> Besoek die volledige 2024-kalender op die webtuiste <

AKADEMIE

UIT DIE SKOOLHOOF SE KANTOOR

Goeiedag Ouers/Voogde

Baie dankie aan al ons ouers en oudleerders wat verlede naweek die skool se verjaardagvieringe saam met ons geniet het. Ons is trots op ons sportspanne wat uitstekende vertonings gelewer het. Dankie ook aan al die ouers wat by kosstalletjies en op talle ander plekke hulp verleen het - ons waardeer u bydraes baie!

Ons is baie trots op vyf van ons leerders wie se skryfwerk gekeur is om ingesluit te word in die gesogte POORT-skryfbundel: Mari Swanepoel, Toby de Ruiter, Scarlett van der Merwe, Simonay Jacobs en Luca Zulch.

Hierdie publikasie spog met ons land se beste aspirantskrywers se werk en dis elke jaar vir ons ’n hoogtepunt wanneer ons die goeie nuus ontvang dat Jan van Riebeeckers se werk aanvaar is.
Ek deel graag in die volgende paar weke dié jong skrywers se skryfsels.

Mari Swanepoel spog met drie gedigte in vanjaar se bundel:

Rustig
Die see sug
blaas
’n golfie oor die rotse
glimlag
lui
terwyl die son in haar waters loer
verby haar bruin krulle
haar blou-watervel
tot op die sandkorrels
wat sussend slaap
en mosselrotse
wat slapende skoonhede bewaak

Grootword
Die wêreld sê ons moet grootword
wakker word
verantwoordelikheid aanvaar
pop in die kas bêre
ophou wonder:
dink
van rondomtalie swaai
en huppel vergeet
Die wêreld sê ons moet grootword
geslyp word
en van die jong haasbek meisie
wat ek eens was
vergeet

Gryskombers

Dis nou al 7 dae
maar jy kruip steeds weg
onder die gryskombers

Jou hoesbuie
weergalm teen die rotse
en die snotskuim
opgooihopie
groei
elke dag

Die koors –
warm en koud
laat selfs die water
wit prut

en jou gesig
is bleek en uitgehol soos ou badwater
asof die koue al die liefde uitgeskep het
maar die wêreld brand saam met jou
en die wêreld bewe saam met jou
en die wêreld soek vir jou

onder jou gryswolkombers

Mooi naweek!

Pieter Rademeyer
Skoolhoof

Skooltye: 16 Mei - 7 Junie 2024

Die skooltye tydens die eksamen gaan effens verander om steeds ons sport- en kultuurprogram te akkommodeer. Dié tye sal vanaf Donderdag, 16 Mei, gevolg word.

Maandae: Kultuur en Sport
  • Skool verdaag om 12:10.
  • Sport (Rekkegim - alle sportkodes) 12:30 - 13:45
  • Kultuur: Kooroefeninge in die saal 12:30 - 13:50
  • Busse vertrek 14:00.
Dinsdae: Sport
  • Skool verdaag om 12:10.
  • Sport (Alle sportkodes: netbal, hokkie, rugby, tafeltennis, landloop, skaak) 12:30 - 13:45
  • Leerders wat sport na skool doen, mag in oefendrag met ’n volledige skoolsweetpak skool toe kom.
  • Busse vertrek 14:00.
Woensdae: Geen aktiwiteite
  • Busse vertrek 12:30.
    Donderdae: Sport
    • Skool verdaag om 12:10.
    • Sport (Alle sportkodes: netbal, hokkie, rugby, tafeltennis, landloop, skaak) 12:30 - 13:45
    • Leerders wat sport na skool doen, mag in oefendrag met ’n volledige skoolsweetpak skool toe kom.
    • Busse vertrek 14:00.
    Vrydae: Geen aktiwiteite
    • Busse vertrek 12:30.

    Assesseringsprogram en intervensie vir Kwartaal 2

    Volg die skakel vir die volledige program vir hierdie kwartaal.

    Afrikaansolimpiade

    Ons Jan van Riebeeckers in graad 10-12 skryf eerskomende Dinsdag, 14 Mei die senior Afrikaansolimpiade. Leerders moet om 14:15 in mnr. Rademeyer en me. Van Heerden se klas aanmeld. Die olimpiade begin om 14:30 en eindig om 16:30. Die netbaldogters wat wedstrydverpligtinge het, sal vroeër begin skryf om betyds klaar te wees sodat hul kan vertrek.

