Wapen (VrydagFiltse)
2 Junie 2023
facebook instagram custom 
Goeiedag Ouers/Voogde

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Kuns en Wetenskap bied sedert die sewentiger jare reeds hul baie bekende en gewilde skryfkompetisie vir hoërskoolleerders aan.

Die beste werke deur aspirantskrywers van regoor Suid-Afrika word dan jaarliks in die POORT-skryfbundel gepubliseer. Van ons land se grootste skrywers het reeds as skoliere hierin hul merk begin maak.

Vanjaar spog ons met nie minder nie as drie Jan van Riebeeckers wie se skryfwerk in die 2023-bundel ingesluit word: Hanli Theron (poësie), Giullia Nel (poësie) en Mari Swanepoel (prosa)!

Ons het verlede week Hanli en Giullia se gedigte gepubliseer; lees gerus vandeesweek Mari se puik prosawerk hieronder.

Geluk
Ons sit styf agtermekaar in die blou bootjie - eintlik te klein vir ons albei. Ek lag ontspanne
op na jou gesig; dan volg my oë weer die rustige oppervlak van die water. Ons moet roerloos sit om te keer dat dit dalk omtuimel en ons in die water laat beland.

Teen my lyf voel ek jou ritmiese hartklop, rustig soos die see.

Jy beduie skielik na iets in die water en ‘n swart lyf, groot en donker, skuif geruisloos onder ons deur. ’n Vinnige, koue rilling gly teen my rug af. “Great white”, is my eerste gedagte.

’n Harde gil glip by my mond uit toe die kano skielik kantel en ek vervaard na die kamera en snorkel gryp. Die skielike, skerpheid van die koue slaan my asem weg en ek voel hoe die angs en paniek soos blokkies ys my hart bekruip. Ek sukkel nou om my asem onder beheer te kry.

Ek soek deur die water na jou totdat ek jou hare op die oppervlak gewaar en ek swem nader. My bene voel traag; dit voel soos ’n ewigheid voordat ek jou bereik. Ineens is ek dankbaar vir my ma se streng woorde wat my altyd dwing om sonder uitsondering,‘n veiligheidsbaadjie te dra! Eers toe ek jou bereik, begin die skrik bedaar en ons klou hoopvol aan mekaar vas.

Die donker skaduwee swem weer onder ons deur. Dis groot... baie groot. Die vrees kruip deur my; ek’s te bang om te vra wat dit is.

Meteens kom die donker figuur vervaard vanuit die onderste dieptes aangepyl na die oppervlak.. Na ons! Ek sien al hoe die koerantopskrifte dit uitbasuin: “Tienerliggame deur onbekende monster verbrysel”.. Onmiddellik begin die trane van paniek en vrees in my oë opwel; ek het nog nie klaar geleef nie!

“Uit die pad!!” gil jy meteens en die intensiteit daarvan ruk my terug tot die werklikheid. My sintuie skop betyds in; ek reageer gou en probeer blitsvinnig wegswem. My ledemate voel egter soos lood... asof ek nie vinnig genoeg kan beweeg nie! Ek voel hoe die histerie aan die agterkant van my keel vasklou soos ‘n brander wat dreig om te breek.

Dan... bárs die monster uit die water met die slag van ‘n kanonskoot en skiet ’n volle twee meter in die lug in... OP!!

My hart spring by my borskas uit... Tyd staan stil soos wat verwondering my na my asem laat snak! Sy stert swiep deur die lug voordat hy met ‘n geweldige plons, terug onder die water inval. Dit skommel en bruis, ruk en borrel onder ons soos die kookpot van ‘n onderwaterse vulkaan. Golwe hardloop resies na ons toe en ek staar in verwondering na wat ek sien... ’n kleinerige, jong walvis!!

Dan swem ek stadig nader na jou toe, want op hierdie oomblik kan ek aan géén beter persoon dink om hierdie wonderskone oomblik mee te deel nie.

Ek kyk diep en vas in jou blou oë, nou helderder as die see. Dit skyn ineens vol betekenis en ek leun nader na jou gesig. Ek voel die harde stoppels van jou baard teen my vel en ek proe die sout van die see op jou lippe.

En ek proe geluk.
**************************************************************************************************
TUINE TALENT - PERSONEELKONSERT 2023!
Bring u metgesel en kom sluit gerus op Donderdag, 22 Junie by ons aan vir 'n lekker kersopsit-aand. Die personeel gaan almal vermaak met 'n lekker tong-in-die-kies konsert terwyl paartjies vir hul 'n heerlike piekniekete vir twee (R300) of vier (R500) mense kan bestel. Daar sal verversings en enkele versnaperinge te koop wees. Ongelukkig word geen onder 18's toegelaat nie. Onthou om u sitplek en piekniekete vooraf op Quicket te bespreek. Toegang is gratis (maar besprekings op Quicket is noodsaaklik) en ons sal deur die loop van die aand donasies vir ons matriek-studiefondsbeurs aanvaar. Sien u daar!

