> Besoek die volledige 2024-kalender op die webtuiste <

UIT DIE SKOOLHOOF SE KANTOOR

Goeiedag Ouers/Voogde

Ek lees vroeër die week hierdie aangrypende woorde van Bradley Whitford raak: "Raak verlief op die proses en die resultate sal vanself kom."

Hier aan die einde van die eerste semester, kyk ons met groot trots en dankbaarheid terug op die 2024-proses waarin elkeen van ons besig is om ons uit te leef. En dis vir my wonderlik om te kan sê dat ek - saam met baie ander - inderdaad 'verlief' is op die JvR-proses!

Ons het hierdie afgelope ses maande soveel merkwaardige oomblikke beleef, uitdagings moes trotseer, suksesse gevier; die proses in al sy en haar vorme gelééf. Baie dankie aan elke leerder en ouer/voog wat deel is van hierdie proses: elkeen wat opdaag en aanmeld vir elke geleentheid, hul hand opsteek om dinge vir iemand anders ligter te maak, saam dink en droom oor ons skool - en veral moue oprol om daadwerklik ’n verskil te help bewerkstellig. Ek is groot dank verskuldig aan veral ons beheerliggaam en ouerondersteuninggroep wat met soveel projekte ywerig en entoesiasties bydra tot ons skoollewe!

Baie dankie ook aan ons hele personeelspan wat die afgelope kwartaal weer eens selfs nog meer as die spreekwoordelike 'ekstra myl' vir ons leerders en skool gestap het. Almal besef nie altyd wat veral agter die skerms gebeur om sukses op die akademiese-, sport-, kultuur- en verrykingsgebied te verseker nie. Ek kan u egter verseker dat my personeelspan se liefde vir ons kinders hul motiveer om aan te hou - en uit te hou! Kollegas, ek hoop dat u behoorlik en heerlik sal rus dié skoolvakansie. ’n Spesiale dankie aan me. Huibrecht Steyn wat as waarnemende adjunkhoof my op ’n ongelooflike wyse bystaan en sorg dat baie dinge glad verloop hier by Jan van Riebeeck!

Op ’n hartseer noot moes ons vandag twee geliefde kollegas, mee. Liza Serrao en Magda Vrey, groet. Hierdie twee dames het Jan van Riebeeck met passie, professionaliteit en ’n puik werksetiek gedien. Ons sal hul unieke bydraes hier by ons skool mis, maar wens hul als wat mooi is toe vir die nuwe hoofstuk wat op hul wag.

Baie geluk ook aan elke Jan van Riebeecker wat hard gewerk het die kwartaal om ’n uitstekende rapport te verseker. Ek hoop dat u hierdie vakansie rustig saam met u kind na die suksesse sal kyk (en dit sal vier!), maar ook ’n plan sal beraam om moontlike uitdagings betyds aan te spreek. Kontak gerus u kind se onderwyser vir ondersteuning en woon asseblief ons ouerbesoekaand volgende kwartaal by.

Mag ons aanhou om die proses waarmee ons by ons skool besig is, te geniet! Mag elkeen besef hoe belangrik sy/haar rol in hierdie proses is - en mag ons almal onthou om kort-kort tevrede terug te kyk na die goeie resultate wat dan 'vanself gekom het'.

Ek wens vir u en u gesin ’n salige wintervakansie toe - ons gesels weer wanneer die skole op 9 Julie heropen.

Groete!

Pieter Rademeyer
Skoolhoof

AKADEMIE

Ouerafsprake: Kwartaal 3- Woensdag, 10 Julie

Veels geluk met al die leerders se mooi prestasies. Leerders se rapporte is vandag via e-pos aan elke ouer of voog gestuur.

Dit is tog belangrik dat u as ouer/voog kennis dra van die volgende:

Indien ’n leerder afwesig was vir ’n assessering, maar met ’n geldige rede, verwerk die WKOD die leerder se ander punte tot ’n finale kwartaalpunt sonder dat die leerder benadeel word. Indien ’n leerder egter sonder ’n geldige rede ’n assessering misloop, ken die WKOD ’n punt van nul toe en word die res van die punte verwerk tot die leerder se finale kwartaalpunt.

