|
|
|
UIT DIE SKOOLHOOF SE KANTOOR
Dit was besonder lekker om die heerlike JvR-gees die afgelope week te kon beleef in aanloop na hierdie naweek se interskole teen Dirkie Uys.
|
Baie dankie aan mnr. Abré van Heerden en me. Razelle Hanekom wat aan die hoof gestaan het van al die reëlings en ook gister 'n spesiale Big Brag-geleentheid vir ons leerders gereël het. Ons waardeer ook die ondersteuning en teenwoordigheid van ons ouers, oudleerders en die Jannies van Laerskool Jan van Riebeeck by hierdie geleentheid.
|
Ons maak staat op al ons leerders en ouers se ondersteuning die naweek in Moorreesburg. Ons hou duimvas vir mooi sport- en kultuuroomblikke. Ons gashere het reeds baie moeite gedoen en ons weet hul gaan almal met groot gasvryheid verwelkom.
|
Mag dit vir ons almal 'n suksesvolle naweek wees waar goeie sportmangees en ware JvR-trots sal seëvier!
|
Veilig reis en geniet die naweek!
|
|
|
|
AKADEMIE
|
|
Graad 12-rekordeksamen: leerdersgids
|
|
|
Assesseringsprogam: Kwartaal 3
|
Kliek hier vir die assesseringsprogram vir kwartaal 3.
|
|
|
Intervensie: Kwartaal 3
|
|
|
Kliek hier vir die intervensieprogram vir kwartaal 3. Alle Jan van Riebeeckers word aangemoedig om die intervensieklasse getrou by te woon!
|
|
|
|
’n Herinnnering aan die graad 12-Rekeningkundeleerders van die verandering in Winterskool-datums: Maandag, 21 Augustus vanaf 14:15 tot 15:45 in me. Meyer se klas. Dit is 'n verpligte sessie vir alle graad 12-Rekeningkundeleerders.
|
|
|
Fisiese Wetenskap: Graad 11
|
Let asseblief daarop dat die Graad 11 FW-prakties geskuif word na Maandag, 28 Augustus 2023.
|
|
|
Graad 9-Ouerinligting
|
Kliek hier vir die brief wat alle gr.9-ouers / voogde moet lees rakende die vakkeuse-inligtingsessie op Woensdag, 30 Augustus 2023, asook die psigometriese toetse wat deur alle graad 9-leerders afgelê moet word.
|
|
|
|
|
Tutorklasse - Kry hulp met jou vakverwante probleme!
|
Benodig jy ekstra akademiese ondersteuning? Is jy bekommerd oor verlede kwartaal se uitslae? Moenie bekommer nie! Ons het ʼn oplossing vir jou. Jan van Riebeeck se tutor-klasse is hier om jou te help. Ons bekwame tutors is beskikbaar om jou by te staan met enige vrae of uitdagings wat jy mag ervaar. Kry individuele hulp en aandag om te verseker dat jy die kurrikulum beter verstaan.
|
|
|
|
|
KULTUUR
|
|
Kooroefening
|
Die koor oefen Maandagmiddag vanaf 14:15 tot 16:00. Dis baie belangrik dat almal die oefening bywoon. Nuwe musiek word aangeleer met die oog op ons toer aan die einde van die kwartaal.
|
|
|
Tienertoneel: 21 tot 26 Augustus
|
Ons is baie opgewonde om volgende week in die ATKV-Tienertoneelkompetisie met drie tienertoneelproduksies in die Baxter Teater te spog!
|
Sien hieronder die volledige program van Jan van Riebeeck se produksies:
|
- As die donker my roep - 11:00
- Praat gou weer - 15:30
- Die Dowwe Digters Klub - 20:00
|
|
Rotary vaar baie goed!
|
Ons Rotary-debatspan het Maandag, 14 Augustus, in die oktofinale van die Rotary- debatliga deelgeneem. Die span, onder die leierskap van Lisa Best, het Westerford geklop, al was twee van ons sprekers (Nayla Walker en Albert Griesel) nog junior debatteerders.
