> Besoek die volledige 2024-kalender op die webtuiste <

Volg die skakel om jou kaartjies te koop: https://qkt.io/8La6xo

UIT DIE SKOOLHOOF SE KANTOOR

Goeiedag Ouers/Voogde

Baie geluk aan ons FAME-geselskap met ’n puik produksie wat vandeesweek op die planke is – ons is baie trots op hul harde werk en is weer verstom oor die talent en die professionele aanbieding! Indien u nog nie kaartjies bespreek het nie, moet u gou spring om nog tot Sondag hierdie produksie te sien. Kaartjies is op Quicket beskikbaar.

Ons is eerskomende Dinsdag en Woensdag gasheer vir die ATKV-redenaarskompetisie vir laerskole in die provinsie en aangesien sowat 400 leerders die twee dae hier by Jan van Riebeeck deelneem, moet die skool vroeër sluit.
Die akademiese periodes wat wegval, sal later die kwartaal ingehaal word.
Die skooldag sal daarom Dinsdag en Woensdag vir die meerderheid van ons leerders om 12:30 eindig.
Hier volg belangrike reëlings om van kennis te neem:

Akademiese reëlings vir 23 en 24 April 2024:
23 April
Slegs periode 2 tot 7 vind plaas. Geen registerperiode nie. Leerders gaan direk na periode 2 toe.
Graad 12 FW.-, Besigheidstudies-, Gesk.- en Musiek-klas vanaf 12:45 - 14:30
Graad 11 Wisk.- en WG-klas vanaf 12:45 - 13:35
Graad 11 Rek.-, Toer.- IGO.-, Musiek- en Drama-klas vanaf 13:35 – 14:25

24 April
Slegs periode 1 tot 6 vind plaas. Geen registerperiode nie. Leerders gaan direk na periode 1 toe.
Graad 12 Wisk.- en WG-klas vanaf 12:45 - 13:35
Graad 12 Rek.-, Toer.-, IGO.-, Musiek- en Drama-klas vanaf 13:35 – 14:25
Graad 11 FW.-, Besigheidstudies-, Gesk.- en Musiek-klas vanaf 12:45 - 14:30

Sportreëlings vir 23 en 24 April 2024:
Ons sportprogram begin om 13:00 met oefeninge vir die volgende spanne:

Netbal
o.14 + o.15 + o.16 + o.17
Rugby
o.14 + o.15 + o.16 + o.17
Hokkie
o.16-Seuns en -Dogters

Alle eerste span-oefeninge sal soos gewoonlik om 14:30 begin.

Woensdag vind ons plaaslike landlope-ligatuiswedloop ook plaas wat om 15:30 begin. Soos voorheen genoem, sal daar nie rekke-gim Woensdag wees nie, maar daar word van alle JvR-sportspanne verwag om deel te neem aan die landlope-ligawedloop by ons sportvelde.

Baie dankie vir u ondersteuning en samewerking in die verband.

Geniet die naweek!

Pieter Rademeyer
Skoolhoof

AKADEMIE

Assesseringsprogram en intervensie vir Kwartaal 2

Volg die skakel vir die volledige program vir hierdie kwartaal.

Rekeningkunde ekstra gr. 12-klasse

Daar is verpligte Rekeningkundelesse op Maandaeoggende vanaf 07:00 tot 07:45 in me. Meyer se klaskamer. Alle graad 12-Rekeningkundeleerders moet teenwoordig wees. Die klas word aangebied om leerders voor te berei om ten beste in die vak te presteer. Enige navrae kan aan me. Meyer gerig word.

Graad 12-Onderwêreld-opvoering

Alle graad 12’s woon op Dinsdag, 30 April om 8:00 die opvoering van hul Afrikaanse voorgeskrewe werk, Onderwêreld, by Hoërskool Tygeberg by. Die drie graad 12-Afrikaansonderwysers sal die groep vergesel.

Die koste vir die vertoning beloop R110 per leerder en die skool verskaf die busvervoer vir al ons leerders. Ons sal nader aan die tyd vertrektye bevestig. Betaal asseblief teen Maandag, 15 April die R110 op Karri. Daar sal ook ’n opsie wees vir ouers/voogde om ‘n donasie by te voeg vir leerders wat nie die volle bedrag kan bybring nie.

Ons sien uit na hierdie akademiese verrykingsgeleentheid vir al ons matrikulante.

Proverto-Olimpiade (Handelsvakke)

Leerders (Graad 10 -12) kan vir dié olimpiade in Rekeningkunde, Ekonomie en Besigheidstudies inskryf. Daar is ook 'n addisionele komponent wat die UJ FIMO genoem word, wat 'n dink "buite-die-boks"-olimpiade is. Dit is opsioneel. Leerders kan dus al vier komponente of slegs drie, twee of een skryf en die koste beloop dieselfde.
Koste: R120. Betalings via Karri.
Die eerste ronde vind op 8 Mei 2024 om 14:30 in me. Meyer se lokaal plaas. Indien leerders kwalifiseer, vind die tweede ronde op 7 Augustus 2024 plaas. Leerders wat belangstel kan by me. Meyer, me. Von Versen of mnr. Henning inskryf. Ons sien uit na 'n groot aantal inskrywings en moontlike pryswenners vanjaar. Enige navrae kan aan me. Meyer (sonet.meyer@janvanriebeeck.co.za) gerig word.

