|
|
|
JvR-ouerskapoggend by Welgemeend!
|
|
|
|
|
UIT DIE SKOOLHOOF SE KANTOOR
Ons is vandeesweek besonder trots op ons netbalspanne wat puik prestasies gelewer het. Ons o.14-, o.17- en o.19-spanne het deurgedring na die laaste rondes van die WP-skoleliga nadat hul die Kaapse Eerste Liga-wenners was.
|
Ons o.14-span het die voorreg gehad om verlede week aan die Wes-Kaapse Topskolekampioenskappe deel te neem én na hul oorwinning oor Hoërskool Bellville die week, speel ons eerste span ook op 8 Junie in dié gesogte toernooi. Ons hou duimvas vir mooi uitslae en die moontlikheid om deur te dring na die nasionale Topskole-toernooi in Gauteng. Jul maak ons baie trots!
|
Op die kultuurverhoog het die Jan van Riebeeckers ook uitgeblink in die Kaapse Afrikaanse Eisteddfod! Nie minder nie as 14 leerders behaal diploma-toekennings (bo 95%), 20 behaal Hoogste Lof (bo 90%), 8 Lof (bo 80%) en 7 Eervolle Vermelding (bo 70%). Ons kultuurkinders werk baie hard aan die slyp van hul vaardighede en talente en ons is groot dank verskuldig aan ons dramahoof, me. Sanet Taljaard, wat saam met haar span ons leerders tot hoë hoogtes inspireer en begelei. Mooi so!
|
Ons wens me. Leandé van Heerden (saam met haar man en ons sporthoof, mnr. Abré van Heerden) ’n geseënde kraamverloftydperk toe. Die Van Heerdens verwag hul eersteling volgende week en ons weet dié mannetjie gaan vir groot vreugde in hul lewe sorg. Me. Maritha Strydom neem waar in me. Van Heerden se posisie totdat sy in September weer terugkeer.
|
Ek vertrou ook dat dit steeds goed gaan met die eksamen – mag jul almal enduit gefokus bly!
|
|
|
AKADEMIE
|
|
|
|
Graad 9-sake: Vakkeuse assessering
|
Neem asseblief kennis van die volgende inligting met betrekking tot die graad 9’s se vakkeuse-assessering (psigometriese toetse):
|
Datum: Woensdag, 12 Junie 2024 Lokaal: Saal Doel:
|
- Identifiseer leerder se sterkpunte.
- Identifiseer areas waar uitdagings voorkom.
- Verskaf riglyne wat vakkeuses kan help bepaal.
Koste van assessering: Geen Koste van verslag: R550 indien ouers/voogde die verslag wil koop. Betalings sal op Karri gelaai word na afloop van die assessering. Borge vir verslae sal hartlik waardeer word.
|
Soos op die skoolkalender aangedui, vind die vakkeuse-aand op Woensdag, 21 Augustus, plaas. Alle ouers/voogde en leerders word genooi om hierdie aand by te woon. U sal toegespreek word deur verskeie sprekers t.o.v. vakkeuses en studierigtings. Daar sal geleentheid wees om daarna met vakonderwysers te gesels.
|
Verdere inligting oor die vakkeuse-aand sal in die derde kwartaal volg.
|
U is welkom om enige navrae per e-pos aan mnr. Klink te rig by hans-peter.klink@janvanriebeeck.co.za.
|
|
|
|
|
Die Vryevers 2023
|
Ons beplan om tydens vanjaar se Afrikaansweek weer ons eie JvR-skryfbundel te publiseer.
|
Alle Jan van Riebeeckers word uitgenooi om enige skryfwerk wat gedurende 2023 gelewer is, vir moontlike publikasie in te skryf. Die Afrikaansdepartement sal ook die beste opstelle wat in die klasse geskryf is, vir publikasie oorweeg.
