeel vir u harde werk die kwartaal. Ek het groot waardering vir almal se bydraes op soveel plekke van die skoollewe. 'n Spesiale woord van dankie aan ons waarnemende adjunkhoof, me. Huibrecht Steyn, vir die saam bestuur en puik werk in die skool. Ons skoolbestuurspan, Liza Serrao (departementshoof), Jan Henning, Jaco Dippenaar, Abré van Heerden, Elize von Versen en Razelle Hankom verdien ook spesiale melding, want as portefeuljebestuurders maak hul seker dat al die baie wiele bly rol en die dinge so glad as moontlik verloop.
|
Mag almal ’n heerlike vakansie en geseënde Paasfees geniet - ons gesels weer wanneer die skole op Woensdag, 3 April heropen.
|
|
|
|
|
Ouerafsprake: Kwartaal 2
|
Veels geluk met al die leerders se mooi prestasies. Leerders se rapporte word vandag aan elke ouer of voog via e-pos gestuur.
|
Dit is tog belangrik dat u as ouer/voog kennis dra van die volgende:
|
Indien ’n leerder afwesig was vir ’n assessering, maar met ’n geldige rede, verwerk die WKOD die leerder se ander punte tot ’n finale kwartaalpunt sonder dat die leerder benadeel word. Indien ’n leerder egter sonder ’n geldige rede ’n assessering misloop, ken die WKOD ’n punt van nul toe en word die res van die punte verwerk tot die leerder se finale kwartaalpunt.
|
Hierdie kwartaal het die leerders slegs toetse geskryf en dit het alleenlik oor kwartaal 1 se werk gehandel. Indien die leerders nog nie van hulle assesserings gekontroleer het nie, kan hulle dit volgende kwartaal kontroleer en daarna sal daar 'n regstelling aan hulle rapportpunt gemaak kan word, indien nodig.
|
Leerders moet dus kwartaal 2 baie hard werk omdat dit 'n eksamenkwartaal is wat handel oor kwartaal 1- en 2-werk. Ons moedig u as ouers/voogde aan om u kind se punte te bestudeer en ’n afspraak met die betrokke leerkragte vir die oueraand op 4 April 2024 te maak indien u verdere besprekings verlang. Ons almal wil graag die beste vir u kind hê. Saam kan ons meer vermag.
|
U moet asb. slegs een afspraak per onderwyser maak. Indien u twee of meer leerders in die skool het, moet u vir elke kind die vraelys voltooi. Dit is belangrik dat u met u kind bevestig wie sy/haar vakonderwyser is. U sal sien dat daar vakgroeplyste per graad hieronder aangeheg is. Dit bevat die name van almal wat 'n bepaalde vak aanbied. Die naam wat as vakonderwyser op u kind se rapport verskyn, is nie noodwendig die persoon wat u kind onderrig nie. Maak dus asseblief seker dat u by die regte persoon 'n afspraak maak.
|
Indien u onseker is wie die onderwysers is, volg die onderstaande skakels:
|
|
|
|
|
SAASTA-Wetenskapolimpiades 2024
|
Alle leerders wat belangstel om vanjaar die nasionale Wetenskapolimpiades te skryf, kan nou op Karri inskryf. Die koste beloop R35 per leerder en die lyste sluit op 20 Maart 2024. Die olimpiades word aan die einde van die skooldag afgelê en is in die vorm van meervoudige keusevrae. Leerders is welkom om meer inligitng asook ou vraestelle by mev. Turkstra te kry.
|
- Lewenswetenskappe Graad 10-11 Dinsdag , 23 Julie 2024 (14:15-16:15)
- Natuurwetenskappe Graad 8-9 Woensdag. 24 Julie 2024 (14:15-16:15)
- Fisiese Wetenskappe Graad 10-11 Donderdag, 25 Julie 2024 (14:15-16:15)
|
|
|
|
Graad 12-Onderwêreld-opvoering
|
Alle graad 12’s woon op Dinsdag, 30 April om 8:00 die opvoering van hul Afrikaanse voorgeskrewe werk, Onderwêreld, by Hoërskool Tygeberg by. Die drie graad 12-Afrikaansonderwysers sal die groep vergesel.
|
Die koste vir die vertoning beloop R110 per leerder en die skool verskaf die busvervoer vir al ons leerders. Ons sal nader aan die tyd vertrektye bevestig. Betaal asseblief teen Maandag, 15 April die R110 op Karri. Daar sal ook ’n opsie wees vir ouers/voogde om ‘n donasie by te voeg vir leerders wat nie die volle bedrag kan bybring nie.
|
Ons sien uit na hierdie akademiese verrykingsgeleentheid vir al ons matrikulante.
|
|
|
|
|
Graad 12 - Akademie
|
Kliek hier vir die samestelling van elke graad 12-vak se SBA-punt. (Graad 12 SBA-samestelling vanaf die WKOD pdf aangeheg.)
