> Besoek die volledige 2024-kalender op die webtuiste <

UIT DIE SKOOLHOOF SE KANTOOR

Goeiedag Ouers/Voogde

Baie welkom terug aan die hele JvR-familie!
Ek glo dat almal die skoolvakansie en Paasnaweek saam met jul geliefdes geniet het - en nou gereed is en uitsien na ’n opwindende kwartaal hier by ons skool.

Daar is heelwat om na uit te sien op die akademiese-, sport-, kultuur- en verrykingsprogram en ek weet ons Jan van Riebeeckers sal weer elke geleentheid met groot entoesiasme aangryp. Daar was ’n paar veranderinge aan die skoolkalender, so maak asb. seker dat u die nuutste weergawe (sien bo) aflaai.

Baie geluk aan ons leerders wat gedurende die vakansie puik uitslae op die sportveld behaal het. Ons is baie trots op ons spanne wat aan groot toernooie deelgeneem het - en nie teruggestaan het vir enige opponent nie. Heelwat individuele prestasies op provinsiale en nasionale vlak is ook behaal en ons spog graag saam met u as ouers/voogde met hierdie leerders.

Die bouwerk aan ons nuwe studentebinnehof (Die Gat) het vandeesweek afgeskop en ons hoop om binne die volgende maand ’n mooi nuwe ruimte vir ons leerders hier te bied. Baie dankie ook aan mnr. Jean Lombaard wat die nominasie om
gekoöpteer te word op ons beheerliggaam (as voorsitter van die grond-en-geboue-komitee), aanvaar het, en hierdie projek onder andere sal lei. Die opgradering van ons seunskoshuis is ook feitlik afgehandel en ek bedank mnr. Lombaard en sy knap span vir die uitstekende werk wat hier gedoen is. Ons seuns is omtrent in hul noppies met hul nuwe kamers!

Ons verwelkom hierdie kwartaal twee nuwe personeellede: me. Leatitia Potgieter (Engels) en mnr. Franco Vermeulen (Hoof van Atletiek en MBK) het Woensdag by ons aangesluit. Mag die nuwe hoofstuk by JvR vir jul beide groot hoogtepunte oplewer.

Ons was ook verheug om die goeie nuus te ontvang dat twee van ons personeellede gedurende die vakansie hul verlowing aangekondig het. Baie geluk aan mnr. Wilbur Kastoor (en Lené) en me. Ruby Parker (en Deryck) - ons is saam met jul opgewonde en wens jul baie seën en vreugde toe vir die toekoms.

Sterkte aan al ons spanne wat die naweek aan die Margaret Pansegrouw-sportdag by Hoërskool Bellville deelneem. Ons hou duimvas vir goeie spel en mooi uitslae.

Onthou ook om so gou as moontlik jul kaartjies vir FAME te bespreek. Die geselskap is baie hard aan die werk en almal se ondersteuning sal baie waardeer word.

Mooi naweek!

Pieter Rademeyer
Skoolhoof

AKADEMIE

Graadsake: Graad 12-skoolbywoning

Ons is baie opgewonde oor die matriekdans wat eerskomende Woensdag, 10 April, plaasvind. Die graad 12-leerders word die 10de en die 11de April verskoon van die skool. Ons wil ’n dringende versoek rig dat leerders die res van die week skool sal bywoon.

Dit is baie belangrik dat elke graad 12-leerder in die klas is wanneer werk behandel word ter voorbereiding vir die eksamens wat voorlê - elke les is uiters belangrik en die graad 12’s kan nie bekostig om op belangrike inhoud wat behandel word, uit te mis nie. Ons vra dat ouers/voogde ons sal ondersteun in hierdie verband.

