>> Besoek die volledige kalender op die webtuiste <<

UIT DIE SKOOLHOOF SE KANTOOR

Nog ʼn bedrywige Jan van Riebeeck-week is verby waarin ons leerders talle geleenthede op akademiese, sport- en kultuurgebied gehad het om deel te neem en hulself uit te leef.

In die klaskamer is ons leerders hard aan die werk en ons matrieks is gefokus en oorgehaal om uitstekende uitslae te lewer wanneer hul rekordeksamen op 4 September afskop. Ons matriekgroep het puik presteer in die Junie-assesserings en ons sien uit na groot hoogtepunte aan die einde van die jaar. Talle olimpiades en akademiese kompetisies het ook vandeesweek plaasgevind en dis wonderlik om die massa-deelname te sien. Ons Gasvryheidstudieleerders het gisteraand hul finale praktiese eksamen by Welgemeend afgelê – en hul puik van hul taak gekwyt.

ʼn Groot dankie aan ons Sporthoof, mnr. Abré van Heerden, wat met groot ywer en baie inisiatief sorg dat ons leerders ʼn vol en uitdagende sportprogram geniet. Dit is wonderlik om te beleef hoe die sportgetalle groei en ons op talle vlakke baie meer kompeterend raak.
Die afgelope naweek by DF Malan dien as bewys dat ons nie hoef terug te staan vir skole met 1200+ leerlinge nie en ons kon ons man behoorlik staan. Ek was veral beïndruk met ons hokkieuitslae se reuseverbetering vanaf die 2022-bepaling. Ons eerste netbalspan speel ook teen al hoe sterker opponente en ons het die afgelope week in ʼn naelbytstryd teen Stellenberg maar slegs 38-34 verloor. Ons dogters is oorgehaal om volgende jaar groot aksie op die netbalbaan te verseker! Ons junior rugbyspanne toon ook groot belofte vir die toekoms van ons rugbyprogram – ons o.16A-span stof DF Malan se A-span verlede naweek met ʼn mooi vertoning uit. Ons skaakspan speel hierdie naweek, as een van die topskole, in die distrikkompetisie en ons wens hul sterkte toe.

Ons het ook vandeesweek ons nuwe rekke-sisteem in die Jubileumsaal in gebruik geneem en ons sien uit na die sportontwikkeling wat vir elke leerder voorlê. Die eerste LO-klasse is ook die week deur die nuwe rekgimnasium wat tot 80 leerders op ʼn slag kan akkommodeer. Die afrigters en sportpersoneel ontvang volgende Woensdag volledige opleiding in die program en ons maak dan ook ʼn bemarkingsvideo om u te wys hoe opwindend alles nou daar lyk. Ons beplan sessies soggens en smiddae vir ouers en vriende van die skool, so hou gerus ons inligtingsbladsye dop vir meer nuus in die verband.

Gisteraand se toneelaand hier by die skool was skitterend! Die talent van ons Jan van Riebeeckers is verstommend en al drie tienertoneelstukke vanjaar gee die gehoor baie stof tot nadenke: die temas is relevant en aktueel – ons sien waarlik uit na ʼn opwindende toneelseisoen. Al drie toneelgeselskappe vertrek volgende Woensdag Fraserburg toe om daar aan die bekende skoletoneelfees deel te neem en ons weet dit sal baie goed met hul gaan. Teken solank 21 en 26 Augustus in u dagboeke aan, want dan is ons produksies weer op die planke as deel van die streeksuitdunne in die ATKV-Tienertoneelkompetisie. Dankie aan ons dramahoof, me. Taljaard, en ons skrywer, regisseur en mentor, me. Van der Walt, vir hul eindelose energie en passie vir ons dramaleerders. Ons bied boonop volgende week ons tweede JvR-Kunstefees aan en wens al ons Jan van Riebeeckers sterkte toe wat hieraan deelneem.

Baie dankie aan elke Jan van Riebeecker vir jul positiewe samewerking en deelname – en ook aan ons ouers vir jul ondersteuning en baie moeite wat help verseker dat ons in Jan van Riebeeck ʼn dinamiese skoolprogram kan bly aanbied.

