|
|
|
|
|
|
UIT DIE SKOOLHOOF SE KANTOOR
Welkom terug aan al ons ouers en leerders! Ek glo dat die wintervakansie vir almal ’n kans gebied het vir rustige en salige samesyn met jul geliefdes.
|
Die derde kwartaal is propvol en ons sien uit na baie opwindende sport-, kultuur- en verrykingsgeleenthede. Die akademiese program is reeds volstoom aan die gang en ek wil leerders opnuut aanmoedig om van die intervensie- en hersieningsgeleenthede gebruik te maak sodat ons saam kan verseker dat elke leerder se volle akademiese potensiaal en doelwitte vanjaar bereik word.
|
Ons matrieks se tyd hier by Jan van Riebeeck raak nou skielik vinnig min en die rekordeksamen skop reeds op Woensdag, 21 Augustus af. Ons het vanjaar ’n besondere sterk matriekgroep en wens vir hul als wat mooi is toe vir die laaste akademiese hekkies waar hul moet oor - ons glo in jul! Die top 20-akademiese presteerders in elke graad sal tydens eerskomende Maandag se saalbyeenkoms aangekondig word.
|
Ons verwelkom graag nuwe personeel wat die afgelope week by ons aangesluit het: me. Sophia van Wyk (Visuele Kunste en Skeppende Kunste), mnr. Carus Krüger (Engels HT en EAT), me. Claret Walker (Geografie) en me. Boo Heyns (Wiskunde). Mag dit vir elkeen van jul ’n wonderlike ervaring wees om by ons skool te onderrig en jul passie vir kinders en die onderwys uit te leef. Me. Lumari Velleman skuif ook in die IGO-departement in en onderrig nou die graad 10- tot 12-klasse. Ander personeelnuus is dat me. Louise Bührmann onlangs haar verlowing met Luhan aangekondig het. Ons is saam opgewonde oor die nuwe hoofstuk wat binnekort vir jul twee aanbreek!
|
Ek wil u nou reeds vra om ’n groot sirkel in jul dagboeke te trek om die week van 12 tot 17 Augustus. Ons interskole-naweek het in ’n interskole-wéék verander en ons beplan baie aktiwiteite dwarsdeur die week. Moenie iets misloop nie – ons wil dit ook veral vir ons vriende van Dirkie Uys ’n spesiale en onvergeetlike week hier in die Kaap maak!
|
Ons is dankbaar om te verneem dat die meerderheid Jan van Riebeeckers nie te erg deur die woeste weer die afgelope week getref is nie. Ons gedagtes en gebede is egter by diegene in ons skoolgemeenskap en provinsie wat groot skade gely het. Gesels asb. met my of u kind se graadhoof indien daar enige behoefte mag bestaan vir hulp van enige aard in hierdie tyd – ons help werklik baie graag!
|
Mag dit vir elkeen in ons skoolgemeenskap ’n mooi en suksesvolle kwartaal wees!
|
|
|
AKADEMIE
|
|
|
|
|
|
Assesseringsprogram: Kwartaal 3
|
Volg gerus die skakel vir kwartaal 3 se assesseringsprogram.
|
|
|
|
|
Graad 12: Akademie vir kwartaal 3
|
Daar vind vanaf volgende week weeklikse verpligte Maandagmiddagklasse vir graad 12-Rekeningkunde en Fisiese Wetenskappe plaas. Daar word nuwe werk tydens die lesse behandel. Die tye en datums is as volg:
|
- Fisiese Wetenskappe: Maandagmiddag vanaf 14:30 tot 16:30
- 15 Julie (Prakties)
- 29 Julie
- 2 Augustus
- Rekeningkunde: Maandagmiddag vanaf 14:30 tot 16:30
- 22 Julie
- 5 Augustus
- 19 Augustus
|
|
|
|
Gr 12 Engels Huistaal-intervensielesse: Kwartaal 3
|
Die Engels Huistaal-departement wil graag verpligte weeklikse Engels Huistaal- intervensieles in kwartaal drie aanbied. Die doel hiervan is om te verseker dat die kurrikulum volledig en met die nodige diepte behandel en afgehandel word sodat genoegsame hersieningstyd ingeruim kan word.