Hierdie kwartaal het die leerders verskeie assesserings voltooi asook ’n eksamen aan die einde van die kwartaal wat oor beide kwartaal 1 en 2 se werk gehandel het. Indien die leerders nog nie van hulle assesserings gekontroleer het nie, kan hulle dit volgende kwartaal kontroleer en daarna sal daar 'n regstelling aan hulle rapportpunt gemaak kan word, indien nodig.

Ons moedig u as ouers/voogde aan om u kind se punte te bestudeer en ’n afspraak met die betrokke leerkragte vir die oueraand op Woensdag, 10 Julie 2024, te maak indien u verdere besprekings verlang. Ons almal wil graag die beste vir u kind hê. Saam kan ons meer vermag.

Om 'n afspraak vir die oueraand te maak, moet u op die volgende skakel kliek: https://outlook.office365.com/owa/calendar/Ouerafsprake@janvanriebeeck.co.za/bookings/

U moet asb. slegs een afspraak per onderwyser maak. Indien u twee of meer leerders in die skool het, moet u vir elke kind die vraelys voltooi. Dit is belangrik dat u met u kind bevestig wie sy/haar vakonderwyser is. Die name van onderwysers op u kind se rapport stem nie noodwendig ooreen met wie vir u kind klas gee nie.

Neem asseblief kennis van die volgende veranderinge t.o.v. onderwysers:
  • L. Serrao:
    • Graad 9R- en 12-ouers kan by me. Erna du Toit afsprake maak.
    • Graad 11-ouers kan by mnr. Werner Cronje afsprake maak.
  • C. Reineke:
    • IGO-leerders se ouers kan by mnr. Hans-Peter Klink afsprake maak.
    • GEO-leerders se ouers kan by me. Rhonda Jansen van Vuuren afsprake maak.
  • M. Vrey:
    • Ouers kan afsprake by me. Sophia van Wyk maak.
  • Engels:
    Ouers kan afsprake maak by mnr. Renier Claassen vir enige English Home Language kwessies en by me. Ruby Parker vir enige English First Addtional Language kwessies.
Lees verder

Gr 12 Engels Huistaal-intervensielesse: Kwartaal 3

Die Engels Huistaal-departement wil graag verpligte weeklikse Engels Huistaal- intervensieles in kwartaal drie aanbied. Die doel hiervan is om te verseker dat die kurrikulum volledig en met die nodige diepte behandel en afgehandel word sodat genoegsame hersieningstyd ingeruim kan word.

Ons vertrou dat u die leerders sal ondersteun in hierdie poging om hul kennis en vermoë te versterk om sodoende ʼn sukses van die veeleisende kwartaal te maak. Die lesse sal Woensdaemiddae vanaf 14:30 tot 15:30 in meneer Claassen se lokaal plaasvind. Kontak hom gerus per e-pos indien daar enige verdere navrae is. Volg die skakel vir die brief wat deur die Engelsdepartement uitgestuur is.

Herinnering: Wetenskapolimpiades

Die drie SAASTA-Wetenskapolimpiades vind in die derde kwartaal plaas. Leerders het reeds in Kwartaal 1 hiervoor ingeskryf op Karri. Leerders kan gerus ou vraestelle by mev. Turkstra kom haal.
  • Dinsdag, 23 Julie 2024 : LW-olimpiade (Gr. 10 en 11) 14:00-16:00
  • Woensdag, 24 Julie 2024 : NW-olimpiade (Gr. 8 en 9) 14:00-16:00
  • Donderdag, 25 Julie 2024 : FW-olimpiade (Gr. 10 en 11) 14:00-16:00

Graad 10-Meriete

Alle graad 10-leerders wat aan die begin van die jaar tydens die prysuitdeling kleure, erekleure of spesiale erekleure ontvang het, word daaraan herinner dat jul van volgende kwartaal af jul baadjies kan begin dra. 'n Brief moet by me. Nimmo afgehaal word en dan as bewys by die klerewinkel ingehandig word sodat jy jou baadjie kan ontvang. Me. Nimmo is tydens registerperiodes in haar klaskamer beskikbaar vir die afhaal van die briewe.

Opwindende Afrikaansprojekte om aan deel te neem!

Die ATKV bied vanjaar weer hul opwindende Digi-projektereeks aan. Hierdie inisiatief bied aan leerders die geleentheid om aan ’n wye verskeidenheid aanlyn kompetisies deel te neem en so hul vaardighede te slyp en talente uit te leef.

