|
|
|
|
|
UIT DIE SKOOLHOOF SE KANTOOR
Dit was ’n trotse oomblik toe die nuwe leerderleiers vir 2023/2024 Woensdag aangekondig is. Leierskapontwikkeling bly vir ons ’n baie belangrike opvoedingsgeleentheid en daarom is ons opgewonde om te sien hoe gretig hierdie leerders is om te leer, ’n verskil te maak en hul Jan van Riebeeck-skoolgemeenskap te dien.
|
Baie geluk ook aan al die ouers/voogde wat met reg trots kan wees op hierdie mooi prestasie van hul kinders.
|
VRL (Verteenwoordigende Raad van Leerders) 2023/2024
|
|
|
|
|
|
AKADEMIE
|
|
Graad 12-rekordeksamen: leerdersgids
|
|
|
Assesseringsprogam: Kwartaal 3
|
Kliek hier vir die assesseringsprogram vir kwartaal 3.
|
|
|
Intervensie: Kwartaal 3
|
|
|
Kliek hier vir die intervensieprogram vir kwartaal 3. Alle Jan van Riebeeckers word aangemoedig om die intervensieklasse getrou by te woon!
|
|
|
|
|
Die eerste "Mayor's Science and Innovation Fair" vir leerders van Kaapstad
|
Registrasie is nou oop op www.capetown.gov.za/ScienceFair vir hierdie splinternuwe Wetenskapkompetisie vir hoërskoolleerders vanaf graad 8 tot graad 11 wat skoolgaan in die Kaapstad-metropool.
|
Die tema is Innovate Today for a Sustainable Tomorrow en alle inligting is aanlyn of by me. Turkstra beskikbaar. Gou spring; die kompetisie sluit reeds op 2 Oktober!
|
Daar is wonderlike pryse op die spel en jou projek kan deel wees van 'n uitstalling van al die bobaas-idees by die Cape Town Science Centre op 14 Oktober 2023.
|
|
|
|
|
Gasvryheidstudie-uitstappie
|
Die graad 12-gasvryheidklas het op Donderdag, 31 Augustus, 'n heerlike afsluitingsuitstappie na Stellenbosch geniet. Die leerders het die geleentheid gehad om 'n wonderlike eet-ervaring by The Table @ da Maje Restaurant te geniet. Hier is hul met 'n heerlike driegang-ete van hoogstaande gehalte bederf. Nie net was die kos uitstekend nie, maar die Jan van Riebeeckers is met hartlikheid ontvang en het deurlopend net die beste diens ontvang. Brandon, Leigh en die personeel het seker gemaak dat ons tevrede die pad huis toe kon aanpak. Dankie ook aan al die leerders wat die dag so aangenaam gemaak het.
|
|
|
|
|
|
Kooroefening
|
Die koor repeteer Maandagmiddag van 14:15 tot 16:00. Dit is baie belangrik dat almal die oefening bywoon, asseblief!
|
|
|
|
Koortoer
|
Baie dankie aan diegene wat die Google-form ingevul het sodat ons die nodige belangstelling kon bepaal. Ongelukkig was die belangstelling te min en het ons besluit om ons beplanning aan te pas. Daar is besluit om die toer te kanselleer en ander moontlikhede te ondersoek.Ons koorlede werk baie hard deur die jaar en verdien om erkenning daarvoor te kry.
|
Die laaste week van die kwartaal sal gebruik word om 'n baie spesiale musiekvideo op te neem. Ons vergader binnekort met 'n filmspan en sal daarna meer besonderhede kan deel. Dit is 'n opwindende projek waarby die res van die skool, en Kaapstad as geheel, betrek kan word. Ons beoog om 'n daguitstappie van hierdie geleentheid te maak.
|
|
|
|
|
ATKV-DigiPraat-inskrywings
|
Die ATKV-DigiPraatkompetisie is ’n heerlike geleentheid vir leerders om as sprekers te ontwikkel sonder die druk van ’n lewende gehoor. Leerders kan ’n toespraak oor enige tema of onderwerp lewer, wat redeneer, vermaak of inlig en ’n video daarvan vir die kompetisie neem.
