|
|
|
|
Winter (N.P. van Wyk Louw)
Nou lê die aarde nagtelang en week in die donker stil genade van die reën, en skemer huise en takke daeliks bleek deur die wit mistigheid en suising heen. Dis alles ryk en rustig van die swaar geheime wasdom wat sy paaie vind deur warm aarde na elke skeut en blaar, en ver en naby alles duister bind in vog en vrugbaarheid en groot verlange; tot ons 'n helder middag skielik sien die gras blink, en die jong graan teen die hange, en weet dat alle rus die lewe dien: hoe kon ek dink dat somer ryker is as hierdie groei se stil geheimenis?
|
Dit is omtrent winter in die Kaap! Ek hoop en vertrou dat almal veilig en rustig sal wees tydens die langnaweek wat op ons wag. Ek is doodseker u is net so opgewonde soos u kind(ers) dat die eksamen ook nou verby is.
|
Baie geluk aan al ons leerders wat met groot ywer die eksamen aangedurf het - jul harde werk is beloon. Die onderwysers is tans besig om die laaste punte te finaliseer sodat die leerders dit eerskomende Maandag kan kontroleer.
|
Namens die hele Hoërskool Jan van Riebeeck-familie wens ons vir Mieke Huysamen en Jan-Willem Silvis baie geluk met hul verkiesing tot hoofdogter en hoofseun van Laerskool Jan van Riebeeck. Die hoofleiers is vroeër vandag aangekondig.
|
Mieke is die sussie van ons hoofseun, Adrian - en dit is ’n baie spesiale oomblik vir die Huysamens dat broer en suster in dieselfde jaar hoofleiers by ons twee skole is. Wel gedaan! Ons is ook baie trots en opgewonde dat Mieke en Jan-Willem volgende jaar as trotse graad 8's hier by Hoërskool Jan van Riebeeck sal aansluit.
|
***************************************************************************************************
|
LAASTE SKOOLWEEK VAN DIE KWARTAAL: 19 TOT 23 JUNIE 2023
|
Leerders meld om 07:40 by hul eerste periode aan. Die periodes vir die dag is as volg: Maandag, periode 1 tot 8, Dinsdag, periode 2 en 6, Woensdag, periode 1 en Donderdag, periode 4. Die skool verdaag om 14:30.
|
Die graad 12's mag enige gemaklike drag gedurende die winterskool dra - en ons maak staat daarop dat almal netjies sal lyk. Die res van die skool dra hul volledige wintersskooldrag.
|
Leerders meld om 07:40 vir rye aan.
|
Die graad 12's begin hul winterskool (sessie 1: Wiskunde en Wiskundige Geletterdheid; sessie 2: Lewenswetenskappe).
|
Die graad 11's begin hul winterskool (sessie 1: Afrikaans; sessie 2: Wiskunde en Wiskundige Geletterdheid).
|
Graad 11- en 12 leerders verdaag om 14:05, uitsluitend die graad 12-leerders wat nié Lewenswetenskappe as vak neem nie. Hierdie leerders verdaag om 12:00.
|
Die graad 8-, 9- en 10-leerders skryf ’n verpligte LO-assessering en sal om 12:00 verdaag. Leerders mag hulle handboek en skryfboek saambring skool toe.
|
Die graad 8- en 9-leerders moet asseblief ook hul MBK-drag vir die dag inpak.
|
Graad 12: Winterskool (sessie 1: FW, Gesk, BS, GVS, Musiek; sessie 2: Engels HT, Engels EAT 12 R/J en Afrikaans 12V).
|
Graad 11-Toerisme-leerders voltooi hulle verpligte PAT.
|
Graad 8- tot 11-leerders neem aan die kaskardag by die Buysveld deel, uitsluitend die graad 11-Toerisme-leerders. Graad 8- tot 12 leerders verdaag om 14:05.
|
Graad 12: Winterskool (sessie 1: IT, Ekon, Geo, Kuns, Musiek en RTT; sessie 2: Afrikaans 12 J/R en Engels EAT 12 V).
|
Graad 10-Toerisme-leerders voltooi hulle verpligte PAT.
|
Graad 12- en 10-leerders verdaag om 14:05.
|
Die graad 8-, 9- en 10-leerders sal 'n verrykingsessie hê. Ons leerders sal 'n algemene kennistoets aflê, ons skoolberader, mnr. Zietsman sal daarna 'n sessie met die leerders hê en die dag word met 'n tafeltennistoernooi tussen klasse afgesluit. Die skool verdaag vir hierdie leerders om 12:15.
|
Graad 12: Winterskool (sessie 1: Toerisme, IGO, Drama en Musiek).
|
Leerders verdaag om 10:45 en die busse vertrek om 11:00.
|
Rapporte word deur die loop van die oggend per e-pos aan ouers/voogde gestuur.
|
Baie dankie by voorbaat vir u ondersteuning en samewerking!
|
TUINE TALENT - PERSONEELKONSERT 2023!
|
Bring u metgesel en kom sluit gerus volgende Donderdag, 22 Junie by ons aan vir 'n lekker kersopsit-aand.
