>> Besoek die volledige kalender op die webtuiste <<

UIT DIE SKOOLHOOF SE KANTOOR

Ons matrieks het Woensdag met hul baie belangrike rekordeksamen begin en die hele Jan van Riebeeck-familie hou duimvas dit met hul sal goed gaan. Die meerderheid graad 12's lewer werklik deurgaans uitstekende werk en ons is nou reeds opgewonde oor die uitslae van die NSS-eksamen aan die einde van die jaar!

Baie dankie aan al die ouers/voogde wat die graad 9-vakkeuseaand bygewoon het. Dankie ook aan die graadhoof, mnr. Wilbur Kastoor, wat gesorg het vir ’n baie interessante sessie met uitstekende sprekers. Ek wil u graag aanmoedig om die gesprekke rondom vakkeuses vir die volgende paar weke by die huis gereeld aan te roer sodat ons leerders gereed is om hierdie belangrike keuse aan die begin van volgende kwartaal uit te oefen. Ons het ’n paar skuiwe aan die vakgroepkombinasies gemaak en glo dit sal ’n goeie bydrae lewer tot leerders se voorkeurkeuses. Kontak gerus me. Liza Serrao of mnr. Wilbur Kastoor indien u enige verdere vrae het.

Baie sterkte aan ons rugby- en netbalspanne wat hierdie naweek aan 7's en Fast 5-toernooie deelneem. Ons speel teen sterk opponente en wens jul almal voorspoed toe. Die blootstelling aan hierdie soort sportgeleenthede en meer uitdagende bepalings is van onskatbare waarde. Dankie aan mnr. Abré van Heerden en me. Razelle Hanekom wat met groot passie die sportportefeulje bestuur en talle geleenthede vir ons leerders skep.

Ons verwelkom vandag graag twee nuwe personeellede: me. Roelene van Loggerenberg is aangestel in die adminkantoor om ondersteuning te bied in die finansiële afdeling van die skool. Ons vertrou dat u gelukkig sal wees by ons skool!
Me. Jana Rademeyer staan vir Septembermaand in die Afrikaansdepartement in (graad 10 en 11) in die pos van me. Roosmaryn Schwartz, wat vandag haar nuwe rol as vakadviseur: Wynlande ingeneem het. Me. Leandé van Heerden is aangestel as ons nuwe Afrikaansonderwyser en sluit in die vierde kwartaal by ons aan. Ons stel haar binnekort op ons sosiale media-platforms aan u bekend.

Me. Elize von Versen neem ook vanaf vandag tot aan die einde van Maart 2024 waar in die verrykingshoofportefeulje wat me. Schwartz bestuur het. Sy is ook nou amptelik deel van die bestuurspan (SMT) van die skool. Sterkte met al die nuwe werksaamhede van hierdie belangrike aspek in die skool, me. Von Versen.

Dit is eerskomende Maandag verkiesingdag hier by Jan van Riebeeck en ek wens al die kandidate wat hulself beskikbaar gestel het om die nuwe leierskaprolle in die skool in te neem, sterkte toe. Die nuwe matriekraad en VRL word Woensdag aangekondig en die matriekraadlede sal reeds Donderdag (na skool en aand) en Vrydagoggend hul opleidingkamp bywoon.

Met die oorgang van die seisoene, mag leerders vanaf volgende week tot aan die einde van die kwartaal winter- of somerdrag dra. Leerders moet asseblief die korrekte voorskrifte volg en te alle tye netjies lyk.

Ek doen ook ’n dringende beroep op ons ouers/voogde om te verseker dat u kind se haarstyl en algemene voorkoms volgens die voorskrifte in die gedragskode is. Ondersteun ons asseblief sodat ons nie gedurig leerders oor hul voorkoms moet aanspreek nie.
Goeie dissipline, trots en respek vir reëls word eerstens tuis geleer en dan by die skool verder vasgelê - nie andersom nie. Dankie vir u ondersteuning in dié verband.

Mooi naweek!

Pieter Rademeyer
Skoolhoof

Plezier Markt: 23 September 2023

Hoërskool Jan van Riebeeck bied op Saterdag, 23 September 2023 die Plezier Markt by ons skool aan. Die Plezier Markt gaan oor die viering van die verskillende kos en kulture binne die Kaapstad-stadskom. Kom geniet 'n wye verskeidenheid van stalletjies en verskeie kosse op ons skoolterrein. Daar vind ook verskeie opvoerings gedurende die dag by ons nuwe amfiteater plaas.