|
Koste: R150 Toespraaklengte: 3 tot 5 minute Formaat: Video-opname
|
Leerders moet individueel inskryf en betaling word direk aan die ATKV gedoen. Kliek hier om die deelnemersgids te lees.
|
Kontak gerus me. Linda van der Walt vir enige navrae.
|
|
|
|
|
Rotary presteer
|
Die senior Rotary debatspan het Maandag 4 September, in die finale ronde van die Rotary liga teen Springfield deelgeneem. Ons JvR-span het tweede in die toernooi geëindig – slegs die tweede keer dat ’n Jan van Riebeeck-span dit kon regkry sedert die kompetisie begin het in 1989!
|
Veels geluk aan Lisa Best, Lukas Wasserman en Nayla Walker met hierdie uitmuntende prestasie.
|
Ons wens ook vir Lisa Best geluk! Sy dring deur na die WCSPDC-provinsiale proewe die naweek as ’n individuele spreker. Ons hou duimvas dat sy tot dié spogspan verkies sal word!
|
|
|
|
|
|
Sportprogram: 11 - 29 September 2023
|
Baie dankie vir almal se ondersteuning gedurende die wintersportseisoen. Ons gaan nou stelselmatig begin oorslaan na ons somersport en vir die wintersportkodes begin met 'n afseisoenprogram. Sien die sessies hieronder:
|
Maandag, 11 September 2023
|
- Kondisionering
- Sessie 1: 14:30 - 15:15 (Rugby + Hokkieseuns, seunsatlete)
- Sessie 2: 15:15 - 16:00 (Netbal + Hokkiedogters, dogtersatlete)
- Sessie 3: 16:00 - 17:00 (Kultuurleerders wat nie by sessie 1 of 2 kon wees nie.)
Dinsdag, 12 September 2023
|
- Atletiekbyeenkoms: Hoërskool Stellenberg
Woensdag, 13 September 2023
|
- Atletiekbyeenkoms: Hoërskool Jan van Riebeeck
Donderdag, 14 September 2023
|
- Atletiekoefening / Kondisionering vir alle sporte: Boshoffveld, 14:30 - 16:00
- JvR LS Atletiekkliniek by Laerskool De Hoop
Maandag, 18 September 2023
|
- Kondisionering
- Sessie 1: 14:30 - 15:15 (Rugby + Hokkieseuns, seunsatlete)
- Sessie 2: 15:15 - 16:00 (Netbal + Hokkiedogters, dogtersatlete)
- Sessie 3: 16:00 - 17:00 (Kultuurleerders wat nie by sessie 1 of 2 kon wees nie.)
Dinsdag, 19 September 2023
|
- Atletiekbyeenkoms: Hoërskool Stellenberg
- Kliek op die skakel vir die program. Program dieselfde as 12 September 2023.
Woensdag, 20 September 2023
|
- Atletiekbyeenkoms: Hoërskool Jan van Riebeeck
Donderdag, 21 September 2023
|
- Atletiekoefening / Kondisionering vir alle sporte - Boshoffveld, 14:30 - 16:00
Saterdag, 23 September 2023
|
Dinsdag - Donderdag, 26 - 28 September 2023
|
- Sporttoetsings vir alle spanne in die Jubileumsaal, 14:30 - 16:00
Deur die vakansie sal atletiekoefeninge steeds voortgaan ter voorbereiding vir die byeenkomste wat in die vierde kwartaal plaasvind.
|
|
|
|
|
Marius Schoeman-7's en -5's-programme vir hokkie en rugby
|
Ons is opgewonde oor die komende naweek wanneer ons o.17-hokkiespanne, seuns en dogters, asook die o.15- en o.17-rugbyspan deelneem aan die Marius Schoeman-toernooi. Die beste sportspanne in die land ding teen mekaar mee. Die wedstryde se formaat is 5-hokkie en -netbal en 7's-rugby.