|
Indien jy enige gedigte, kortverhale, dramas of opstelle wil instuur vir moontlike publikasie, kan dit per e-pos (in ’n WORD-dokument) gestuur word na pieter.rademeyer@janvanriebeeck.co.za. Die sluitingsdatum is Vrydag, 14 Junie 2024.
|
Ons sien daarna uit om jou skryfwerk te ontvang!
|
|
|
|
|
Herinnering: Wetenskapolimpiades
|
Die drie SAASTA-Wetenskapolimpiades vind in die derde kwartaal plaas. Leerders het reeds in Kwartaal 1 hiervoor ingeskryf op Karri. Leerders kan gerus ou vraestelle by mev. Turkstra kom haal.
|
- Dinsdag, 23 Julie 2024 : LW-olimpiade (Gr. 10 en 11) 14:00-16:00
- Woensdag, 24 Julie 2024 : NW-olimpiade (Gr. 8 en 9) 14:00-16:00
- Donderdag, 25 Julie 2024 : FW-olimpiade (Gr. 10 en 11) 14:00-16:00
|
|
|
|
Graad 10-Meriete
|
Alle graad 10-leerders wat aan die begin van die jaar tydens die prysuitdeling kleure, erekleure of spesiale erekleure ontvang het, word daaraan herinner dat jul van volgende kwartaal af jul baadjies kan begin dra. 'n Brief moet by me. Nimmo afgehaal word en dan as bewys by die klerewinkel ingehandig word sodat jy jou baadjie kan ontvang. Me. Nimmo is tydens registerperiodes in haar klaskamer beskikbaar vir die afhaal van die briewe.
|
|
|
|
|
Skooltye: 16 Mei - 7 Junie 2024
|
Die skooltye tydens die eksamen gaan effens verander om steeds ons sport- en kultuurprogram te akkommodeer. Dié tye sal vanaf Donderdag, 16 Mei, gevolg word.
|
Maandae: Kultuur en Sport
|
- Skool verdaag om 12:10.
- Sport (Rekkegim - alle sportkodes) 12:30 - 13:45
- Kultuur: Kooroefeninge in die saal 12:30 - 13:50
- Busse vertrek 14:00.
- Skool verdaag om 12:10.
- Sport (Alle sportkodes: netbal, hokkie, rugby, tafeltennis, landloop, skaak) 12:30 - 13:45
- Leerders wat sport na skool doen, mag in oefendrag met ’n volledige skoolsweetpak skool toe kom.
- Busse vertrek 14:00.
Woensdae: Geen aktiwiteite
|
- Skool verdaag om 12:10.
- Sport (Alle sportkodes: netbal, hokkie, rugby, tafeltennis, landloop, skaak) 12:30 - 13:45
- Leerders wat sport na skool doen, mag in oefendrag met ’n volledige skoolsweetpak skool toe kom.
- Busse vertrek 14:00.
|
|
|
|
Opwindende Afrikaansprojekte om aan deel te neem!
|
Die ATKV bied vanjaar weer hul opwindende Digi-projektereeks aan. Hierdie inisiatief bied aan leerders die geleentheid om aan ’n wye verskeidenheid aanlyn kompetisies deel te neem en so hul vaardighede te slyp en talente uit te leef.