|
Die onderwerp was: This house believes that international development institutions should not finance natural resource extraction projects in corrupt states.
|
Ten spyte van die moeilike inhoud was die span geprys vir hul analise. Ons sien uit na die kwarteindrondte op 21 Augustus.
|
|
|
Kaapse Afrikaanse Eisteddfod-uitslae vir Kuns
|
Vyf Jan van Riebeeck-leerders het aan die jaarlikse Kaapse Afrikaanse Eisteddfod se Kunsafdeling deelgeneem. Leerders moet twee kunswerke inskryf om in aanmerking te kom vir 'n medalje.
|
Ons is trots om te sê dat vier van hierdie leerders hul onderskeie afdelings gewen het, en op 13 Oktober hul silwer medaljes sal ontvang tydens die prestige-aand, wat hierdie jaar by Hoërskool Jan van Riebeeck aangebied sal word.
|
Die wenners is as volg: Graad 8: Mïla Joubert met 'n gemiddeld van 91,5%
|
Graad 10: Amuran Bester met 'n gemiddeld van 94,5%
|
Graad 11: Xenia Massyn met 'n gemiddeld van 90,3%
|
Graad 12: Zia Meintjes met 'n gemiddeld van 91,5%
|
Baie geluk aan hierdie vier leerders. Ons is inderdaad trots!
|
|
|
|
|
SPORT
|
|
Interskoleprogram: 16,18 & 19 Augustus 2023
|
Ons sien uit na die interskole teen Hoërskool Dirkie Uys hierdie naweek. Ons nooi graag al ons ouers/voogde en oudleerders uit om die naweek saam met ons in Moorreesburg te kom geniet!
|
|
|
Netbalwedstryde vs. Rustenburg: 15 Augustus 2023
|
Verskeie spanne het Dinsdag, 15 Augustus, by Rustenburg Girls' High School aan netbalwedstryde deelgeneem. Die uitslae is as volg:
|
|
|
Hokkie: Seuns vs. De Kuilen, 12 Augustus
|
Op Saterdag, 12 Augustus, speel ons seunshokkiespanne teeen Hoërskool De Kuilen weg. Die o.16-seuns staan hul man teen n sterk span en speel gelykop 1-1. Die o.19's speel teen 'n baie sterk span en verloor ongelukkig 6-0.
|
|
|
|
ALGEMEEN
|
|
Bloedskenk: 21 Augustus 2023
|
Leerders en ouers is welkom om op Maandag, 21 Augustus 2023, vanaf 10:30 tot 14:30, saam te kom bloed skenk in die skoolsaal.
|
|
|
Loslitdag, 1 September 2023
|
Jy kan jou Loslitdag-plakker op Karri koop teen R20 per plakker en dan op Vrydag, 1 September in gewone klere skool toe kom. Alle fondse wat ingesamel word, is vir persone met gestremdhede en 20% van die fondse word aan ons skool geskenk.
|
Vanjaar is die tema: SAVE A SMILE! Sit jou mooiste glimlag op en ondersteun asseblief hierdie belangrike inisiatief om 'n verskil in die lewe van 'n gestremde persoon te maak.
|
|
|
|
Truie vir ons 2024-matrieks
|
Ons wil graag vanjaar weer die matriektruie vroegtydig bestel; sodoende kry die leerders meer tyd om die truie te dra. Die matriektrui gaan weer soos in die verlede lyk: ’n wit trui met knope, blou moue, die skoolwapen en MX 2024 op die rug geborduur. Ons begin volgende week met die aanpas van die truie.
|
Die volle bedrag moet asseblief teen 21 Augustus betaal wees. Kostes beloop R400 en alle betalings geskied via Karri. Ouers wat ’n donansie wil maak of ’n trui vir ’n ander leerder wil borg, is baie welkom om dit te doen!
