|
|
|
|
|
|
Dit was ’n absolute voorreg en groot vreugde vir ons skool om vandeesweek die verhoogweergawe van die gewilde Matilda-musiekblyspel op die Baxter-verhoog te kon opvoer.
|
Dit is ’n droom van ons skool om nou jaarliks so ’n groot verhoogproduksie aan te pak en hoewel ons maar al te goed besef dat dit veeleisend en uitdagend is, is die opvoedkundige waarde en talentontgunning en -ontwikkeling van onskatbare waarde. JvR het hom oor baie jare geposisioneer as ’n voorste kultuurskool en veral op toneel- en musiekvlak puik presteer. Met hierdie nuwe genre wat ons tot ons kultuuraanbieding gevoeg het, kry heelwat meer leerders ook nou die geleentheid om hul talente op die verhoog uit te leef.
|
Ons Jan van Riebeeckers het hierdie week die Kaapse gehore oortuig dat ons ’n skool is wat nie 'maar net nog ’n skoolkonsert' aanbied nie, maar eerder iets wat van professionaliteit ver verby die grense van skoolproduksies strek - ons spog skaamteloos dat ons produksies van ’n besondere hoë gehalte aanbied! Daarom stort die skool baie energie, kundigheid, tyd en ook fondse in hierdie produksie. Die eindproduk is dus ’n skouspel wat ons visie vir kultuur en uitnemendheid ondersteun en bevestig.
|
Baie geluk aan almal betrokke by vanjaar se produksie! Ons is dankbaar om ’n span kundige mense te hê wat hard gewerk het om dié standaard te help verseker: mnr. Geruan Geldenhuys het as knap produksiebestuurder voorgestap om al die baie drade uitstekend bymekaar te hou, me. Regina Malan het haar puik van haar taak as regisseur gekwyt en ons kultuur- en sportprojekbestuurder, me. Razelle Hanekom, het met haar kundige planmaak en organisering die magdom administrasie hanteer en verdere inisiatiewe bestuur.
|
Ons is dankbaar dat twee ouers ook sleutelrolle op ons produksiespan gespeel het: mnr. Leo Senekal het die indrukwekkende en pragtige stel en dekor ontwerp en u sal saamstem dat dit bydra tot ’n kykervaring soos min. Me. Janine Hattingh was die produksie-sekretaresse, wat gesorg het dat die oueradmin en -skakeling vlot verloop - sy het, soos verlede jaar, hierdie rol met die sagste ysterhand bestuur. Baie dankie!
|
Soveel ander ouers, personeel en vriende van die skool was ook op talle ander plekke betrokke - ’n reusedankie aan elkeen van jul!
|
Ons Jan van Riebeeckers was ware sterre en het vanaf Januarie met die grootste toewyding aan hierdie produksie gewerk. Onthou egter dat hul die repetisies tussen akademie, baie sport, baie kultuur, baie ander skoolprojekte en -verpligtinge moes inpas, en om binne vier maande dit te kon regkry, is bewonderenswaardig. Ek is eintlik verstom dat ons leerders, ten spyte van alles wat hier by die skool gebeur het, hierdie gehalteproduk op die planke kon bring. Dit is talent, talent, talent - en hope selfdissipline, ywer, energie en skooltrots (en trane!) wat dit als tot op hierdie punt kon help dra. Baie geluk, Jan van Riebeeckers - julle is ons trots!
|
U as ouer/voog verdien ook ’n reusedankie. Sonder u aanmoediging, rondry laataand en vroegoggend, hulp met kostuums, etes, kaartjieverkope en ondersteuning op soveel ander vlakke, sou hierdie projek nie moontlik gewees het nie.
|
Hierdie was inderdaad ’n reusespanpoging wat ’n ware getuigskrif is van die positiewe energie wat in ons skool heers. Die hele gemeenskap het ook ingekoop in hierdie produksiedroom en ons kom ondersteun! Ek wil hier spesiale melding van ons vriende by ons laerskool maak - die ouers en laerskoolleerders se teenwoordigheid en ondersteuning was uitstekend. Dit was heerlik om so baie Jannies en hul ouers by die vertonings deur die week te sien.