|
Ons vertrou dat u die leerders sal ondersteun in hierdie poging om hul kennis en vermoë te versterk om sodoende ʼn sukses van die veeleisende kwartaal te maak. Die lesse sal Woensdaemiddae vanaf 14:30 tot 15:30 in meneer Claassen se lokaal plaasvind. Kontak hom gerus per e-pos indien daar enige verdere navrae is. Volg die skakel vir die brief wat deur die Engelsdepartement uitgestuur is.
|
|
|
|
|
Herinnering: Wetenskapolimpiades 2024
|
Die drie SAASTA-Wetenskapolimpiades vind in die derde kwartaal plaas. Leerders het reeds in Kwartaal 1 hiervoor ingeskryf op Karri. Leerders kan gerus ou vraestelle by mev. Turkstra kom haal.
|
- Dinsdag, 23 Julie 2024 : LW-olimpiade (Gr. 10 en 11) 14:00-16:00
- Woensdag, 24 Julie 2024 : NW-olimpiade (Gr. 8 en 9) 14:00-16:00
- Donderdag, 25 Julie 2024 : FW-olimpiade (Gr. 10 en 11) 14:00-16:00
|
|
|
|
Opwindende Afrikaansprojekte om aan deel te neem!
|
Die ATKV bied vanjaar weer hul opwindende Digi-projektereeks aan. Hierdie inisiatief bied aan leerders die geleentheid om aan ’n wye verskeidenheid aanlyn kompetisies deel te neem en so hul vaardighede te slyp en talente uit te leef.
|
DigiPRAAT Om jou sê met selfvertroue te kan sê, is ’n vaardigheid wat jy regdeur jou lewe kan gebruik. Met ATKV-DigiPraat skep hul vir leerders ’n platform waarop hul in Afrikaans kan wys hoe glad hul met die mond is. Om alles te kroon, hoef jy nêrens heen te ry nie, met sweterige hande op ’n klipharde saalstoel te sit nie, of bewerig te glimlag vir ’n streng beoordelaar nie. Met ATKV-DigiPraat kan jy in die gerief van jou eie huis, of op enige plek in die wêreld, jou toespraak opneem en vir ons stuur. Loer hier vir al die inligting en sluitingsdatum (30 Augustus): https://atkv.org.za/neem-deel/digiprojekte/digipraat/ DigiSPEL As jy ’n S-P-E-L-L-E-R is en in koue sweet uitslaan as jy ’n spelfout sien, is die ATKV se digitale spelkompetisie net vir jou. Met ATKV-DigiSpel word leerders aangespoor om baie meer aandag aan die gebruik van Afrikaans te gee, en nie net SMS-taal te gebruik nie. As jy dalk ’n T-E-L-L-E-R is en jou spelvermoë wil verbeter, moet jy beslis nie huiwer om in te skryf nie. Jy sal nie net jou spelvaardighede kan slyp nie, maar ook kan meeding met die beste spellers daarbuite. ATKV-DigiSpel gaan jou uitdaag, jou spelling opskerp en jy gaan boonop jouself gate uit geniet – als in die gemak van jou eie ruimte. Al wat jy nodig het, is toegang tot ’n rekenaar, tablet of slimfoon. Loer hier vir al die inligting en sluitingsdatum (1 November): https://atkv.org.za/neem-deel/digiprojekte/digispel/ DigiVOORDRAG Is jy passievol oor gedigte en wil jy nog altyd groot skares met jou helder voordragstem beïndruk? Wat is dan mooier as Afrikaanse gedigte? Die ATKV wil vir jou die geleentheid gee om hierdie deel van ons taalerfenis te vier deur ATKV-DigiVoordrag. ATKV-DigiVoordrag gee jou die platform en podium om van die prettigste en pragtigste Afrikaanse poësie met ’n waarderende gehoor te deel. Dit maak nie saak hoe jou stem klink nie en jy hoef ook nie pennetjieregop met stywe klere op ’n verhoog te staan nie. Kies net jou mooiste Afrikaanse gedig wat jy lekker met gemak en selfvertroue kan voordra. Laat die mense skaterlag met ’n prettige, komiese gedig of laat hulle ’n traan pink met iets roerend. Klim op ons digitale wêreldverhoog! Kry net jou slimfoon, rekenaar