> Besoek die volledige 2024-kalender op die webtuiste <

JvR-ouerskapoggend by Welgemeend!

UIT DIE SKOOLHOOF SE KANTOOR

Goeiedag Ouers/Voogde

Die einde van die eksamen het eindelik aangebreek en ek vertrou dit het baie goed gegaan met ons Jan van Riebeeckers! Ons hou duimvas vir mooi uitslae - ek weet die meerderheid leerders het gefokus en hard gewerk. Jul verdien nou 'n salige wintervakansie! Dankie ook aan al ons ouers vir jul ondersteuning van die huis se kant af. Eksamenskryf is immers mos 'n gesinsaktiwiteit...

Baie sterkte aan ons eerste netbalspan wat môre aan die Wes-Kaapse Topskoletoernooi deelneem. Ons is baie trots op jul en weet dat jul uitstekend gaan vaar!

Ons is verheug oor die goeie nuus van die geboorte van mnr. en me. Van Heerden se seun, Handré, gisteroggend. Dié bulletjie het 4,2kg by geboorte geweeg en dit gaan uitstekend met ma en seun. Ons weet hy gaan vir jul net vreugde bring!

Namens die hele Hoërskool Jan van Riebeeck-gemeenskap wens ons ook graag twee graad 7-Jannies van ons Laerskool Jan van Riebeeck geluk met hul verkiesing as hoofleiers vir 2024. Frank van der Walt is as hoofseun verkies en Karu Rademeyer as hoofdogter. Mag dit vir jul en die laerskool 'n opwindende nuwe ervaring wees. Ons is trots op jul!

Ek hoop dat almal 'n rustige naweek sal geniet - en u kinders verdien maar 'n spesiale bederfnaweek na hierdie bedrywige kwartaal!

Mooi naweek!

Pieter Rademeyer
Skoolhoof

AKADEMIE

10-14 Junie: Assesseringsprogram

Maandag: Leerders meld om 07:35 aan vir hulle eerste periode. Rooster hierby aangeheg. Leerders verdaag om 14:30.

Dinsdag: Leerders meld om 07:35 by hulle registerklas aan.
Graad 8 en 9-leerders skryf 'n verpligte LO-assessering en sal om 12:00 verdaag.
Leerders mag hulle hand- en skryfboek skool toe.saambring
Graad 8 en 9-leerders moet asseblief hulle MBK-drag vir die dag saambring.

Woensdag: Leerders meld om 07:35 by hulle registerklas aan. Alle leerders verdaag om 14:00.

Donderdag: Leerders meld om 07:35 by hulle registerklas aan. Alle leerders verdaag om 14:00.

Vrydag: Leerders meld om 07:35 by hulle registerklas aan. Alle leerders verdaag om 10:30.
Leerders se rapporte word per e-pos gestuur.
Die graad 12 FW-klas is gekanselleer.

Gr 12 Engels Huistaal-intervensielesse: Kwartaal 3

Die Engels Huistaal-departement wil graag verpligte weeklikse Engels Huistaal- intervensieles in kwartaal drie aanbied. Die doel hiervan is om te verseker dat die kurrikulum volledig en met die nodige diepte behandel en afgehandel word sodat genoegsame hersieningstyd ingeruim kan word.

Ons vertrou dat u die leerders sal ondersteun in hierdie poging om hul kennis en vermoë te versterk om sodoende ʼn sukses van die veeleisende kwartaal te maak. Die lesse sal Woensdaemiddae vanaf 14:30 tot 15:30 in meneer Claassen se lokaal plaasvind. Kontak hom gerus per e-pos indien daar enige verdere navrae is. Volg die skakel vir die brief wat deur die Engelsdepartement uitgestuur is.

Die Vryevers 2023

Ons beplan om tydens vanjaar se Afrikaansweek weer ons eie JvR-skryfbundel te publiseer.

Alle Jan van Riebeeckers word uitgenooi om enige skryfwerk wat gedurende 2023 gelewer is, vir moontlike publikasie in te skryf. Die Afrikaansdepartement sal ook die beste opstelle wat in die klasse geskryf is, vir publikasie oorweeg.

