|
|
|
UIT DIE SKOOLHOOF SE KANTOOR
|
Ons het vandeesweek ’n sterk kultuurfokus hier by Jan van Riebeeck gehad.
|
Maandagaand het ons ons talentvolle oudleerder, Herman Lategan, terug verwelkom by sy alma mater toe die verhoogweergawe van sy trefferboek, Hoerkind, hier op die planke te sien was. Geon Nel het in dié eenmanstuk Herman se memoires treffend met die waarderende gehoor gedeel. Dankie aan almal wat die vertoning bygewoon het - ons glo dit was vir Herman ook besonders om die JvR-belangstelling en ondersteuning te sien.
|
Dinsdag het ons tweede JvR-kunstefees afgeskop en talle leerders het met sang, drama, ’n groot verskeidenheid van instrumente, kuns en fotografie, hul talente kom wys. Dankie aan al die Jan van Riebeeckers wat deelgeneem het - ons beoordelaars was beïndruk met die hoë standaard van die aanbieding vanjaar. Hierdie jong kunstefees van ons bied aan elkeen die geleentheid om in ’n kleiner en ‘veiliger’ omgewing op te tree – en so te bou aan die selfvertroue en optrede vir verdere deelname aan groter eisteddfods en kunstefeeste. Ek moedig graag al ons leerders aan om die moed te hê om volgende jaar in te skryf. Die fees sluit vandag met die spelathon, talethon en leesafdelings af.
|
Dinsdagaand se koorfees in die Groote Kerk was inderdaad ’n FEES! Ons skoolkoor het saam met die twee kore van Laerskool Jan van Riebeeck opgetree en dit was ’n groot lekkerte vir ons leerders om saam met die bekende Jak de Priester op die verhoog te verskyn. Jak het die gehoor op ’n emosionele reis deur Afrikaans en Suid-Afrika geneem en met die massakoor-item aan die einde, is die suksesvolle aand treffend afgesluit. Baie dankie aan mnr. Naas Beets en die musiekdepartement by die laerskool dat hul hierdie mooi aand saam met ons kom geniet het – die Jannies het omtrént beïndruk!
|
Die tiende Welgemeend Maand van Kuns is Woensdag amptelik geopen en duur nog tot 31 Augustus voort. Vanjaar se tema, Kaapse Oomblikke, word op ’n unieke manier met ongelooflike kunswerke uitgebeeld. Die openingsdinee Woensdagaand en wynveiling het ook ’n pragtige bedrag ingesamel wat gebruik sal word vir die onderhoud van ons spesiale kultuurhuis, Welgemeend.
|
Moenie hierdie besondere uitstalling misloop nie – daar is talle geleenthede vir rondleidings, aanbiedinge en spesiale funksies. Raadpleeg gerus die program onder om meer uit te vind.
|
My groot dank aan Frank en Lizelle Kilbourn en hul span by Strauss & Co., Helena le Roux en Karin Koch vir hul harde werk om hierdie kunsmaand te reël.
|
Alle Jan van Riebeeckers sal vanaf volgende week die geleentheid hê om in klasverband op ’n rondleiding Welgemeend te besoek. ’n Opwindende kompetisie is ook geloods waarin ons leerders inspirasie uit die kunswerke moet put om ’n opstel of ’n gedig te skryf. Meer inligting volg volgende Vrydag, 11 Augustus, wanneer die organiseerders van die kompetisie met ons leerders kom gesels.
|
Ons drie tienertoneelgroepe het Woensdag na Fraserburg vertrek om daar aan die oudste skole-toneelfees in die land deel te neem. Twee van ons stukke het gisteraand opgetree en Darren Cloete se leerderproduksie was vanoggend te sien. Die kommentaar van die beoordelaars was baie positief en ons sien uit na die groei en ontwikkeling wat nog gaan plaasvind soos hierdie jong akteurs verder aan talle ander kompetisies en feeste gaan deelneem. Dankie aan mee. Linda van der Walt, Sanet Taljaard en mnr. Jacques van der Westhuizen wat die leerders die week vergesel het. Ons is trots op julle almal!