Graad 12 - Akademie

Kliek hier vir die samestelling van elke graad 12-vak se SBA-punt. (Graad 12 SBA-samestelling vanaf die WKOD pdf aangeheg.)

Hieronder kan u toegang kry tot die eksamenriglyne vir elke vak. Dit is belangrik dat u kind deurlopend die dokument raadpleeg. (Graad 12 eksamenriglyne per vak hierby aangeheg.)
Graad 12 hulpbron vanaf die WKOD - Grade 12 Tips for Success 2024

Vakveranderinge 2024

Die proses is as volg:

U as ouer/voog voltooi die eerste gedeelte van die vorm en daarna moet u kind asb. sorg dat die huidige vakonderwyser, die beoogde vakonderwyser, asook sy/haar graadhoof die vorm teken. Daarna kan u kind die vorm by die akademiese hoof indien. Die akademiese hoof sal vir u kind 'n toestemmingsbrief gee sodra die WKOD die aansoek goedkeur het en eers daarna mag u kind van vak verander. Kontak me. Liza Serrao (liza.serrao@janvanriebeeck.co.za) indien u nog enige vrae het.
  • Graad 11 – Aansoek deur ouer/voog/primêre versorger. Twee veranderinge toegelaat. Veranderings is nou gesluit.
  • Graad 10 – Aansoek deur ouer/voog/primêre versorger. Twee veranderinge toegelaat. Sperdatum is 7 Junie 2024

KULTUUR

DigiKuns-kompetisie

ATKV-DigiKuns is ’n opwindende digitale kunsplatform wat ’n unieke, kreatiewe uitdaging aan laer- en hoërskoolleerders, studente, volwassenes en senior burgers stel. Die ATKV bly toegewyd aan die volhoubare ontwikkeling van kuns en kultuur en glo dat dit kernbelangrik is vir ’n gesonde samelewing. Daarom moedig ons leerders aan om hul kunswerk te skep en in te skryf, en terselfdertyd hul kreatiwiteit in 2024 ’n groot hupstoot te gee! Vanjaar se vindingryke tema is “Op reis”. Kom deel jou ervarings en herinneringe saam met ons, want ’n reisverhaal moet vertel word.

Inskrywings sluit op 30 April 2024.
Inskrywingsgeld beloop R120 per kunswerk.
Meer inligting is by me. Vrey beskikbaar.

Kaapse Afrikaanse Eisteddfod: Kuns

Alle graad 8 tot 12-leerders kan inskryf. Skryf twee kunswerke in as jy in aanmerking wil kom vir ʹn medalje.
Kostes beloop R85.00 per kunswerk.
Sluitingsdatum en inhandigingsdatum vir kunswerke is 10 Junie 2024.
Meer inligting is by me. Vrey beskikbaar.

BOLD Internasionale Eisteddfod

“In a World where you can be anything be BOLD."

Die BOLD Internasionale Eisteddfod plaas die kollig op verskeie kulturele aktiwiteite in skole deur ʹn digitale platform waar jong talent wêreldwyd met mekaar kan kompeteer. Daar is verskeie kategorieë waarvoor ingeskryf kan word. Inskrywings word aanlyn gedoen vanaf 1 Mei tot 30 Junie op hul webtuiste. Kostes beloop R120.00 per inskrywing. Meer inligting is by me Vrey beskikbaar.

SPORT

Hoërskool Jan van Riebeeck vs Hoërskool Vredenburg- sportdag

Ons is opgewonde om ons eerste tuis sportdag vir die jaar aan te kondig wat op 27 April 2024 teen Vredenburg Hoërskool plaasvind. Dit gaan 'n dag vol opwinding en mededinging wees en ons wil graag al ons ouers uitnooi om die dag saam met ons te kom geniet.

Die spanne wat betrokke is by die dag is as volg:

Netbal:
  • o.14 A - D
  • o.15 A - C
  • o.16 A - B
  • o.17 A
  • o.19 A – B
Skaak: 6 spelers

Rugby:
  • o.14A
  • o.15A
  • o.17A
  • o.19A
Hokkie:
  • Seuns o.19A
  • Dogters o.19A & o.16A
Die dag begin om 08:00 en die volledige skedule aan u beskikbaar gestel word nader aan die tyd. Ons sien uit daarna om u daar te verwelkom vir 'n onvergeetlike dag van sport en pret.