|
Hieronder kan u toegang kry tot die eksamenriglyne vir elke vak. Dit is belangrik dat u kind deurlopend die dokument raadpleeg. (Graad 12 eksamenriglyne per vak hierby aangeheg.)
|
|
|
|
|
AdMaths
|
Indien leerders die AdMaths-, AdPhysics- of AdAccounting-program wil voltooi, kan hulle hier kliek vir meer inligting. Leerders moet voor 29 Maart 2024 inskryf as hul nog hierdie jaar wil deelneem. Let asb. daarop dat die program nie deur die skool gefasiliteer word nie.
|
|
|
|
|
Vakveranderinge 2024
|
U as ouer/voog voltooi die eerste gedeelte van die vorm en daarna moet u kind asb. sorg dat die huidige vakonderwyser, die beoogde vakonderwyser, asook sy/haar graadhoof die vorm teken. Daarna kan u kind die vorm by die akademiese hoof indien. Die akademiese hoof sal vir u kind 'n toestemmingsbrief gee sodra die WKOD die aansoek goedkeur het en eers daarna mag u kind van vak verander. Kontak me. Liza Serrao (liza.serrao@janvanriebeeck.co.za) indien u nog enige vrae het.
|
- Graad 11 – Aansoek deur ouer/voog/primêre versorger. Twee veranderinge toegelaat. Veranderings is nou gesluit.
- Graad 10 – Aansoek deur ouer/voog/primêre versorger. Twee veranderinge toegelaat. Sperdatum is 7 Junie 2024
|
|
|
|
|
|
|
Op Vrydag, 19 April 2024, sal daar 'n spesiale vertoning van Fame vir die leerders van Hoërskool Jan van Riebeeck wees.
|
Kaartjies kan in die nuwe kwartaal teen R50p.p. op Karri gekoop word.
|
Die vertoning begin om 13:00 en daar is slegs 300 sitplekke beskikbaar. Meer besonderhede sal in kwartaal 2 deurgegee word.
|
|
|
|
|
Musiekblyspel: Kostuumbenodigdhede
|
Ons musiekblyspel is om die draai en daar is ’n paar karakters wat nog kostuums benodig. Indien u dalk lus was vir kaste regpak oor die naweek, sal die musiekblyspel die volgende kledingstukke as skenking baie waardeer:
|
- Pencil Skirts
- 80's kledingstukke
- Enige T-hemde
- Leg Warmers
- Rugby- /Hokkiesokkies
- Mans- en vroue swart hemde (langmou T-hemde / kragieshemde / Spanish- hemde)
- Gholfhempies
- Tank Tops
- Leggings
Kledingstukke kan na me. Van Heerden gestuur word.
|
|
|
|
|
|
|
|
|
ALGEMEEN
|
|
|
|
|
Fliekaand: 13 April 2024
|
Kom kuier saam met ons vir 'n “Mega” Fliekaand op 13 April!
|
Ons nooi die hele JvR-familie uit vir 'n aand vol vermaak en geselligheid. Die hoërskoolleerders gaan 'n wonderlike fliekervaring geniet binne die skoolsaal met 'n megaskerm van 4x4m. Alle ouers en jonger kinders gaan ’n buite fliekervaring geniet met 'n buitelugskerm op Welgemeend se gras. Bring jul piekniekkomberse en kussings! Happies, drankies en iets om te eet sal beskikbaar wees - bestel asseblief vooraf jou etes, want slegs ‘n paar ekstra sal beskikbaar wees op die aand.
|
Saterdag 13 April vanaf 18:00 Ingang en Fliekkaartjie: R40 Fliekboks R40: Springmielies & soetgoed Beef Hamburger met kaas & Slaptjips: R75 Slaptjips: R25
|
Drinkgoed en snoepie beskikbaar op die aand.
|
|
|
|
|
|
|
Omgeebroodjies: Matriekraad- en VRL-projek
|
Ons vra graag vrywilligers in elke graadgroep om ons in ons omgeetoebroodjieprojek te ondersteun.
|
Dié broodjieprojek behels dat ons vir behoeftige leerders voorsien van ’n dubbelsny toebroodjie met ’n gesonde vulsel soos kaas/kaassmeer, ham of grondboontjiebotter. Die toebroodjie word met 'gladwrap' toegedraai.
|
Hierdie omgeebroodjies word dan elke dag (Maandag tot Vrydag) saam met u seun/dogter gestuur en tussen 7:00–7:40 in die houer in die admin-gang geplaas. Elke graadgroep het ‘n spesifieke dag gekry om broodjies te bring; dus bring ‘n leerder net op een dag van die week sy/haar broodjie. Leerders wat betrokke wil raak kan hulle name by me. Steyn ingee.
