|
|
|
|
UIT DIE SKOOLHOOF SE KANTOOR
My ma het amper die horries gekry toe ek destyds ná my eerste week van skoolhou vir haar vertel hoe goed ek en ons adjunkhoof, Marina, oor die weg kom. Ek wou uitdagend weet hoekom sy so voel.“Mev. Van Zyl,” is hoe jy haar aanspreek. “Sy is nie jou speelmaat nie.”
|
Ek kon maar net lag vir my ma, as verteenwoordiger van die ouer geslag, wat nie weet dat sommige mense net eenvoudig nié 'tannie' of 'mev. Dominee' kan wees nie. Maar in daardie stadium het ek ook nog nie geweet dat die klem van Marina van Zyl, vir die vier jaar wat ek op Stellenbosch skoolgehou het, op die eerste twee letters van haar naam sou val nie. MA-rina van Zyl.
|
Sy is die soort vrou vir wie daar 'n dag soos Vrouedag geskep is. Sy is die soort vrou wat nie belangstel om haar man te staan nie; sy wil haar ménswees vier en deel met almal om haar.
|
As groentjie-onderwyser het hierdie wondervrou my aan die hand geneem en gewys hoe dinge gedoen moet word. Sy het my stilweg en onaangekondig op haar mentorprogram geneem en my toegelaat om betrokke te wees, om te kyk hoe dinge gedoen word, om te leer van standaarde wat aanvaarbaar is; sy het my eintlik aan elke aspek van die opwindende onderwysmilieu blootgestel.
|
Ek het my elke dag – sonder uitsondering – verwonder aan hierdie vrou se omvang.In die klaskamer was sy ’n wiskunde-onderwyseres par excellence met matriekuitslae waarvan enige onderwyser net kan droom.
|
In die adjunkhoofkantoor was sy die ystervrou wat alles en almal bymekaar gehou het. Met ’n ongelooflike administratiewe perfeksionisme, gemeng met haar begrip en ruimte vir grys areas, het sy bykans elke skoolkwessie aangepak asof haar lewe daarvan afhang. Nagte deur het sy gesit en planne beraam, statistieke bekyk en kreatiewe veldtogte gedryf. Alles op die agtergrond. Die stille krag agter almal, dis wie sy was.
|
Maar wanneer sy by die skoolhekke uitgery het, was sy óók die predikantsvrou van die studentegemeente op Stellenbosch. Sy het haar man en sy werk deur dik en dun bygestaan. En veldtogte en kommissies en vrouesake bestuur. Met passie en ’n liefde vir die saak. Dan het sy boonop elke dag die sinvolste opinies van ons almal gehad oor als wat in die koerante staan. Die nuutste boeke op die rak is onmiddellik gelees sodat sy kon bybly as mense daaroor praat. Sy is die eerste vrou wat die nuutste fliek sien, sy is die eerste vrou wat haar kaartjies koop vir die baie uiteenlopende verhoogproduksies in Stellenbosch of in die Kaap. En sy drink omtrent elke dag saam met een van haar goeie vriendinne koffie. Haar vier kinders en kleinkinders word nie afgeskeep nie en MA-rina gee meer as haar pond vleis vir hulle ook. In die gemeenskap is sy betrokke by enige organisasie wat 'n barmhartige samaritaan soek.
|
Merkwaardig, het ek altyd gedink... hoe kry sy dit reg om alles ingepas te kry? Hoe kry sy dit reg om nie haar werkstandaarde of vriendskappe prys te gee nie? Hoe is dit moontlik dat één vrou soveel kan vermag? Vandag is Marina afgetree, maar sy het steeds nie lus vir stilsit nie. Nee, sy was immers lank die dryfkrag agter 'n universiteitsprojek daar op Stellenbosch waar hulle wiskunde-onderwysers opgelei het. Dag-in en dag-uit gee sy terug aan die dorp en die gemeenskap waarin sy al die jare woon. Sy glo in waardetoevoeging. Sy glo dat kennis mag is en dat dit jou verantwoordelikheid is om dit met ander te deel.
