>> Besoek die volledige kalender op die webtuiste <<

UIT DIE SKOOLHOOF SE KANTOOR

Dit was ongelukkig maar 'n ontwrigtende week hier by die skool met die taxi-stakings wat tot grootskaalse chaos bygedra het: baie van ons leerders kon nie by die skool uitkom nie, sportwedstryde moes uitgestel word - en ongelukkig moes ons die winterbal kanselleer.

Baie dankie aan ouers/voogde en personeel wat tog spesiale moeite gedoen het en reëlings getref het om by die werk te wees en te verseker dat u kind(ers) teenwoordig is. Ons het baie begrip vir diegene wat nie enige reëlings kon tref nie, maar ek het in hierdie week weer besef hoe mense uit hul pad sal gaan om te verseker dat hul kinders nie skool misloop nie - dit laat 'n mens met 'n warm gevoel in die hart.

Besondere dankie ook aan mnr. Bryan Schwartz en sy terreinspan asook me. Sanette van Loggerenberg en haar skoonmaakdiensspan wat werklik met groot moeite gesorg het dat als steeds vlot verloop hier ten spyte van die oorgrote meerderheid van ons ondersteuningpersoneel wat ongelukkig nie op hul pos kon wees nie.

Leerders wat akademiese werk gemis het, moet verseker dat hul met hul onderwysers kontak maak om werk in te haal. Ons ondersteun jul graag om weer op dreef te kom. Die onderwysers het ook in sommige gevalle werk op die Google Classroom-platform gepos.

Ons begin nou ook met groot opgewondenheid uitsien na ons interskole teen Hoërskool Dirkie Uys volgende Vrydag en Saterdag.

Dit is 'n verwagting dat al ons leerders volgende Saterdag, 19 Augustus, netjies geklee in skooldrag, die interskole op Moorreesburg bywoon.​ Daar sal busvervoer vir al ons leerders beskikbaar wees (ook vir diegene wat Vrydag deelneem) en hierdie opname is vandag by die skool gedoen.
Ons wil baie graag met die hele skool die dag daar geniet en veral tydens die seremonies voor die eerste span-wedstryde al die Jan van Riebeeckers langs die bane en velde sien.

Leerders wat om baie geldige redes nie die dag kan bywoon nie, moet asseblief skriftelike verskoning by my aanteken. Ouers/Voogde kan teen eerskomende Maandag, 14 Augustus, 'n e-pos aan my (skoolhoof@janvanriebeeck.co.za) in dié verband stuur. Ons sal hierna die busbespreking finaliseer.

Die sportdepartement het ook 'n dringende behoefte aan ekstra oefentyd aangesien baie tyd verlore gegaan het met die voortslepende taxi-stakings. Sportoefeninge sal daarom volgende week vanaf Maandag tot Donderdag vir al ons sportspanne wat deelneem om 14:30 begin en eers om 17:00 eindig.​ Die skoolbusse sal ook eers om 17:00 vertrek.

Daar sal nie eerskomende Maandagmiddag kooroefening wees nie om die sportspanne te akkommodeer. Die koor oefen volgende week Dinsdag- en Woensdagoggend vanaf 7:15 tot 8:00.

Ons maak werklik op al ons ouers/voogde en leerders se samewerking en ondersteuning staat om 'n suksesvolle interskole in Moorreesburg te verseker.


Kontak gerus mnr. Abré van Heerden (abre.vanheerden@janvanriebeeck.co.za) indien u enige verdere navrae het.

Geniet die naweek!

Pieter Rademeyer
Skoolhoof

AKADEMIE

Assesseringsprogam: Kwartaal 3

Kliek hier vir die assesseringsprogram vir kwartaal 3.

Intervensie: Kwartaal 3

Kliek hier vir die intervensieprogram vir kwartaal 3. Alle Jan van Riebeeckers word aangemoedig om die intervensieklasse getrou by te woon!
’n Herinnnering aan die graad 12-Rekeningkundeleerders van die verandering in Winterskool-datums: Maandag, 14 Augustus vanaf 14:15 tot 15:45 in me. Meyer se klas. Dit is 'n verpligte sessie vir alle graad 12-Rekeningkundeleerders.