|
Mag ons voortgaan om hierdie soort gehalteproduksies aan ons gehore te bied. Mag elkeen van die 67 Jan van Riebeeckers in vanjaar se produksie ook die waarde van die ervaring besef (vanaf die proses, die geleentheid om op die Baxter-verhoog te kan optree, die professionele benadering tot als, ens!) en mag dit ook iets in ander leerders aansteek sodat hul volgende jaar die moed bymekaar sal skraap om ’n oudisie af te lê.
|
Ons sien mekaar dan by die laaste drie vertonings wat nog die naweek voorlê - en ons is trots daarop dat al drie reeds uitverkoop is. Kom ons as gehoor moedig die leerders vir oulaas aan om die produksie op ’n hoogtepunt af te sluit.
|
Wel gedaan aan almal betrokke- trotser kan ek nie wees op dit wat hierdie week gebeur het nie!
|
**************************************************************************************************
|
HEMELVAARTDIENS BY NG GEMEENTE TAMBOERSKLOOF
|
Ons nooi alle Jan van Riebeeck-leerders en ons ouers/voogde vriendelik uit na ’n spesiale Hemelvaartdiens eerskomende Donderdagoggend, 18 Mei, om 07:15 in die NG Gemeente Tamboerskloof in Upper Unionstraat.
|
Leerders kan met hul tasse by die kerk aankom of dit eers in hul registerklasse kom neersit. Die leerders stap in ’n groep terug skool toe na afloop van die diens.
|
Leerders wat nie die diens bywoon nie, arriveer soos gewoonlik by die skool en sal vir rye om 07:40 aantree. Die eerste periode begin steeds om 08:00.
|
OORSESE TAALTOER SAAM MET VIVA AFRIKAANS
|
Hier is ’n heerlike geleentheid vir ons Jan van Riebeeckers om vanaf 27 September tot 9 Oktober saam met talle ander hoërskoolleerders op ’n unieke taal-en-tegnologietoer na Frankryk, België en Nederland te gaan.
|
Die fokus van die toer is op die taal se herkoms, natuurlik, maar ook op die rol wat Afrikaans vandag nog in hierdie deel van die wêreld speel. Viva Afrikaans lê klem op die belangrike plek wat Afrikaans in die Germaanse taalfamilie beklee, en ons stel ons jong reisigers voor aan die Europese akademici en instellings wat vandag nog Afrikaans in hulle navorsing en tegnologie-ontwikkeling insluit.
|
Die toerplan, kostes en alle ander inligting is by hierdie skakel beskikbaar:
|
Die span van Viva Afrikaans bied eerskomende Woensdgaand, 17 Mei, om 18:00 hier by die skool ’n inligtingsessie vir alle belangstellende Jan van Riebeeckers en hul ouers aan. Indien u graag hierdie sessie wil bywoon, moet u asseblief teen Dinsdag ’n e-pos aan me. Ella van Rensburg (ella.vanrensburg@janvanriebeeck.co.za) stuur om so u teenwoordigheid te bevestig.
|
Ons hoop daar is heelwat van ons leerders wat hierdie besondere verrykingsgeleentheid sal aangryp!
|
Ek doen ’n dringende beroep op u om te verseker dat u kind elke dag skool bywoon en slegs tuisbly indien hy/sy werklik te siek is. Te veel leerders is tans afwesig en dit is dikwels om persoonlike redes. Die eksamen skop op 25 Mei af en baie belangrike konsolidering- en afrondingwerk word tans gedoen. Leerders moet tot Woensdag, 24 Mei getrou skool bywoon!
|
|
Dogters wat gedurende die winter die JvR-langbroek dra, moet daarop let dat slegs vlootblou sykouse of vlootblou sokkies saam met die langbroek gedra mag word - geen swart, wit of die nuwe somerdragkniesokkie is toelaatbaar nie.