|
Ek weet nie hoe ek ooit my dankbaarheid vir MArina van Zyl sal kan betuig nie. Want sy het méér gedoen as wat enige ander leermeester op my onderwyspad al vir my gedoen het. Sy is 'n werkmentor met 'n sagte moederhart. En ’n harde wil.
|
Môre bring ek hulde aan al die Marinas en Jan van Riebeeck-vroue wat op hul sterk manier skole; instellings én families én vriendskappe én projekte – alles sommer so gelyktydig - met liefde en baie deernis staande hou.
|
Geniet die langnaweek saam met jul kinders!
|
|
|
AKADEMIE
|
|
|
|
Graad 12: NSS-eksamenrooster
|
|
|
Die Departement van Basiese Onderwys (DBO) het die finale Nasionale Senior Sertifikaat- (NSS-) eksamenrooster bevestig. Hiermee die finale rooster met alle amptelike vakke asook ‘n opgesomde rooster met die vakke wat die skool aanbied. Let asseblief op die volgende:
|
|
|
|
- Die NSS-eksamen sal op Maandag, 21 Oktober begin en op Donderdag, 28 November eindig.
- Alhoewel die eksamen op Donderdag, 28 November eindig, moet kandidate tot die laaste dag van die skoolkwartaal (13 Desember) beskikbaar wees ingeval dit om enige rede nodig sou wees om ’n spesifieke vak/vraestel te herskeduleer.
Alle ander inligting m.b.t. die NSS-eksamen sal mettertyd deur me. Steyn gekommunikeer word.
|
|
|
|
Graad 12: Opgedateerde rekordeksamen
|
Neem kennis dat daar twee finale veranderinge aangebring is aan die eksamenrooster:
|
- IGO V2 en REK V2 word op Maandag, 2 Sep. (sessie 2) geskryf.
- GEO V2 word op Dinsdag, 10 Sep. geskryf.
|
|
|
|
Assesseringsprogram: Kwartaal 3
|
Volg gerus die skakel vir Kwartaal 3 se assesseringsprogram.
|
|
|
|
|
|
|
Visuele kunste: Graad 12-NSS-praktiese eksamen
|
Die NSS-Visuele kunste se praktiese eksamendatums, wat 'n 24 uur eksamen behels, sal op die volgende datums plaasvind:
|
- Maandag 7 Oktober van 7:30 tot 14:00
- Dinsdag 8 Oktober van 7:30 tot 14:00
- Woensdag 9 Oktober van 7:30 tot 14:00
- Donderdag 10 Oktober van 7:30 tot 14:00
Hierdie praktiese eksamen sal 6 uur per dag duur met 'n 30-min.pouse. Die eksamen sal afsluit met 'n uitstalling van die graad 12-werk op 11 Oktober. Ons nooi ouers en leerlinge om die kuns te kom geniet!
|
|
|
|
|
Graad 12: Akademie vir Kwartaal 3
|
Daar vind weeklikse verpligte Maandagmiddagklasse vir graad 12-Rekeningkunde en Fisiese Wetenskappe plaas. Daar word nuwe werk tydens die lesse behandel. Die tye en datums is as volg:
|
- Rekeningkunde: Maandagmiddag vanaf 14:30 tot 16:30
|
|
|
|
GEOGRAFIE OLIMPIADE: SANGO Junior Geografie- olimpiade
|
Ons Jan van Riebeeckers word hiermee uitgedaag om deel te neem aan ‘n aanlyn Geografie-olimpiade.
|
Hierdie olimpiade is ondersteun deur verskeie organisasies, insluitend die Royal Geographic Society en die Suid-Afrikaanse Departement van Basiese Onderwys. Die olimpiade is vir ons graad 8- en 9-leerders, en hierdie uitnodiging behels registrasie deur middel van betaling op Karri (of by die finansies-toonbank) teen 31 Augustus. Deelname is moontlik vir alle leerders in Suid-Afrikaanse skole, en die toets word aanlyn by die skool afgeneem.
|
- Inskrywingsfooi: R55 per leerder - inbetaal deur skole.