    Kliek gerus hier om seker te maak dat u kind vir die olimpiade ingeskryf is.

    Baie sterkte aan al ons leerders – ons sien uit na mooi uitslae!

    Halfjaareksamen: Graad 8 tot 12

    Die eksamen vir graad 8 tot 12 skop op Donderdag, 16 Mei af. Die skool kom daagliks om 12:10 uit. Vir u gerief, is die eksamenrooster weer hier aangeheg. Ouers word daaraan herinner dat hul die eksamenhoof, me. Serrao, dadelik moet kontak by liza.serrao@janvanriebeeck.co.za indien hul kind die dag nie ’n eksamen kan bywoon nie. Ouers moet so gou as moontlik ‘n mediese sertifikaat by me. Sterrenberg indien.

    Rig asseblief enige navrae in verband met die eksamen aan me. Serrao.

    Rekeningkunde: ekstra gr. 12-klasse

    Daar is verpligte Rekeningkundelesse op Maandaeoggende vanaf 07:00 tot 07:45 in me. Meyer se klaskamer. Alle graad 12-Rekeningkundeleerders moet teenwoordig wees. Die klas word aangebied om leerders voor te berei om ten beste in die vak te presteer. Enige navrae kan aan me. Meyer gerig word.

    Eye Brain Gym- Leesprogram

    Kliek hier om toegang te kry tot 'n belangrikke kennisgewing rondom die skool se leesprogram. Klik hier vir die EBG-pamflet.

    BEELD se Kreatiewe Skryfkompetisie 2024

    BEELD bied vanjaar weer hul skryfkompetisie vir Afrikaansleerders aan. BEELD bied al vir die afgelope 6 jaar hierdie kompetisie aan. Leerders kan hul beste skryfwerk wat tussen Januarie en 31 Augustus vanjaar geskryf is, inskryf. Hierdie kompetisie sluit beide ’n poësie- en opstelafdeling in. Indien leerders ’n opstel wil skryf, kan hulle kies tussen die verhalende, beskrywende, argumenterende of bespiegelende opstel. In hierdie geval kan hulle self besluit wat die tema van hul opstel is. Indien hulle egter in die ope-afdeling wil deelneem (m.a.w. nie een van hierdie opstelformate wil volg nie), moet hulle volgens die tema “Wat ek die beste in Afrikaans sê” skryf. Opstelinskrywings moet teen 16 September ingedien word.

    In terme van poësie-inskrywings kan leerders enige gedigte wat hulle tussen Januarie en Mei vanjaar skryf, instuur. In die poësiekategorie is onderwysers ook welkom om deel te neem. Poësie-inskrywings moet teen 17 Junie ingestuur word.

    Die wenner in elke kategorie ontvang R3000 en kursusse van Multidimensions ter waarde van R4900 vir hulself en hul Afrikaansonderwyser. Die naaswenner in elke kategorie ontvang ’n kontantprys van R1500 en kursusse ter waarde van R2500 vir hulself en hul Afrikaansonderwyser. Die leerder in die derde plek wen R500 en kursusse ter waarde van R1500 vir hulself en hul Afrikaansonderwyser. Die onderwyser wat die poësiekategorie wen, ontvang R3000, die naaswenner R1500 en die een in die derde plek R500.

    Leerders wat graag wil inskryf, kan met juf. Raath kommunikeer.

    Hoza-Senior Geskiedenisolimpiade

    Leerders skryf op Karri in. Volg die skakel vir meer inligting.

    Graad 12 - Akademie

    Kliek hier vir die samestelling van elke graad 12-vak se SBA-punt. (Graad 12 SBA-samestelling vanaf die WKOD pdf aangeheg.)

    Hieronder kan u toegang kry tot die eksamenriglyne vir elke vak. Dit is belangrik dat u kind deurlopend die dokument raadpleeg. (Graad 12 eksamenriglyne per vak hierby aangeheg.)
    Graad 12 hulpbron vanaf die WKOD - Grade 12 Tips for Success 2024

    Vakveranderinge 2024

    Die proses is as volg:

    U as ouer/voog voltooi die eerste gedeelte van die vorm en daarna moet u kind asb. sorg dat die huidige vakonderwyser, die beoogde vakonderwyser, asook sy/haar graadhoof die vorm teken. Daarna kan u kind die vorm by die akademiese hoof indien. Die akademiese hoof sal vir u kind 'n toestemmingsbrief gee sodra die WKOD die aansoek goedkeur het en eers daarna mag u kind van vak verander. Kontak me. Liza Serrao (liza.serrao@janvanriebeeck.co.za) indien u nog enige vrae het.
    • Graad 11 – Aansoek deur ouer/voog/primêre versorger. Twee veranderinge toegelaat. Veranderings is nou gesluit.
    • Graad 10 – Aansoek deur ouer/voog/primêre versorger. Twee veranderinge toegelaat. Sperdatum is 7 Junie 2024