Indien jy enige gedigte, kortverhale, dramas of opstelle wil instuur vir moontlike publikasie, kan dit per e-pos (in ’n WORD-dokument) gestuur word na pieter.rademeyer@janvanriebeeck.co.za. Die sluitingsdatum is Vrydag, 14 Junie 2024.

Ons sien daarna uit om jou skryfwerk te ontvang!

Herinnering: Wetenskapolimpiades

Die drie SAASTA-Wetenskapolimpiades vind in die derde kwartaal plaas. Leerders het reeds in Kwartaal 1 hiervoor ingeskryf op Karri. Leerders kan gerus ou vraestelle by mev. Turkstra kom haal.
  • Dinsdag, 23 Julie 2024 : LW-olimpiade (Gr. 10 en 11) 14:00-16:00
  • Woensdag, 24 Julie 2024 : NW-olimpiade (Gr. 8 en 9) 14:00-16:00
  • Donderdag, 25 Julie 2024 : FW-olimpiade (Gr. 10 en 11) 14:00-16:00

Graad 10-Meriete

Alle graad 10-leerders wat aan die begin van die jaar tydens die prysuitdeling kleure, erekleure of spesiale erekleure ontvang het, word daaraan herinner dat jul van volgende kwartaal af jul baadjies kan begin dra. 'n Brief moet by me. Nimmo afgehaal word en dan as bewys by die klerewinkel ingehandig word sodat jy jou baadjie kan ontvang. Me. Nimmo is tydens registerperiodes in haar klaskamer beskikbaar vir die afhaal van die briewe.

Opwindende Afrikaansprojekte om aan deel te neem!

Die ATKV bied vanjaar weer hul opwindende Digi-projektereeks aan. Hierdie inisiatief bied aan leerders die geleentheid om aan ’n wye verskeidenheid aanlyn kompetisies deel te neem en so hul vaardighede te slyp en talente uit te leef.

DigiPRAAT
Om jou sê met selfvertroue te kan sê, is ’n vaardigheid wat jy regdeur jou lewe kan gebruik. Met ATKV-DigiPraat skep hul vir leerders ’n platform waarop hul in Afrikaans kan wys hoe glad hul met die mond is.
Om alles te kroon, hoef jy nêrens heen te ry nie, met sweterige hande op ’n klipharde saalstoel te sit nie, of bewerig te glimlag vir ’n streng beoordelaar nie. Met ATKV-DigiPraat kan jy in die gerief van jou eie huis, of op enige plek in die wêreld, jou toespraak opneem en vir ons stuur.
Loer hier vir al die inligting en sluitingsdatum: https://atkv.org.za/neem-deel/digiprojekte/digipraat/

DigiSKRYF
Of jy jou bevind in ’n snikhete Upington, die Eiffeltoring bewonder in die Franse hoofstad, die Vrystaatse stof inasem of smul aan pasta van ’n Italiaanse “mama” – as jy lief is vir Afrikaans en skryf, dan is ATKV-DigiSkryf net vir jou.
Dié kompetisie is vir oud en jonk, en gee jou die geleentheid om met jou kreatiwiteit en skryftalent te spog. Nie net sal die wenners se werk op een van die ATKV-platforms ten toon gestel word nie, maar daar is ook fantastiese boekpryse op die spel.
Loer hier vir al die inligting en sluitingsdatum: https://atkv.org.za/neem-deel/digiprojekte/digiskryf/

DigiSPEL
As jy ’n S-P-E-L-L-E-R is en in koue sweet uitslaan as jy ’n spelfout sien, is die ATKV se digitale spelkompetisie net vir jou.
Met ATKV-DigiSpel word leerders aangespoor om baie meer aandag aan die gebruik van Afrikaans te gee, en nie net SMS-taal te gebruik nie. As jy dalk ’n T-E-L-L-E-R is en jou spelvermoë wil verbeter, moet jy beslis nie huiwer om in te skryf nie. Jy sal nie net jou spelvaardighede kan slyp nie, maar ook kan meeding met die beste spellers daarbuite.
ATKV-DigiSpel gaan jou uitdaag, jou spelling opskerp en jy gaan boonop jouself gate uit geniet – als in die gemak van jou eie ruimte. Al wat jy nodig het, is toegang tot ’n rekenaar, tablet of slimfoon.
Loer hier vir al die inligting en sluitingsdatum: https://atkv.org.za/neem-deel/digiprojekte/digispel/