FORMULE JAN-KASKARRESIES 2023!
Op Woensdag, 21 Junie 2023 vind die Formule Jan-kaskarkompetisie op die Buysveld plaas. Al ons graad 8-11 registerklasse is hierby betrokke. Elke klas gaan ook 'n lekker potjie maak vir die potjiekoskompetisie. Die dag is verpligtend vir alle leerders en aanwesigheid sal geneem word. Sien die onderstaande inligting vir die dag se reëlings.

ALGEMEEN:
  • Die dag begin om 08:00 en eindig om 14:00.
  • Elke klas kies 'n tema waarvolgens hul aantrek, hul stalletjie versier en pot maak (dit kan enige soort pot wees, dink buite die boks). Klasse moet ook 'n liedjie kies wat hul tydens die optog kan speel. Ons wil onderwysers aanmoedig om ook volgens hul klastema aan te trek.
  • Die idee is dat goedere wat by die huis is, gebruik word vir die versier van die stalletjies - duisende rande moenie spandeer word nie.
  • Leerders wat nie hul klas gaan verteenwoordig met die kaskarre of potjiekos nie, gaan in die snoepie of met ander logisitieke take help.
  • Daar sal 'n snoepie vir die dag beskikbaar wees.
KASKARRE:
  • Klasse neem per graad teen mekaar deel.
  • Die span wat die meeste rondes voltooi binne die gegewe tyd (20minute), is die wenners.
  • In elke klas moet daar spanne van 3 leerders gevorm word wat om die beurt rondes voltooi. Elke span doen vyf rondes voor hul ruil.
  • Aan die einde van elke groep se 20min kan die onderwysers ook elkeen 'n ronde om die baan doen.
  • Die wenner in elke graad kwalifiseer om in die finaal deel te neem.
POTJIEKOS:
  • Elke klas maak ook 'n potjie vir die potjiekoskompetisie op die dag.
  • Elke klas kry 'n 3m x 3m blok / stalletjie waar hulle pot maak en die area kan versier.
  • Klasse is self verantwoordelik vir hul bestanddele, potte, eetgerei en enige ander items wat hul benodig.
  • Die skool voorsien vir elke klas 'n braaidrom en charcoal.
VERLOOP VAN DIE DAG:
08:00 Verwelkoming en optog
09:00 Begin met potte
10:00 Gr. 8-wedloop
10:30 Gr. 9-wedloop
11:00 Gr. 10-wedloop
11:30 Gr. 11-wedloop
12:30 Finale wedlope
13:30 Proe / beoordeling van potte
Indien daar enigiemand is wat dalk pryse of hout vir die dag wil skenk, moet u asseblief vir me. Razelle Hanekom by razelle.hanekom@janvanriebeeck.co.za kontak.
Ons sien uit na hierdie pretdag om die kwartaal op ’n hoogtepunt af te sluit!

ONZE JAN-BORGVORMS: KWARTAAL 2
Die tweede uitgawe van ons skoolkoerant verskyn aan die einde van die kwartaal en u/u onderneming word weer uitgenooi om ’n advertensie in dié tydskrif te bespreek.
Kliek gerus hier om na al die opsies te kyk. By voorbaat dankie vir u ondersteuning.

AKADEMIE
Junie-eksamen: Graad 8-12
Ons vertrou dit gaan goed met al ons leerders se eksamens!

Neem asseblief kennis dat die skryftye vir graad 10-Besigheidstudies en graad 11-RTT verander het. Neem ook kennis dat die leerders op 19 Junie vraestelle kontroleer en dat die graad 12's se Winterskool op 20 Junie begin soos aangedui op die eksamenrooster. Die eksamenrooster is weer hier aangeheg.

Daar sal eksamenhulpklasse aangebied word vir graad 8 tot 12 Wiskunde, graad 10 tot 12 Wiskundige Geletterdheid, graad 8 tot 12 Afrikaans en in sommige grade vir English FAL en English HL. Alle leerders word aangemoedig om van hierdie wonderlike afronding- en leergeleentheid gebruik te maak!
Kliek gerus hier om die rooster af te laai.

In die geval van beurtkrag, sal die IT- en RTT-vraestel 1 of vroeër of later begin, afhangend van die skedule. Daar is laatbusse op elk van die dae behalwe op 2 en 9 Junie. Op daardie dae sal al die busse dus moontlik later vertrek.

Ouers word daaraan herinner dat hul die akademiese hoof, me. Serrao, dadelik moet kontak by liza.serrao@janvanriebeeck.co.za indien u kind die dag nie ’n eksamen kan aflê nie. Ouers moet dan ook so gou as moontlik ’n mediese sertifikaat by me. Sterrenberg indien.