|
Ouers en leerders is welkom om ons spanne te ondersteun en hul gunsteling- nasionale spelers te kom ontmoet. Daar sal boonop wêreldbekerwedstryde in Hennie se tent uitgesaai word. Verskeie kompetisies soos doelskop vind ook plaas; kom ondersteun gerus en wen 'n paar pryse in die proses!
|
Kliek op die onderstaande skakels vir die onderskeie programme wat beskikbaar is:
|
|
|
|
|
|
o.17 Netbalspan dring deur na Wes-Kaap Fast 5-ronde
|
Ons o.15- en o.17-netbalspanne het op Saterdag, 2 September, aan die CTHSN (WP)-ronde van die Fast 5-netbaltoernooi deelgeneem. Die spanne moes die oggend om 7:15 by Hoërskool Durbanville vir die dag se verrigtinge aanmeld. Ons spanne se eerste rondes het beide teen Durbanville afgeskop. Die o.15-span het ongelukkig die knie teen Durbanville gebuig, maar ons o.17-span het gedurende die power-play-kwart die wedstrydtelling verander en 30-28 gewen.
|
Beide spanne moes drie wedstryde speel om te bepaal of hul vir die finaal sal kwalifiseer. Ons o.15-span het ongelukkig nie die mas opgekom nie, maar ons o.17-span het boaan die poel geëindig en vir die finaal gekwalifiseer! Daar was drie moontlike teenstaanders: Stellenberg, DF Malan en Fairmont. Die spanne se doelgemiddeldels is gebruik om te bepaal wie mekaar in die finaal sou uitdaag. Die somme is gemaak en die finale wedstryd is voor 17:00 die middag teen Fairmont gespeel. Ons spelers het hulle weer uitstekend van hulle taak gekwyt en het met 'n telling van 21-19 geseëvier.
|
Ons o.17-span kwalifiseer dus om Saterdag, 9 September, aan die Wes-Kaap ronde by Paarl Gimnasium deel te neem. Ons wens die span alles van die beste toe en glo dit gaan 'n onvergeetlike dag vir almal wees.
|
|
|
|
|
|
Waterpolo by JvR begin eersdaag!
|
Ons is opgewonde dat Herzlia se waterpolo-program vanaf volgende week by ons swembad aangebied word en belangstellende Jan van Riebeeckers het ook die nou die geleentheid om deel te raak van hul oefengroepe om sodoende vaardighede in dié lekker watersport te leer. Die hoop is dat genoeg leerders belangstel en ons dan ook as skool binnekort in ons eie spanverband kan begin deelneem teen ander skole. Herzlia het uitstekende afrigters wat ons leerders graag dan vir eers by hul oefengroepe en spanne insluit. Die skool het ’n ooreenkoms met hul aangegaan en bied hierdie weeklikse sessies gratis aan ons leerders.
|
Hoërskool Jan van Riebeeck-leerders skakel vanaf Dinsdag, 10 Oktober by hul program in en alle belangstellendes moet hul name teen volgende Vrydag, 15 September per e-pos aan mnr. CJ Velleman by cj.velleman@janvanriebeeck.co.za stuur. Geen vorige ervaring of deelname aan dié sport is nodig nie en die doel is juis om talent te ontgin en vaardighede te slyp.
|
Die hoof van Herzlia se watersporte, mnr. Ross van Schoor, sal ook volgende Dinsdag, 12 September, ’n bekendstellingsessie vir ons leerders aanbied. Ouers/Voogde en leerders is baie welkom om vanaf 14:30 tot 15:45 by die JvR-swembad te ontmoet om meer omtrent hierdie opwindende sport te leer en te ervaar. Leerders kan die sessie in hul swemklere en skoolsweetpak bywoon.
|
Kliek gerus hier om die voorlopige skedule van al die ouderdomsgroepe vir die vierde kwartaal te sien om sodoende ook vas te stel of u kind die oefeninge sal kan bywoon.
|
Ons sien uit na ons leerders se entoesiastiese deelname aan hierdie nuwe sportgeleentheid!