DigiGESEGDES
Is jy ’n voorslag met sêgoed? Is jy gekonfyt in Afrikaanse gesegdes, idiome, spreekwoorde en vergelykings? ATKV-DigiGesegdes gee jou die geleentheid om jou kennis van Afrikaans se beste sêgoed in ’n prettige speletjiesformaat ten toon te stel!
Hierdie nuwe projek is oop vir graad 4’s tot volwassenes en selfs bontpraters is welkom. Maak jou leeslitte los en laat jou idioomspiere bult met ATKV-DigiGesegdes!
Boonop hoef jy nie die trekpad aan te durf om deel te neem aan hierdie digitale kompetisie nie. Jy het, so waar as padda manel dra, net toegang tot ’n rekenaar, tablet of slimfoon en ’n internetverbinding nodig. Kry iewers jou sit en laat waai!
Loer hier vir al die inligting en sluitingsdatum: https://atkv.org.za/neem-deel/digiprojekte/digigesegdes/

DigiVOORDRAG
Is jy passievol oor gedigte en wil jy nog altyd groot skares met jou helder voordragstem beïndruk? Wat is dan mooier as Afrikaanse gedigte? Die ATKV wil vir jou die geleentheid gee om hierdie deel van ons taalerfenis te vier deur ATKV-DigiVoordrag.
ATKV-DigiVoordrag gee jou die platform en podium om van die prettigste en pragtigste Afrikaanse poësie met ’n waarderende gehoor te deel.
Dit maak nie saak hoe jou stem klink nie en jy hoef ook nie pennetjieregop met stywe klere op ’n verhoog te staan nie. Kies net jou mooiste Afrikaanse gedig wat jy lekker met gemak en selfvertroue kan voordra. Laat die mense skaterlag met ’n prettige, komiese gedig of laat hulle ’n traan pink met iets roerend.
Klim op ons digitale wêreldverhoog! Kry net jou slimfoon, rekenaar of tablet en skep jou eie ruimte met ’n goeie internetverbinding tuis of elders op die aardbol. Nou kan jy die mense wêreldwyd meevoer deur jou Afrikaanse gedig meesleurend voor te dra, op te neem en die video vir ons te stuur.
Loer hier vir al die inligting en sluitingsdatum: https://atkv.org.za/neem-deel/digiprojekte/digivoordrag/

DigiGEDIGTE
Wag daar diep in jou binneste ’n gedig wat jy net in jou geliefde moedertaal kan uitdruk? Woordkinders, gee jou poësie-pennevrugte vlerke deur in te skryf vir hierdie digitale kompetisie, ATKV-DigiGedigte.
Waar op die aardbol jy ook al jou gedigte skryf, iewers sal jou verse ’n Afrikaanse leser se hart warmer laat klop. Skryf maklik in deur jou gedig in PDF-formaat aan te stuur. As jy toegang het tot ’n internetverbinding en ’n slimfoon, rekenaar of tablet, kan jy inskryf.
Of jy hou van paarrym, omarmde rym of eerder met die vrye vers woeker, ATKV-DigiGedigte en die hele wêreld wag op jou digterlike vernuf!
Loer hier vir al die inligting en sluitingsdatum: https://atkv.org.za/neem-deel/digiprojekte/digigedigte/

Ons moedig graag al ons Jan van Riebeeckers aan om hierdie kreatiewe verrykingsgeleenthede aan te gryp!
Kontak gerus mnr. Rademeyer (pieter.rademeyer@janvanriebeeck.co.za) vir enige verdere navrae of hulp met hierdie projekte.

Eye Brain Gym-leesprogram

Kliek hier om toegang te kry tot 'n belangrikke kennisgewing rondom die skool se leesprogram. Klik hier vir die EBG-pamflet.