of tablet en skep jou eie ruimte met ’n goeie internetverbinding tuis of elders op die aardbol. Nou kan jy die mense wêreldwyd meevoer deur jou Afrikaanse gedig meesleurend voor te dra, op te neem en die video vir ons te stuur. Loer hier vir al die inligting en sluitingsdatum (4 Oktober): https://atkv.org.za/neem-deel/digiprojekte/digivoordrag/ DigiGEDIGTE Wag daar diep in jou binneste ’n gedig wat jy net in jou geliefde moedertaal kan uitdruk? Woordkinders, gee jou poësie-pennevrugte vlerke deur in te skryf vir hierdie digitale kompetisie, ATKV-DigiGedigte. Waar op die aardbol jy ook al jou gedigte skryf, iewers sal jou verse ’n Afrikaanse leser se hart warmer laat klop. Skryf maklik in deur jou gedig in PDF-formaat aan te stuur. As jy toegang het tot ’n internetverbinding en ’n slimfoon, rekenaar of tablet, kan jy inskryf. Of jy hou van paarrym, omarmde rym of eerder met die vrye vers woeker, ATKV-DigiGedigte en die hele wêreld wag op jou digterlike vernuf! Loer hier vir al die inligting en sluitingsdatum (11 Oktober): https://atkv.org.za/neem-deel/digiprojekte/digigedigte/
|
Ons moedig graag al ons Jan van Riebeeckers aan om hierdie kreatiewe verrykingsgeleenthede aan te gryp! Kontak gerus mnr. Rademeyer (pieter.rademeyer@janvanriebeeck.co.za) vir enige verdere navrae of hulp met hierdie projekte.
|
|
|
|
|
Eye Brain Gym-leesprogram
|
Kliek hier om toegang te kry tot 'n belangrikke kennisgewing rondom die skool se leesprogram. Klik hier vir die EBG-pamflet.
|
|
|
|
|
BEELD se Kreatiewe Skryfkompetisie 2024
|
BEELD bied vanjaar weer hul skryfkompetisie vir Afrikaansleerders aan. BEELD bied al vir die afgelope 6 jaar hierdie kompetisie aan. Leerders kan hul beste skryfwerk wat tussen Januarie en 31 Augustus vanjaar geskryf is, inskryf. Hierdie kompetisie sluit beide ’n poësie- en opstelafdeling in. Indien leerders ’n opstel wil skryf, kan hulle kies tussen die verhalende, beskrywende, argumenterende of bespiegelende opstel. In hierdie geval kan hulle self besluit wat die tema van hul opstel is. Indien hulle egter in die ope-afdeling wil deelneem (m.a.w. nie een van hierdie opstelformate wil volg nie), moet hulle volgens die tema “Wat ek die beste in Afrikaans sê” skryf. Opstelinskrywings moet teen 16 September ingedien word.
|
Die wenner in elke kategorie ontvang R3000 en kursusse van Multidimensions ter waarde van R4900 vir hulself en hul Afrikaansonderwyser. Die naaswenner in elke kategorie ontvang ’n kontantprys van R1500 en kursusse ter waarde van R2500 vir hulself en hul Afrikaansonderwyser. Die leerder in die derde plek wen R500 en kursusse ter waarde van R1500 vir hulself en hul Afrikaansonderwyser. Die onderwyser wat die poësiekategorie wen, ontvang R3000, die naaswenner R1500 en die een in die derde plek R500.
|
Leerders wat graag wil inskryf, kan met juf. Raath kommunikeer.
|
|
|
|
|
|
|
|
Moenie vergeet om vir die Hoërskool JvR-Kunstefees in te skryf nie. Inskrywings sluit Sondagaand, 14 Julie en is oop vir alle hoërskool- en laerskoolleerders. Inskrywings op Quicket: https://qkt.io/qxow0z
|
|
|
SPORT
|
|
|
|
|
|
|
|
ALGEMEEN
|
|
|
|
|
|
Graad 12-getuigskrifte
|
Getuigskrif-aansoekvorms is verlede kwartaal (11 Junie) tydens die Winterskool aan matrieks uitgehandig. Die inhandigingsdatum is eerskomende Maandag,15 Julie. Geen laat inhandiging word aanvaar nie.