SAASTA-Wetenskapolimpiades 2024

Alle leerders wat belangstel om vanjaar die nasionale Wetenskapolimpiades te skryf, kan nou op Karri inskryf. Die koste beloop R35 per leerder en die lyste sluit op 20 Maart 2024. Die olimpiades word aan die einde van die skooldag afgelê en is in die vorm van meervoudige keusevrae. Leerders is welkom om meer inligitng asook ou vraestelle by mev. Turkstra te kry.
  1. Lewenswetenskappe Graad 10-11 Dinsdag , 23 Julie 2024 (14:15-16:15)
  2. Natuurwetenskappe Graad 8-9 Woensdag. 24 Julie 2024 (14:15-16:15)
  3. Fisiese Wetenskappe Graad 10-11 Donderdag, 25 Julie 2024 (14:15-16:15)

Graad 12-Onderwêreld-opvoering

Alle graad 12’s woon op Dinsdag, 30 April om 8:00 die opvoering van hul Afrikaanse voorgeskrewe werk, Onderwêreld, by Hoërskool Tygeberg by. Die drie graad 12-Afrikaansonderwysers sal die groep vergesel.

Die koste vir die vertoning beloop R110 per leerder en die skool verskaf die busvervoer vir al ons leerders. Ons sal nader aan die tyd vertrektye bevestig. Betaal asseblief teen Maandag, 15 April die R110 op Karri. Daar sal ook ’n opsie wees vir ouers/voogde om ‘n donasie by te voeg vir leerders wat nie die volle bedrag kan bybring nie.

Ons sien uit na hierdie akademiese verrykingsgeleentheid vir al ons matrikulante.

Graad 12 - Akademie

Kliek hier vir die samestelling van elke graad 12-vak se SBA-punt. (Graad 12 SBA-samestelling vanaf die WKOD pdf aangeheg.)

Hieronder kan u toegang kry tot die eksamenriglyne vir elke vak. Dit is belangrik dat u kind deurlopend die dokument raadpleeg. (Graad 12 eksamenriglyne per vak hierby aangeheg.)
Graad 12 hulpbron vanaf die WKOD - Grade 12 Tips for Success 2024

Vakveranderinge 2024

Die proses is as volg:

U as ouer/voog voltooi die eerste gedeelte van die vorm en daarna moet u kind asb. sorg dat die huidige vakonderwyser, die beoogde vakonderwyser, asook sy/haar graadhoof die vorm teken. Daarna kan u kind die vorm by die akademiese hoof indien. Die akademiese hoof sal vir u kind 'n toestemmingsbrief gee sodra die WKOD die aansoek goedkeur het en eers daarna mag u kind van vak verander. Kontak me. Liza Serrao (liza.serrao@janvanriebeeck.co.za) indien u nog enige vrae het.
  • Graad 11 – Aansoek deur ouer/voog/primêre versorger. Twee veranderinge toegelaat. Veranderings is nou gesluit.
  • Graad 10 – Aansoek deur ouer/voog/primêre versorger. Twee veranderinge toegelaat. Sperdatum is 7 Junie 2024

KULTUUR

Volg die skakel om jou kaartjies te koop: https://qkt.io/8La6xo
Daar sal op Vrydag, 19 April 2024, 'n spesiale vertoning van Fame vir die leerders van Hoërskool Jan van Riebeeck wees.

Kaartjies kan teen R50p.p. op Karri gekoop word.

Die vertoning begin om 13:00 en daar is slegs 300 sitplekke beskikbaar. Meer besonderhede oor die logistiek van die dag volg.

ATKV-DEBAT

Alle deelnemers aan die ATKV-debatkompetisie moet die finale oefening ter voorbereiding van die kompetisie bywoon.

WOENSDAG, 10 April 2024
  • Graad 10-spanne: 14:20-15:20 Me. Nimmo se klas (graad 8's en 9's kan dit ook bywoon as toeskouers.)
  • Graad 8-spanne: 15:30-16:30 Me. Buhrmann se klas
  • Graad 9-spanne: 15:30-16:30 Me. Nimmo se klas
Bring asseblief jou voorbereide debat en jou eie verversings saam. Die finale program vir die ATKV-kompetisie is op die DEBAT-leerders se What'sApp-groep geplaas.

