Nuusbrief-header
20 Maart 2020

Belangrike Datums


(Ons ondervind ongelukkig tans 'n klein tegniese probleempie met die kalender op die webwerf. Ons hoop om dit so gou doenlik op te los.)
>> Besoek die volledige kalender op die webtuiste <<

Die Corona-krisis en toepaslike reëlings

Te midde die Corona-krisis is almal van ons is onseker oor wat die volgende paar weke vir ons inhou. Ons hou saam met die res van die wêreld duimvas dat daar vinniger as later ‘n entstof vir die virus ontwikkel word, maar intussen kan ons maar net kalm bly en doen wat ons kan om die verspreiding van die siekte te verminder:

  • Was jou hande gereeld met seep en water (vir 20 sekondes) of met alkoholgebaseerde saniteermiddel.
  • Moenie met ongewasde hande aan jou oë, neus of mond raak nie.
  • Probeer enige nabye kontak met ander mense vermy. Indien u wel uitgaan, staan ten minste 1m weg van die volgende persoon.
  • Nies of hoes in ‘n sakdoek/sneesdoekie/in jou elmboog of hand.
  • Self-isoleer indien nodig en pas sosiale distansiëring toe.
Hoewel die meeste verlore akademiese dae waarskynlik ingehaal gaan word, kan ons ongelukkig nog nie met sekerheid sê hoe die volgende twee kwartale beïnvloed gaan word nie. Om seker te maak dat ons leerders nie te ver agter raak met akademie nie, het die onderwysers moeite gedoen en huiswerk vir meeste van die vakke beskikbaar gemaak. U kan die huiswerkdokumente by die volgende skakel aflaai.

Soos alle ander skole, tersiêre instansies en besighede, is ons ongelukkig afhanklik van dit wat die staat besluit ons moet doen. Ons sal wel seker maak dat u gedurende die volgende paar weke ingelig bly oor enige amptelike besluite wat skoolsake aanbetref. Die huidige stand van sake bepaal wél dat die skole weer op 14 April 2020 heropen. Koshuisleerders kan op 13 April vanaf 17:00 weer die koshuis betrek.

Indien die bogenoemde reëlings verander, sal ons dit betyds aan u per WhatsApp en per e-pos kommunikeer. Ons sal ook seker maak dat enige verdere huiswerk, indien nodig, met die leerders gedeel word. Wees verseker dat ons alles in ons vermoë sal doen om hierdie tydperk vir u en u kind so maklik as moontlik te maak. Baie sterkte en bly veilig!

Belangrike Sake

  • Soos u reeds weet, neem ons vandag amptelik afskeid van mnr André Franken as skoolhoof. In hierdie deurmekaar tyd kon ons hom en sy vrou Estelle ongelukkig nie op ‘n gepasde wyse groet nie, maar ons sal hulle beslis in die volgende kwartaal terugnooi om u en die leerders die geleentheid te gee om behoorlik totsiens te sê.

    Me Lizette Visser, ons bekwame adjunkhoof, sal van volgende kwartaal af as skoolhoof waarneem en me Astrid Mauermann sal in haar plek as adjunkhoof instaan. Me Mauermann sal ook steeds Engels Huistaal vir die graad 12’s aanbied. Ons het reeds ‘n ervare onderwyser aangestel om die graad 8-11 Huistaalklasse by me Mauermann oor te neem. Ons wens almal van hulle, maar in besonder vir mnr Franken, baie sterkte toe met die splinternuwe uitdagings!
  • Ons personeel het hierdie week onder geweldige druk báie hard gewerk om die leerders se rapporte betyds klaar te kry. Waar daar wel ‘n fout ingeglip het, vra ons om verskoning. Wees gerus dat die foute aan die begin van die volgende kwartaal onmiddellik reggemaak sal word. Let ook op dat rapporte wat nie reeds afgehaal is nie, aan die begin van volgende kwartaal vir die leerders uitgedeel sal word.
  • Daar kan op hierdie stadium ongelukkig géén kwartaalprogram vir die tweede kwartaal aan u gestuur word nie. Daar heers te veel onsekerheid oor wanneer alles weer na normaal sal terugkeer en die meeste aktiwiteite is óf reeds gekanselleer óf tentatief geskuif:
  1. Alle Olimpiades vir Natuurwetenskappe, Lewenswetenskappe en Fisiese Wetenskappe word uitgestel tot verdere kennisgewing.
  2. Die UCT Wiskunde Olimpiade wat op 22 April gehou so word, is op hierdie stadium uitgestel.
  3. Die Taalbond se Tweetaligheidseksamen wat op 6 April sou plaasvind is tentatief uitgestel na 20 April. Dit is egter onderhewig aan verandering.
  4. Die ATKV-debat se semifinale en finale is gekanselleer. Die inskrywingsfooie sal na 2021 oorgedra word.
  5. Die ATKV se redenaarkompetisies asook Applous gaan nie voort op dié stadium nie.
  6. Paul Roos se jaarlikse koorfees, beKoor, is gekanselleer.
  7. Die Jan Styl-funksie en die besoek aan Ysterplaat Primêr is voorlopig uitgestel, maar dit sal steeds in die toekoms plaasvind. Ons kan ongelukkig nie tans hierdie datums bevestig nie. Die 74 kandidate kan egter steeds voortgaan om fondse vir die projek in te samel.
  8. Alle rugbywedstryde wat volgens die WP-Rugbyunie se bepalings ná 14 April 2020 plaasvind, gaan steeds voort, tensy anders vermeld word. Indien enigiets verander, sal ons dit dadelik aan u deurgee.
  9. Die finale hokkieproewe sal voortgaan wanneer die tweede kwartaal afskop. Spanne (en die 1ste span se kleredrag) sal dus eers later gefinaliseer word.
  10. Die netbalwedstryde teen Kampsbaai op 18 April sal waarskynlik nié plaasvind nie. Geen ligawedstryde se datums is tans bekend nie, maar ons sal u op hoogte hou indien daar meer sekerheid is oor proewe en ander bepalings.
  11. Die koshuis se Innaweek word ook geaffekteer en sal dus op ‘n ander tyd plaasvind.
  • Meeste van die datums op die kalender is onderhewig aan verandering of uitgestel tot latere kennisgewing. Ons sal alle verwikkelinge en nuwe datums met u kommunikeer, sodra ons meer sekerheid kry.
facebook instagram custom 
MailPoet