>> Besoek die volledige kalender op die webtuiste <<

UIT DIE SKOOLHOOF SE KANTOOR

Hoewel die skoolvakansie wink, is dinge nog baie bedrywig by die skool en daar is hope geleenthede waarna ons nog in die volgende twee weke kan uitsien.

Die matrieks se rekordeksamen vorder vlot, die res van die skool is druk besig met verskeie assesserings en op die sportveld en kultuurverhoog is ons leerders aan die woeker ter voorbereiding van talle geleenthede wat voorlê.

Baie geluk aan ons eerste netbalspan wat verlede Saterdag as die Wes-Kaapse kampioene aangewys is in die Fast 5-toernooi wat by Paarl Gimnasium aangebied is. Hierdie dogters is vir almal ’n voorbeeld dat harde werk, dissipline, passie – en natuurlik groot talent! – sukses verseker. Jul maak die hele JvR-familie baie trots. ’n Groot dankie ook aan ons puik afrigter, René Venter, wat met groot passie ons dogters afrig. Ons sien uit na hul deelname aan die nasionale toernooi gedurende die September-skoolvakansie.

Ons is ook baie opgewonde oor die eerste JvR-Plezier Markt wat volgende Saterdag aangebied word. Ek wil almal graag uitnooi om die dag saam met ons te kom geniet. Daar is werklik heerlike en pragtige produkte te koop en beslis iets vir elke smaak. Die jongspan sal hul ook gate uit geniet by ons kinderafdeling en op die amfiteater is daar om die uur heerlike musiek en kultuuritems as vermaak. Ons hoop om almal hier te verwelkom – en nooi gerus vriende en familie om die dag te kom geniet!

Op ’n harsteer noot groet ons me. Linda van der Walt in Oktobermaand. Me. Van der Walt het puik bydraes in die klas en veral die kultuurafdeling van die skool gelewer – en ek weet die kinders en kollegas gaan haar baie mis. Me. Van der Walt gaan haar verder toespits op haar studies en ons hou haar toekoms met groot belangstelling dop. Ons mooiste wense vergesel haar.

Die leierspan van die skool is Maandag en Dinsdag besig met ons strategiese beplanningsessie vir 2024. Baie opwindende dinge word beplan en ek bedank by voorbaat die hele bestuurspan vir hul harde werk, inisiatief en toewyding aan die skool om te verseker dat ons bly voortbou op die goeie werk wat tot nou gelewer is. Me. Annelie Nimmo sal die leisels vashou wanneer ons nie by die skool is nie, maar u is welkom om enige bestuurspanlid met dringende sake per e-pos te kontak.

Baie dankie vir u volgehoue ondersteuning van als wat hier by JvR gebeur!

Mooi naweek!

Pieter Rademeyer
Skoolhoof

AKADEMIE

Graad 12-rekordeksamen: leerdersgids

Kliek hier vir die Graad 12 rekordeksamen leerdersgids. 'n Hardekopie is ook aan elke graad 12-leerder uitgedeel.

Assesseringsprogam: Kwartaal 3

Kliek hier vir die assesseringsprogram vir kwartaal 3.

Intervensie: Kwartaal 3

Kliek hier vir die intervensieprogram vir kwartaal 3. Alle Jan van Riebeeckers word aangemoedig om die intervensieklasse getrou by te woon!

Hoza Geskiedenis-olimpiade

Alle Juniors (graad 8 - 9) word hartlik uitgenooi om deel te neem aan die HOZA Geskiedenis-olimpiade. Dit is 'n aanlyn olimpiade wat op 17 Oktober by die skool sal plaasvind. Die koste beloop R50 per inskrywing en kan op Karri betaal word. Die olimpiade toets leerders se kennis en vaardighede in Geskiedenis en word sterk aanbeveel!

KULTUUR

Kooroefening

Die koor repeteer Maandagmiddag van 14:15 tot 16:00. Dit is baie belangrik dat almal die oefening bywoon, asseblief!

Koortoer

Baie dankie aan diegene wat die Google-form ingevul het sodat ons die nodige belangstelling kon bepaal. Ongelukkig was die belangstelling te min en het ons besluit om ons beplanning aan te pas. Daar is besluit om die toer te kanselleer en ander moontlikhede te ondersoek.Ons koorlede werk baie hard deur die jaar en verdien om erkenning daarvoor te kry.

Die laaste week van die kwartaal sal gebruik word om 'n baie spesiale musiekvideo op te neem. Ons vergader binnekort met 'n filmspan en sal daarna meer besonderhede kan deel. Dit is 'n opwindende projek waarby die res van die skool, en Kaapstad as geheel, betrek kan word. Ons beoog om 'n daguitstappie van hierdie geleentheid te maak.