- Formaat van olimpiade: Aanlyn meerkeusevasvrae, en leerders het twee uur om die vasvra te voltooi.
- Datum: 17 September 2024
- Sertifikate en resultate: Sertifikate met Brons-, Silwer-, Goud- en Platinum-toekennings vir die toppresteerders word toegeken.
Hoe berei elkeen hiervoor voor: Gereelde vrae word beskikbaar gestel op die betrokke olimpiade-webwerf wat aan leerders wat registreer verskaf word.
|
|
|
|
|
Opwindende Afrikaansprojekte om aan deel te neem!
|
Die ATKV bied vanjaar weer hul opwindende Digi-projektereeks aan. Hierdie inisiatief bied aan leerders die geleentheid om aan ’n wye verskeidenheid aanlyn kompetisies deel te neem en so hul vaardighede te slyp en talente uit te leef.
|
DigiPRAAT Om jou sê met selfvertroue te kan sê, is ’n vaardigheid wat jy regdeur jou lewe kan gebruik. Met ATKV-DigiPraat skep hul vir leerders ’n platform waarop hul in Afrikaans kan wys hoe glad hul met die mond is. Om alles te kroon, hoef jy nêrens heen te ry nie, met sweterige hande op ’n klipharde saalstoel te sit nie, of bewerig te glimlag vir ’n streng beoordelaar nie. Met ATKV-DigiPraat kan jy in die gerief van jou eie huis, of op enige plek in die wêreld, jou toespraak opneem en vir ons stuur. Loer hier vir al die inligting en sluitingsdatum (30 Augustus): https://atkv.org.za/neem-deel/digiprojekte/digipraat/ DigiSPEL As jy ’n S-P-E-L-L-E-R is en in koue sweet uitslaan as jy ’n spelfout sien, is die ATKV se digitale spelkompetisie net vir jou. Met ATKV-DigiSpel word leerders aangespoor om baie meer aandag aan die gebruik van Afrikaans te gee, en nie net SMS-taal te gebruik nie. As jy dalk ’n T-E-L-L-E-R is en jou spelvermoë wil verbeter, moet jy beslis nie huiwer om in te skryf nie. Jy sal nie net jou spelvaardighede kan slyp nie, maar ook kan meeding met die beste spellers daarbuite. ATKV-DigiSpel gaan jou uitdaag, jou spelling opskerp en jy gaan boonop jouself gate uit geniet – als in die gemak van jou eie ruimte. Al wat jy nodig het, is toegang tot ’n rekenaar, tablet of slimfoon. Loer hier vir al die inligting en sluitingsdatum (1 November): https://atkv.org.za/neem-deel/digiprojekte/digispel/ DigiVOORDRAG Is jy passievol oor gedigte en wil jy nog altyd groot skares met jou helder voordragstem beïndruk? Wat is dan mooier as Afrikaanse gedigte? Die ATKV wil vir jou die geleentheid gee om hierdie deel van ons taalerfenis te vier deur ATKV-DigiVoordrag. ATKV-DigiVoordrag gee jou die platform en podium om van die prettigste en pragtigste Afrikaanse poësie met ’n waarderende gehoor te deel. Dit maak nie saak hoe jou stem klink nie en jy hoef ook nie pennetjieregop met stywe klere op ’n verhoog te staan nie. Kies net jou mooiste Afrikaanse gedig wat jy lekker met gemak en selfvertroue kan voordra. Laat die mense skaterlag met ’n prettige, komiese gedig of laat hulle ’n traan pink met iets roerend. Klim op ons digitale wêreldverhoog! Kry net jou slimfoon, rekenaar of tablet en skep