DigiPRAAT
Om jou sê met selfvertroue te kan sê, is ’n vaardigheid wat jy regdeur jou lewe kan gebruik. Met ATKV-DigiPraat skep hul vir leerders ’n platform waarop hul in Afrikaans kan wys hoe glad hul met die mond is.
Om alles te kroon, hoef jy nêrens heen te ry nie, met sweterige hande op ’n klipharde saalstoel te sit nie, of bewerig te glimlag vir ’n streng beoordelaar nie. Met ATKV-DigiPraat kan jy in die gerief van jou eie huis, of op enige plek in die wêreld, jou toespraak opneem en vir ons stuur.
Loer hier vir al die inligting en sluitingsdatum (30 Augustus): https://atkv.org.za/neem-deel/digiprojekte/digipraat/

DigiSKRYF
Of jy jou bevind in ’n snikhete Upington, die Eiffeltoring bewonder in die Franse hoofstad, die Vrystaatse stof inasem of smul aan pasta van ’n Italiaanse “mama” – as jy lief is vir Afrikaans en skryf, dan is ATKV-DigiSkryf net vir jou.
Dié kompetisie is vir oud en jonk, en gee jou die geleentheid om met jou kreatiwiteit en skryftalent te spog. Nie net sal die wenners se werk op een van die ATKV-platforms ten toon gestel word nie, maar daar is ook fantastiese boekpryse op die spel.
Loer hier vir al die inligting en sluitingsdatum (27 Junie): https://atkv.org.za/neem-deel/digiprojekte/digiskryf/

DigiSPEL
As jy ’n S-P-E-L-L-E-R is en in koue sweet uitslaan as jy ’n spelfout sien, is die ATKV se digitale spelkompetisie net vir jou.
Met ATKV-DigiSpel word leerders aangespoor om baie meer aandag aan die gebruik van Afrikaans te gee, en nie net SMS-taal te gebruik nie. As jy dalk ’n T-E-L-L-E-R is en jou spelvermoë wil verbeter, moet jy beslis nie huiwer om in te skryf nie. Jy sal nie net jou spelvaardighede kan slyp nie, maar ook kan meeding met die beste spellers daarbuite.
ATKV-DigiSpel gaan jou uitdaag, jou spelling opskerp en jy gaan boonop jouself gate uit geniet – als in die gemak van jou eie ruimte. Al wat jy nodig het, is toegang tot ’n rekenaar, tablet of slimfoon.
Loer hier vir al die inligting en sluitingsdatum (1 November): https://atkv.org.za/neem-deel/digiprojekte/digispel/

DigiGESEGDES
Is jy ’n voorslag met sêgoed? Is jy gekonfyt in Afrikaanse gesegdes, idiome, spreekwoorde en vergelykings? ATKV-DigiGesegdes gee jou die geleentheid om jou kennis van Afrikaans se beste sêgoed in ’n prettige speletjiesformaat ten toon te stel!
Hierdie nuwe projek is oop vir graad 4’s tot volwassenes en selfs bontpraters is welkom. Maak jou leeslitte los en laat jou idioomspiere bult met ATKV-DigiGesegdes!
Boonop hoef jy nie die trekpad aan te durf om deel te neem aan hierdie digitale kompetisie nie. Jy het, so waar as padda manel dra, net toegang tot ’n rekenaar, tablet of slimfoon en ’n internetverbinding nodig. Kry iewers jou sit en laat waai!
Loer hier vir al die inligting en sluitingsdatum (27 Junie): https://atkv.org.za/neem-deel/digiprojekte/digigesegdes/

DigiVOORDRAG
Is jy passievol oor gedigte en wil jy nog altyd groot skares met jou helder voordragstem beïndruk? Wat is dan mooier as Afrikaanse gedigte? Die ATKV wil vir jou die geleentheid gee om hierdie deel van ons taalerfenis te vier deur ATKV-DigiVoordrag.
ATKV-DigiVoordrag gee jou die platform en podium om van die prettigste en pragtigste Afrikaanse poësie met ’n waarderende gehoor te deel.
Dit maak nie saak hoe jou stem klink nie en jy hoef ook nie pennetjieregop met stywe klere op ’n verhoog te staan nie. Kies net jou mooiste Afrikaanse gedig wat jy lekker met gemak en selfvertroue kan voordra. Laat die mense skaterlag met ’n prettige, komiese gedig of laat hulle ’n traan pink met iets roerend.
Klim op ons digitale wêreldverhoog! Kry net jou slimfoon, rekenaar of tablet en skep jou eie ruimte met ’n goeie internetverbinding tuis of elders op die aardbol. Nou kan jy die mense wêreldwyd meevoer deur jou Afrikaanse gedig meesleurend voor te dra, op te neem en die video vir ons te stuur.
Loer hier vir al die inligting en sluitingsdatum (4 Oktober): https://atkv.org.za/neem-deel/digiprojekte/digivoordrag/