Rig asseblief enige verdere navrae in verband met die eksamen aan me. Serrao, die eksamenhoof, by liza.serrao@janvanriebeeck.co.za.

SIRKEL VAN SUKSES-SENTRUMTYE GEDURENDE DIE EKSAMEN
Let asseblief daarop dat ons studietoesigsentrum gedurende die eksamen op Dinsdae en Donderdae tot 15:00 oop sal wees. Op Maandae en Woensdae sal die leerders wat nie aan sport deelneem nie, in hul studielokale werk tot 14:00.

SPORTOEFENINGE EN BUSTYE
Gedurende die eksamen gaan ons steeds voort met sportoefeninge en leerders verklee gedurende tweede pouse. Op die dae waarop sportoefeninge plaasvind, verdaag die skool eers om 14:00. Leerders wat nie aan sport deelneem nie, gaan voort met studie of kan eksamenhulpklasse bywoon. Leerders moet sorg dat hul die nodige boeke en/of werk inpak skool toe om dit te kan doen.

Die rugby-, hokkie- en landloopleerders word met bussies na die velde vervoer en kan weer om 14:00 by die onderskeie velde (Boshoff / Buys / St Micheal's) opgetel word. Die busse sal ook later vertrek op hierdie dae.

  • Maandag, 5 Junie 2023: Rugby, netbal, hokkie, tafeltennis en landloop SKOOL VERDAAG OM 14:00 (Bus vertrek 14:10)
  • Dinsdag, 6 Junie 2023: SKOOL VERDAAG OM 12:15 (Bus vertrek 12:25)
  • Woendag, 7 June 2023: Rugby, netbal, hokkie, tafeltennis en landloop SKOOL VERDAAG OM 14:00 (Bus vertrek 14:10)
  • Donderdag, 8 Junie 2023: SKOOL VERDAAG OM 12:15 (Bus vertrek 12:25)
  • Vrydag, 9 Junie 2023: SKOOL VERDAAG OM 12:15 (Bus vertrek 12:25)
  • Maandag, 12 Junie 2023: Rugby, netbal, hokkie, tafeltennis en landloop SKOOL VERDAAG OM 14:00 (Bus vertrek 14:10)
  • Dinsdag, 13 Junie 2023: SKOOL VERDAAG OM 12:15 (Bus vertrek 12:25)
  • Woendag, 14 June 2023: Rugby, netbal, hokkie, tafeltennis en landloop SKOOL VERDAAG OM 14:00 (Bus vertrek 14:10)
  • Donderdag, 15 Junie 2023: SKOOL VERDAAG OM 12:15 (Bus vertrek 12:25)

    Rig asseblief enige navrae in verband met die sportprogram aan mnr. Abré van Heerden by abre.vanheerden@janvanriebeeck.co.za.

    By voorbaat dankie vir u samewerking!

    UP-Wiskundekompetisie
    Hierdie kompetisie vind op 14 Augustus vanaf 14:00-16:00 plaas en alle graad 8- tot 11-Wiskundeleerders kan deelneem.

    Ons wil vanjaar graag alle ouers/voogde vra om u kind aan te moedig om aan die Wiskundeolimpiade deel te neem. Hierdie olimpiade fokus op Wiskunde en die waarde van probleemoplossing en ontdekking. Dit bied ook vir u kind blootstelling aan alternatiewe Wiskundeprobleme.

    Die inskrywingsfooi is betaalbaar op Karri. Die koste per inskrywing is R30 per leerder en die sluitingsdatum is 20 Mei. Daar is weer vanjaar ‘n opsie om ‘n donasie te maak.

    SPORT
    Sportprogram: 5 tot 10 Junie 2023
    Kliek gerus hier om volgende week se sportprogram af te laai. Let asseblief daarop dat ons op bevestiging van sekere datums wag. Veranderinge sal op die sportgroepe gekommunikeer word.

    VERRYKINGSPROGRAM
    Kuns- en fotografiekompetisies
    Alle Jan van Riebeeckers word uitgenooi om vir die volgende kreatiewe kompetisiegeleenthede in te skryf:
    Kaapse Afrikaanse Eisteddfod vir Kuns en Fotografie (Gr. 8-12) – die sluitingsdatum vir inskrywings is 23 Junie.
    Die FAK Internasionale Afrikaans-Ekspo vir Kuns en Fotografie (Gr. 8-12) – sluitingsdatum is 18 Julie.
    Die Tygerberg Kunssentrum Portretkompetisie vir Gr. 8-10-leerders (Kuns) - sluitingsdatum is 31 Augustus.
    Alle inligting is by Me. Vrey beskikbaar.

    SKOOLWINKEL
    Die skoolwinkel is op Maandae en Woensdae vanaf 13:30 tot 14:30 oop.

    Geniet die naweek!

    Pieter Rademeyer
    Skoolhoof
    Email Marketing Powered by MailPoet