|
Intussen is ons leerders ook besig om voor te berei vir die sangafdeling van die Kaapse Afrikaanse Eisteddfod, ’n klompie musiekeksamens wat voorlê en ons Sterrejag-talentkompetisie wat op 23 Augustus plaasvind.
|
Ons verwelkom ook graag me. Elzette Malan wat vir die volgende ses weke in die Kunsklas aflos terwyl me. Magda Vrey met verlof is. Dit is heerlik om hierdie kreatiewe en energieke kunskenner hier by ons te hê.
|
Mag die kultuurlewe en kreatiewe denke in Jan van Riebeeck van krag tot krag gaan! Ons glo daarin om by ons skool op vele maniere ’n kreatiewe inspuiting vir ons leerders te bied wat hul sal inspireer om verder met hul eie talente te woeker.
|
|
|
AKADEMIE
|
|
Assesseringsprogam: Kwartaal 3
|
Kliek hier vir die assesseringsprogram vir kwartaal 3.
|
|
|
Intervensie: Kwartaal 3
|
|
|
Kliek hier vir die intervensieprogram vir kwartaal 3. Alle Jan van Riebeeckers word aangemoedig om die intervensieklasse getrou by te woon!
|
|
|
|
|
Gr.12-Rekeningkunde: Winterskool
|
’n Herinnering aan die graad 12-Rekeningkundeleerders aan die verandering in Winterskooldatums: Maandag, 7 Augustus van 14:15 tot 15:45 in me. Meyer se klas.
|
|
|
|
|
Tutorklasse - Kry hulp met jou vakverwante probleme!
|
Benodig jy ekstra akademiese ondersteuning? Is jy bekommerd oor verlede kwartaal se uitslae? Moenie bekommer nie! Ons het ʼn oplossing vir jou. Jan van Riebeeck se tutor-klasse is hier om jou te help. Ons bekwame tutors is beskikbaar om jou by te staan met enige vrae of uitdagings wat jy mag ervaar. Kry individuele hulp en aandag om te verseker dat jy die kurrikulum beter verstaan.
|
|
|
|
|
Programmeringsolimpiade: 27, 28 Julie 2023 - Eerste Rondee
|
Sommige IT-klasse het gedurende skooltyd aan die eerste ronde van die Programmeringsolimpiade op 27 en 28 Julie 2023 deelgeneem. Ons hou duimvas dat van ons leerders sal deurdring na die tweede ronde.
|
|
|
|
KULTUUR
|
|
Kooroefening
|
Die koor oefen soos gewoonlik Maandagmiddag, 7 Augustus, van 14:15 tot 16:00. Dis baie belangrik dat almal die oefening bywoon. Nuwe musiek word aangeleer met die oog op ons toer aan die einde van die kwartaal.
|
|
|
Rotary Debate: 29 - 30 Julie 2023
|
Die senior Rotary-debatspan het verlede naweek aan die Western Cape Schools Debating Board se kampioenskappe by UK deelgeneem. Ten spyte van strawwe kompetisie het hul twee uit die vier rondes gewen en het na die volgende ronde deurgedring. Baie geluk aan Lisa Best, Lukas Wasserman en Nayla Walker met hul goeie individuele sprekertellings, sowel as hul spanprestasie.
