Wapen (VrydagFiltse)
26 Mei 2023
facebook instagram custom 
Goeiedag Ouers/Voogde

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Kuns en Wetenskap bied sedert die sewentiger jare reeds hul baie bekende en gewilde skryfkompetisie vir hoërskoolleerders aan.

Die beste werke deur aspirantskrywers van regoor Suid-Afrika word dan jaarliks in die POORT-skryfbundel gepubliseer. Van ons land se grootste skrywers het reeds as skoliere hierin hul merk begin maak.

Vanjaar spog ons met nie minder nie as drie Jan van Riebeeckers wie se skryfwerk in die 2023-bundel ingesluit word: Hanli Theron (poësie), Giullia Nel (poësie) en Mari Swanepoel (prosa)!

Ons ontvang boonop die uitstekende nuus dat Hanli se gedig, 'monoloog in stereo', die tweede plek in die land behaal in die poësie-afdeling en Guilia Nel se gedig 'ongetiteld' behaal die vyfde plek in Suid-Afrika!

Hierdie twee Jan van Riebeeckers is nou uitgenooi om gedurende die Junie-vakansie saam met al die beste jong skrywers 'n skrywerwerkswinkel by die Universiteit van die Vrystaat by te woon.

Baie geluk aan hierdie drie skrywers - ons bars van die trots op dié puik prestasie!

Lees gerus Hanli en Giullia se gedigte hieronder; Mari se prosawerk word volgende Vrydag gepubliseer.

Monoloog in Stereo - Hanli Theron
Ek het nou al elke genre
en elke instrument probeer;
met elke draadjie in jou radio
gespeel en gesteur,
maar met die volume-knoppie
binne sig, maar buite bereik -
stel jy net my smekende stem al hoe sagter
al skree ek op my hardste:
tot my eie onsekerheid die woorde verwrong en verdoof -
slaan jy net jou ore met eie lirieke toe
en ek voer dan met ‘n onversoenbare klankstelsel,
‘n monoloog in stereo.


Ongetiteld - Giullia Nel
Lê my op jou skoot neer soos ‘n boek.
Blaai en draai en lees my woorde,
trek my ruggraat na met jou vingers.
Verstaan my woorde, my sinne,
my frases se punte, se kommas, se uitroeptekens,
maar ook die verduistering…
Moet asseblief nie ophou lees,
my toemaak en terugsit in die rak nie.
Moet my nie vergeet nie
maar plaas my onder jou kussing
en raak by my aan die slaap
vir weer se saam wakkerword.
Herlees jou gunstelingdele
en bestudeer wat jy nie verstaan nie…
Vra maar jou vrae
en delf asseblief verder
na die antwoorde
tussen die lyne
van die wit
s p a s i e s
waar my asem
l ê.
**************************************************************************************************
ONZE JAN-BORGVORMS: KWARTAAL 2
Die tweede uitgawe van ons skoolkoerant verskyn aan die einde van die kwartaal en u/u onderneming word weer uitgenooi om ’n advertensie in dié tydskrif te bespreek.
Kliek gerus hier om na al die opsies te kyk. By voorbaat dankie vir u ondersteuning.

AKADEMIE
Junie-eksamen: Graad 8-12
Die eksamen het gister afgeskop en ons vertrou dit gaan goed met al ons leerders se voorbereiding!

Neem asseblief kennis dat die skryftye vir graad 10-Besigheidstudies en graad 11-RTT verander het. Neem ook kennis dat die leerders op 19 Junie vraestelle kontroleer en dat die graad 12's se Winterskool op 20 Junie begin soos aangedui op die eksamenrooster. Die eksamenrooster is weer hier aangeheg.

Daar sal eksamenhulpklasse aangebied word vir graad 8 tot 12 Wiskunde, graad 10 tot 12 Wiskundige Geletterdheid, graad 8 tot 12 Afrikaans en in sommige grade vir English FAL en English HL. Alle leerders word aangemoedig om van hierdie wonderlike afronding- en leergeleentheid gebruik te maak!
Kliek gerus hier om die rooster af te laai.