|
DigiPRAAT Om jou sê met selfvertroue te kan sê, is ’n vaardigheid wat jy regdeur jou lewe kan gebruik. Met ATKV-DigiPraat skep hul vir leerders ’n platform waarop hul in Afrikaans kan wys hoe glad hul met die mond is. Om alles te kroon, hoef jy nêrens heen te ry nie, met sweterige hande op ’n klipharde saalstoel te sit nie, of bewerig te glimlag vir ’n streng beoordelaar nie. Met ATKV-DigiPraat kan jy in die gerief van jou eie huis, of op enige plek in die wêreld, jou toespraak opneem en vir ons stuur. Loer hier vir al die inligting en sluitingsdatum: https://atkv.org.za/neem-deel/digiprojekte/digipraat/ DigiSKRYF Of jy jou bevind in ’n snikhete Upington, die Eiffeltoring bewonder in die Franse hoofstad, die Vrystaatse stof inasem of smul aan pasta van ’n Italiaanse “mama” – as jy lief is vir Afrikaans en skryf, dan is ATKV-DigiSkryf net vir jou. Dié kompetisie is vir oud en jonk, en gee jou die geleentheid om met jou kreatiwiteit en skryftalent te spog. Nie net sal die wenners se werk op een van die ATKV-platforms ten toon gestel word nie, maar daar is ook fantastiese boekpryse op die spel. Loer hier vir al die inligting en sluitingsdatum: https://atkv.org.za/neem-deel/digiprojekte/digiskryf/ DigiSPEL As jy ’n S-P-E-L-L-E-R is en in koue sweet uitslaan as jy ’n spelfout sien, is die ATKV se digitale spelkompetisie net vir jou. Met ATKV-DigiSpel word leerders aangespoor om baie meer aandag aan die gebruik van Afrikaans te gee, en nie net SMS-taal te gebruik nie. As jy dalk ’n T-E-L-L-E-R is en jou spelvermoë wil verbeter, moet jy beslis nie huiwer om in te skryf nie. Jy sal nie net jou spelvaardighede kan slyp nie, maar ook kan meeding met die beste spellers daarbuite. ATKV-DigiSpel gaan jou uitdaag, jou spelling opskerp en jy gaan boonop jouself gate uit geniet – als in die gemak van jou eie ruimte. Al wat jy nodig het, is toegang tot ’n rekenaar, tablet of slimfoon. Loer hier vir al die inligting en sluitingsdatum: https://atkv.org.za/neem-deel/digiprojekte/digispel/ DigiGESEGDES Is jy ’n voorslag met sêgoed? Is jy gekonfyt in Afrikaanse gesegdes, idiome, spreekwoorde en vergelykings? ATKV-DigiGesegdes gee jou die geleentheid om jou kennis van Afrikaans se beste sêgoed in ’n prettige speletjiesformaat ten toon te stel! Hierdie nuwe projek is oop vir graad 4’s tot volwassenes en selfs bontpraters is welkom. Maak jou leeslitte los en laat jou idioomspiere bult met ATKV-DigiGesegdes! Boonop hoef jy nie die trekpad aan te durf om deel te neem aan hierdie digitale kompetisie nie. Jy het, so waar as padda manel dra, net toegang tot ’n rekenaar, tablet of slimfoon en ’n internetverbinding nodig. Kry iewers jou sit en laat waai! Loer hier vir al die inligting en sluitingsdatum: https://atkv.org.za/neem-deel/digiprojekte/digigesegdes/ DigiVOORDRAG Is jy passievol oor gedigte en wil jy nog altyd groot skares met jou helder voordragstem beïndruk? Wat is dan mooier as Afrikaanse gedigte? Die ATKV wil vir jou die geleentheid gee om hierdie deel van ons taalerfenis te vier deur ATKV-DigiVoordrag. ATKV-DigiVoordrag gee jou die platform en podium om van die prettigste en pragtigste Afrikaanse poësie met ’n waarderende gehoor te deel. Dit maak nie saak hoe jou stem klink nie en jy hoef ook nie pennetjieregop met stywe klere op ’n verhoog te staan nie. Kies net jou