|
Daar gaan slegs een bestelling geplaas word, so indien u kind ‘n trui bestel, moet hy/sy daarvoor betaal en dit neem. Ons wil graag sien dat ons matrieks volgende jaar ’n mooi eenheid vorm.
|
|
|
Ons thrift...
|
Maak skoon, maak leeg en skenk als vir ons eie Jan van Riebeeck Plezier Markt wat vir 23 September beplan word!
|
Ons versoek dat ouers enige van die onderstaande produkte wat in 'n goeie toestand is, vir die skool sal skenk. Produkte wat ons ontvang, sal gedurende die mark ten bate van die skool by ons Thrifting-stalletjie verkoop word.
|
- meubels
- juweliersware
- handsakke / sakke
- klere (volwassenes en kinders)
- boeke
- legkaarte
- lap
- wol
Enige produkte wat ons nie verkoop nie, sal aan ander liefdadigheidsorganisasies geskenk word. Alle skenkings kan na me. Sanette van Loggerenberg by die skool gestuur word. Indien enige items by u opgelaai moet word, kontak asseblief vir Jana Rademeyer (navonjane@gmail.com of 083 459 9965) om reëlings te tref. Dankie by voorbaat vir u ondersteuning!
|
|
|
Huis Jordaan-aktiwiteite
|
Die juniors en senior dogters het Saterdagaand, 12 Augustus, mekaar uitgedaag en daar is behoorlik gespook om die beoordelaars te beïndruk.
|
Koekbak is beslis nie 'n eenvoudige speletjie nie!
|
Die regte verhouding van bestanddele, regte metodes en 'n positiewe gesindheid, is die geheim om als in die lewe met sukses aan te pak. Die juniors het net-net as wenners uit die stryd getree. Hierdie lekker pret en gesonde kompetisie is natuurlik afgesluit met "koek en tee". Dankie aan ons koshuisdienspersoneel vir hul passie.
|
|
|
'n Lekker sonnige oggend by die see soos Sondag,13 Augustus, is altyd 'n wenner. Die dogters was baie dankbaar vir hierdie vinnig wegglip na Kampsbaai-strand. Die sonnetjie het gesorg dat almal rustig en weer slaggereed is vir die besige interskoleweek en assesserings wat voorlê.
|
|
|
|
Winterbal
|
Dit is lekker om jonk te wees!
|
Met die teleurstelling dat die winterbal gekanselleer moes word as gevolg van die taxi-stakings en onrustigheid in stad die afgelope week, het ons 'n ander plan gemaak...
|
Die twee langer pouses Vrydag,11 Augustus, was die hoogtepunt van die skooldag - vir die leerders én die onderwysers! Ja, die skoolsaal het gekook van die JvR-energie!
|
Beslis 'n ekstra lekkerte was dit, nie net omdat dit Vrydag was nie, maar die Barbie-tema van die winterbal is deurgevoer, daar is mooi aantrek, wafelroomys is geëet, JvR-gees is gebou en die lekker sokkiejol het die onstuimighede en struikelblokke van die afgelope week sommer uitgevee!
|
Ons matriekkomitee se kreatiewe saalversierings het boonop vir onthou-foto's gesorg.
|
Vrydag, 11 Augustus het aan elke Jan van Riebeecker behoort. Lekker! Dankie aan elke ouer, voog en onderwyser wat help bou aan ons kosbare kinders.
|
|
|
Welgemeend Maand van Kuns: 2 tot 31 Augustus 2023
|
Die Welgemeend Maand van Kuns is baie goed op dreef en ons is dankbaar vir die wonderlike ondersteuning wat ons van die skoolgemeenskap ontvang. Vanjaar se tema, Kaapse oomblikke, beloof om besoekers nog tot aan die einde van die maand te beïndruk en te bederf met die ongelooflike kunswerk en heerlike kuiergeleenthede.
|
Kliek gerus hier om na die algemene advertensie te kyk en hier om die volledige program af te laai. By voorbaat dankie vir almal se ondersteuning!
|
|
|
Adertensies
|
|
|
|
|
|
|