SPORT

ALGEMEEN

Spitbraai: 10 April

Die graad 10-ouers nooi alle ouers uit na 'n heerlike spitbraaikuier op 10 April hier by die skool. Dis 'n geleentheid om 'n bietjie te ontspan voor die kwartaal behoorlik afskop (en nie kos te maak nie). Die spitbraai kan geniet word saam met 'n lekker kuier by die skool of as 'n wegneem-ete.

Datum: 10 April 2024
Tyd: 18:00
Koste: R170 vir volwassenes en R150 per kind (spitbraai, twee slaaie, gebraaide aartappels en knoffelbrood).

Daar sal ook ‘n kontantkroeg beskikbaar wees en breekware word verskaf.

Kom geniet die aand saam met ons!

Fliekaand: 13 April 2024

Kom kuier saam met ons vir 'n “Mega” Fliekaand op 13 April!

Ons nooi die hele JvR-familie uit vir 'n aand vol vermaak en geselligheid. Die hoërskoolleerders gaan 'n wonderlike fliekervaring geniet binne die skoolsaal met 'n megaskerm van 4x4m. Alle ouers en jonger kinders gaan ’n buite fliekervaring geniet met 'n buitelugskerm op Welgemeend se gras. Bring jul piekniekkomberse en kussings! Happies, drankies en iets om te eet sal beskikbaar wees - bestel asseblief vooraf jou etes, want slegs ‘n paar ekstra sal beskikbaar wees op die aand.

Saterdag 13 April vanaf 18:00
Ingang en Fliekkaartjie: R40
Fliekboks R40: Springmielies & soetgoed
Beef Hamburger met kaas & Slaptjips: R75
Slaptjips: R25

Drinkgoed en snoepie beskikbaar op die aand.

Omgeebroodjies: Matriekraad- en VRL-projek

Ons vra graag vrywilligers in elke graadgroep om ons in ons omgeetoebroodjieprojek te ondersteun.

Dié broodjieprojek behels dat ons vir behoeftige leerders voorsien van ’n dubbelsny toebroodjie met ’n gesonde vulsel soos kaas/kaassmeer, ham of grondboontjiebotter. Die toebroodjie word met 'gladwrap' toegedraai.

Hierdie omgeebroodjies word dan elke dag (Maandag tot Vrydag) saam met u seun/dogter gestuur en tussen 7:00–7:40 in die houer in die admin-gang geplaas.
Elke graadgroep het ‘n spesifieke dag gekry om broodjies te bring; dus bring ‘n leerder net op een dag van die week sy/haar broodjie. Leerders wat betrokke wil raak kan hulle name by me. Steyn ingee.
  • Graad 12: Maandag
  • Graad 11: Dinsdag
  • Graad 10: Woensdag
  • Graad 9: Donderdag
  • Graad 8: Vrydag
Elke graadhoof is bewus van hoeveel leerders in hul graad iets te ete benodig en sal dit baie sensitief versprei. U kan ook vir aflewering reël indien vrywilligers weens werksomstandighede of welke ander rede nie die broodjies vroegoggend kan aflewer nie. Vrywilligers wat met dié baie nodige projek verder wil help, kan ook me. Steyn per e-pos in kennis stel: huibrecht.steyn@janvanriebeeck.co.za

Indien u eerder ’n finansiële bydrae tot hierdie projek wil maak, kan u dit via Karri doen.

U ondersteuning word hoog op prys gestel.

ADVERTENSIES

NETwerf!

Teken in en help ons wen! Klik op hierdie skakel om op Netwerk24 in te teken teen ‘n spesiale prys en help ons skool geld maak wat ons weer kan terugploeg. Wie nie werf nie, wen nie!

Volg die spesiale skakel om aan te sluit: https://www.netwerk24.com/intekening/promosie/jvr100

Welgemeend konsert, 17 April 2024

Tweede Konsert in 2024 Welgemeend Konsert Reeks

Die tweede aanbieding in vanjaar se Welgemeend Konsertreeks vind op Woensdag, 17 April om 19:00 by Welgemeend plaas. Die kunstenaars is albei Suid-Afrikaners met wye internasionale blootstelling: die fluitis Merryl Neille, is tans woonagtig in Sydney, Australië en die pianis Eugene Joubert, tans hoof van klavierstudies by St Mary's in Johannesburg.