|
Slegs vlootblou sykouse word ook saam met die roomkleurige rompie gedra - nie die nuwe langer somerdragkniesokkie nie. Dankie vir u samewerking in die verband.
|
ONZE JAN-BORGVORMS: KWARTAAL 2
|
Die tweede uitgawe van ons skoolkoerant verskyn aan die einde van die kwartaal en u/u onderneming word weer uitgenooi om ’n advertensie in dié tydskrif te bespreek.
|
Kliek gerus hier om na al die opsies te kyk. By voorbaat dankie vir u ondersteuning.
|
Die baie belangrike halfjaareksamen vir al ons leerders begin op Donderdag, 25 Mei. Ons het vroeër die week die finale eksamenrooster op die JvR-ouerWhatsApp-groep gedeel, maar u kan dit hier ook aflaai.
|
Baie sterkte aan al ons leerders met jul voorbereiding - ons hoop dat jul in die volgende twee weke op hierdie belangrike assesserings wat voorlê sal fokus.
|
Indien u kind kwalifiseer om ‘n leser te hê, moet u asb. teen Maandag 15 Mei om 14:00 die skool (annelie.nimmo@janvanriebeeck.co.za ) in kennis stel of u wel van ’n leser gebruik wil maak of van ’n klankopname. U moet ook spesifiseer vir watter vakke u kind die leser benodig, indien hul ’n leser gebruik. Let op dat, indien u kind nie ’n leser vir die assesseringstydperk benodig nie, u nogtans die skool in kennis moet stel van die reëling.
|
Alle leerders wat die klankopnames gebruik, moet sover moontlik hul eie oorfone bring. Dit moet asseblief oorfone wees wat by ‘n toestel kan inprop. Indien u geen oorfone tuis het nie, sal ons oorfone verskaf.
|
Indien u wel reëlings wil tref ten opsigte van ’n leser, moet u asb. die naam, van en e-posadres van die persoon aan me. Nimmo deurgee (annelie.nimmo@janvanriebeeck.co.za).
|
Neem asseblief kennis van die volgende reëling in die geval van beurtkrag:
|
Leerders het die opsie om:
|
1. die vraestel sonder die hulp van ’n klankopname of rekenaar te voltooi;
|
2. hul eie leser te reël wat slegs in die geval van beurtkrag gebruik sal word;
|
3. hul eie toestel te verskaf wat tydens beurtkrag gebruik kan word (ou / ongebruikte selfoon of skootrekenaar wat vooraf skoongemaak is en slegs Word op het). Die toestel se battery moet vol gelaai wees.
|
Indien u opsie 2 gekies het, moet u asseblief die naam, van en kontakbesonderhede van die leser wat u wil gebruik aan me. Ninno deurstuur.
|
Indien u opsie 3 gekies het, moet u asseblief die oggend van moontlike beurtkrag die toestel saam met u kind skool toe stuur. Dit moet dan om 07:40 in die toesiglokaal aan die toesighouer oorhandig word sodat ons die oudio-inligting vooraf op die toestelle kan laai. Maak seker dat u alle kabels saamstuur wat nodig sal wees om die inligting van ’n skootrekenaar af of met ’n stokkie op u kind se toestel te laai.
|
Daar is heelwat leerders wat van hierdie konsessies gebruik maak en die skool het ongelukkig nie die nodige hulpbronne om aan elk van hierdie leerders 'n toestel wat met 'n battery werk, te verskaf nie; daarom vra ons die leerder om self die toestel te verskaf.
|
U is welkom om me. Nimmo te kontak indien u meer inligting hieroor verlang.
|
Assesserings- en intervensieprogram vir Kwartaal 2
|
Kliek gerus hier om die kwartaal se assesserings- en intervensieprogram af te laai. Leerders moet asseblief getrou intervensieklasse bywoon - die eksamen is om die draai!