In die geval van beurtkrag, sal die IT- en RTT-vraestel 1 of vroeër of later begin, afhangend van die skedule. Daar is laatbusse op elk van die dae behalwe op 2 en 9 Junie. Op daardie dae sal al die busse dus moontlik later vertrek.

Ouers word daaraan herinner dat hul die akademiese hoof, me. Serrao, dadelik moet kontak by liza.serrao@janvanriebeeck.co.za indien u kind die dag nie ’n eksamen kan aflê nie. Ouers moet dan ook so gou as moontlik ’n mediese sertifikaat by me. Sterrenberg indien.

Rig asseblief enige verdere navrae in verband met die eksamen aan me. Serrao, die eksamenhoof, by liza.serrao@janvanriebeeck.co.za.

SIRKEL VAN SUKSES-SENTRUMTYE GEDURENDE DIE EKSAMEN
Let asseblief daarop dat ons studietoesigsentrum gedurende die eksamen op Dinsdae en Donderdae tot 15:00 oop sal wees. Op Maandae en Woensdae sal die leerders wat nie aan sport deelneem nie, in hul studielokale werk tot 14:00.

SPORTOEFENINGE EN BUSTYE
Gedurende die eksamen gaan ons steeds voort met sportoefeninge en leerders verklee gedurende tweede pouse. Op die dae waarop sportoefeninge plaasvind, verdaag die skool eers om 14:00. Leerders wat nie aan sport deelneem nie, gaan voort met studie of kan eksamenhulpklasse bywoon. Leerders moet sorg dat hul die nodige boeke en/of werk inpak skool toe om dit te kan doen.

Die rugby-, hokkie- en landloopleerders word met bussies na die velde vervoer en kan weer om 14:00 by die onderskeie velde (Boshoff / Buys / St Micheal's) opgetel word. Die busse sal ook later vertrek op hierdie dae.

  • Maandag, 29 Mei 2023: Rugby, netbal, hokkie, tafeltennis en landloop SKOOL VERDAAG OM 14:00 (Bus vertrek 14:10)
  • Dinsdag, 30 Mei 2023: SKOOL VERDAAG OM 12:15 (Bus vertrek 12:25)
  • Woendag, 31 Mei 2023: Rugby, netbal, hokkie, tafeltennis en landloop SKOOL VERDAAG OM 14:00 (Bus vertrek 14:10)
  • Donderdag, 1 Junie 2023: SKOOL VERDAAG OM 12:15 (Bus vertrek 12:25)
  • Vrydag, 2 Junie 2023: SKOOL VERDAAG OM 12:15 (Bus vertrek 12:25)
  • Maandag, 5 Junie 2023: Rugby, netbal, hokkie, tafeltennis en landloop SKOOL VERDAAG OM 14:00 (Bus vertrek 14:10)
  • Dinsdag, 6 Junie 2023: SKOOL VERDAAG OM 12:15 (Bus vertrek 12:25)
  • Woendag, 7 June 2023: Rugby, netbal, hokkie, tafeltennis en landloop SKOOL VERDAAG OM 14:00 (Bus vertrek 14:10)
  • Donderdag, 8 Junie 2023: SKOOL VERDAAG OM 12:15 (Bus vertrek 12:25)
  • Vrydag, 9 Junie 2023: SKOOL VERDAAG OM 12:15 (Bus vertrek 12:25)
  • Maandag, 12 Junie 2023: Rugby, netbal, hokkie, tafeltennis en landloop SKOOL VERDAAG OM 14:00 (Bus vertrek 14:10)
  • Dinsdag, 13 Junie 2023: SKOOL VERDAAG OM 12:15 (Bus vertrek 12:25)
  • Woendag, 14 June 2023: Rugby, netbal, hokkie, tafeltennis en landloop SKOOL VERDAAG OM 14:00 (Bus vertrek 14:10)
  • Donderdag, 15 Junie 2023: SKOOL VERDAAG OM 12:15 (Bus vertrek 12:25)

    Rig asseblief enige navrae in verband met die sportprogram aan mnr. Abré van Heerden by abre.vanheerden@janvanriebeeck.co.za.