Indien jy daarin belangstel om 'n stalletjie by die dag te hê, volg gerus die skakel vir inskrywings en meer inligting. Ons verwelkom innoverende produkte vanuit ons gemeenskap. https://forms.gle/FT98V24AY46oq8DR8. Sien jou daar!

AKADEMIE

Graad 12-rekordeksamen: leerdersgids

Kliek hier vir die Graad 12 rekordeksamen leerdersgids. 'n Hardekopie is ook verlede week aan elke graad 12-leerder uitgedeel.

Assesseringsprogam: Kwartaal 3

Kliek hier vir die assesseringsprogram vir kwartaal 3.

Intervensie: Kwartaal 3

Kliek hier vir die intervensieprogram vir kwartaal 3. Alle Jan van Riebeeckers word aangemoedig om die intervensieklasse getrou by te woon!

ATKV-Junior Afrikaans-olimpiade: 7 September 2023

Die onderstaande graad 8 en 9 -leerders lê op Donderdag, 7 September 2023, na skool hul ATKV-Junior Afrikaans-olimpiade in die IT-klas af.

Graad 8
  • S. Bojé
  • D. Buitendag
  • S. Burger
  • A. Dawes
  • H. Greeff
  • A. Griesel
  • C. Swanepoel
  • A. van Niekerk
  • L. Warren
  • S. de Kock
Graad 9
  • F. Schwartz
  • M. Symington
  • M. van den Berg
  • N. Walker
  • D. Wasserman
  • L. Zulch
Voorspoed aan dié Jan van Riebeeckers!

WOW Distrik-spelfees

Nege Jan van Riebeeckers het op Vrydag, 25 Augustus 2023, hul Afrikaans Huistaal- spelvernuf in die distrik gaan toets en hul baie goed van hul taak gekwyt.

Die uitslae lees soos volg:

Graad 8
  • Cara Swanepoel - Eerste
  • Helene Greeff - Tweede
  • Albert Griesel - Derde
Graad 9
  • Mia van den Berg - Eerste
  • Mia Symington - Tweede
  • Mia Fouché - Derde
Graad 10
  • Hanré Roos - Eerste
Ons is baie trots op ons leerders en sien daarna uit om hul vordering dop te hou. Hul meet verder kragte op 9 September 2023 by Hoërskool Luckhoff in Stellenbosch, waar hulle aan die Wes-Kaapse provinsiale ronde sal deelneem. Ons hou styf duimvas!

KULTUUR

ATKV-DigiPraat-inskrywings

Die ATKV-DigiPraatkompetisie is ’n heerlike geleentheid vir leerders om as sprekers te ontwikkel sonder die druk van ’n lewende gehoor. Leerders kan ’n toespraak oor enige tema of onderwerp lewer, wat redeneer, vermaak of inlig en ’n video daarvan vir die kompetisie neem.

Koste: R150
Toespraaklengte: 3 tot 5 minute
Formaat: Video-opname

Leerders moet individueel inskryf en betaling word direk aan die ATKV gedoen. Kliek hier om die deelnemersgids te lees.

Kontak gerus me. Linda van der Walt vir enige navrae.

SPORT

Rugby: Villagers 7's

Ons 1ste rugbyspan neem die naweek aan die Villagers 7's-toernooi deel.

Die toernooi vind al vir 52 jaar by Villagers-rugbyklub plaas. Ons sê baie dankie aan Villagersr-rugbyklub wat die geleentheid vir ons kinders moontlik maak sowel as Cad4all: Institute of Applied Architecture wat optree as hoofborg. Ons rugbydepartement se afrigters het op Woensdag, 30 Augustus die openingsfunksie bygewoon.

Na afloop van die naweek se toernooi word daar 'n droomspan gekies om in George 10's te gaan speel. Sterkte, Manne!

Marius Schoeman-7's en -5's-programme vir hokkie en rugby

Ons is opgewonde oor die naweek van 7 tot 9 September wanneer ons o.17-hokkiespanne, seuns en dogters, asook die o.15- en o.17-rugbyspan deelneem aan die Marius Schoeman-toernooi. Die beste sportspanne in die land ding teen mekaar mee. Die wedstryde se formaat is 5-hokkie en -netbal en 7's-rugby.

Ouers en leerders is welkom om ons spanne te ondersteun en hul gunsteling- nasionale spelers te kom ontmoet. Daar sal boonop wêreldbekerwedstryde in Hennie se tent uitgesaai word. Verskeie kompetisies soos doelskop vind ook plaas; kom ondersteun gerus en wen 'n paar pryse in die proses. Die rugby- en hokkieprogramme is reeds beskikbaar. Ons wag nog vir die o.15- en o.17-dogters se netbalprogram.