jou eie ruimte met ’n goeie internetverbinding tuis of elders op die aardbol. Nou kan jy die mense wêreldwyd meevoer deur jou Afrikaanse gedig meesleurend voor te dra, op te neem en die video vir ons te stuur. Loer hier vir al die inligting en sluitingsdatum (4 Oktober): https://atkv.org.za/neem-deel/digiprojekte/digivoordrag/ DigiGEDIGTE Wag daar diep in jou binneste ’n gedig wat jy net in jou geliefde moedertaal kan uitdruk? Woordkinders, gee jou poësie-pennevrugte vlerke deur in te skryf vir hierdie digitale kompetisie, ATKV-DigiGedigte. Waar op die aardbol jy ook al jou gedigte skryf, iewers sal jou verse ’n Afrikaanse leser se hart warmer laat klop. Skryf maklik in deur jou gedig in PDF-formaat aan te stuur. As jy toegang het tot ’n internetverbinding en ’n slimfoon, rekenaar of tablet, kan jy inskryf. Of jy hou van paarrym, omarmde rym of eerder met die vrye vers woeker, ATKV-DigiGedigte en die hele wêreld wag op jou digterlike vernuf! Loer hier vir al die inligting en sluitingsdatum (11 Oktober): https://atkv.org.za/neem-deel/digiprojekte/digigedigte/
|
Ons moedig graag al ons Jan van Riebeeckers aan om hierdie kreatiewe verrykingsgeleenthede aan te gryp! Kontak gerus mnr. Rademeyer (pieter.rademeyer@janvanriebeeck.co.za) vir enige verdere navrae of hulp met hierdie projekte.
|
|
|
|
|
Eye Brain Gym-leesprogram
|
Kliek hier om toegang te kry tot 'n belangrikke kennisgewing rondom die skool se leesprogram. Klik hier vir die EBG-pamflet.
|
|
|
|
|
|
|
|
Tydskrifte vir kunsklas
|
Ons doen 'n beroep op ouers en voogde om nuwe en ou tydkskrifte en koerante vir die kunsklas te skenk. Die tydskrifte en koerante kan afgelewer word by die Kantoor. Ons sal die donasies waardeer.
|
|
|
|
|
Welgemeend Kunsmaand: begeleide toer
|
As deel van die Welgemeend Kunsmaand nooi ons ouers uit vir 'n begeleide toer van die Welgemeend uitstalling getiteld "(On)bekend / (Un)known". Dié geleentheid sal op Vrydag, 16 Augustus, vanaf 13:25 tot 14:15 plaasvind. Almal is welkom! Laat weet gerus vir Sophia van Wyk by sophia.vanwyk@janvanriebeeck.co.za teen 13 Augustus as u wil deel wees van dié begeleide toer.
|
|
|
|
|
JanKUNS WhatsApp
|
Ons nooi graag ouers uit om deel te word van die #JanKUNS-gemeenskap op WhatsApp. Kry die nuutste kunsuitstallinginligting en word deel van die verryking en pret. Volg die skakel om aan te sluit: https://chat.whatsapp.com/J4swiFBZ7Es5uMU9pDWn6x
|
Leerders kan die QR-kode (buite die kunsklas) volg om deel te word van die JanKUNS-leerlinggemeenskap op WhatsApp om self meer inligiting te ontvang van aktiwiteite by die skool en die groter kunsgemeenskap in Kaapstad.
|
|
|
The Yeoman of The Gaurd, my opera
|
|
|
"Die Gilbert & Sullivan Society van Kaapstad bied aan: The Yeomen of the Guard, ’n komiese opera deur die Britse skrywer-en-komponispaar, Gilbert en Sullivan, in die Kunstekaap-operahuis hierdie maand, en ons eie me/ Regina Malan is die prima donna in die opera!