|
Alle graad 10 tot 12 leerders word uitgenooi om aan die HOZA senior Geskiedenis- olimpiade deel te neem. Dit vind op Dinsdag, 23 Mei direk na skool aanlyn plaas en die koste is R50.
|
Betalings moet teen 18 Mei op Karri of by die finansieskantoor gemaak word.
|
Kom toets jou algemene kennis en geskiedenisvaardighede!
|
Onderwêreld op die planke!
|
Graad 12’s word genooi om op Karri te betaal vir ‘n opvoering van hul voorgeskrewe roman, Onderwêreld.
|
Tyd: busse vertrek om 7:00 vanaf die skool; vertoning begin om 8:00
|
Afrikaans Junior ATKV-Olimpiade
|
Alle graad 8- en 9-leerders word genooi om in te skryf vir vanjaar se olimpiade. Die koste beloop R50 per leerder. Die sluitingsdatum is Maandag, 22 Mei om 14:05.
|
Afrikaans Senior ATKV-Olimpiade
|
Hierdie olimpiade vind eerskomende Dinsdag,16 Mei om 14:25 vir 14:30 in die RTT-lokaal plaas. Kliek hier om seker te maak of u kind ingeskryf is vir hierdie olimpiade. Sterkte!
|
Fisiese Wetenskappe-kompetisie - slegs vir graad 12’s
|
Die volgende leerders neem deel: Daniel Grutter, Gerard Snijders, Paul Schultz, Adrian Huysamen, Simon van den Berg, Stef Mostert en Stefan Turkstra
|
Hierdie kompetisie vind op 14 Augustus vanaf 14:00-16:00 plaas en alle graad 8- tot 11-Wiskundeleerders kan deelneem.
|
Ons wil vanjaar graag alle ouers/voogde vra om u kind aan te moedig om aan die Wiskundeolimpiade deel te neem. Hierdie olimpiade fokus op Wiskunde en die waarde van probleemoplossing en ontdekking. Dit bied ook vir u kind blootstelling aan alternatiewe Wiskundeprobleme.
|
Die inskrywingsfooi is betaalbaar op Karri. Die koste per inskrywing is R30 per leerder en die sluitingsdatum is 20 Mei. Daar is weer vanjaar ‘n opsie om ‘n donasie te maak.
|
Sportprogram: 15 tot 20 Mei
|
Kliek gerus hier om volgende week se sportprogram af te laai. Sterkte aan al ons spelers!
|
Die drama-afdeling van die Kaapse Afrikaanse Eisteddfod is uitgestel tot Saterdag, 3 Junie. Alle leerders wat ingeskryf het, moet eerskomende Woensdag, 17 Mei, direk na skool in me. Taljaard se klaskamer bymekaarkom vir ’n belangrike repetisie.
|
#Jan Kaap stap deur Kaapstad
|
Die FAK in die Wes-Kaap nooi alle Jan van Riebeeckers (leerders en ouers) op ’n ontdekkingsreis te voet deur tyd eerskomende Donderdag, 18 Mei om 14:15. Tydens hierdie staptoer word aandag gevestig op Jan van Riebeeck en ander interessante historiese bakens in Kaapstad, veral uit die VOC-tydperk, wat verband hou met die 10 jaar wat hy, van 1652 tot 1662, aan die Kaap deurgebring het.
|
Ons stap deur strate wat voorheen strand was waaroor die see gespoel het, vertoef op die plek waar die eerste fort gestaan het, besoek die merkwaardige oorblyfsels van ’n 1663-reservoir, gaan maak ’n draai waar die VOC-bemanning en dorpsbewoners water geskep en handel gedryf het, verken interessanthede in Jan se groentetuin en vele meer.
|
Trek jou stapskoene aan, kom stap saam en kom beleef waar alles begin het, en hoe hierdie beginjare die vertrekpunt geword het vir verdere vooruitgang. Voorafinskrywing teen Dinsdag 16 Mei 2023 word vereis vir logistieke doeleindes.