|
Getuigskrifte is ’n voorreg en nie ’n reg nie. Getuigskrif-aansoekvorms word uitgegee reeds in die tweede kwartaal sodat leerders genoeg tyd het om dit te voltooi. Afrigters en personeel moet teken dat ’n leerder se inligting by ’n item korrek is en alle bewyse moet aangeheg word waar nodig. Die voltooide vorm word ingehandig by die registerklasse in die tweede week van die derde kwartaal. Die finale getuigskrifte van voltooide aansoekvorms word uitgehandig in Desember op die dag wat leerders hul laaste taalvraestel in die NSS-eksamen skryf.
|
Enige navrae kan direk aan me. H. Steyn gerig word by huibrecht.steyn@janvanriebeeck.co.za.
|
|
|
|
|
Bloedskenk: Dinsdag,16 Julie 2024
|
Ouers en leerders van 16 jaar oud word hartlik uitgenooi om ook saam te kom bloed skenk eerskomende Dinsdag, 16 Julie 2024.
|
Plek: Skoolsaal Tyd: 10:00 tot 14:00 Leerders wat EERSTE-skenkers is, moet asb. ’n vorm by mev. Turkstra kry wat deur hul ouers onderteken moet word.
|
|
|
|
|
Leer meer oor Arabiese Afrikaans in Kaapstad
|
|
|
Om die herlewing van Arabies-Afrikaans te versterk, bied die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM), asook Historium Trust, twee gratis werkswinkels en besprekings oor hierdie unieke skryftradisie aan. D. Shamiega Chaudhari sal beginners en gevorderde skrywers op Saterdag touwys maak via ’n moderne ‘madrassa’-klas en begeleiding om spesifieke Afrikaanse klanke in die Arabiese skrif te bemeester.
|
|
|
|
Die beginnersklas is op 27 Julie vanaf 09:00 tot 12:00 en die gevorderde klas vanaf 13:00 tot 16:00 in Muhammadeyah Primêr te Battsweg 103, Wynberg. Albei klasse is gratis, maar voorafbespreking is noodsaaklik om getalle en verversings te bepaal. Om in te skryf, kontak Amila Ernstzen op 021 872 2022 of info@historium.co.za teen 25 Julie.
|
|
|
Die Afrikaanse Wikipedia Skryfkompetisie 2024
|
Die Afrikaanse Wikipedia Skryfkompetisie is vir alle Suid-Afrikaanse hoërskoolleerders. Jy kan alleen of as ’n skoolspan inskryf. Daar is nie ’n beperking op die hoeveelheid leerders per span nie, maar vyf of minder word aanbeveel.
|
’n Leerder of ’n skoolspan moet minstens een artikel op die Afrikaanse Wikipedia skep oor ’n onderwerp wat handel oor iets in die wetenskappe, geskiedenis, tegnologie, ens. Artikels wat gesien kan word as reklame of propaganda word egter nie op die Wikipedia aanvaar nie. Die artikels kan nie stories wees of oor fiktiewe mense/onderwerpe handel nie. Artikels oor jou skool, godsdiens of politiek kwalifiseer ook nie vir die kompetisie nie. Die wenner/wenspan sal R10 000 wen.
|
Leerders kan met me. Raath gesels indien hul belangstel om deel te neem.
|
|
|
|
|
Matriekmodeparade 2024
|
Ons sien uit na nog ’n mooi modeparade Maandagaand, 12 Augustus, in die skoolsaal. Die graad 12's sal met hul matriekdansuitrustings op die planke spog. Kaartjies sal binnekort op Karri beskikbaar wees.
|
Tyd: 18:00 - 18:30 Kostes: Volle tafel - R1250 vir 10 gaste met aandete Enkelkaartjie by tafel - R150 p.p. met aandete Algemene sitplek - R85 p.p. (geen ete ingesluit) Leerder sitplek - R50 p.p. op galery Etekaartjie - R75 p.p. (slegs as ete nie by kaartjie ingesluit nie.)
|
|
|
|
|
Winterdans/Interskole-dans: Woensdag, 14 Augustus 2024
|
Ons tradisionele winterdans in die 3de kwartaal word spesiaal gehou vir alle leerders graad 8 tot 12. Hierdie fondsinsameling word aangebied deur die matriekraad, matriekkomitee en VRL. Die fondse wat gein word, is ten bate van die Klas van 2024 se unieke matriekgeskenk aan ons leerders en skool.
