Wapen (VrydagFiltse)
9 Junie 2023
facebook instagram custom 
Goeiedag Ouers/Voogde

Baie sterkte aan ons eerste netbalspan wat môre in Somerset-Wes aan die Wes-Kaapse Top-skoletoernooi deelneem. Ons het as ligawenners deurgedring na die finaal van dié provinsiale kompetisie - ’n eerste vir ons skool waarop ons baie trots is!

Ek vertrou dit gaan goed met al ons Jan van Riebeeckers se eksamen. Mag jul enduit volhou met die goeie en harde werk - die vakansie is om die draai!

Op ’n persoonlike noot wil ek en Jana baie graag die hele Jan van Riebeeck-familie bedank vir die gelukwense en ondersteuning en ook die spesiale bederf vanaf die grade en leerders na die geboorte van ons seuntjie, Nikolaas, verlede week.
Ons het werklik baie groot waardering daarvoor!

LAASTE SKOOLWEEK VAN DIE KWARTAAL
Die program vir die laaste skoolweek van die kwartaal sal volgende week aan ouers/voogde gestuur word. Let asseblief solank daarop dat die leerders Maandag, 19 Junie eers om 14:30 verdaag en Vrydag, 23 Junie om 11:00.

TUINE TALENT - PERSONEELKONSERT 2023!
Bring u metgesel en kom sluit gerus op Donderdag, 22 Junie by ons aan vir 'n lekker kersopsit-aand. Die personeel gaan almal vermaak met 'n lekker tong-in-die-kies konsert terwyl paartjies vir hul 'n heerlike piekniekete vir twee (R300) of vier (R500) mense kan bestel. Daar sal verversings en enkele versnaperinge te koop wees. Ongelukkig word geen onder 18's toegelaat nie. Onthou om u sitplek en piekniekete vooraf op Quicket te bespreek. Toegang is gratis (maar besprekings op Quicket is noodsaaklik) en ons sal deur die loop van die aand donasies vir ons matriek-studiefondsbeurs aanvaar. Sien u daar!

FORMULE JAN-KASKARRESIES 2023!
Op Woensdag, 21 Junie 2023 vind die Formule Jan-kaskarkompetisie op die Buysveld plaas. Al ons graad 8-11 registerklasse is hierby betrokke. Elke klas gaan ook 'n lekker potjie maak vir die potjiekoskompetisie. Die dag is verpligtend vir alle leerders en aanwesigheid sal geneem word. Sien die onderstaande inligting vir die dag se reëlings.

ALGEMEEN:
  • Die dag begin om 08:00 en eindig om 14:00.
  • Elke klas kies 'n tema waarvolgens hul aantrek, hul stalletjie versier en pot maak (dit kan enige soort pot wees, dink buite die boks). Klasse moet ook 'n liedjie kies wat hul tydens die optog kan speel. Ons wil onderwysers aanmoedig om ook volgens hul klastema aan te trek.
  • Die idee is dat goedere wat by die huis is, gebruik word vir die versier van die stalletjies - duisende rande moenie spandeer word nie.
  • Leerders wat nie hul klas gaan verteenwoordig met die kaskarre of potjiekos nie, gaan in die snoepie of met ander logisitieke take help.
  • Daar sal 'n snoepie vir die dag beskikbaar wees.
KASKARRE:
  • Klasse neem per graad teen mekaar deel.
  • Die span wat die meeste rondes voltooi binne die gegewe tyd (20minute), is die wenners.
  • In elke klas moet daar spanne van 3 leerders gevorm word wat om die beurt rondes voltooi. Elke span doen vyf rondes voor hul ruil.
  • Aan die einde van elke groep se 20min kan die onderwysers ook elkeen 'n ronde om die baan doen.
  • Die wenner in elke graad kwalifiseer om in die finaal deel te neem.
POTJIEKOS:
  • Elke klas maak ook 'n potjie vir die potjiekoskompetisie op die dag.
  • Elke klas kry 'n 3m x 3m blok / stalletjie waar hulle pot maak en die area kan versier.
  • Klasse is self verantwoordelik vir hul bestanddele, potte, eetgerei en enige ander items wat hul benodig.
  • Die skool voorsien vir elke klas 'n braaidrom en charcoal.
VERLOOP VAN DIE DAG:
08:00 Verwelkoming en optog
09:00 Begin met potte
10:00 Gr. 8-wedloop
10:30 Gr. 9-wedloop
11:00 Gr. 10-wedloop
11:30 Gr. 11-wedloop
12:30 Finale wedlope
13:30 Proe / beoordeling van potte
Indien daar enigiemand is wat dalk pryse of hout vir die dag wil skenk, moet u asseblief vir me. Razelle Hanekom by razelle.hanekom@janvanriebeeck.co.za kontak.
Ons sien uit na hierdie pretdag om die kwartaal op ’n hoogtepunt af te sluit!