|
|
|
|
Me. Malan speel die hoofrol van Elsie Maynard in die produksie van The Yeoman of the Guard wat op die planke is by die Kunstekaap-operahuis vanaf 10 tot 17 Augustus 2024. Die opera word begelei deur die bekwame Kaapstadse Filharmoniese Orkes. Die verhaal speel af in die beroemde (berugte!) “Tower of London” in die 16de eeu. Dit is ’n uitstekende voorbeeld van Engelse Romantiese Opera en is Gilbert en Sullivan se mees dramatiese opera. Die verhaal sluit verraad, komedie en die tragiese einde van ’n tipiese ernstige opera in en bevat ook Sullivan se roerendste musiek. Die libretto (teks) is in Engels, wat dit maklik maak vir Suid-Afrikaanse gehore om die storielyn te verstaan en hulself in te leef in die drama. Ons nooi graag alle Jan van Riebeeckers uit om die produksie te ondersteun. Die kaartjieprys is R295 per persoon en kan op Quicket bespreek word.
|
|
|
SPORT
|
|
|
|
|
|
|
|
Ons nooi graag alle lede van die Jan van Riebeeck- en Dirkie Uys-gemeenskap om Vrydag, 16 Augustus, saam op die Boshoffveld (hoërskoolsportvelde) onder die pragtige Tafelberg te kuier.
|
Die hele familie is welkom en verversings kan op die aand gekoop word. Bestel gerus vooraf 'n Butlers-pizza of heerlike Stud-burger. Plaas asb. die bestelling vir etes soos gelys teen Dinsdag, 13 Augustus om 10:00 op Quicket (https://qkt.io/AY4V5G) of Karri.
|
Etes is vir Vrydagaand, 16 Augustus.
|
Dankie by voorbaat vir almal se ondersteuning - ons sien uit na 'n heerlike interskole-kuieraand!
|
|
|
JvR-rosette
|
|
|
Ons maak spesiale JvR-rosette vir interskole! Dit lyk presies soos die foto, maar met 'Interskole 2024' op die lint gedruk.
|
Bestel nou vir die hele gesin teen R70 per roset - ouers is ook welkom om hierdie mooi lintroos tydens ons interskole-week te dra. Leerders mag dit saam met hul skool- en sportdrag vir die hele week dra.
|
Slegs 300 beskikbaar! Alumni kan bestellings e-pos na skoolwinkel@janvanriebeeck.co.za.
|
|
|
|
|
Vrydag: 6 September is weer LOSLITDAG!
|
|
|
Jy kan jou Loslitdag-plakker op Karri een R20 'n plakker koop en dan op Vrydag, 6 September in gewone klere skool toe kom. Alle fondse wat ingesamel word, is vir persone met gestremdhede en 20% van die fondse word aan ons skool geskenk.
|
Vanjaar is die tema: EK SIEN JOU! Steek jou hand in die sak en ondersteun asseblief hierdie belangrike inisiatief om 'n verskil in die lewe van mense met siggestremdhede te maak.
|
|
|
|
|
Noodhulpkursus: 6 tot 8 September 2024
|
Die volgende drie opsies sal eersdaags beskikbaar word vir betaling op Karri. Betaling moet asseblief so gou as moontlik gedoen word, maar voor 16 Augustus 2024.
|
- Slegs Basiese Noodhulp (2 dae): R550
- 6 en 7 Sept 2024 (By die skool)
- Slegs Gevorderde Noodhulp (Basiese Noodhulpsertifikaat moet nog geldig wees - 3 jr): R650
- Basiese en Gevorderde Noodhulp Gekombineer (3 dae): R 1000
- 6 tot 8 Sept 2024 (By die skool)
|
|
|
|
|
|
Die Plezier Markt gaan oor die viering van ons gemeenskap, kwaliteit produkte, kreatiewe handelsware en kuns. Kom geniet 'n wye verskeidenheid van stalletjies en kosse op ons pragtige kampus. Daar is aktiwiteite vir oud en jonk.
|
Na afloop van die mark sal Elvis Blue en sy orkes ons vanaf 19:00 met 'n vertoning op die JvR-amfiteater betower. Kaartjies sal ook by die deure beskikbaar wees.
|
Ons beoog om die PlezierMarkt te vestig as 'n jaarlikse geleentheid wat gedagboek sal word as 'n hoogtepunt vir verkopers en die gemeenskap.