|
Ons het geluister na al ons leerders en ouers se insette en hierdie warm kuiergeleentheid sal beslis weer 'n heerlike, prettige hoogtepunt vir ons leerders wees. Ons sien almal uit na hierdie partytjie! Baie dankie vir al ons ouers se moeite, omgee en hulp hiermee.
|
Plek: Hoërskool Jan van Riebeeck skoolsaal Datum: 14 Augustus 2024 - as deel van Geesweek vir Interskole Drag: Deftig-informeel Tema: Wintersprokie Kostes: R 80 per persoon op Karri R 100 Buite leerders (skakel na toestemmingsbrief vir buite leerders) Tyd: 18:00 tot 21:30 Café Jan sal oop wees vir eet- en drinkgoed.
|
Maak seker jy loop nie hierdie "Wintersprokie"-partytjie mis nie! Dit is ook die laaste kuier en samesyn van ons matriekklas van 2024.
|
Enige navrae kan aan me Steyn gerig word: huibrecht.steyn@janvanriebeeck.co.za
|
|
|
|
|
Doringrivier-avontuur 2024!
|
Die skool wil in samewerking met Gravity Adventures die naweek van 9 Augustus 2024 die Doringrivier aanpak. Dit is 'n gesinsavontuur en elke leerder moet een volwassene saambring.
|
Die plan is om reeds Donderdag, 8 Augustus, na die Gifberg-omgewing te vertrek, Vrydag by Doringbos op die rivier te klim en Vrydag- en Saterdagaand sal ons langs die rivier kamp. Sondag sal ons avontuur eindig net voor die Doring in die Olifantsrivier in loop.
|
Die koste beloop ongeveer R3000 per persoon. Dis sluit kos op die rivier, toegang tot die rivier en die basiese benodigdhede soos 'n bootjie, helm, lewensreddingsbaadjie en spane in. Gravity Adventures verskaf die riviergidse wat verantwoordelik is vir die veiligheid op die rivier.
|
Avontuurluste is verantwoordelik vir: eie vervoer Gifberg toe en terug,"wetsuit" (verpligtend), kos vir Donderdag 8 Augustus, ontbyt 9 Augustus en kamptoerusting. Vir meer foto's en inligting volg die skakel foto's en inligting
|
Kontak gerus vir mnr. Henning by jan.henning@janvanriebeeck.co.za indien u belangstel.
|
*Fynskrif: Die hele avontuur hang van watervlakke in die Doringrivier af, so indien die watervlak laag is sal dit nie kan gebeur nie; ons sal slegs in die week van 5 Augustus bevestiging ontvang.
|
|
|
|
|
Noodhulpkursus: 6 tot 8 September 2024
|
Die volgende drie opsies sal eersdaags beskikbaar word vir betaling op Karri. Betaling moet asseblief so gou as moontlik gedoen word, maar voor 16 Augustus 2024.
|
- Slegs Basiese Noodhulp (2 dae): R550
- 6 en 7 Sept 2024 (By die skool)
- Slegs Gevorderde Noodhulp (Basiese Noodhulpsertifikaat moet nog geldig wees - 3 jr): R650
- Basiese en Gevorderde Noodhulp Gekombineer (3 dae): R 1000
- 6 tot 8 Sept 2024 (By die skool)
|
|
|
|
Markus Smit gekies vir uitnodigingshokkietoergroep
|
|
|
Ons is baie trots op Markus Smit (Graad 12) wat tydens die Cape CO-ED Hockey Festival (15-17 Maart 2024) twee keer die toekenning vir speler van die wedstryd ontvang het en geïdentifiseer is om deel van 'n uitnodigingspan, wat in September 'n hokkietoer na Nederland onderneem, te wees.
|
Dit is vir sy ouers 'n enorme trotse oomblik en hulle sal graag alles wil doen om hierdie geleentheid vir hom 'n werklikheid te maak.
|
Hokkie is Markus se lewe, en sy droom
|
|
|
|
is om hokkie op professionele vlak te speel; om 'n toer mee te maak Nederland toe waar hy die sport kan speel waarvoor hy lief is, ondervinding kan opdoen om nuwe tegnieke aan te leer en die kans kry om sy spel te verbeter, sal vir hom die wêreld beteken.