mooiste Afrikaanse gedig wat jy lekker met gemak en selfvertroue kan voordra. Laat die mense skaterlag met ’n prettige, komiese gedig of laat hulle ’n traan pink met iets roerend. Klim op ons digitale wêreldverhoog! Kry net jou slimfoon, rekenaar of tablet en skep jou eie ruimte met ’n goeie internetverbinding tuis of elders op die aardbol. Nou kan jy die mense wêreldwyd meevoer deur jou Afrikaanse gedig meesleurend voor te dra, op te neem en die video vir ons te stuur. Loer hier vir al die inligting en sluitingsdatum: https://atkv.org.za/neem-deel/digiprojekte/digivoordrag/ DigiGEDIGTE Wag daar diep in jou binneste ’n gedig wat jy net in jou geliefde moedertaal kan uitdruk? Woordkinders, gee jou poësie-pennevrugte vlerke deur in te skryf vir hierdie digitale kompetisie, ATKV-DigiGedigte. Waar op die aardbol jy ook al jou gedigte skryf, iewers sal jou verse ’n Afrikaanse leser se hart warmer laat klop. Skryf maklik in deur jou gedig in PDF-formaat aan te stuur. As jy toegang het tot ’n internetverbinding en ’n slimfoon, rekenaar of tablet, kan jy inskryf. Of jy hou van paarrym, omarmde rym of eerder met die vrye vers woeker, ATKV-DigiGedigte en die hele wêreld wag op jou digterlike vernuf! Loer hier vir al die inligting en sluitingsdatum: https://atkv.org.za/neem-deel/digiprojekte/digigedigte/
|
Ons moedig graag al ons Jan van Riebeeckers aan om hierdie kreatiewe verrykingsgeleenthede aan te gryp! Kontak gerus mnr. Rademeyer (pieter.rademeyer@janvanriebeeck.co.za) vir enige verdere navrae of hulp met hierdie projekte.
|
|
|
|
|
Assesseringsprogram en intervensie vir Kwartaal 2
|
Volg die skakel vir die volledige program vir hierdie kwartaal.
|
|
|
|
|
Halfjaareksamen: Graad 8 tot 12
|
Die skool kom daagliks om 12:10 uit. Vir u gerief, is die eksamenrooster weer hier aangeheg. Ouers word daaraan herinner dat hul die eksamenhoof, me. Serrao, dadelik moet kontak by liza.serrao@janvanriebeeck.co.za indien hul kind die dag nie ’n eksamen kan bywoon nie. Ouers moet so gou as moontlik ‘n mediese sertifikaat by me. Sterrenberg indien.
|
Rig asseblief enige navrae in verband met die eksamen aan me. Serrao.
|
|
|
|
|
Eye Brain Gym-leesprogram
|
Kliek hier om toegang te kry tot 'n belangrikke kennisgewing rondom die skool se leesprogram. Klik hier vir die EBG-pamflet.
|
|
|
|
|
BEELD se Kreatiewe Skryfkompetisie 2024
|
BEELD bied vanjaar weer hul skryfkompetisie vir Afrikaansleerders aan. BEELD bied al vir die afgelope 6 jaar hierdie kompetisie aan. Leerders kan hul beste skryfwerk wat tussen Januarie en 31 Augustus vanjaar geskryf is, inskryf. Hierdie kompetisie sluit beide ’n poësie- en opstelafdeling in. Indien leerders ’n opstel wil skryf, kan hulle kies tussen die verhalende, beskrywende, argumenterende of bespiegelende opstel. In hierdie geval kan hulle self besluit wat die tema van hul opstel is. Indien hulle egter in die ope-afdeling wil deelneem (m.a.w. nie een van hierdie opstelformate wil volg nie), moet hulle volgens die tema “Wat ek die beste in Afrikaans sê” skryf. Opstelinskrywings moet teen 16 September ingedien word.
|
In terme van poësie-inskrywings kan leerders enige gedigte wat hulle tussen Januarie en Mei vanjaar skryf, instuur. In die poësiekategorie is onderwysers ook welkom om deel te neem. Poësie-inskrywings moet teen 17 Junie ingestuur word.