    KULTUUR

    Praktiese musiekeksamens

    Die individuele praktiese eksamens vir VAKMUSIEK vind van 10 tot 15 Mei plaas. Elke leerder moet 'n halfuur voor die aangewese tyd na die musiekblok kom om op te warm, en moet dan 5 minute voor die bestemde tyd voor die deur van die eksamenlokaal wag om geroep te word. KLASSE GAAN SOOS GEWOONLIK AAN; LEERDERS WAT MOET KOM SPEEL/SING, WORD ONTTREK UIT DIE KLASSE.

    Maak asb. 'n nota van u kind se eksamentyd. Indien 'n leerder nié by die eksamen kan wees nie as gevolg van siekte, MOET 'n DOKTERSERTIFIKAAT ingedien word, soos met enige geskrewe eksamen. Leerders moet sorg dat hulle hul eie instrumente, bladmusiek en toebehore by die eksamen het. Kitaarspelers kan van die skool se versterkers ("amps") gebruik maak. Moedig asb. u kind aan om goed en gereeld te oefen in aanloop tot die eksamen sodat hy/sy goed voorbereid sal wees vir die eksamen. Laat hulle ook 'n goeie ontbyt die oggend eet om die energievlakke op te bou.

    Die vereistes vir die eksamen is soos volg:
    • Grade 8 en 9: 2 stukke, bladlees op die instrument, en tegniese werk (toonlere, oefeninge, 'n studie of tegniese stuk)
    • Grade 10 en 11: 2 stukke, bladlees en tegniese werk (toonlere, oefeninge, 'n studie of tegniese stuk), gehoortoetse (bladsang, ritme klap en drieklanke sing)
    • Graad 12: Soos grade 10 en 11, maar met byvoeging van 'n 3de stuk/studie.
    Sterkte met die voorbereiding!

    Kaapse Afrikaanse Eisteddfod: Kuns

    Alle graad 8 tot 12-leerders kan inskryf. Skryf twee kunswerke in as jy in aanmerking wil kom vir ʹn medalje.
    Kostes beloop R85.00 per kunswerk.
    Sluitingsdatum en inhandigingsdatum vir kunswerke is 10 Junie 2024.
    Meer inligting is by me. Vrey beskikbaar.

    BOLD Internasionale Eisteddfod

    “In a World where you can be anything be BOLD."

    Die BOLD Internasionale Eisteddfod plaas die kollig op verskeie kulturele aktiwiteite in skole deur ʹn digitale platform waar jong talent wêreldwyd met mekaar kan kompeteer. Daar is verskeie kategorieë waarvoor ingeskryf kan word. Inskrywings word aanlyn gedoen vanaf 1 Mei tot 30 Junie op hul webtuiste. Kostes beloop R120.00 per inskrywing. Meer inligting is by me Vrey beskikbaar.

    SPORT

    Sportdag: Hs Jan van Riebeeck vs Porterville

    Ons is opgewonde om aan te kondig dat ons rugby- en netbalspanne volgende naweek in aksie sal wees by Hoërskool Porterville. Meer inligting oor die program, vertrektye en ander belangrike reëlings sal binnekort beskikbaar wees. Ons sien daarna uit om ons spelers van die hoër- en die laerskool in aksie te sien en saam met ons ondersteuners die opwinding van die dag te deel.

    ALGEMEEN

    Omgeebroodjies: Matriekraad- en VRL-projek

    Ons vra graag vrywilligers in elke graadgroep om ons in ons omgeetoebroodjieprojek te ondersteun.

    Dié broodjieprojek behels dat ons vir behoeftige leerders voorsien van ’n dubbelsny toebroodjie met ’n gesonde vulsel soos kaas/kaassmeer, ham of grondboontjiebotter. Die toebroodjie word met 'gladwrap' toegedraai.