BEELD se Kreatiewe Skryfkompetisie 2024

BEELD bied vanjaar weer hul skryfkompetisie vir Afrikaansleerders aan. BEELD bied al vir die afgelope 6 jaar hierdie kompetisie aan. Leerders kan hul beste skryfwerk wat tussen Januarie en 31 Augustus vanjaar geskryf is, inskryf. Hierdie kompetisie sluit beide ’n poësie- en opstelafdeling in. Indien leerders ’n opstel wil skryf, kan hulle kies tussen die verhalende, beskrywende, argumenterende of bespiegelende opstel. In hierdie geval kan hulle self besluit wat die tema van hul opstel is. Indien hulle egter in die ope-afdeling wil deelneem (m.a.w. nie een van hierdie opstelformate wil volg nie), moet hulle volgens die tema “Wat ek die beste in Afrikaans sê” skryf. Opstelinskrywings moet teen 16 September ingedien word.

In terme van poësie-inskrywings kan leerders enige gedigte wat hulle tussen Januarie en Mei vanjaar skryf, instuur. In die poësiekategorie is onderwysers ook welkom om deel te neem. Poësie-inskrywings moet teen 17 Junie ingestuur word.

Die wenner in elke kategorie ontvang R3000 en kursusse van Multidimensions ter waarde van R4900 vir hulself en hul Afrikaansonderwyser. Die naaswenner in elke kategorie ontvang ’n kontantprys van R1500 en kursusse ter waarde van R2500 vir hulself en hul Afrikaansonderwyser. Die leerder in die derde plek wen R500 en kursusse ter waarde van R1500 vir hulself en hul Afrikaansonderwyser. Die onderwyser wat die poësiekategorie wen, ontvang R3000, die naaswenner R1500 en die een in die derde plek R500.

Leerders wat graag wil inskryf, kan met juf. Raath kommunikeer.

Graad 12 - Akademie

Kliek hier vir die samestelling van elke graad 12-vak se SBA-punt. (Graad 12 SBA-samestelling vanaf die WKOD pdf aangeheg.)

Hieronder kan u toegang kry tot die eksamenriglyne vir elke vak. Dit is belangrik dat u kind deurlopend die dokument raadpleeg. (Graad 12 eksamenriglyne per vak hierby aangeheg.)
Graad 12 hulpbron vanaf die WKOD - Grade 12 Tips for Success 2024

KULTUUR

Kaapse Afrikaanse Eisteddfod: Kuns

Alle graad 8 tot 12-leerders kan inskryf. Skryf twee kunswerke in as jy in aanmerking wil kom vir ʹn medalje.
Kostes beloop R85.00 per kunswerk.
Sluitingsdatum en inhandigingsdatum vir kunswerke is 10 Junie 2024.
Meer inligting is by me. Vrey beskikbaar.

BOLD Internasionale Eisteddfod

“In a World where you can be anything be BOLD."

Die BOLD Internasionale Eisteddfod plaas die kollig op verskeie kulturele aktiwiteite in skole deur ʹn digitale platform waar jong talent wêreldwyd met mekaar kan kompeteer. Daar is verskeie kategorieë waarvoor ingeskryf kan word. Inskrywings word aanlyn gedoen vanaf 1 Mei tot 30 Junie op hul webtuiste. Kostes beloop R120.00 per inskrywing. Meer inligting is by me Vrey beskikbaar.

SPORT

Daar sal volgende week, 10 -14 Junie, geen formele sportprogram plaasvind nie. Leerders moet asseblief hul onderskeie oefenprogramme gedurende die week en vakansie begin volg.

Belangrike datums vir die derde kwartaal sal in volgende week se VrydagFlitse beskikbaar wees.

ALGEMEEN

Noodhulpkursus

'n Noodhulpkursus word op 6 en 7 September 2024 by Hoërskool Jan van Riebeeck aangebied. Karri-lyste sal in die derde kwartaal beskikbaar wees.