Kliek op die onderstaande skakels vir die onderskeie programme wat beskikbaar is:

Atletiek: Mini-byeenkomste in September

Die twee beste atletiekskole in hul verskeie sones gaan die seisoen afskop deur teen mekaar in 4 verskillende minibyeenkomste mee te ding, sowel as 'n aanlyn-worpbyeenkoms. Ons eerste minibyeenkoms vir worpe en spronge vind Dinsdag, 12 September by Hoërskool Stellenberg plaas. Dié volgende dag sal die atlete by Hoërskool Jan van Riebeeck die baanitems aandurf. Hier is die twee programme vir die onderskeie dae. Almal is meer as welkom om te kom deelneem!

Kliek op die onderstaande skakels vir die onderskeie programme:

Tennis: Peet Karsten presteer!

Ons tennisster, Peet Karsten, het die afgelope naweek aan die TSA Wynland Mini-Toernooi deelgeneem en die mansafdeling gewen. Hy het ook die vorige naweek die TSA Cape Town mini-toernooi se mansafdeling gewen. Mooi so, Peet - ons is trots op jou!

Hokkieseuns: Bernadino Heights-uitslae

Ons o.19 A-span speel 'n tawwe wedstryd teen 'n indrukwekkende span van Bernadino Heights en met 'n paar gemiste doelgeleenthede verloor ons eindelik 1 - 0. Ons leerders se spel was 'n toonbeeld van goeie hokkie en hul het gespog met verfynde vaardighede, maar moes ongelukkig die knie buig. Wel gedaan!

Tafeltennis: JvR wen Goud!

Jan van Riebeeck se eerste dogterstafeltennisspan dring deur na die finale ronde in die tweede liga van die Noordelike Metropool-skoleliga en spook sake uit teen Brackenfell se 2de span vir die goue medalje. Ons dogters speel die tafels aan die brand en klop Brackenfell 4-1. Wel gedaan - ons is so trots op julle, Jan van Riebeeckers!

ALGEMEEN

Ons thrift...

Maak skoon, maak leeg en skenk als vir ons eie Jan van Riebeeck Plezier Markt wat vir 23 September beplan word!

Ons versoek dat ouers enige van die onderstaande produkte wat in 'n goeie toestand is, vir die skool sal skenk. Produkte wat ons ontvang, sal gedurende die mark ten bate van die skool by ons Thrifting-stalletjie verkoop word.
  • meubels
  • juweliersware
  • handsakke / sakke
  • klere (volwassenes en kinders)
  • boeke
  • legkaarte
  • lap
  • wol
Enige produkte wat ons nie verkoop nie, sal aan ander liefdadigheidsorganisasies geskenk word. Alle skenkings kan na me. Sanette van Loggerenberg by die skool gestuur word. Indien enige items by u opgelaai moet word, kontak asseblief vir Jana Rademeyer (navonjane@gmail.com of 083 459 9965) om reëlings te tref. Dankie by voorbaat vir u ondersteuning!

Leierafskeid funksie

'n Gesellige, sonnige middag op Welgemeend se stoep saam met ons leiers - wat meer kan ons vra!

Mnr. Rademeyer het die 2023-leiers gemotiveer om voort te bou op vanjaar se suksesse en om ook met dankbaarheid terug te kyk na foute waaruit hulle soveel kon leer. Mnr. Kastoor het die leiers gekomplimenteer met hul potensiaal en hul herinner aan die voorreg om deel te wees van so 'n groep.

Ons hoofleiers het hul dankbaarheid uitgespreek teenoor hul span en op 'n gepaste wyse afskeid geneem van die groep, mekaar en ook hulle skakelpersoneel.

Me. Steyn se boodskap:
Koffie is 'n taal... 'n kaffeïenontploffing!

"Baie maal konsentreer ons so op die koppie waarin ons die koffie gaan drink en vergeet dat dit eintlik gaan oor die inhoud van daardie beker met koffie. As jy beheer kan kry oor daardie inhoud, die proses en dit wat daaruit voortgekom het, dan ervaar jy die lewe. Jou prestasie, posisie en besittings, is die koppie en die lewe is die koffie. Die koppie is net die gereedskap om die lewe te hou, maar definieer nie die kwaliteit van die lewe waarna ons streef nie.

Soms, om net te konsentreer op die beker, faal jy om die koffie te geniet. Gelukkige mense het nie die beste van alles nie, maar hulle maak die beste van daardie koffie wat hulle met sorg brou. Daar is geen kitsoplossings in die lewe nie - dis hoe jy die koffie maak wat jou gaan inspireer. Die moeite wat jy met die voorbereiding daarvan doen, bepaal hoe geurig dit gaan wees."