    By voorbaat dankie vir u samewerking!

    UP-Wiskundekompetisie
    Hierdie kompetisie vind op 14 Augustus vanaf 14:00-16:00 plaas en alle graad 8- tot 11-Wiskundeleerders kan deelneem.

    Ons wil vanjaar graag alle ouers/voogde vra om u kind aan te moedig om aan die Wiskundeolimpiade deel te neem. Hierdie olimpiade fokus op Wiskunde en die waarde van probleemoplossing en ontdekking. Dit bied ook vir u kind blootstelling aan alternatiewe Wiskundeprobleme.

    Die inskrywingsfooi is betaalbaar op Karri. Die koste per inskrywing is R30 per leerder en die sluitingsdatum is 20 Mei. Daar is weer vanjaar ‘n opsie om ‘n donasie te maak.

    SPORT
    Sportprogram: 29 Mei tot 3 Junie
    Kliek gerus hier om volgende week se sportprogram af te laai. Sterkte aan al ons spelers!

    VERRYKINGSPROGRAM
    Wolraad Woltemade-gedenklesing
    Dit is vanjaar 250 jaar gelede toe een van die grootste heldedade in Suid-Afrikaanse geskiedenis ‎afgespeel het op ’n stormagtige, donker nag in Tafelbaaihawe op 1 Junie 1773.

    Die Duitsgebore ‎Wolraad Woltemade het met sy perd die lewens van 14 mense gered vanaf ’n sinkende skip voor ‎hy en sy perd daardie nag in die see verdrink het.‎

    Die FAK in die Wes-Kaap nooi alle Jan van Riebeeckers uit na ’n Wolraad Woltemade-gedenklesing deur die ‎bekende geskiedskrywer en VOC-kenner, dr. Dan Sleigh.
    Die lesing word aangebied in ‎samewerking met Stigting VOC. Kom hoor die ware feite oor hierdie groot, maar vergete ‎heldedaad soos dit nagevors is uit dokumentasie in die Kaapse argief. ‎

    Datum: Saterdag, 3 Junie
    Tyd: 10:30
    ‎Plek:‎ SASNEV, Central Square 4, Pinelands ‎
    Voorafinskrywing teen Dinsdag 30 Mei word vereis vir logistieke doeleindes. ‎

    Skryf in by die skakel https://forms.gle/d2WYgh66xcS6ZDSk6

    Kuns- en fotografiekompetisies
    Alle Jan van Riebeeckers word uitgenooi om vir die volgende kreatiewe kompetisiegeleenthede in te skryf:
    Kaapse Afrikaanse Eisteddfod vir Kuns en Fotografie (Gr. 8-12) – die sluitingsdatum vir inskrywings is 23 Junie.
    Die FAK Internasionale Afrikaans-Ekspo vir Kuns en Fotografie (Gr. 8-12) – sluitingsdatum is 18 Julie.
    Die Tygerberg Kunssentrum Portretkompetisie vir Gr. 8-10-leerders (Kuns) - sluitingsdatum is 31 Augustus.
    Alle inligting is by Me. Vrey beskikbaar.

    SKOOLWINKEL
    Die skoolwinkel is op Maandae en Woensdae vanaf 13:30 tot 14:30 oop.

    Geniet die naweek - sterkte ook aan ons leerders wat hierdie naweek hard aan die voorberei is vir hul eksamenvraestelle volgende week!

    Pieter Rademeyer
    Skoolhoof
    Email Marketing Powered by MailPoet