Geniet die naweek!

Pieter Rademeyer
Skoolhoof

AKADEMIE

Intervensie: Kwartaal 3

Kliek hier vir die intervensieprogram vir kwartaal 3. Alle Jan van Riebeeckers word aangemoedig om die intervensieklasse getrou by te woon!

Graad 12-Rekeningkunde- winterskool en Proverto-olimpiade

’n Herinnering aan die graad 12-Rekeningkundeleerders aan die verandering in Winterskooldatums: Maandag, 31 Julie en Maandag, 7 Augustus van 14:15 tot 15:45 in me. Meyer se klas.

Die volgende leerders kwalifiseer vir die tweede ronde van die Proverto-olimpiade:
Graad 10 - Anja Liebenberg vir Besigheidstudies
Graad 11 - Toby de Ruiter, Layla Eramus en Mia Nortje vir Rekeningkunde; Marianne Nel vir Rekeningkunde en Besigheidstudies
Graad 12 - Ethan Stevens vir Rekeningkunde

Ons wens Layla Erasmus en Marianne Nel geluk wat beide 80%+ behaal het in Rekeningkunde tydens die eerste ronde.

Die tweede en finale ronde vind Woensdag, 2 Augustus om 14:15 in me. Meyer se klaskamer plaas. Baie sterkte, Jan van Riebeeckers!

'n Besonderse groot geluk aan die volgende leerders wat die beste individuele vordering vir kwartaal 2 in Rekeningkunde getoon het. Hierdie leerders het hul punte met 10% vanaf kwartaal 1 verbeter:
Graad 9 - Cuthanzario Winter, Amy Jacobs en Mekayla Michaels
Graad 10 - Cameron Vermeulen
Graad 11 - Lisa Schoeman en Xenia Massyn

Dit wil gedoen wees!

Graad 12-Toerisme PAT

Ouers word daaraan herinner dat die graad 12-Toerismeleerders hul finale praktiese eksamen op 2 en 3 Augustus gedurende skoolure aflê. Die hulpbronnepakket is reeds die afgelope vier periodes in die klas behandel. Geen graad 12-leerder mag afwesig wees nie aangesien dit ʼn nasionale praktiese eksamen is.

Baie sterkte aan al ons Toerisme-leerders.

Graad 11-werkskadu ’n groot sukses

Ons sê baie geluk aan die graad 11-leerders wat ʼn baie geslaagde werkskaduprogram gedurende die Junie-vakansie voltooi het. Die graad 11’s is aan verskillende beroepe blootgestel; sodoende kon hul reeds ondervind of dié blootstelling hul rigting is, al dan nie.

Baie positiewe terugvoering is van die leerders ontvang. Dankie aan ons ouers/voogde wat ons Jan van Riebeeckers bygestaan het asook me. Ananda Visser vir al haar reëlings in die verband.

ALGEMEEN

Matriekraad: Vasvra-aand om die draai!

Kom geniet ’n aand van kennis en Kahoot! Die akademiese portefeulje van die matriekraad nooi alle Jan van Riebeeckers na ’n algemene kennis vasvra-aand uit.

Datum: 3 Augustus 2023
Tyd: 18:00
Plek: RTT-lokaal

Leerders kan in spanne van twee of individueel inskryf en hul spannaam aan Cara of Adrian deurstuur: (cara.beyer@janvanriebeeck.org & adrian.huysamen@janvanriebeeck.org)

Daar is ook heerlike pryse op die spel vir die wenners van die aand. Mag die beste kenner/s wen!

Noodhulpkursus: 4 en 5 Augustus 2023

Alle leerders wat betaal het vir hierdie kursus word herinner dat hul direk na skool op Vrydag, 4 Augustus in mev. Turkstra se klas bymekaarkom. Die firma wat die kursus aanbied, is BLS Medical. https://blsmedical.co.za/
Tyd: Vrydag, 4 Aug. vanaf 14:00 tot 17:00 en Saterdag, 5 Aug. vanaf 08:00 tot 13:00.