Hulle bied 'n program aan met die titel Water’s Tale, wat hulle soos volg beskryf:
Join flautist Merryl Neille and pianist Eugene Joubert on an exploration of lyrical works around the theme of water. The programme begins with Gaubert’s beautiful Sur l’eau (On the Water) in the style of a barcarole or boating song. This romantic piece is then followed by a more modern take on the theme, namely Deep Blue by Ian Clarke. This evocative work conjures whale song with the use of timbral trills to give the music an otherworldly feel. Next follows the quintessential flute sonata Undine by the master romantic flute composer, Reinecke. This original Little Mermaid story is captured beautifully with heartbreaking melodies and fast moving, agile melodic passages. Singer Songwriter Tori Amos’s masterful writing is celebrated next with an adaptation of 1000 Oceans for flute and piano. The captivating journey through the aquatic expressions for flute and piano is perfectly rounded off with Daniel Dorff’s Sonata Three Lakes, which paints with music three picturesque lakes in the states of Pennsylvania and Maine, USA.

Kaartjies teen R 220 / R 150 is by Quicket of by die deur beskikbaar.

VivA: Taal-kuns-en-tegnologietoer van 19 September tot 1 Oktober 2024

VivA bied vanaf 19 September tot 1 Oktober 2024 'n Taal-kuns-en-tegnologietoer aan.

Alle inligting word vervat in die aangehegte dokumentasie (inligting, termes & voorwaardes), maar die belangrikste datums is:
  • Daar is 50 plekke beskikbaar op die toer en leerders is reeds besig om hul plekke met die betaling van ‘n deposito vas te maak.
  • R10 000-depositobetaling: Sou gou as moontlik - sodra die leerder sy/haar plek wil bespreek.
  • Inskrywings vir die toer sluit 15 Junie 2024.
  • Betalings kan maandeliks gemaak word of die volle uitstaande bedrag kan op een slag vereffen word.
  • Ten volle en finale betaling vir die toer: 15 Junie 2024.
Volg ook gerus die onderstaande skakels vir meer inligting:

Opsomming oor VivA-toer: https://viva-afrikaans.org/portale/inligtingsportaal-reg/taaltoer
Bemarkingsvideo: https://www.youtube.com/watch?v=201OH1LJwVo

FSA-Jeuguitruilprogram

Die FSA, wat in 1996 gestig is, is 'n jeuguitruilinisiatief tussen Suid-Afrika en Duitsland wat aangebied word aan leerlinge van graad 8 - 12. Oor die jare het meer as 10 000 jeugdiges deelgeneem aan ons inisiatief waarvoor Duits as vak nie 'n vereiste is nie.

Ons program het ten doel om die lewens van ons deelnemers te verryk, hulle bloot te stel aan 'n ander kultuur, en hulle in staat te stel om Suid-Afrika as jong ambassadeurs in die buiteland te verteenwoordig. Die terugvoer wat ons ontvang, getuig presies daarvan. Gewoonlik laat die ervaring die jongmense besef dat hulle tot baie meer in staat is as wat hulle gedink of oor gedroom het.

Ons streef daarna om hierdie geleentheid aan soveel as moontlik jongmense in Suid-Afrika bied en daar is geen rede waarom leerlinge van u skool nie ook hierin kan deel nie. Ons nuwe brosjure en aansoekvorm is aanheg as 'n uitnodiging vir u leerlinge om aansoek te doen vir deelname aan ons 2024-programme. Belangstellendes kan ons direk kontak.

Aansoekvorms
Brosjure

Met u hulp kan ons vanjaar weer die lewens van jongmense van regoor Suid-Afrika aanraak.
facebook instagram 
Email Marketing Powered by MailPoet