|
Die personeel gaan almal vermaak met 'n lekker tong-in-die-kies konsert terwyl paartjies vir hul 'n heerlike piekniekete vir twee (R300) of vier (R500) mense kan bestel. Daar sal verversings en enkele versnaperinge te koop wees.
|
Ongelukkig word geen onder 18's toegelaat nie.
|
Onthou om u sitplek en piekniekete vooraf op Quicket te bespreek. Toegang is gratis (maar besprekings op Quicket is noodsaaklik) en ons sal deur die loop van die aand donasies vir ons matriek-studiefondsbeurs aanvaar. Sien u daar!
|
FORMULE JAN-KASKARRESIES 2023!
|
Eerskomende Woensdag, 21 Junie vind die Formule Jan-kaskarkompetisie op die Buysveld plaas. Al ons graad 8-11 registerklasse is hierby betrokke. Elke klas gaan ook 'n lekker potjie maak vir die potjiekoskompetisie. Die dag is verpligtend vir alle leerders en aanwesigheid sal geneem word.
|
Sien die onderstaande inligting vir die dag se reëlings.
|
- Die dag begin om 08:00 en eindig om 14:00.
- Elke klas kies 'n tema waarvolgens hul aantrek, hul stalletjie versier en pot maak (dit kan enige soort pot wees, dink buite die boks). Klasse moet ook 'n liedjie kies wat hul tydens die optog kan speel. Ons wil onderwysers aanmoedig om ook volgens hul klastema aan te trek.
- Die idee is dat goedere wat by die huis is, gebruik word vir die versier van die stalletjies - duisende rande moenie spandeer word nie.
- Leerders wat nie hul klas gaan verteenwoordig met die kaskarre of potjiekos nie, gaan in die snoepie of met ander logisitieke take help.
- Daar sal 'n snoepie vir die dag beskikbaar wees.
- Klasse neem per graad teen mekaar deel.
- Die span wat die meeste rondes voltooi binne die gegewe tyd (20minute), is die wenners.
- In elke klas moet daar spanne van 3 leerders gevorm word wat om die beurt rondes voltooi. Elke span doen vyf rondes voor hul ruil.
- Aan die einde van elke groep se 20min kan die onderwysers ook elkeen 'n ronde om die baan doen.
- Die wenner in elke graad kwalifiseer om in die finaal deel te neem.
- Elke klas maak ook 'n potjie vir die potjiekoskompetisie op die dag.
- Elke klas kry 'n 3m x 3m blok / stalletjie waar hulle pot maak en die area kan versier.
- Klasse is self verantwoordelik vir hul bestanddele, potte, eetgerei en enige ander items wat hul benodig.
- Die skool voorsien vir elke klas 'n braaidrom en charcoal.
VERLOOP VAN DIE DAG: 08:00 Verwelkoming en optog 09:00 Begin met potte 10:00 Gr. 8-wedloop 10:30 Gr. 9-wedloop 11:00 Gr. 10-wedloop 11:30 Gr. 11-wedloop 12:30 Finale wedlope 13:30 Proe / beoordeling van potte
|
Indien daar enigiemand is wat dalk pryse of hout vir die dag wil skenk, moet u asseblief vir me. Razelle Hanekom by razelle.hanekom@janvanriebeeck.co.za kontak.
|
Ons sien uit na hierdie pretdag om die kwartaal op ’n hoogtepunt af te sluit!
|
Graad 10-leerders wat van vakke wil verander, moet hul aansoeke teen 30 Junie per e-pos by me. Serrao indien. Let daarop dat leerders slegs van twee vakke mag verander.
|
Die vakverandering vir graad 11-leerders het reeds gesluit. Graad 11's mag weer aan die einde van die jaar van een vak verander. Alle aansoeke moet voor 15 Desember by me. Serrao ingedien word.
|
Daar is heerlike geleenthede vir ons leerders om aan talle Afrikaanse projekte deel te neem. Die FAK-Afrikaans-ekspo se inskrywings sluit binnekort en ons departement bied ook eerskomende Maandag ’n kreatiewe sessie aan waar aspirantskrywers, digters, fotograwe en kreatiewe siele meer oor die wonder van ons taal kan leer.
|
Kliek gerus hier vir al die inligting.
|
Kuns- en fotografiekompetisies
|
Alle Jan van Riebeeckers word uitgenooi om vir die volgende kreatiewe kompetisiegeleenthede in te skryf:
|
Kaapse Afrikaanse Eisteddfod vir Kuns en Fotografie (Gr. 8-12) – die sluitingsdatum vir inskrywings is 23 Junie.
|
Die FAK Internasionale Afrikaans-Ekspo vir Kuns en Fotografie (Gr. 8-12) – sluitingsdatum is 18 Julie.
|
Die Tygerberg Kunssentrum Portretkompetisie vir Gr. 8-10-leerders (Kuns) - sluitingsdatum is 31 Augustus.
|
Alle inligting is by Me. Vrey beskikbaar.
|
Die skoolwinkel is op Maandae en Woensdae vanaf 13:30 tot 14:30 oop.
|
|
|
|
|
|
|
|