Die funksie is by Welgemeend aangebied en keuriger kon jy nêrens kry nie. Die dekor en smullekker eetgoed het ook die tema gekomplimenteer. Dankie aan me. Sanette van Loggenberg en haar span.

Leiers van 2023,: mag julle koffie-aromas die lug vul in 'n kunswerk van duisende geure van voorspoed en seën!

Volg die skakel vir meer foto's:
https://drive.google.com/drive/folders/1fa_eTUzYEedcn5SAcjg5BevZGDlyeygK?usp=sharing

Huis Jordaan: 40 Days-kaskenades

Ons dogters is op Vrydag, 25 Augustus by ontbyt met 'n verrassing begroet: 'n leë eetsaal sonder 'n enkele stoel. Die matriekdogters het besluit op 'n nalatenskap vir 40 Days. Hulle het al die stoele verwyder en oral "sticky"-notas met die volgende boodskappe gelos:

Stoele is belangrik!
  • Ek hoop julle gaan my meer mis as wat jy jou stoel mis. xx
  • Onthou: Huis Jordaan is die belangrikste been van die skool. xx
  • Die vier bene van 'n stoel verteenwoordig die vier hoofwaardes van ons koshuis, daarsonder kan ons nie sit om te rus nie. xx
  • Noudat julle so staan, kyk hoe kry julle my nodig. xx
  • "Ek was die stoel van die tafel." (Wees jy die stoel van die tafel.)
  • Leer om altyd saam te staan, dit is beter as om te sit. xx
Vir die diensjuffrou, Elzaan: :"Ons is baie lief vir jou " PS: daar is darem 'n stoeltjie vir Juffrou. xxx HK's

Die pret is in 'n goeie gees ervaar en die graad 8' s het die matrieks met ontbyt in die bed bederf. Die vraag is nou net: wie gaan die stoele terugdra?

SOP! SOP!

Vrouemaand: Imbokodo-lesing

Wathint'Abafazi, Wathint'Imbokodo' (you strike the woman, you strike the rock)- Vrydag, 25 Augustus, te Cape Sun Hotel.

Watter voorreg was dit nie vir ons leerders om uitgenooi te word en deel te vorm van Robben Island Museum (RIM) se jaarlikse Imbokodo-aanbieding! Om vrouemaand af te sluit en vrouwees te vier, gee die Imbokodo Lecture erkenning aan en waardering vir vroue se stryd as 'n integrale deel van die bevrydingsbeweging.

Die tema was: “DigitAll: innovation and technology for gender equality”. Die rol van innoverende tegnologie is uitgelig om geslagsgelykheid te bevorder. Daar is ook gepraat oor die belangrikheid van tegnologie om in pas te bly by die gesondheid en ontwikkelingsbehoeftes van dogters en vroue.

Die aanbieding het bestaan uit 'n paneel van vier dinamiese vroue. Ons leerders het ook die geleentheid gekry om vrae aan die paneel te stel.

- Professor Pregs Govender is 'n vroueaktivis en skrywer van Love and Courage. Sy word in Suid-Afrika en internasionaal gerespekteer vir haar bydrae tot vroueregte.

- Me. Zubeida Zwavel is die uitvoerende direkteur van die Centre for African Resource Efficiency and Sustainability (CARES) in Suid-Afrika. Hul fokus is om hulp te bied aan klein/medium besighede, om bewuswording en toegang tot volhoubare meganismes te bevorder, sowel as om spesifiek vroue se rol in volhoubare besighede te ontwikkel.

- Me. Baratang Miya is die Hoof Uitvoerende Beampte van GirlHYPE wat vroue en die jeug bemagtig. Hul vorm ook deel van die volgende organisasies: UN Women, Mozilla, TechWomen, SiliconCape en Tegnologie-innovasie om vroue se digitale geletterdheid te ontwikkel.

- Me. Zandile Mkhwanazi is die voorsitter en stigter van GirlCode, 'n nie-winsgewende organisasie wat fokus om jong vroue te bemagtig deur middel van tegnologie. Sy is ook die uitvoerende direkteur en stigter van EmpowerX; hul fokus op die ontwikkeling van vroue wat reeds in korporatiewe leiersposisies is.

Advertensies

Besoek gerus hul webtuiste vir meer inligting. https://wenwetenskap.co.za/
facebook instagram 
Email Marketing Powered by MailPoet