DigiGEDIGTE
Wag daar diep in jou binneste ’n gedig wat jy net in jou geliefde moedertaal kan uitdruk? Woordkinders, gee jou poësie-pennevrugte vlerke deur in te skryf vir hierdie digitale kompetisie, ATKV-DigiGedigte.
Waar op die aardbol jy ook al jou gedigte skryf, iewers sal jou verse ’n Afrikaanse leser se hart warmer laat klop. Skryf maklik in deur jou gedig in PDF-formaat aan te stuur. As jy toegang het tot ’n internetverbinding en ’n slimfoon, rekenaar of tablet, kan jy inskryf.
Of jy hou van paarrym, omarmde rym of eerder met die vrye vers woeker, ATKV-DigiGedigte en die hele wêreld wag op jou digterlike vernuf!
Loer hier vir al die inligting en sluitingsdatum (11 Oktober): https://atkv.org.za/neem-deel/digiprojekte/digigedigte/

Ons moedig graag al ons Jan van Riebeeckers aan om hierdie kreatiewe verrykingsgeleenthede aan te gryp!
Kontak gerus mnr. Rademeyer (pieter.rademeyer@janvanriebeeck.co.za) vir enige verdere navrae of hulp met hierdie projekte.

Eye Brain Gym-leesprogram

Kliek hier om toegang te kry tot 'n belangrikke kennisgewing rondom die skool se leesprogram. Klik hier vir die EBG-pamflet.

BEELD se Kreatiewe Skryfkompetisie 2024

BEELD bied vanjaar weer hul skryfkompetisie vir Afrikaansleerders aan. BEELD bied al vir die afgelope 6 jaar hierdie kompetisie aan. Leerders kan hul beste skryfwerk wat tussen Januarie en 31 Augustus vanjaar geskryf is, inskryf. Hierdie kompetisie sluit beide ’n poësie- en opstelafdeling in. Indien leerders ’n opstel wil skryf, kan hulle kies tussen die verhalende, beskrywende, argumenterende of bespiegelende opstel. In hierdie geval kan hulle self besluit wat die tema van hul opstel is. Indien hulle egter in die ope-afdeling wil deelneem (m.a.w. nie een van hierdie opstelformate wil volg nie), moet hulle volgens die tema “Wat ek die beste in Afrikaans sê” skryf. Opstelinskrywings moet teen 16 September ingedien word.

In terme van poësie-inskrywings kan leerders enige gedigte wat hulle tussen Januarie en Mei vanjaar skryf, instuur. In die poësiekategorie is onderwysers ook welkom om deel te neem. Poësie-inskrywings moet teen 17 Junie ingestuur word.

Die wenner in elke kategorie ontvang R3000 en kursusse van Multidimensions ter waarde van R4900 vir hulself en hul Afrikaansonderwyser. Die naaswenner in elke kategorie ontvang ’n kontantprys van R1500 en kursusse ter waarde van R2500 vir hulself en hul Afrikaansonderwyser. Die leerder in die derde plek wen R500 en kursusse ter waarde van R1500 vir hulself en hul Afrikaansonderwyser. Die onderwyser wat die poësiekategorie wen, ontvang R3000, die naaswenner R1500 en die een in die derde plek R500.

Leerders wat graag wil inskryf, kan met juf. Raath kommunikeer.

KULTUUR

BOLD Internasionale Eisteddfod

“In a World where you can be anything be BOLD."

Die BOLD Internasionale Eisteddfod plaas die kollig op verskeie kulturele aktiwiteite in skole deur ʹn digitale platform waar jong talent wêreldwyd met mekaar kan kompeteer. Daar is verskeie kategorieë waarvoor ingeskryf kan word. Inskrywings word aanlyn gedoen vanaf 1 Mei tot 30 Junie op hul webtuiste. Kostes beloop R120.00 per inskrywing. Meer inligting is by me Vrey beskikbaar.