|
Sy ouers het reeds die deposito betaal om sy plek in die span en toer te verseker. Enige ander weldoeners wat kan help om Markus se droom 'n realiteit te maak, kan sy ma, Christina Smit, kontak by christinasmit@gmail.com of ondersteun hom op Backabuddy https://www.backabuddy.co.za/campaign/markus-netherlands-tour.
|
|
|
|
|
Die Groot Biodiversiteitsuitdaging 2024
|
Die Wes-Kaap is een van die mees biodiverse plekke ter wêreld, maar ons biodiversiteit staar bedreigings in die gesig. Onvolhoubare gebruik van natuurlike hulpbronne, onbeheerde brande, klimaatsverandering, habitatvernietiging en die verspreiding van uitheemse indringerspesies is aan die orde van die dag.
|
Het jy die oplossings vir enige van dié bedreigings wat ons provinsie se biodiversiteit in die gesig staar?
|
Staan 'n kans om te wen met JOU oplossing!
|
Wie kan inskryf? Graad 8 - 9 leerders
|
|
|
|
|
Mia Smith gekies vir Tygerberg Kinderkoor
|
|
|
Baie geluk aan Mia Smith (graad 8) wat gekies is as een van die koorlede van die Tygerberg Kinderkoor wat later vanjaar die koor in Tolosa; Spanje, gaan verteenwoordig.
|
Omdat dit vir haar familie 'n groot eer en voorreg is, wil hulle graag hierdie geleentheid vir Mia laat realiseer deur verskeie fondsinsamelingsprojekte te loods.
|
Die tweede inisiatief is 'n lootjieprojek deur die Tygerberg Kinderkoor waarby die opbrengste van alle kaartjieverkope deur Mia, direk tot Mia se toerfonds gevoeg sal word.
|
Laastens word 'n Gholfdag ook op 26 Julie 2024 ten bate van die toerfonds deur Mia se pa gereël.
|
Indien u by enige van hierdie inisiatiewe betrokke wil raak, kan u vir Ashley Smith (084 656 8388, of ashleysoteria@yahoo.com) kontak.
|
|
|
|
|
|
|
Die Plezier Markt gaan oor die viering van ons gemeenskap, kwaliteit produkte, kreatiewe handelsware en kuns. Kom geniet 'n wye verskeidenheid van stalletjies en kosse op ons pragtige kampus. Daar is aktiwiteite vir oud en jonk.
|
Na afloop van die mark sal Elvis Blue en sy orkes ons vanaf 19:00 met 'n vertoning op die JvR-amfiteater betower. Kaartjies sal ook by die deure beskikbaar wees.
|
Ons beoog om die PlezierMarkt te vestig as 'n jaarlikse geleentheid wat gedagboek sal word as 'n hoogtepunt vir verkopers en die gemeenskap.
|
*Toegang tot die mark vir kinders 12 jaar en jonger is gratis.
|
Kaartjies is beskikbaar op Quicket.
|
|
|
|
|
|
BORGE
|
|
|
|
|
|
|
ADVERTENSIES
|
|
|
|
|
|
|
|
MySchool-program gaan papierloos
|
|
|
Die MySchool-program gee om vir die omgewing en het besluit om vanaf 1 Julie 2024, nie meer enige papieraansoeke te aanvaar nie. In samewerking met die skool wil ons die gemeenskap aanmoedig om op enige van die volgende manier by die program aan te sluit en ook so die skool te ondersteun:
|
- Besoek hul webtuiste: www.myschool.co.za
|
|
|
2. Laai die MySchool- toep af.
|
3. Indien daar ouer is wat steeds die papieropsie verkies kan hulle die fisiese kaart by hul naaste Woolworths kry en die verkose begunstige (ons - Hoërskool Jan van Riebeeck) se naam SMS na 31231. Een van hul vriendelike konsultante sal u dan skakel om die aktiveringsproses vir die kaart te voltooi.
|
4. Ondersteuners wat die digitale roete wil volg, kan die skakel volg. Hoërskool Jan van Riebeeck is dan reeds gelaai as die verkose begunstigde.
|
|
|
|
|
|
|
NETwerf!
|
|
Teken in en help ons wen! Klik op hierdie skakel om op Netwerk24 in te teken teen ‘n spesiale prys en help ons skool geld maak wat ons weer kan terugploeg. Wie nie werf nie, wen nie!
|
|
|
|
|
|