AKADEMIE
Junie-eksamen: Graad 8-12
Ons vertrou dit gaan goed met al ons leerders se eksamens!

Neem asseblief kennis dat die skryftye vir graad 10-Besigheidstudies en graad 11-RTT verander het. Neem ook kennis dat die leerders op 19 Junie vraestelle kontroleer en dat die graad 12's se Winterskool op 20 Junie begin soos aangedui op die eksamenrooster. Die eksamenrooster is weer hier aangeheg.

Daar sal eksamenhulpklasse aangebied word vir graad 8 tot 12 Wiskunde, graad 10 tot 12 Wiskundige Geletterdheid, graad 8 tot 12 Afrikaans en in sommige grade vir English FAL en English HL. Alle leerders word aangemoedig om van hierdie wonderlike afronding- en leergeleentheid gebruik te maak!
Kliek gerus hier om die rooster af te laai.

In die geval van beurtkrag, sal die IT- en RTT-vraestel 1 of vroeër of later begin, afhangend van die skedule. Daar is laatbusse op elk van die dae behalwe op 2 en 9 Junie. Op daardie dae sal al die busse dus moontlik later vertrek.

Ouers word daaraan herinner dat hul die akademiese hoof, me. Serrao, dadelik moet kontak by liza.serrao@janvanriebeeck.co.za indien u kind die dag nie ’n eksamen kan aflê nie. Ouers moet dan ook so gou as moontlik ’n mediese sertifikaat by me. Sterrenberg indien.

Rig asseblief enige verdere navrae in verband met die eksamen aan me. Serrao, die eksamenhoof, by liza.serrao@janvanriebeeck.co.za.

SIRKEL VAN SUKSES-SENTRUMTYE GEDURENDE DIE EKSAMEN
Let asseblief daarop dat ons studietoesigsentrum gedurende die eksamen op Dinsdae en Donderdae tot 15:00 oop sal wees. Op Maandae en Woensdae sal die leerders wat nie aan sport deelneem nie, in hul studielokale werk tot 14:00.

SPORTOEFENINGE EN BUSTYE
Gedurende die eksamen gaan ons steeds voort met sportoefeninge en leerders verklee gedurende tweede pouse. Op die dae waarop sportoefeninge plaasvind, verdaag die skool eers om 14:00. Leerders wat nie aan sport deelneem nie, gaan voort met studie of kan eksamenhulpklasse bywoon. Leerders moet sorg dat hul die nodige boeke en/of werk inpak skool toe om dit te kan doen.

Die rugby-, hokkie- en landloopleerders word met bussies na die velde vervoer en kan weer om 14:00 by die onderskeie velde (Boshoff / Buys / St Micheal's) opgetel word. Die busse sal ook later vertrek op hierdie dae.