SPORT

ALGEMEEN

Getuigskrifte-Matrieks 2024

Getuigskrif-aansoekvorms is hierdie week (11 Junie) tydens die Winterskool aan matrieks uitgehandig. Die inhandigingsdatum is Maandag,15 Julie, in die derde kwartaal 2024. Geen laat-inhandiging word aanvaar nie.

Getuigskrifte is ’n voorreg en nie ’n reg nie. Getuigskrif-aansoekvorms word uitgegee aan die einde van die tweede kwartaal sodat leerders genoeg tyd het om dit te voltooi. Afrigters en personeel moet teken dat ’n leerder se inligting by ’n item korrek is en alle bewyse moet aangeheg word waar nodig. Die voltooide vorm word ingehandig by die registerklasse in die tweede week van die derde kwartaal. Die finale getuigskrifte van voltooide aansoekvorms word uitgehandig in Desember op die dag wat leerders hul laaste taalvraestel in die NSS-eksamen skryf.

Enige navrae kan direk aan me. H. Steyn gerig word by huibrecht.steyn@janvanriebeeck.co.za.

STERREJAG 2024

Ons jaarlikse talentaand, Sterrejag, vind vanjaar tydens die Afrikaansweek op 25 Julie plaas. Indien jy aan hierdie talentkompetisie wil deelneem en nie jou naam betyds op die lys voor me. Nimmo se klas kon invul nie, kan jy 'n elektroniese inskrywingsvorm invul. Die uitdunne vind op Woensdag 10 Julie na skool in me. Nimmo se klas plaas.

Hier is die skakel na die elektroniese inskrywingsvorm: https://forms.gle/hdXNxtnFrP3VeQCu8

Kom wys jou talent en kry ook die geleentheid om Early B se vertoning te kom kyk.

Doringrivier-avontuur 2024!

Die skool wil in samewerking met Gravity Adventures die naweek van 9 Augustus 2024 die Doringrivier aanpak. Dit is 'n gesinsavontuur en elke leerder moet een volwassene saambring.

Die plan is om reeds Donderdag, 8 Augustus, na die Gifberg-omgewing te vertrek, Vrydag by Doringbos op die rivier te klim en Vrydag- en Saterdagaand sal ons langs die rivier kamp. Sondag sal ons avontuur eindig net voor die Doring in die Olifantsrivier in loop.

Die koste beloop ongeveer R3000 per persoon. Dis sluit kos op die rivier, toegang tot die rivier en die basiese benodigdhede soos 'n bootjie, helm, lewensreddingsbaadjie en spane in. Gravity Adventures verskaf die riviergidse wat verantwoordelik is vir die veiligheid op die rivier.

Avontuurluste is verantwoordelik vir: eie vervoer Gifberg toe en terug,"wetsuit" (verpligtend), kos vir Donderdag 8 Augustus, ontbyt 9 Augustus en kamptoerusting. Vir meer foto's en inligting volg die skakel foto's en inligting

Kontak gerus vir mnr. Henning by jan.henning@janvanriebeeck.co.za indien u belangstel.

*Fynskrif: Die hele avontuur hang van watervlakke in die Doringrivier af, so indien die watervlak laag is sal dit nie kan gebeur nie; ons sal slegs in die week van 5 Augustus bevestiging ontvang.

Matriekmodeparade 2024

Ons sien uit na nog ’n mooi modeparade Maandagaand, 12 Augustus, in die skoolsaal. Die graad 12's sal met hul matriekdansuitrustings op die planke spog. Kaartjies sal binnekort op Quicket beskikbaar wees.

Tyd: 18:00 - 18:30
Kostes: Volle tafel - R1250 vir 10 gaste met aandete
Enkelkaartjie by tafel - R150 p.p. met aandete
Algemene sitplek - R85 p.p. (geen ete ingesluit)
Leerder sitplek - R50 p.p. op galery
Etekaartjie - R75 p.p. (slegs as ete nie by kaartjie ingesluit nie.)