Winterbal 2023

Die Winterbal word jaarliks in die derde kwartaal aangebied en die fondse wat hiermee ingesamel word, vir die matriekgeskenk aan die skool aangewend word. Die matriekkomitee kan jaarliks hul inisiatief en kreatiwiteit wys met die reël van hierdie funksie en ook vir oulaas saam met die Jan van Riebeeckers kuier. Dit is ’n geleentheid wat graag deur alle Jan van Riebeeckers bygewoon word.

Alle Jan van Riebeeckers (gr. 8 tot 12) is welkom om hierdie spesiale pretgeleentheid by te woon en dan die week voor interskole-geesweek op ’n gesellige noot af te skop.

Datum: Donderdag, 10 Augustus 2023
Kostes: R80 per leerder
Drag: Deftig-informeel
Tema: “Come on Barbie let’s go party”
Tyd: 18:00 – 21:00
Plek: Skoolsaal
Daar sal ’n snoepie met eet- en drinkgoed beskikbaar wees.

Daar is ook pryse te wen vir…
Beste Barbie-kostuum
Beste Ken-kostuum
Beste Barbie-en-Ken-paartjie

Kliek gerus hier vir meer inligting en let asseblief op die reëlings indien u kind ’n metgesel van buite die skool wil saamnooi.

Truie vir ons 2024-matrieks

Ons wil graag vanjaar weer die matriektruie vroegtydig bestel; sodoende kry die leerders meer tyd om die truie te dra. Die matriektrui gaan weer soos in die verlede lyk: ’n wit trui met knope, blou moue, die skoolwapen en MX 2024 op die rug geborduur. Ons begin volgende week met die aanpas van die truie.

Die volle bedrag moet asseblief teen 15 Augustus betaal wees. Kostes beloop R400 en alle betalings geskied via Karri. Ouers wat ’n donansie wil maak of ’n trui vir ’n ander leerder wil borg, is baie welkom om dit te doen!

Daar gaan slegs een bestelling geplaas word, so indien u kind ‘n trui bestel, moet hy/sy daarvoor betaal en dit neem. Ons wil graag sien dat ons matrieks volgende jaar ’n mooi eenheid vorm.

Ons thrift...

Maak skoon, maak leeg en skenk als vir ons eie Jan van Riebeeck Plezier Markt wat vir 23 September beplan word!

Ons versoek dat ouers enige van die onderstaande produkte wat in 'n goeie toestand is, vir die skool sal skenk. Produkte wat ons ontvang, sal gedurende die mark ten bate van die skool by ons Thrifting-stalletjie verkoop word.
  • meubels
  • juweliersware
  • handsakke / sakke
  • klere (volwassenes en kinders)
  • boeke
  • legkaarte
  • lap
  • wol
Enige produkte wat ons nie verkoop nie, sal aan ander liefdadigheidsorganisasies geskenk word. Alle skenkings kan na me. Sanette van Loggerenberg by die skool gestuur word. Indien enige items by u opgelaai moet word, kontak asseblief vir Jana Rademeyer (navonjane@gmail.com of 083 459 9965) om reëlings te tref. Dankie by voorbaat vir u ondersteuning!

Welgemeend Maand van Kuns: 2 tot 31 Augustus 2023

Ons sien uit na ’n besondere kunsmaand wat volgende Woensdag, 2 Augustus afskop! Vanjaar se tema, Kaapse oomblikke, beloof om besoekers te beïndruk en te bederf met ongelooflike kunswerk en heerlike kuiergeleenthede.

Kliek gerus hier om na die algemene advertensie te kyk en hier om die volledige program af te laai. By voorbaat dankie vir almal se ondersteuning!

Drieankerbaai Gemeente-veiling

Ondersteun gerus Drieankerbaai Gemeente se jaarlikse veilingpoging om 18:00 op 8 Augustus. Kliek hier vir al die inligting!

JvR-graadweek was groot pret

Dankie aan die VRL & MR vir hierdie week se pret-inisiatief per graad. Ons leiers sal in die toekoms graag meer aandag hieraan wil gee sodat nog meer leerders met vrymoedigheid sal inskakel en deelneem aan die pret en lawwigheid. Lag, speel en ’n bietjie pret tussendeur die akademie gee sommer kleur aan’n koue wintersdag.