  • Maandag, 12 Junie 2023: Rugby, netbal, hokkie, tafeltennis en landloop SKOOL VERDAAG OM 14:00 (Bus vertrek 14:10)
  • Dinsdag, 13 Junie 2023: SKOOL VERDAAG OM 12:15 (Bus vertrek 12:25)
  • Woendag, 14 June 2023: Rugby, netbal, hokkie, tafeltennis en landloop SKOOL VERDAAG OM 14:00 (Bus vertrek 14:10)
  • Donderdag, 15 Junie 2023: SKOOL VERDAAG OM 12:15 (Bus vertrek 12:25)

    Rig asseblief enige navrae in verband met die sportprogram aan mnr. Abré van Heerden by abre.vanheerden@janvanriebeeck.co.za.

    By voorbaat dankie vir u samewerking!

    UP-Wiskundekompetisie
    Die Universiteit van Pretoria het vanjaar se Wiskundekompetisie gekanselleer. Die skool het reeds aan elke ouer/voog 'n kredietnota vir die inskrywingsfooi uitgereik.

    KULTUUR
    Die volgende optrede in ons Welgemeend-konsertreeks vind eerskomende Woensdag, 14 Junie plaas. Lees gerus hier wat op die gehoor wag en bespreek so gou as moontlik u kaartjies!

    Beau Soleil Piano Quartet
    The Welgemeend Concert Series is thrilled to welcome back the magnificent Beau Soleil Piano Quartet, who will take the stage at the Welgemeend Manor House on Wednesday, 14 June 2023, at 19:30. This will be the third concert in our series of 2023, and they will be performing the wonderful piano quartets by W.A. Mozart (no. 2 in E flat major) and Gabriel Fauré (no. 2 in g minor). The Beau Soleil Piano Quartet consists of Lucia Scott (violin), Dane Coetzee (cello), Grethe Nöthling (piano), and Marina Louw (viola). Don't miss out on this beautiful concert as part of the Welgemeend Concert Series, as we welcome back this fantastic group of musicians. Tickets are R150 for adults and R80 for children, including drinks or refreshments on arrival, and after the concert. https://www.quicket.co.za/events/219975-welgemeend-concert-series-the-beau-soleil-piano-quartet/#/

    VERRYKINGSPROGRAM
    AFRIKAANS
    Daar is heerlike geleenthede vir ons leerders om aan talle Afrikaanse projekte deel te neem. Die FAK-Afrikaans-ekspo se inskrywings sluit binnekort en ons departement bied ook na die eksamen ’n kreatiewe sessie aan waar aspirantskrywers, digters, fotograwe en kreatiewe siele meer oor die wonder van ons taal kan leer.
    Kliek gerus hier vir al die inligting.

    ATKV-STREPIESTAK HOU SOP & BROODJIE DAG!
    Die ATKV-Strepiestak nooi alle Jan van Riebeeckers om hul eksamenuitslae op Maandag, 19 Junie met ’n lekker vuurwarm bakkie sop en broodjie te vier!
    Koste beloop R25 per ete en is op Karri betaalbaar tot Donderdag, 15 Junie om 12:00.
    Die sop sal tydens eerste pouse op Maandag, 19 Junie bedien word.

    Maak gebruik van hierdie geleentheid en help die ATKV-Strepiestak om hul uitreikfonds te versterk.

    Kuns- en fotografiekompetisies
    Alle Jan van Riebeeckers word uitgenooi om vir die volgende kreatiewe kompetisiegeleenthede in te skryf:
    Kaapse Afrikaanse Eisteddfod vir Kuns en Fotografie (Gr. 8-12) – die sluitingsdatum vir inskrywings is 23 Junie.
    Die FAK Internasionale Afrikaans-Ekspo vir Kuns en Fotografie (Gr. 8-12) – sluitingsdatum is 18 Julie.
    Die Tygerberg Kunssentrum Portretkompetisie vir Gr. 8-10-leerders (Kuns) - sluitingsdatum is 31 Augustus.
    Alle inligting is by Me. Vrey beskikbaar.

    SKOOLWINKEL
    Die skoolwinkel is op Maandae en Woensdae vanaf 13:30 tot 14:30 oop.

    Geniet die naweek!

    Pieter Rademeyer
    Skoolhoof
    Email Marketing Powered by MailPoet