Ons nooi ook graag ouers as gasvrouens/here by 'n tafel.
Gasvroue is verantwoordelik vir: blomme, slaai & knoffelrolletjie. Alles anders word voorsien. Volg gerus die skakel indien jy bereid is om 'n gasvrou / gasheer te wees:
https://docs.google.com/spreadsheets/d/1Bj3g0IsABzgdMZXGrrrxmyAAHGrA8pv47QVF-jxuaUM/edit?gid=634347005#gid=634347005

Winterbal & Interskoledans

'n Nuwe blinkgepoetsde tradisie in die derde kwartaal is 'n Winterbal wat spesiaal gehou word vir alle leerders graad 8 tot 12. Hierdie fondsinsamelinggeleentheid vanjaar word gedryf deur die matriekraad, matriekkomitee en VRL vir ons Jan van Riebeeckers. Hierdie fondsinsameling is ook ten bate van die klas van 2024 se unieke geskenk aan ons leerders en skool.

Dis vanjaar ‘n spoggeleentheid wat ‘n driegangmaaltyd insluit, kans om formeel aan te trek en heerlik te dans. Dit gaan beslis ‘n nuwe hoogtepunt op Jan van Riebeeck se sosiale kalender wees. Ons sien uit na hierdie spoggeleentheid.

Datum: 14 Augustus 2024 (gedurende interskole- en geesweek)
Plek: Hoërskool Jan van Riebeeck-skoolsaal
Drag: Formeel
Kostes: R200 per persoon op Karri (slegs 300 kaartjies beskikbaar)
Tyd: 18:00 -21:30
Maak seker jy loop nie hierdie partytjie mis nie! Dit is ook die laaste kuier en samesyn van ons matriekklas van 2024. Vir enige navrae kontak: huibrecht.steyn@janvanriebeeck.co.za.

Markus Smit gekies vir uitnodigingshokkietoergroep

Markus Smit gekies vir uitnodigings hokkietoergroep
Ons is baie trots op Markus Smit (Graad 12) wat tydens die Cape CO-ED Hockey Festival (15-17 Maart 2024) twee keer die toekenning vir speler van die wedstryd ontvang het en geïdentifiseer is om deel van 'n uitnodigingspan, wat in September 'n hokkietoer na Nederland onderneem, te wees.

Dit is vir sy ouers 'n enorme trotse oomblik en hulle sal graag alles wil doen om hierdie geleentheid vir hom 'n werklikheid te maak.

Hokkie is Markus se lewe, en sy droom
is om hokkie op professionele vlak te speel; om 'n toer mee te maak Nederland toe waar hy die sport kan speel waarvoor hy lief is, ondervinding kan opdoen om nuwe tegnieke aan te leer en die kans kry om sy spel te verbeter, sal vir hom die wêreld beteken.

Sy ouers het reeds die deposito betaal om sy plek in die span en toer te verseker. Enige ander weldoeners wat kan help om Markus se droom 'n realiteit te maak kan sy ma, Christina Smit, kontak by christinasmit@gmail.com of ondersteun hom op Backabuddy https://www.backabuddy.co.za/campaign/markus-netherlands-tour.

Noodhulpkursus

'n Noodhulpkursus word op 6 en 7 September 2024 by Hoërskool Jan van Riebeeck aangebied. Karri-lyste sal in die derde kwartaal beskikbaar wees.

Die Groot Biodiversiteitsuitdaging 2024

Die Wes-Kaap is een van die mees biodiverse plekke ter wêreld, maar ons biodiversiteit staar bedreigings in die gesig. Onvolhoubare gebruik van natuurlike hulpbronne, onbeheerde brande, klimaatsverandering, habitatvernietiging en die verspreiding van uitheemse indringerspesies is aan die orde van die dag.

Het jy die oplossings vir enige van dié bedreigings wat ons provinsie se biodiversiteit in die gesig staar?

Staan 'n kans om te wen met JOU oplossing!

Die wintervakansie is net die tyd om aan maniere te dink waarop ons pragtige Wes-Kaap bewaar kan word.

Wie kan inskryf? Graad 8 - 9 leerders
Sluitingsdatum: Woensdag, 11 September 2024.
https://wcedeportal.co.za/western-cape-environmental-education

Mia Smith gekies vir Tygerberg Kinderkoor

Baie geluk aan Mia Smith (graad 8) wat gekies is as een van die koorlede van die Tygerberg Kinderkoor wat later vanjaar die koor in Tolosa; Spanje, gaan verteenwoordig.