Tutorklasse - Kry hulp met jou vakverwante probleme!

Benodig jy ekstra akademiese ondersteuning? Is jy bekommerd oor verlede kwartaal se uitslae? Moenie bekommer nie! Ons het ʼn oplossing vir jou. Jan van Riebeeck se tutor-klasse is hier om jou te help. Ons bekwame tutors is beskikbaar om jou by te staan met enige vrae of uitdagings wat jy mag ervaar. Kry individuele hulp en aandag om te verseker dat jy die kurrikulum beter verstaan.

Leerders wat hulp benodig met vakverwante probleme, kan die volgende MR-lede vir tutor-klasse kontak:
Cara Beyer: cara.beyer@janvanriebeeck.org
Adrian Huysamen: adrian.huysamen@janvanriebeeck.org
Kontak ons vandag nog om jou tutor-sessie te reël.

UK-Wiskundekompetisie: ronde 2

Drie pare van ons leerders wat vir die UK-Wiskundekompetisie ingeskryf het, het deurgedring na die tweede ronde.

Baie geluk aan hierdie leerders - ons sien daarna uit om jul vordering dop te hou!

UCT Irma Stern Museum-uitstalling

Die WKOD het gedurende Kwartaal 2 'n kunsprojek vir alle graad 11-leerders wat Visuele kuns en/of Ontwerp as vak neem, geloods. Die projek word in samewerking met die UCT Irma Stern Museum aangebied. Alle leerders se werke word digitaal ingestuur en ten toon gestel op 'n virtuele platform. Dit is deur 'n onafhanklike paneel van Kuns-en-Ontwerp spesialiste beoordeel, waar die beste werke in die provinsie dan gekies is om by die UCT Irma Stern Museum uitgestal te word.

Ons is baie trots dat Amarissa Bouwer, een van Jan van Riebeeck se graad 11-leerders, se werk vir hierdie uitstalling gekies is. Die opening van die uitstalling is op 16 September en kan tot 23 September besigtig word.

Gasvryheidstudies-vakdag

Die gr. 9's het Dinsdag, 8 Augustus, die geleentheid gehad om meer oor die wetenskap van kosmaak te leer tydens die Gasvryheidstudies-vakdag. Elkeen kon ook deel in heerlike gebakte Hertsoggies en Suurlemoenskyfies. Ons hoop hierdeur dat leerders geïnspireer word om die vak vir volgende jaar te kies.

Gasvryheidstudie maak so 'n groot deel uit van ons daaglikse lewe en die vaardighede wat leerders aanleer, kan vir almal van waarde wees.

KULTUUR

Kooroefening

Die koor oefen nie Maandagmiddag nie, maar Dinsdag- en Woensdagoggend vanaf 07:15 tot 08:00. Dis baie belangrik dat almal die oefening bywoon. Nuwe musiek word aangeleer met die oog op ons toer aan die einde van die kwartaal.

SPORT

Sportoefeninge: 14 tot 17 Augustus 2023

Sportoefeninge sal volgende week vanaf Maandag tot Donderdag vir al ons sportspanne wat aan die interskole deelneem om 14:30 begin en eers om 17:00 eindig.​

Die skoolbusse sal ook eers om 17:00 vertrek.

Interskoleprogram: 16,18 & 19 Augustus 2023

Ons sien uit na die interskole teen Hoërskool Dirkie Uys volgende naweek. Busvervoer is beskikbaar en ons nooi graag al ons ouers/voogde en oudleerders uit om die dae saam met ons in Moorreesburg te kom geniet!

Kliek hier vir die brief van Dirkie Uys.
Kliek hier vir die Interskoleprogram.
Kliek hier vir die terreinplan van Gene Louw Sportgronde (rugby en hokkie)

ALGEMEEN

Truie vir ons 2024-matrieks

Ons wil graag vanjaar weer die matriektruie vroegtydig bestel; sodoende kry die leerders meer tyd om die truie te dra. Die matriektrui gaan weer soos in die verlede lyk: ’n wit trui met knope, blou moue, die skoolwapen en MX 2024 op die rug geborduur. Ons begin volgende week met die aanpas van die truie.