Die Groot Biodiversiteitsuitdaging 2024

Die Wes-Kaap is een van die mees biodiverse plekke ter wêreld, maar ons biodiversiteit staar bedreigings in die gesig. Onvolhoubare gebruik van natuurlike hulpbronne, onbeheerde brande, klimaatsverandering, habitatvernietiging en die verspreiding van uitheemse indringerspesies is aan die orde van die dag.

Het jy die oplossings vir enige van dié bedreigings wat ons provinsie se biodiversiteit in die gesig staar?

Staan 'n kans om te wen met JOU oplossing!

Die wintervakansie is net die tyd om aan maniere te dink waarop ons pragtige Wes-Kaap bewaar kan word.

Wie kan inskryf? Graad 8 - 9 leerders
Sluitingsdatum: Woensdag 11 September 2024.
https://wcedeportal.co.za/western-cape-environmental-education

Mia Smith gekies vir Tygerberg Kinderkoor

Mia Smith gekies vir Tygerberg Kinderkoor
Baie geluk aan Mia Smith (graad 8) wat gekies is as een van die koorlede van die Tygerberg Kinderkoor wat later vanjaar die koor in Tolosa; Spanje, gaan verteenwoordig.

Omdat dit vir haar familie 'n groot eer en voorreg is, wil hulle graag hierdie geleentheid vir Mia laat realiseer deur verskeie fondsinsamelingsprojekte te loods.

Die eerste projek is op Donderdag, 13 Junie met 'n McDonalds-aand (17:00 - 19:00) waarby 'n gedeelte van die opbrengste aan Mia geskenk sal word.

Die tweede inisiatief is 'n lootjieprojek deur die Tygerberg Kinderkoor waarby die opbrengste van alle kaartjieverkope deur Mia, direk tot Mia se toerfonds gevoeg sal word.

Laastens word 'n Gholfdag ook op 26 Julie 2024 ten bate van die toerfonds deur Mia se pa gereël.

Indien u by enige van hierdie inisiatiewe betrokke wil raak, kan u vir Ashley Smith (084 656 8388, of ashleysoteria@yahoo.com) kontak.

Verblyf vir uitruilstudent!

Verblyf vir uitruilstudent.
Ons is op soek na 'n familie wat bereid sal wees om 'n Duitse seun, Tim, vir 10 maande te huisves. Hy kom reeds Augustus Suid-Afrika toe en sal dan bly tot volgende jaar Junie. Die uitruilagentskap voel dat Hoërskool Jan van Riebeeck 'n geskikte skool vir hom sal wees. Indien u belangstel of meer inligting benodig, kontak gerus vir Lena Gronbach by lena@yfu.org.za.

Volg die skakel vir meer inligting oor Tim en die aansoekvorm.
Kaartjies is op Quicket beskikbaar: https://qkt.io/jW0l4F
Die Plezier Markt gaan oor die viering van ons gemeenskap, kwaliteit produkte, kreatiewe handelsware en kuns. Kom geniet 'n wye verskeidenheid van stalletjies en kosse op ons pragtige kampus. Daar is aktiwiteite vir oud en jonk.

Na afloop van die mark sal Elvis Blue en sy orkes ons vanaf 19:00 met 'n vertoning op die JvR-amfiteater betower. Kaartjies sal ook by die deure beskikbaar wees.

Ons beoog om die PlezierMarkt te vestig as 'n jaarlikse geleentheid wat gedagboek sal word as 'n hoogtepunt vir verkopers en die gemeenskap.

*Toegang tot die mark vir kinders 12 jaar en jonger is gratis.
Kaartjies is beskikbaar op Quicket.
https://www.quicket.co.za/events/263741-pleziermarkt-12-oktober-2024/#/

BORGE

ADVERTENSIES

Volg gerus die skakel vir meer inligting: https://wenwetenskap.co.za/

NETwerf!

Teken in en help ons wen! Klik op hierdie skakel om op Netwerk24 in te teken teen ‘n spesiale prys en help ons skool geld maak wat ons weer kan terugploeg. Wie nie werf nie, wen nie!

Volg die spesiale skakel om aan te sluit: https://www.netwerk24.com/intekening/promosie/jvr100
facebook instagram 
Email Marketing Powered by MailPoet