    Hierdie omgeebroodjies word dan elke dag (Maandag tot Vrydag) saam met u seun/dogter gestuur en tussen 7:00–7:40 in die houer in die admin-gang geplaas.
    Elke graadgroep het ‘n spesifieke dag gekry om broodjies te bring; dus bring ‘n leerder net op een dag van die week sy/haar broodjie. Leerders wat betrokke wil raak kan hulle name by me. Steyn ingee.
    • Graad 12: Maandag
    • Graad 11: Dinsdag
    • Graad 10: Woensdag
    • Graad 9: Donderdag
    • Graad 8: Vrydag
    Elke graadhoof is bewus van hoeveel leerders in hul graad iets te ete benodig en sal dit baie sensitief versprei. U kan ook vir aflewering reël indien vrywilligers weens werksomstandighede of welke ander rede nie die broodjies vroegoggend kan aflewer nie. Vrywilligers wat met dié baie nodige projek verder wil help, kan ook me. Steyn per e-pos in kennis stel: huibrecht.steyn@janvanriebeeck.co.za

    Indien u eerder ’n finansiële bydrae tot hierdie projek wil maak, kan u dit via Karri doen.

    U ondersteuning word hoog op prys gestel.

    BORGE

    ADVERTENSIES

    Volg gerus die skakel vir meer inligting: https://wenwetenskap.co.za/

    NETwerf!

    Teken in en help ons wen! Klik op hierdie skakel om op Netwerk24 in te teken teen ‘n spesiale prys en help ons skool geld maak wat ons weer kan terugploeg. Wie nie werf nie, wen nie!

    Volg die spesiale skakel om aan te sluit: https://www.netwerk24.com/intekening/promosie/jvr100

    Fenix Atventyr-toere

    Leerders het die week tydens die Verrykingssaal meer uitgevind oor die toere wat Fenix Atventyr aanbied. Indien u meer wil uitvind, kan u hul direk kontak. Sien die brosjure om meer uit te vind oor die pakket wat hulle aanbied. Die toere is saamgestel vir hoërskoolleerders wat die wêreld wil verken.

    VivA: Taal-kuns-en-tegnologietoer van 19 September tot 1 Oktober 2024

    VivA bied vanaf 19 September tot 1 Oktober 2024 'n Taal-kuns-en-tegnologietoer aan.

    Alle inligting word vervat in die aangehegte dokumentasie (inligting, termes & voorwaardes), maar die belangrikste datums is:
    • Daar is 50 plekke beskikbaar op die toer en leerders is reeds besig om hul plekke met die betaling van ‘n deposito vas te maak.
    • R10 000-depositobetaling: Sou gou as moontlik - sodra die leerder sy/haar plek wil bespreek.
    • Inskrywings vir die toer sluit 15 Junie 2024.
    • Betalings kan maandeliks gemaak word of die volle uitstaande bedrag kan op een slag vereffen word.
    • Ten volle en finale betaling vir die toer: 15 Junie 2024.
    Volg ook gerus die onderstaande skakels vir meer inligting:

    Opsomming oor VivA-toer: https://viva-afrikaans.org/portale/inligtingsportaal-reg/taaltoer
    Bemarkingsvideo: https://www.youtube.com/watch?v=201OH1LJwVo

    FSA-Jeuguitruilprogram

    Die FSA, wat in 1996 gestig is, is 'n jeuguitruilinisiatief tussen Suid-Afrika en Duitsland wat aangebied word aan leerlinge van graad 8 - 12. Oor die jare het meer as 10 000 jeugdiges deelgeneem aan ons inisiatief waarvoor Duits as vak nie 'n vereiste is nie.

    Ons program het ten doel om die lewens van ons deelnemers te verryk, hulle bloot te stel aan 'n ander kultuur, en hulle in staat te stel om Suid-Afrika as jong ambassadeurs in die buiteland te verteenwoordig. Die terugvoer wat ons ontvang, getuig presies daarvan. Gewoonlik laat die ervaring die jongmense besef dat hulle tot baie meer in staat is as wat hulle gedink of oor gedroom het.

    Ons streef daarna om hierdie geleentheid aan soveel as moontlik jongmense in Suid-Afrika bied en daar is geen rede waarom leerlinge van u skool nie ook hierin kan deel nie. Ons nuwe brosjure en aansoekvorm is aanheg as 'n uitnodiging vir u leerlinge om aansoek te doen vir deelname aan ons 2024-programme. Belangstellendes kan ons direk kontak.

    Aansoekvorms
    Brosjure

    Met u hulp kan ons vanjaar weer die lewens van jongmense van regoor Suid-Afrika aanraak.
    facebook instagram 
    Email Marketing Powered by MailPoet