|
|
|
|
|
Nuwe klarinetonderwyser sluit by Welgemeend Skool vir Musiek aan
|
|
|
Danielle Rossouw is in Kaapstad gebore en het Suid-Afrika in 2015 verlaat om in Europa te studeer. Sy het aan die einde van 2022 teruggekeer om haar musiekloopbaan hier te vestig. Danielle is tans 'n voltydse lid van die Kaapstad Filharmoniese Orkes as klarinet- en basklarinetspeler. Sy het haar BMus- en Meestersgraad in klarinet-uitvoering aan KASK & Konservatorium Skool in Gent, België met onderskeiding behaal. Na haar studies in Gent, het Danielle verhuis na Nederland, waar sy nog 'n meestersgraad in klarinet-uitvoering met onderskeiding aan die Fontys Hogeschool voor de Kunsten in Tilburg behaal het. Gedurende haar studiejare het Danielle deelgeneem aan die AMAJ Jong Simfonisch Orkes en die simfonie- en harmonie-orkes van KASK & Konservatorium Skool in Gent. Sy is ook 'n entoesiastiese kamermusiekmusikant en was in 2021 'n finalis by die Willem II Kamermusiekkompetisie in Nederland.
|
Danielle is tans 'n PhD-kandidaat in musiek aan die Universiteit van die Vrystaat. Sedert haar terugkeer na Suid-Afrika is sy ook aktief betrokke by kamermusiek en lewe sy haar passie uit vir ontwikkeling in musiek en klarinet onder die jeug. In haar vryetyd geniet sy die verskeidenheid van buitelug-aktiwiteite wat die Kaap bied.
|
Baie welkom by die Welgemeend Skool vir Musiek en die Jan van Riebeeck-familie.
|
Indien u klasse wil bespreek of meer inligting verlang, skakel gerus met mnr. Geldenhuys by geruan.geldenhuys@janvanriebeeck.co.za.
|
|
SPORT
|
|
Skaak: MSOD-uitspeel, 29 Julie 2023
|
Hoërskool Jan van Riebeeck se eerste skaakspan het Saterdag, 29 Julie 2023 in die o.19-afdeling van die Cape Town Metro Central Schools Chess-toernooi deelgeneem. Ons het gelykop teen Thandokulu gespeel en is desnieteenstaande tweede geplaas op grond van die aantal borde wat Thandokulu oor die hele dag gewen het.
|
Baie geluk aan die span: Gerard Snijders (k), Peet Karsten, Cuthanzario Winter, Carla Snijders, Liezel Snijders en Johann Jordaan.
|
|
|
|
Bergfiets vs. Herzlia, 1 Augustus 2023
|
Op Dinsdag, 1 Augustus het ons Herzlia se bergfietsryers hier by ons pragtige baan verwelkom. Dit was 'n heerlike sonskyndag en die kinders het hul gate uit geniet. Johan Theunissen was eerste, Mari Swanepoel tweede en Migael Smuts derde. Die beste Herzlia-ryer was vierde. Dis dus veilig om te sê: ons het Herzlia oorheers. Mooi so!
|
|
|
|
Rugbyaand by NTK-rugbyklub, 2 Augustus 2023
|
Ons eerste span het op Woensdag, 2 Augustus tydens die NTK-uitnodigingsaand teen 'n baie sterk Hottentots-Hollandspan van Somerset-Wes te staan gekom. Die telling was nie in ons guns nie, maar ons sal nooit die geleentheid om in die voor-hoofwedstryd en onder die ligte op die mooi velde te speel, vergeet nie. Dankie ook aan die NTK-rugbyklubbestuur wat die aand moontlik gemaak het en ons afrigters en personeel verwelkom het. Ons sien uit na die geleentheid volgende jaar.
|
|
|
Sweet, sport en Desemberlyfies
|
Ons eerste spanne en sportafrigters het dié week opleiding deur Charl du Plessis ontvang in ons splinternuwe rekkesisteme. Leerders het reeds twee weke gelede op Maandae met inleidingsklasse by dr. Sors Joubert, ons beweegkunde-spesialis, begin en geniet dit om tydens LO-periodes met die rekke in die Jubileumsaal te oefen.
|
Ons sien uit na hoe ons leerders se kondisionering in die volgende paar maande gaan verbeter. Kom loer gerus in op Maandae.