Die volle bedrag moet asseblief teen 15 Augustus betaal wees. Kostes beloop R400 en alle betalings geskied via Karri. Ouers wat ’n donansie wil maak of ’n trui vir ’n ander leerder wil borg, is baie welkom om dit te doen!

Daar gaan slegs een bestelling geplaas word, so indien u kind ‘n trui bestel, moet hy/sy daarvoor betaal en dit neem. Ons wil graag sien dat ons matrieks volgende jaar ’n mooi eenheid vorm.

Ons thrift...

Maak skoon, maak leeg en skenk als vir ons eie Jan van Riebeeck Plezier Markt wat vir 23 September beplan word!

Ons versoek dat ouers enige van die onderstaande produkte wat in 'n goeie toestand is, vir die skool sal skenk. Produkte wat ons ontvang, sal gedurende die mark ten bate van die skool by ons Thrifting-stalletjie verkoop word.
  • meubels
  • juweliersware
  • handsakke / sakke
  • klere (volwassenes en kinders)
  • boeke
  • legkaarte
  • lap
  • wol
Enige produkte wat ons nie verkoop nie, sal aan ander liefdadigheidsorganisasies geskenk word. Alle skenkings kan na me. Sanette van Loggerenberg by die skool gestuur word. Indien enige items by u opgelaai moet word, kontak asseblief vir Jana Rademeyer (navonjane@gmail.com of 083 459 9965) om reëlings te tref. Dankie by voorbaat vir u ondersteuning!

Matriekraad vasvra-aand: 3 Augustus 2023

Die akademiese portefeulje van ons matriekraad het die jaarlikse vasvra-aand aangebied - en was dit opwindend!

Die aand het begin met ‘n ysbreker-Kahoot waar Luca Zulch en Carla Snijders (beide graad 9) se span, Flinkdinkers, voorgeloop het. Na afloop van nog twee Kahoots, was die Flinkdinkers al agt punte voor en was daar omtrent niks wat enige ander span sou kon doen om hul puntetelling hoër as agt te kry nie.

Die Flinkdinkers was die wenners van ‘n R300 Shift-geskenkbewys en twee ander spanne het die 2de plek gedeel: die spanne van Giulia Nel en Lipumile Olifant, en Fredrich Erasmus en Daniel Wasserman.

Baie geluk aan almal wat deelgeneem het en veral aan ons knap graad 9-span!

Huis Jordaan-uitstappie

Dogters en personeel van Huis Jordaan het onlangs die nuwe Barbie-fliek gaan kyk. Die "op dress" was pret en die boodskap gepas. Die uitstappie is in goeie gees geniet!

Kongres: Trauma-ingeligte klaskamers en -skoolkultuur

Groot dank aan ons WKOD Metro sentrale distrikskantoor vir die uitnodiging om dié waardevolle inligtingsessies en werkswinkel te kon bywoon.

Dit was 'n voorreg om te luister na passievolle sprekers met soveel beroepservaring en praktiese benadering tot "creating resilient classrooms" - veerkragtigheid in klaskamers.

Sprekers het ingesluit: Dr Ewald Crause (Senior Sielkundige WKOD), Dr Rene Nassen (Senior lektor - Departement Psigiatrie, Stellenbosch Universiteit), Dr Merryn Young (Sielkundige) & die "Positive Behaviour Intervention Team" (Moosa Mohadick- Hoof van die sentrum, Clive Cairns - sielkundige, Danielle Riley - opvoedkundige sielkundige, Saleh Booley - berader).

Welgemeend Maand van Kuns: 2 tot 31 Augustus 2023

Die Welgemeend Maand van Kuns is baie goed op dreef en ons is dankbaar vir die wonderlike ondersteuning wat ons van die skoolgemeenskap ontvang. Vanjaar se tema, Kaapse oomblikke, beloof om besoekers nog tot aan die einde van die maand te beïndruk en te bederf met die ongelooflike kunswerk en heerlike kuiergeleenthede.

Kliek gerus hier om na die algemene advertensie te kyk en hier om die volledige program af te laai. By voorbaat dankie vir almal se ondersteuning!

Adertensies

Besoek gerus hul webtuiste vir meer inligting. https://wenwetenskap.co.za/
facebook instagram 
Email Marketing Powered by MailPoet