|
Wolraad Woltemade-gedenklesing
|
Dit is vanjaar 250 jaar gelede toe een van die grootste heldedade in Suid-Afrikaanse geskiedenis afgespeel het op ’n stormagtige, donker nag in Tafelbaaihawe op 1 Junie 1773.
|
Die Duitsgebore Wolraad Woltemade het met sy perd die lewens van 14 mense gered vanaf ’n sinkende skip voor hy en sy perd daardie nag in die see verdrink het.
|
Die FAK in die Wes-Kaap nooi alle Jan van Riebeeckers uit na ’n Wolraad Woltemade-gedenklesing deur die bekende geskiedskrywer en VOC-kenner, dr. Dan Sleigh.
|
Die lesing word aangebied in samewerking met Stigting VOC. Kom hoor die ware feite oor hierdie groot, maar vergete heldedaad soos dit nagevors is uit dokumentasie in die Kaapse argief.
|
Plek: SASNEV, Central Square 4, Pinelands
|
Voorafinskrywing teen Dinsdag 30 Mei word vereis vir logistieke doeleindes.
|
Kuns- en fotografiekompetisies
|
Alle Jan van Riebeeckers word uitgenooi om vir die volgende kreatiewe kompetisiegeleenthede in te skryf:
|
Kaapse Afrikaanse Eisteddfod vir Kuns en Fotografie (Gr. 8-12) – die sluitingsdatum vir inskrywings is 23 Junie.
|
Die FAK Internasionale Afrikaans-Ekspo vir Kuns en Fotografie (Gr. 8-12) – sluitingsdatum is 18 Julie.
|
Die Tygerberg Kunssentrum Portretkompetisie vir Gr. 8-10-leerders (Kuns) - sluitingsdatum is 31 Augustus.
|
Alle inligting is by Me. Vrey beskikbaar.
|
Ouers en leerders vanaf 16 jaar oud word hartlik uitgenooi om ook saam te kom bloedskenk op Maandag, 15 Mei
|
Leerders wat EERSTE skenkers is, moet asb. ’n vorm by mev. Turkstra kry wat deur hul ouers onderteken moet word.
|
Ons jaarlikse musiekaand vind eerskomende Dinsdag, 16 Mei, om 18:30 in die skoolsaal plaas. Toegang is gratis.
|
Kom geniet ’n pragtige aand van musiek en sang waartydens ons senior vakmusiekleerders, orkes en koor gaan optree.
|
Ons skoolkoor het 'n bedrywige paar weke wat voorlê en ons verstaan dat daar menige ander aktiwiteit ook gebeur, maar na so 'n suksesvolle uitvoering by Hugo Lambrechts in Maart, beloof 2023 om 'n groot jaar vir ons te wees.
|
Hier volg die reëlings rondom repetisies en optredes vir Meimaand:
|
Maandag, 15 Mei: Repetisie, 14:15 tot 17:00
|
Dinsdag, 16 Mei: Optrede by skool se musiekaand om 18:30
|
Vrydag, 19 Mei: Repetisie, 14:30 tot 18:30
|
Maandag, 22 Mei: Repetisie, 14:15 tot 16:00
|
Dinsdag, 23 Mei: Repetisie, 14:15 tot 16:00
|
Woensdag, 24 Mei: Repetisie, 14:15 tot 16:00
|
Donderdag, 25 Mei: Optrede by Laerskool Gene Louw as deel van die ATKV-Applous Nasionale Koorkompetisie se streeksfees om 19:00. Die bus sal om 16:30 vanaf die skool vertrek. Ons optrede is 20 minute en dan gaan die leerders weer terug huis/skool toe.
|
Die skoolwinkel is op Maandae en Woensdae vanaf 13:30 tot 14:30 oop.
|
Geniet die naweek - sterkte aan ons debatteerders wat vandag by DF Malan aan die Dink-of-Sinkdebatkompetisie deelneem. Ons rugby- en hokkiespelers is ook more in aksie teen Camps Bay High School by hul velde.
|
|
|
|
|
|