|
Daar is drie verskillende sessies: 14:30 tot 15:15; 15:15 tot 16:00; en 16:00 tot 17:00. Die derde sessie is vir leerders wat eers kultuuroefeninge bywoon.
|
|
|
|
#Janklouter oefen fluks rotsklimtegniek
|
Die verkeerprobleme Donderdagmiddag het veroorsaak dat #JanKlouter die geleentheid benut het om hul oefensessie na werklike rots te verskuif. Die somer- buitelug by Higgovale se Steengroef, teen die hange van Tafelberg, was die perfekte agtergrond vir 'n goeie klimsessie.
|
|
|
Tafeltennisuitslae: Woensdag, 2 Augustus 2023
|
Ons dogters speel gelykop (3 elk) teen Hoërskool Brackenfell se tweede span. Die seuns verloor 1-5 teen Brackenfell se vierde span.
|
|
|
Landloopuitslae: Fish Hoek High, Donderdag, 3 Augustus 2023
|
- 3de - Altus van Niekerk
- 13de - Johan Guelpa
- 7de - Helene Greeff
- 10de - Carla Snijders
- 1ste - Scarlett van der Merwe
Mooi so, Jan van Riebeeckers!
|
|
|
ALGEMEEN
|
|
Noodhulpkursus: 4 en 5 Augustus 2023
|
Let asseblief op die tye van die noodhulpkursus wat BLS Medical vir ons kom aanbied.
|
Lokaal: Mev. Turkstra se klas Vrydag 4 Aug: 14:15 – 17:00 Saterdag 5 Aug: 08:00 – 15:30
|
Dankie aan almal wat hul inskrywingsfooi op Karri betaal het.
|
|
|
Doekies en deodorant vir dames
|
Spreuke 31:26, " As sy praat, is dit met wysheid; as sy leiding gee, is dit met liefde.’"
|
Die ATKV-Strepiestak nader graag die Jan van Riebeeck-gemeenskap om deel te wees van ons Vrouedag-insamelinginisiatief. Die SA-Kinderhuis is ons tak se liefdadigheidsfokus en ons wil graag die dames daar verras met geskenkpakkies vir Vrouedag.
|
Stuur dus asseblief doekies en deodorant na die skool voor of op Maandag 7 Augustus 2023 of gee 'n donasie van R20, R50 of R100 sodat ons die produkte kan aankoop.
|
Baie dankie dat u ons steun in ons gemeenskapsdiens.
|
|
|
Spaarmark: 11 Augustus 2023
|
Dit is weer tyd vir #JanGroen se jaarlikse spaarmark waar ons oulike tweedehandse kledingstukke teen spotgoedkoop pryse verkoop en sommer die las op Moeder Aarde verlig deur nie te vermors nie.
|
Bring alle kledingstukke wat jy nie meer dra nie skool toe, sodat ons dit kan verkoop. Alle fondse wat ons insamel, sal vir ons herwinningsprojek aangewend word. Ondersteun ons asseblief, want dit is werklik vir 'n goeie saak!
|
DATUM: Vrydag 11 Augustus TYD: 2de pouse PLEK: Die Gat Kledingstukke moet skoon, heel en in 'n goeie toestand wees en kan van Maandag tot Donderdag in me. Nimmo se klas afgelewer word.
|
|
|
Truie vir ons 2024-matrieks
|
Ons wil graag vanjaar weer die matriektruie vroegtydig bestel; sodoende kry die leerders meer tyd om die truie te dra. Die matriektrui gaan weer soos in die verlede lyk: ’n wit trui met knope, blou moue, die skoolwapen en MX 2024 op die rug geborduur. Ons begin volgende week met die aanpas van die truie.
|
Die volle bedrag moet asseblief teen 15 Augustus betaal wees. Kostes beloop R400 en alle betalings geskied via Karri. Ouers wat ’n donansie wil maak of ’n trui vir ’n ander leerder wil borg, is baie welkom om dit te doen!