ALGEMEEN

Omgeebroodjies: Matriekraad- en VRL-projek

Ons vra graag vrywilligers in elke graadgroep om ons in ons omgeetoebroodjieprojek te ondersteun.

Dié broodjieprojek behels dat ons vir behoeftige leerders voorsien van ’n dubbelsny toebroodjie met ’n gesonde vulsel soos kaas/kaassmeer, ham of grondboontjiebotter. Die toebroodjie word met 'gladwrap' toegedraai.

Hierdie omgeebroodjies word dan elke dag (Maandag tot Vrydag) saam met u seun/dogter gestuur en tussen 7:00–7:40 in die houer in die admin-gang geplaas.
Elke graadgroep het ‘n spesifieke dag gekry om broodjies te bring; dus bring ‘n leerder net op een dag van die week sy/haar broodjie. Leerders wat betrokke wil raak kan hulle name by me. Steyn ingee.
  • Graad 12: Maandag
  • Graad 11: Dinsdag
  • Graad 10: Woensdag
  • Graad 9: Donderdag
  • Graad 8: Vrydag
Elke graadhoof is bewus van hoeveel leerders in hul graad iets te ete benodig en sal dit baie sensitief versprei. U kan ook vir aflewering reël indien vrywilligers weens werksomstandighede of welke ander rede nie die broodjies vroegoggend kan aflewer nie. Vrywilligers wat met dié baie nodige projek verder wil help, kan ook me. Steyn per e-pos in kennis stel: huibrecht.steyn@janvanriebeeck.co.za

Indien u eerder ’n finansiële bydrae tot hierdie projek wil maak, kan u dit via Karri doen.

U ondersteuning word hoog op prys gestel.

ADVERTENSIES

NETwerf!

Teken in en help ons wen! Klik op hierdie skakel om op Netwerk24 in te teken teen ‘n spesiale prys en help ons skool geld maak wat ons weer kan terugploeg. Wie nie werf nie, wen nie!

Volg die spesiale skakel om aan te sluit: https://www.netwerk24.com/intekening/promosie/jvr100

Fenix Atventyr-toere

Leerders het die week tydens die Verrykingssaal meer uitgevind oor die toere wat Fenix Atventyr aanbied. Indien u meer wil uitvind, kan u hul direk kontak. Sien die brosjure om meer uit te vind oor die pakket wat hulle aanbied. Die toere is saamgestel vir hoërskoolleerders wat die wêreld wil verken.

VivA: Taal-kuns-en-tegnologietoer van 19 September tot 1 Oktober 2024

VivA bied vanaf 19 September tot 1 Oktober 2024 'n Taal-kuns-en-tegnologietoer aan.

Alle inligting word vervat in die aangehegte dokumentasie (inligting, termes & voorwaardes), maar die belangrikste datums is:
  • Daar is 50 plekke beskikbaar op die toer en leerders is reeds besig om hul plekke met die betaling van ‘n deposito vas te maak.
  • R10 000-depositobetaling: Sou gou as moontlik - sodra die leerder sy/haar plek wil bespreek.
  • Inskrywings vir die toer sluit 15 Junie 2024.
  • Betalings kan maandeliks gemaak word of die volle uitstaande bedrag kan op een slag vereffen word.
  • Ten volle en finale betaling vir die toer: 15 Junie 2024.
Volg ook gerus die onderstaande skakels vir meer inligting:

Opsomming oor VivA-toer: https://viva-afrikaans.org/portale/inligtingsportaal-reg/taaltoer
Bemarkingsvideo: https://www.youtube.com/watch?v=201OH1LJwVo

FSA-Jeuguitruilprogram

Die FSA, wat in 1996 gestig is, is 'n jeuguitruilinisiatief tussen Suid-Afrika en Duitsland wat aangebied word aan leerlinge van graad 8 - 12. Oor die jare het meer as 10 000 jeugdiges deelgeneem aan ons inisiatief waarvoor Duits as vak nie 'n vereiste is nie.

Ons program het ten doel om die lewens van ons deelnemers te verryk, hulle bloot te stel aan 'n ander kultuur, en hulle in staat te stel om Suid-Afrika as jong ambassadeurs in die buiteland te verteenwoordig. Die terugvoer wat ons ontvang, getuig presies daarvan. Gewoonlik laat die ervaring die jongmense besef dat hulle tot baie meer in staat is as wat hulle gedink of oor gedroom het.

Ons streef daarna om hierdie geleentheid aan soveel as moontlik jongmense in Suid-Afrika bied en daar is geen rede waarom leerlinge van u skool nie ook hierin kan deel nie. Ons nuwe brosjure en aansoekvorm is aanheg as 'n uitnodiging vir u leerlinge om aansoek te doen vir deelname aan ons 2024-programme. Belangstellendes kan ons direk kontak.

Aansoekvorms
Brosjure

Met u hulp kan ons vanjaar weer die lewens van jongmense van regoor Suid-Afrika aanraak.
facebook instagram 
Email Marketing Powered by MailPoet