|
- Graad 12: Maandag
- Graad 11: Dinsdag
- Graad 10: Woensdag
- Graad 9: Donderdag
- Graad 8: Vrydag
Elke graadhoof is bewus van hoeveel leerders in hul graad iets te ete benodig en sal dit baie sensitief versprei. U kan ook vir aflewering reël indien vrywilligers weens werksomstandighede of welke ander rede nie die broodjies vroegoggend kan aflewer nie. Vrywilligers wat met dié baie nodige projek verder wil help, kan ook me. Steyn per e-pos in kennis stel: huibrecht.steyn@janvanriebeeck.co.za
|
Indien u eerder ’n finansiële bydrae tot hierdie projek wil maak, kan u dit via Karri doen.
|
U ondersteuning word hoog op prys gestel.
|
|
|
|
|
Welgemeend konsert, 17 April 2024
|
Tweede Konsert in 2024 Welgemeend Konsert Reeks
|
Die tweede aanbieding in vanjaar se Welgemeend Konsert Reeks vind op Woensdag 17 April om 19:00 in die Welgemeend Herehuis plaas. Die kunstenaars is albei Suid-Afrikaners met wye internasionale blootstelling: die fluitis Merryl Neille, tans woonagtig in Sydney, Australië en die pianis Eugene Joubert, tans hoof van klavierstudies by St Mary's in Johannesburg. Hulle bied 'n program aan met die titel Water’s Tale, wat hulle soos volg beskryf: Join flautist Merryl Neille and pianist Eugene Joubert on an exploration of lyrical works around the theme of water. The programme begins with Gaubert’s beautiful Sur l’eau (On the Water) in the style of a barcarole or boating song. This romantic piece is then followed by a more modern take on the theme, namely Deep Blue by Ian Clarke. This evocative work conjures whale song with the use of timbral trills to give the music an otherworldly feel. Next follows the quintessential flute sonata Undine by the master romantic flute composer, Reinecke. This original Little Mermaid story is captured beautifully with heartbreaking melodies and fast moving, agile melodic passages. Singer Songwriter Tori Amos’s masterful writing is celebrated next with an adaptation of 1000 Oceans for flute and piano. The captivating journey through the aquatic expressions for flute and piano is perfectly rounded off with Daniel Dorff’s Sonata Three Lakes, which paints with music three picturesque lakes in the states of Pennsylvania and Maine, USA. Kaartjies teen R 220 / R 150 is by Quicket of by die deur beskikbaar.
|
|
|
|
|
|
VivA: Taal-kuns-en-tegnologietoer van 19 September tot 1 Oktober 2024
|
VivA bied vanaf 19 September tot 1 Oktober 2024 'n Taal-kuns-en-tegnologietoer aan.
|
- Daar is 50 plekke beskikbaar op die toer en leerders is reeds besig om hul plekke met die betaling van ‘n deposito vas te maak.
- R10 000-depositobetaling: Sou gou as moontlik - sodra die leerder sy/haar plek wil bespreek.
- Inskrywings vir die toer sluit 15 Junie 2024.
- Betalings kan maandeliks gemaak word of die volle uitstaande bedrag kan op een slag vereffen word.
- Ten volle en finale betaling vir die toer: 15 Junie 2024.
Volg ook gerus die onderstaande skakels vir meer inligting:
|
|
|
|
|
FSA-Jeuguitruilprogram
|
Die FSA, wat in 1996 gestig is, is 'n jeuguitruilinisiatief tussen Suid-Afrika en Duitsland wat aangebied word aan leerlinge van graad 8 - 12. Oor die jare het meer as 10 000 jeugdiges deelgeneem aan ons inisiatief waarvoor Duits as vak nie 'n vereiste is nie.
|
Ons program het ten doel om die lewens van ons deelnemers te verryk, hulle bloot te stel aan 'n ander kultuur, en hulle in staat te stel om Suid-Afrika as jong ambassadeurs in die buiteland te verteenwoordig. Die terugvoer wat ons ontvang, getuig presies daarvan. Gewoonlik laat die ervaring die jongmense besef dat hulle tot baie meer in staat is as wat hulle gedink of oor gedroom het.
|
Ons streef daarna om hierdie geleentheid aan soveel as moontlik jongmense in Suid-Afrika bied en daar is geen rede waarom leerlinge van u skool nie ook hierin kan deel nie. Ons nuwe brosjure en aansoekvorm is aanheg as 'n uitnodiging vir u leerlinge om aansoek te doen vir deelname aan ons 2024-programme. Belangstellendes kan ons direk kontak.
|
Met u hulp kan ons vanjaar weer die lewens van jongmense van regoor Suid-Afrika aanraak.
|
|
|
|
|
NETwerf!
|
|
Teken in en help ons wen! Klik op hierdie skakel om op Netwerk24 in te teken teen ‘n spesiale prys en help ons skool geld maak wat ons weer kan terugploeg. Wie nie werf nie, wen nie!
|
|
|
|
|
|
|
|