|
*Toegang tot die mark vir kinders 12 jaar en jonger is gratis.
|
Kaartjies is beskikbaar op Quicket.
|
|
|
|
|
|
BORGE
|
|
|
|
|
|
|
|
Selfverdedigingswerkswinkel: 9 Augustus 2024
|
|
|
Luca Zulch verteenwoordig JvR op die Kaapstadse Juniorstadsraad (@Capetown_JCC op Instagram) en moet 'n gemeenskapsprojek aanbied. Sy reël 'n selfverdedigingswerkswinkel, vanaf 09:00-12:00, op Vrouedag, vir 14 - 24 jarige vroue. Dit word aangebied in die skoolsaal van haar eie skool, Hoërskool Jan van Riebeeck. Daar is plek vir 100 vroue teen R100 'n vrou.
|
As iemand belangstel om hul dogters te laat deelneem OF "borg-'n-meisie" donasies wil maak, kontak haar asb. Sterkte met die projek, Luca!
|
|
|
|
|
|
|
Wynskou by Welgemeend op 31 Augustus!
|
Kom geniet 'n baie spesiale wynervaring saam met vriende by die statige Welgemeend Herehuis in die hartjie van Kaapstad. Wyne is reeds sedert 1693 op Welgemeend verbou om aan die skepe wat om die Kaap geseil het, wyn te verskaf. Hoe spesiaal is dit om meer as drie dekades later wyne uit verskillende streke by Welgemeend te ruik, bekyk, te proe en te bespreek en dat die wyne wat jul gaan proe op landgoedere produseer word waar oudleerders en ouers van Jan van Riebeeck by betrokke is, maak dit nog meer spesiaal. Wyne van die volgende landgoedere is beskikbaar vir proe en bestel: Jakob’s Vineyard, Paul Clüver Family Wines, Saronsberg-Landgoed, Allesverloren-Landgoed, De Queekvalleij Olijven Boerderij en nog meer.
|
|
|
|
|
Wen jou wetenskap en wiskunde is 'n produk van jare lange ervaring en kundigheid waarin Helena Verwey haar eie materiaal skryf om elke leerling te bekragtig om tyd te spaar en te fokus op die belangrikste punte van Wiskunde en Wetenskap. Die menigte suksesverhale spreek vanself dat dit wat sy aanbied vir die kinders werk!! Op haar webblad https://wenwetenskap.co.za/ is daar ‘n Winkel geskep waar ouers die Afrikaanse en Engelse Boeke vir Wiskunde en Wetenskap kan besigtig en aankoop, van Graad 10 tot Graad 12.
|
|
|
|
|
|
|
MySchool-program gaan papierloos
|
|
|
Die MySchool-program gee om vir die omgewing en het besluit om vanaf 1 Julie 2024, nie meer enige papieraansoeke te aanvaar nie. In samewerking met die skool wil ons die gemeenskap aanmoedig om op enige van die volgende manier by die program aan te sluit en ook so die skool te ondersteun:
|
- Besoek hul webtuiste: www.myschool.co.za
|
|
|
2. Laai die MySchool- toep af.
|
3. Indien daar ouer is wat steeds die papieropsie verkies kan hulle die fisiese kaart by hul naaste Woolworths kry en die verkose begunstige (ons - Hoërskool Jan van Riebeeck) se naam SMS na 31231. Een van hul vriendelike konsultante sal u dan skakel om die aktiveringsproses vir die kaart te voltooi.
|
4. Ondersteuners wat die digitale roete wil volg, kan die skakel volg. Hoërskool Jan van Riebeeck is dan reeds gelaai as die verkose begunstigde.
|
|
|
|
|
|
|
NETwerf!
|
|
Teken in en help ons wen! Klik op hierdie skakel om op Netwerk24 in te teken teen ‘n spesiale prys en help ons skool geld maak wat ons weer kan terugploeg. Wie nie werf nie, wen nie!
|
|
|
|
|
|