|
|
|
|
|
Atletiek: Mini-byeenkomste in September
|
Die twee beste atletiekskole in hul verskeie sones gaan die seisoen afskop deur teen mekaar in vier verskillende minibyeenkomste mee te ding, sowel as 'n aanlyn-worpbyeenkoms. Ons eerste minibyeenkoms vir worpe en spronge vind Dinsdag, 12 September by Hoërskool Stellenberg plaas. Die volgende dag sal die atlete by Hoërskool Jan van Riebeeck die baanitems aandurf. Hier is die twee programme vir die onderskeie dae. Almal is meer as welkom om te kom deelneem!
|
Kliek op die onderstaande skakels vir die onderskeie programme:
|
|
|
ALGEMEEN
|
|
|
|
Gr. 1's besoek ons Matrieks
|
Die graad 1-leerders van Laerskool Jan van Riebeeck het vanoggend ons matrieks met spesiale kaartjies verras om hul voorspoed toe te wens met die res van die rekordeksamen.
|
Dit was 'n besondere oomblik toe die Jannies elke matrikulant spesiaal by hul eksamenbanke kom groet het en toe die spesiale kaartjies met mooi wense oorhandig het. Tiana van den berg se graad 1-boetie het spesiaal sy kaartjie vir haar gegee - ’n trotse en mooi oomblik!
|
Dankie aan al die graad 1-Jannies - oor 11 jaar sit hul ook in hierdie banke as trotse Jan van Riebeeckers!
|
|
|
|
|
|
Graad 9-Markdag: 4 September
|
Die graad 9-leerders het vanjaar hul ondernemingsgees uit die saal na die gewilde studentesentrum, meer algemeen bekend as Die Gat, verskuif.
|
Daar was 12 ondernemings wat 'n verskeidenheid produkte of speletjies aangebied het. Dit was 'n kleurvolle en jolige geleentheid met winsneming as hoofdoelwit.
|
Indien die glimlagte na die tyd as maatstaf gebruik kan word, was daar 'n hele paar wat suksesvolle entrepreneurs.
|
Daar word ook vemoed dat 'n paar huishoudings Maandag ekstra koekies of roomys moes eet! Mooi so, graad 9's!
|
|
|
|
|
|
|
Plezier Markt: 23 September 2023
|
Hoërskool Jan van Riebeeck bied op Saterdag, 23 September 2023 die Plezier Markt by ons skool aan. Die Plezier Markt gaan oor die viering van die verskillende kos en kulture binne die Kaapstad-stadskom. Kom geniet 'n wye verskeidenheid van stalletjies en verskeie kosse op ons skoolterrein. Daar vind ook verskeie opvoerings gedurende die dag by ons nuwe amfiteater plaas.
|
Bestel gerus solank jou hoenderpasteie (1kg), biltong en Aioli op die Karri-toep vroegtydig. Dit kan by die mark op 23 September afgehaal.
|
Indien jy daarin belangstel om 'n stalletjie by die dag te hê, volg gerus die skakel vir inskrywings en meer inligting. Ons verwelkom innoverende produkte vanuit ons gemeenskap. https://forms.gle/FT98V24AY46oq8DR8. Sien jou daar!
|
|
|
|
|
Ons thrift...
|
Maak skoon, maak leeg en skenk als vir ons eie Jan van Riebeeck Plezier Markt wat vir 23 September beplan word!
|
Ons versoek dat ouers enige van die onderstaande produkte wat in 'n goeie toestand is, vir die skool sal skenk. Produkte wat ons ontvang, sal gedurende die mark ten bate van die skool by ons Thrifting-stalletjie verkoop word.
|
- meubels
- juweliersware
- handsakke / sakke
- klere (volwassenes en kinders)
- boeke
- legkaarte
- lap
- wol
Enige produkte wat ons nie verkoop nie, sal aan ander liefdadigheidsorganisasies geskenk word. Alle skenkings kan na me. Sanette van Loggerenberg by die skool gestuur word. Indien enige items by u opgelaai moet word, kontak asseblief vir Jana Rademeyer (navonjane@gmail.com of 083 459 9965) om reëlings te tref. Dankie by voorbaat vir u ondersteuning!
|
|
|
|
|
|
|
|
|