SPORT

Sportprogram: 18 - 29 September 2023

Baie dankie vir almal se ondersteuning gedurende die wintersportseisoen. Ons gaan nou stelselmatig begin oorslaan na ons somersport en vir die wintersportkodes begin met 'n afseisoenprogram. Sien die sessies hieronder:

Maandag, 18 September 2023
  • Kondisionering
    • Sessie 1: 14:30 - 15:15 (Rugby + Hokkieseuns, seunsatlete)
    • Sessie 2: 15:15 - 16:00 (Netbal + Hokkiedogters, dogtersatlete)
    • Sessie 3: 16:00 - 17:00 (Kultuurleerders wat nie by sessie 1 of 2 kon wees nie.)
Dinsdag, 19 September 2023
  • Atletiekbyeenkoms: Hoërskool Stellenberg
    • Kliek op die skakel vir die program. Program dieselfde as 12 September 2023.
Woensdag, 20 September 2023
Donderdag, 21 September 2023
  • Atletiekoefening / Kondisionering vir alle sporte - Boshoffveld, 14:30 - 16:00
Saterdag, 23 September 2023
  • UWC-atletiekbyeenkoms
Dinsdag - Donderdag, 26 - 28 September 2023
  • Sporttoetsings vir alle spanne in die Jubileumsaal, 14:30 - 16:00
Deur die vakansie sal atletiekoefeninge steeds voortgaan ter voorbereiding vir die byeenkomste wat in die vierde kwartaal plaasvind.

Atletiek: Mini-byeenkomste in September

Die twee beste atletiekskole in hul verskeie sones gaan die seisoen afskop deur teen mekaar in vier verskillende minibyeenkomste mee te ding, sowel as 'n aanlyn worpbyeenkoms. Ons derde mini-byeenkoms vir worpe en spronge vind Dinsdag, 19 September by Hoërskool Stellenberg plaas. Die volgende dag sal die atlete by Hoërskool Jan van Riebeeck die baanitems aandurf. Hier is die twee programme vir die onderskeie dae. Almal is meer as welkom om te kom deelneem!

Kliek op die onderstaande skakels vir die onderskeie programme:

o.17A-Netbal is Wes-Kaap kampioene!

Op Saterdag, 9 September, het die o.17-netbalspan aan die Wes-Kaapse Fast 5-kampioenskap deelgeneem en die dag as kampoene weggestap!

Gedurende sommige van die poelwedstryde het 'n paar toeskouer amper hul naels verloor a.g.v. die spanning. Die span het menige van hul wedstryde se uitslae verander tydens die power play-kwart.
  • Wen Hoërskool Bredasdorp 27-22
  • Wen Hoërskool Parel Vallei 14-13
  • Wen Hoër Meisieskool Bloemhof 24-10
  • Wen Hoërskool Swartland 21-15
Hulle eindig eerste in hul poel, met Parel Vallei tweede.

Vir die semi-finaal moet hul teen Hoërskool Hermanus speel en wen 30-25. Hierna volg die finale ronde en hul moet weer teen Parel vallei speel. Hierdie keer rek hulle egter die eindtelling en wen 31-29.

Die finale uitslae vir o.17's is:
  1. Hs Jan van Riebeeck
  2. Hs Parel Vallei
  3. Hs Stellenberg
  4. Hs Hermanus
Baie geluk aan elke speler, ouer, ondersteuner betrokke asook ons afrigter, René Venter!

Die span kwalifiseer nou om op 2 en 3 Oktober aan die nasionale netbaltoernooi by Hoërskool Florida in Roodepport deel te neem. Hulle het reeds op Donderdag, 14 September afgeskop met pannekoekverkope tydens pouse om ekstra fondse in te samel. Indien daar enige ander besighede of indivdue is wat hul wil borg met enige van die onderstaande uitgawes, kan hulle vir Razelle Hanekom kontak by razelle.hanekom@janvanriebeeck.co.za.
  • Vervoer in Gauteng
  • Etes
  • Verblyf
  • Gazebo's in Gauteng tydens die toernooi by Hoërskool Florida
  • Vliegtuigkaartjies
  • Toerklere

ALGEMEEN

Plezier Markt: 23 September 2023

Hoërskool Jan van Riebeeck bied op Saterdag, 23 September 2023 die Plezier Markt by ons skool aan. Die Plezier Markt gaan oor die viering van die verskillende kos en kulture binne die Kaapstad-stadskom. Kom geniet 'n wye verskeidenheid van stalletjies en verskeie kosse op ons skoolterrein. Daar vind ook verskeie opvoerings gedurende die dag by ons nuwe amfiteater plaas.

Bestel gerus solank jou hoenderpasteie (1kg), biltong en Aioli op die Karri-toep vroegtydig. Dit kan by die mark op 23 September afgehaal.

Om kaartjies te koop volg die onderstaande skakel na Quicket:

https://qkt.io/U4kMlO

2023/2024 Matriekraadopleiding

Ons nuwe leiers het Donderdag, 7 September, koppe bymekaargesit en die rol van 'n leier, die ware betekenis van leierskap en eienskappe van 'n goeie leier bespreek.

Portefeuljes is uitgepak en daar is begin met beplanning aan 'n splinternuwe termyn.

Ons benader leierskapontwikkeling by JvR op 'n praktiese manier, maar lê ook klem op die waarde van kennis en opleiding. Ons nuwe leiers is kreatief en baie opgewonde om saam met hul maats en die hele skoolgemeenskap aan ons skool se visie en etos te bou. Hulle is oorgehaal om as 'n eenheid die trotse skoolgees-ervaring te beleef - soos nooit te vore nie!

Die leiers kon ook tussendeur die harde werk lekker sosiaal verkeer. Vroeg Vrydagoggend is hul teen Tafelberg op en kon hul weer opnuut in waardering staan oor waar ons skool geleë is.

Dit was werklik 'n genotvolle en leersame ervaring!

Advertensies

Besoek gerus hul webtuiste vir meer inligting. https://wenwetenskap.co.za/
facebook instagram 
Email Marketing Powered by MailPoet