|
Daar gaan slegs een bestelling geplaas word, so indien u kind ‘n trui bestel, moet hy/sy daarvoor betaal en dit neem. Ons wil graag sien dat ons matrieks volgende jaar ’n mooi eenheid vorm.
|
|
|
Ons thrift...
|
Maak skoon, maak leeg en skenk als vir ons eie Jan van Riebeeck Plezier Markt wat vir 23 September beplan word!
|
Ons versoek dat ouers enige van die onderstaande produkte wat in 'n goeie toestand is, vir die skool sal skenk. Produkte wat ons ontvang, sal gedurende die mark ten bate van die skool by ons Thrifting-stalletjie verkoop word.
|
- meubels
- juweliersware
- handsakke / sakke
- klere (volwassenes en kinders)
- boeke
- legkaarte
- lap
- wol
Enige produkte wat ons nie verkoop nie, sal aan ander liefdadigheidsorganisasies geskenk word. Alle skenkings kan na me. Sanette van Loggerenberg by die skool gestuur word. Indien enige items by u opgelaai moet word, kontak asseblief vir Jana Rademeyer (navonjane@gmail.com of 083 459 9965) om reëlings te tref. Dankie by voorbaat vir u ondersteuning!
|
|
|
|
|
Winterbal 2023
|
Die Winterbal word jaarliks in die derde kwartaal aangebied en die fondse wat hiermee ingesamel word, vir die matriekgeskenk aan die skool aangewend word. Die matriekkomitee kan jaarliks hul inisiatief en kreatiwiteit wys met die reël van hierdie funksie en ook vir oulaas saam met die Jan van Riebeeckers kuier. Dit is ’n geleentheid wat graag deur alle Jan van Riebeeckers bygewoon word.
|
Alle Jan van Riebeeckers (gr. 8 tot 12) is welkom om hierdie spesiale pretgeleentheid by te woon en dan die week voor interskole-geesweek op ’n gesellige noot af te skop.
|
Datum: Donderdag, 10 Augustus 2023 Kostes: R80 per leerder Drag: Deftig-informeel Tema: “Come on Barbie let’s go party” Tyd: 18:00 – 21:00 Plek: Skoolsaal Daar sal ’n snoepie met eet- en drinkgoed beskikbaar wees.
|
Daar is ook pryse te wen vir… Beste Barbie-kostuum Beste Ken-kostuum Beste Barbie-en-Ken-paartjie
|
Kliek gerus hier vir meer inligting en let asseblief op die reëlings indien u kind ’n metgesel van buite die skool wil saamnooi.
|
|
|
|
|
Welgemeend Maand van Kuns: 2 tot 31 Augustus 2023
|
Ons sien uit na ’n besondere kunsmaand wat Woensdag afskop het! Vanjaar se tema, Kaapse oomblikke, beloof om besoekers te beïndruk en te bederf met ongelooflike kunswerk en heerlike kuiergeleenthede.
|
Kliek gerus hier om na die algemene advertensie te kyk en hier om die volledige program af te laai. By voorbaat dankie vir almal se ondersteuning!
|
|
|
Drieankerbaai Gemeente-veiling
|
Ondersteun gerus Drieankerbaai Gemeente se jaarlikse veilingpoging om 18:00 op 8 Augustus. Kliek hier vir al die inligting!
|
|
|
Matrieks se suikerstormloop...
|
Die matrieks het Vrydag, 28 Julie tydens pouse weer lekker saamgekuier op die koshuis se dakstoep. Almal het bygedra tot die heerlike sjokalade-fondue. Dit was tyd om in te haal, stories van die week uit te ruil en nuwe herinneringe te bou. Wat 'n heerlike positiewe ervaring en voorwaar ‘n wenresep vir goeie gesels! Dankie aan al ons matriekouers vir u volgehoue ondersteuning.
|
|
|
|
Adertensies
|
|
|
|
|
|
|
|