|
Die wenner in elke kategorie ontvang R3000 en kursusse van Multidimensions ter waarde van R4900 vir hulself en hul Afrikaansonderwyser. Die naaswenner in elke kategorie ontvang ’n kontantprys van R1500 en kursusse ter waarde van R2500 vir hulself en hul Afrikaansonderwyser. Die leerder in die derde plek wen R500 en kursusse ter waarde van R1500 vir hulself en hul Afrikaansonderwyser. Die onderwyser wat die poësiekategorie wen, ontvang R3000, die naaswenner R1500 en die een in die derde plek R500.
|
Leerders wat graag wil inskryf, kan met juf. Raath kommunikeer.
|
|
|
|
|
Graad 12 - Akademie
|
Kliek hier vir die samestelling van elke graad 12-vak se SBA-punt. (Graad 12 SBA-samestelling vanaf die WKOD pdf aangeheg.)
|
Hieronder kan u toegang kry tot die eksamenriglyne vir elke vak. Dit is belangrik dat u kind deurlopend die dokument raadpleeg. (Graad 12 eksamenriglyne per vak hierby aangeheg.)
|
|
|
|
|
Vakveranderinge 2024
|
U as ouer/voog voltooi die eerste gedeelte van die vorm en daarna moet u kind asb. sorg dat die huidige vakonderwyser, die beoogde vakonderwyser, asook sy/haar graadhoof die vorm teken. Daarna kan u kind die vorm by die akademiese hoof indien. Die akademiese hoof sal vir u kind 'n toestemmingsbrief gee sodra die WKOD die aansoek goedkeur het en eers daarna mag u kind van vak verander. Kontak me. Liza Serrao (liza.serrao@janvanriebeeck.co.za) indien u nog enige vrae het.
|
- Graad 11 – Aansoek deur ouer/voog/primêre versorger. Twee veranderinge toegelaat. Veranderings is nou gesluit.
- Graad 10 – Aansoek deur ouer/voog/primêre versorger. Twee veranderinge toegelaat. Sperdatum is 7 Junie 2024
|
|
|
|
|
Kaapse Afrikaanse Eisteddfod: Kuns
|
Alle graad 8 tot 12-leerders kan inskryf. Skryf twee kunswerke in as jy in aanmerking wil kom vir ʹn medalje. Kostes beloop R85.00 per kunswerk. Sluitingsdatum en inhandigingsdatum vir kunswerke is 10 Junie 2024. Meer inligting is by me. Vrey beskikbaar.
|
|
|
BOLD Internasionale Eisteddfod
|
“In a World where you can be anything be BOLD."
|
Die BOLD Internasionale Eisteddfod plaas die kollig op verskeie kulturele aktiwiteite in skole deur ʹn digitale platform waar jong talent wêreldwyd met mekaar kan kompeteer. Daar is verskeie kategorieë waarvoor ingeskryf kan word. Inskrywings word aanlyn gedoen vanaf 1 Mei tot 30 Junie op hul webtuiste. Kostes beloop R120.00 per inskrywing. Meer inligting is by me Vrey beskikbaar.
|
|
|
SPORT
|
|
|
|
|
|
ALGEMEEN
|
|
Graad 8-praatjie: Geslagsgebaseerde geweld
|
Aandag graad 8-ouers/voogde:
|
Ons wil u graag inlig dat die Nasionale Vervolgingsgesag in samewerking met die Departement van Onderwys ’n bewusmakingsprogram oor geslagsgebaseerde geweld met ons leerders wil fasiliteer. Die kapasiteit van hierdie program is 50 leerders, so alle graad 8-seuns sal hierdie kwartaal dié program bywoon. Die graad 8-dogters sal op ’n latere stadium aan hierdie program deelneem.
|
DATUM: Donderdag, 6 Junie 2024 TYD: 08:00-08:45 (ongeveer 45 min.) WKOD-personeel in beheer: Sarah Hendricks (Maatskaplike werker: WKOD) Catherine Hendricks (Maatskaplike werker: WKOD)
|
|
|
|
|
|
|
|
Die Plezier Markt gaan oor die viering van ons gemeenskap, kwaliteit produkte, kreatiewe handelsware en kuns. Kom geniet 'n wye verskeidenheid van stalletjies en kosse op ons pragtige kampus. Daar is aktiwiteite vir oud en jonk.