Baie dankie aan elke liewe leerder en ouer se ondersteuning en ook vir al die nie-bederfbare produkte wat geskenk is- dit word opreg waardeer!

Daar is ʼn gekombineerde MR- en VRL-vergadering Maandag, 31 Julie om 7:00 in lab. 213.

ATKV-Strepiestak presteer

Claudia Stipp het verlede week die voorreg gehad om die ATKV se kultuurkuier 2023 by te woon. Elke ATKV-tak van regoor die land het een afgevaardigde na die geleentheid gestuur en hul het by Goudini-Spa saamgekuier. Takke kon idees met ander takke deel en so is almal verryk.

Verskeie werkswinkels is deur die ATKV aangebied. Die takke het die voorreg gehad om na ’n tema-gesprek met Martelize Brink, Dave Pepler, Denise Stubbs en Johannes de Villiers te luister.

Die hoogtepunt van die prysuitdelingsfunksie was toe Hoërskool Jan van Riebeeck se Strepiestak ’n toekenning vir ons Afrikaansweek vir 'n projek van hoë gehalte met TAAL as fokus ontvang het. Tydens hierdie funksie het dit veral opgeval hoeveel vrywilligerswerk deur die ATKV-takke gedoen word.

Die ATKV het dit reggekry om ’n wonderlike netwerk van vrywilligers te vorm wat in hul gemeenskappe diens lewer. Die werk wat hierdie takke doen is merkwaardig.

Mag ons Strepiestak voortbou op hierdie suksesse.

KULTUUR

Kooroefening

Die koor repeteer eerskomende Maandagmiddag, 31 Julie vanaf 14:15 tot 16:00. Verseker asseblief dat almal teenwoordig is. Ons moet ook begin met nuwe musiek- aanleer met die oog op ons toer aan die einde van die kwartaal.

Jak de Priester en kore: 1 Augustus 2023

Die kore van Hoërskool en Laerskool Jan van Riebeeck gaan eerskomende Dinsdagaand die gehoor met 'n verskeidenheid koorwerke betower. Die vertoning sluit 'n optrede deur Jak de Priester in en die aand word op 'n hoogtepunt afgesluit met 'n massa-kooroptrede saam met Jak. Kaartjies is op Quicket beskikbaar: https://qkt.io/ASXkEC

Kaartjies - indien nie vooraf uitverkoop nie - sal ook by die deure beskikbaar wees!

JvR-Kunstefees 2023

Ons bied vanaf volgende week (1 tot 4 Augustus) ons tweede kunstefees aan. Baie dankie aan al ons leerders wat hul inskrywings vir ons ingestuur het.

Kliek gerus hier vir al die algemene inligting. Kliek hier vir die volledige program.

SPORT

Skaak: Paarl Ope

Cuthanzario Winter het oor die afgelope naweek aan die intermediêre afdeling van die Cape Winelands Chess Open 2023 in die Paarl deelgeneem. Hy behaal die 7de plek uit 57 spelers. Baie geluk, Cuthan!

Stap op Woensdae is lekker!

Woensdag het ons Tafelberg se Pyplyn-staproete aangedurf. Nie eers die kombers wat heeldag oor die berg gehang het of die paar reëndruppels kon ons getroue stappers keer nie. Die lekker 5 km-roete het ons nie teleurgestel nie. Om die koue te trosteer, was beslis die moeite werd.

Die bussie vertrek direk na skool vanaf agter die Huis Jordaan-koshuis. Leerders trek reeds tweede pouse aan in korrekte sportdrag. Alle leerders moet op die dag van stap eerste pouse registreer vir stap (in me. Steyn se klas) sodat die nodige vervoer gereël kan word. Leerders wat nie registreer nie, sal ongelukkig nie kan saam stap nie.

Volgende week se uitstappie:
Woensdag, 2 Augustus: Leeukop - sien jou daar!

Adertensies

facebook instagram 
Email Marketing Powered by MailPoet