Omdat dit vir haar familie 'n groot eer en voorreg is, wil hulle graag hierdie geleentheid vir Mia laat realiseer deur verskeie fondsinsamelingsprojekte te loods.

Die tweede inisiatief is 'n lootjieprojek deur die Tygerberg Kinderkoor waarby die opbrengste van alle kaartjieverkope deur Mia, direk tot Mia se toerfonds gevoeg sal word.

Laastens word 'n Gholfdag ook op 26 Julie 2024 ten bate van die toerfonds deur Mia se pa gereël.

Indien u by enige van hierdie inisiatiewe betrokke wil raak, kan u vir Ashley Smith (084 656 8388, of ashleysoteria@yahoo.com) kontak.

Verblyf vir uitruilstudent!

Verblyf vir uitruilstudent.
Ons is op soek na 'n familie wat bereid sal wees om 'n Duitse seun, Tim, vir 10 maande te huisves. Hy kom reeds Augustus Suid-Afrika toe en sal dan bly tot volgende jaar Junie. Die uitruilagentskap voel dat Hoërskool Jan van Riebeeck 'n geskikte skool vir hom sal wees. Indien u belangstel of meer inligting benodig, kontak gerus vir Lena Gronbach by lena@yfu.org.za.

Volg die skakel vir meer inligting oor Tim en die aansoekvorm.
Kaartjies is op Quicket beskikbaar: https://qkt.io/jW0l4F
Die Plezier Markt gaan oor die viering van ons gemeenskap, kwaliteit produkte, kreatiewe handelsware en kuns. Kom geniet 'n wye verskeidenheid van stalletjies en kosse op ons pragtige kampus. Daar is aktiwiteite vir oud en jonk.

Na afloop van die mark sal Elvis Blue en sy orkes ons vanaf 19:00 met 'n vertoning op die JvR-amfiteater betower. Kaartjies sal ook by die deure beskikbaar wees.

Ons beoog om die PlezierMarkt te vestig as 'n jaarlikse geleentheid wat gedagboek sal word as 'n hoogtepunt vir verkopers en die gemeenskap.

*Toegang tot die mark vir kinders 12 jaar en jonger is gratis.
Kaartjies is beskikbaar op Quicket.
https://www.quicket.co.za/events/263741-pleziermarkt-12-oktober-2024/#/

BORGE

ADVERTENSIES

MySchool-program gaan papierloos

MySchool program gaan papierloos.
Die MySchool-program gee om vir die omgewing en het besluit om vanaf 1 Julie 2024, nie meer enige papieraansoeke te aanvaar nie. In samewerking met die skool wil ons die gemeenskap aanmoedig om op enige van die volgende manier by die program aan te sluit en ook so die skool te ondersteun:
  1. Besoek hul webtuiste: www.myschool.co.za
2. Laai die MySchool- toep af.
3. Indien daar ouer is wat steeds die papieropsie verkies kan hulle die fisiese kaart by hul naaste Woolworths kry en die verkose begunstige (ons - Hoërskool Jan van Riebeeck) se naam SMS na 31231. Een van hul vriendelike konsultante sal u dan skakel om die aktiveringsproses vir die kaart te voltooi.
4. Ondersteuners wat die digitale roete wil volg, kan die skakel volg. Hoërskool Jan van Riebeeck is dan reeds gelaai as die verkose begunstigde.

Bergfietse te koop

Giant het verlede jaar 3 Giant Recon fietse aan die skool geleen. Hierdie fietse kon deur die skool gebruik word. Die leen periode is egter nou verby en al drie die fietse wat nog in baie goeie toestand is, is nou te koop teen R3 500 per fiets (btw uitgesluit). Indien u belangstel, kontak gerus vir mnr Henning by jan.henning@janvanriebeeck.co.za
Volg gerus die skakel vir meer inligting: https://wenwetenskap.co.za/

NETwerf!

Teken in en help ons wen! Klik op hierdie skakel om op Netwerk24 in te teken teen ‘n spesiale prys en help ons skool geld maak wat ons weer kan terugploeg. Wie nie werf nie, wen nie!

Volg die spesiale skakel om aan te sluit: https://www.netwerk24.com/intekening/promosie/jvr100
facebook instagram 
Email Marketing Powered by MailPoet