|
Na afloop van die mark sal Elvis Blue en sy orkes ons vanaf 19:00 met 'n vertoning op die JvR-amfiteater betower. Kaartjies sal ook by die deure beskikbaar wees.
|
Ons beoog om die PlezierMarkt te vestig as 'n jaarlikse geleentheid wat gedagboek sal word as 'n hoogtepunt vir verkopers en die gemeenskap.
|
*Toegang tot die mark vir kinders 12 jaar en jonger is gratis.
|
Kaartjies is beskikbaar op Quicket.
|
|
|
|
|
|
|
|
BORGE
|
|
|
|
ADVERTENSIES
|
|
|
|
|
|
|
|
NETwerf!
|
|
Teken in en help ons wen! Klik op hierdie skakel om op Netwerk24 in te teken teen ‘n spesiale prys en help ons skool geld maak wat ons weer kan terugploeg. Wie nie werf nie, wen nie!
|
|
|
|
|
Fenix Atventyr-toere
|
Leerders het die week tydens die Verrykingssaal meer uitgevind oor die toere wat Fenix Atventyr aanbied. Indien u meer wil uitvind, kan u hul direk kontak. Sien die brosjure om meer uit te vind oor die pakket wat hulle aanbied. Die toere is saamgestel vir hoërskoolleerders wat die wêreld wil verken.
|
|
|
|
|
VivA: Taal-kuns-en-tegnologietoer van 19 September tot 1 Oktober 2024
|
VivA bied vanaf 19 September tot 1 Oktober 2024 'n Taal-kuns-en-tegnologietoer aan.
|
- Daar is 50 plekke beskikbaar op die toer en leerders is reeds besig om hul plekke met die betaling van ‘n deposito vas te maak.
- R10 000-depositobetaling: Sou gou as moontlik - sodra die leerder sy/haar plek wil bespreek.
- Inskrywings vir die toer sluit 15 Junie 2024.
- Betalings kan maandeliks gemaak word of die volle uitstaande bedrag kan op een slag vereffen word.
- Ten volle en finale betaling vir die toer: 15 Junie 2024.
Volg ook gerus die onderstaande skakels vir meer inligting:
|
|
|
|
|
FSA-Jeuguitruilprogram
|
Die FSA, wat in 1996 gestig is, is 'n jeuguitruilinisiatief tussen Suid-Afrika en Duitsland wat aangebied word aan leerlinge van graad 8 - 12. Oor die jare het meer as 10 000 jeugdiges deelgeneem aan ons inisiatief waarvoor Duits as vak nie 'n vereiste is nie.
|
Ons program het ten doel om die lewens van ons deelnemers te verryk, hulle bloot te stel aan 'n ander kultuur, en hulle in staat te stel om Suid-Afrika as jong ambassadeurs in die buiteland te verteenwoordig. Die terugvoer wat ons ontvang, getuig presies daarvan. Gewoonlik laat die ervaring die jongmense besef dat hulle tot baie meer in staat is as wat hulle gedink of oor gedroom het.
|
Ons streef daarna om hierdie geleentheid aan soveel as moontlik jongmense in Suid-Afrika bied en daar is geen rede waarom leerlinge van u skool nie ook hierin kan deel nie. Ons nuwe brosjure en aansoekvorm is aanheg as 'n uitnodiging vir u leerlinge om aansoek te doen vir deelname aan ons 2024-programme. Belangstellendes kan ons direk kontak.
|
Met u hulp kan ons vanjaar weer die lewens van jongmense van regoor Suid-Afrika aanraak.
|
|
|
|
|
|
|
|