>> Besoek die volledige kalender op die webtuiste <<

UIT DIE SKOOLHOOF SE KANTOOR

Die inhuldiging van ons nuwe matriekraad het vanoggend in Welgemeend plaasgevind en ons is saam met al die leerders en ouers/voogde trots en opgewonde oor hierdie nuwe span leerderleiers wat nou in die skool begin voorstap.

Die lede het ook die matriekraad-erekode onderteken en verbind hul dus tot hierdie groot verantwoordelikheid om as rolmodel en leier op te tree. Dit is vir ons baie belangrik dat ons leiers die verantwoordelikheid besef wat saam met die voorreg kom om ’n leier in ons skool te wees.

Baie geluk aan die drie graad 11-leerders wat ook vanoggend aangekondig is as die nuwe VRL-lede. Een van hierdie drie leerders sal op 10 Oktober as die nuwe JvR-Hoofleier en VRL-Voorsitter aangekondig word: Toby de Ruiter, Amber Roberts en Mari Swanepoel. Ons is baie trots op jul!
Die hoofseuns en hoofdogters sal ook tydens ’n spesiale saalbyeenkoms op 10 Oktober aangekondig word.

Ons roosheining is ook vanoggend tydens die verrykingperiode op ’n gepaste wyse ingewy en dr. Gwen Fagen was ons gasspreker. Hierdie merkwaardige dame vier eerskomende Maandag haar 99ste (ja, 99ste!) verjaardag en dit was voorwaar ’n besondere voorreg vir die leerders om na haar te kon luister. Baie dankie aan al ons ouers, leerders, oudleerders en vriende van die skool wat rose geborg het as deel van hierdie projek. Ons kan nie wag om te sien hoe die Kampstraat-heining gaan lyk wanneer die rose blom nie! Groot dank ook aan Helena le Roux wat die projek bestuur het en ook aan mnr. Peter Schumann vir sy puik bydraes en harde werk met die plant en versorging van die rose.

Ons sien baie uit na ons eerste Plezier Markt wat môre hier by die skool aangebied word. Die dag se verrigtinge begin om 10:00 en talle stalletjies met heerlike kos, iets te drinke, mooi produkte en kuns is tot 18:00 beskikbaar. Daar is ook heerlike vermaak op ons nuwe amfiteaterverhoog wat beslis sal bydra tot die feestelike atmosfeer. Toegang is slegs R30 per persoon en daar is beslis iets vir oud en jonk om te geniet!

Ek herinner al ons graad 8- tot 11-leerders dat hul volgende Woensdag (Afrikaans) en Donderdag (Engels) hul skryfwerk-eksamens aflê. Aangesien dit formele assesserings is wat tot die November-eksamenpunt bydra, sal slegs mediese sertifikate aanvaar word indien leerders afwesig is.
Die skool sal vir ons graad 8- tot 11-leerders om 12:10 verdaag op hierdie twee dae. Die busse sal om 12:30 vertrek.

Ons matrieks verdaag egter steeds Woensdag en Donderdag om 14:05. Kliek gerus hier om die graad 12-rooster vir dié twee dae te sien. Dit is vir die skool baie belangrik dat alle leerders dié dae bywoon om deeglik deur hul September-vraestelle te werk en terugvoering vanaf personeel te ontvang ter voorbereiding van die NSS-eksamen.

Alle rapporte word volgende Vrydag deur die loop van die oggend via e-pos aan ouers/voogde gestuur.

Geniet die langnaweek!

Pieter Rademeyer
Skoolhoof

AKADEMIE

Graad 12-rekordeksamen: leerdersgids

Kliek hier vir die Graad 12 rekordeksamen leerdersgids. 'n Hardekopie is ook aan elke graad 12-leerder uitgedeel.

Assesseringsprogam: Kwartaal 3

Kliek hier vir die assesseringsprogram vir kwartaal 3.

Geskiedenis-vakdag

As deel van ons Geskiedenis-vakdag het ons vanjaar op 15 September 'n Kahoot!- vasvra gehou. Die vrae het gefokus op algemene kennis oor Suid-Afrikaanse kwessies. Leerders het individueel deelgeneem en moes 20 algemene kennis vrae oor Suid-Afrika op die Kahoot!-toep beantwoord.

Sommige vrae het die deelnemers behoorlik laat kopkrap, bv. Wat is Suid-Afrikaners se gunstelingtydverdryf? Die antwoord was lees en nie braai, soos wat die meeste deelnemers gedink het, nie. Luca Zulch in graad 9 het as wenner uit die stryd getree.

KULTUUR

JvR-skoolkoor neem musiekvideo op!

Die skoolkoor van 2023 is baie opgewonde om volgende week 'n musiekvideo van hul Suid-Afrika Keurspel op te neem. Gedurende die opname gaan die leerders op een van die stad se City Sightseeing-busse rondgeneem word, saam met 'n professionele kameraspan, wat die verfilming gaan behartig. Daar sal ook 'n klankopname van die lied gemaak word wat gebruik gaan word vir die video.

Vind hier die reëlings en datums vir die opname:
  • Woensdag, 27 September, 12:00 tot 13:00
    • Klankopname van die lied word gedoen in die skoolsaal
  • Donderdag, 28 September, 12:00 tot 17:00
    • Vertrek vanaf JvR op die City Sightseeing-bus en besoek al die beste en mooiste dele van die stad. Die filmspan vergesel ons op hierdie roete.
    • Die bus laai leerders weer by die skool af.
    • Kospakkies word ook aan die leerders voorsien gedurende die middag.
  • Vrydag, 29 September, 7:30 tot 11:00
    • Ons begin die oggend met 'n lekker ontbyt by die skool en die filmspan maak nog video-opnames van die koor by die skool en Welgemeend. Leerders verdaag om 11:00 vir vakansie.
Kostes: R380, alles ingesluit (busvervoer, twee kospakkies en ontbyt, betaalbaar op Karri). Enige leerders wat reeds 'n deposito vir die koortoer betaal het, kan vir Nicky Hattingh (nicky.hattingh@janvanriebeeck.co.za) kontak om die oorplasings te doen.
Drag: Netjiese skooldrag. Meisies moet nuwe rompies en sykouse dra. Seuns dra die nuwe roomkleurige langbroek.

Baie dankie vir elke leerder se harde werk en toewyding gedurende 2023. Ons sien baie uit na die opname en glo dat elke leerder ook net so opgewonde is hieroor. Rig enige navrae of versoeke aan mnr. Geldenhuys by geruan.geldenhuys@janvanriebeeck.co.za.

ATKV-debatwerkswinkels eersdaags aangebied

Daar word op 14 Oktober twee debatwerkswinkels vir deelnemers en beoordelaars by die Hoërskool Bellville (De La Hayelaan, Bellville) onder leiding van die ATKV aangebied.

Die werkswinkel het ten doel om voornemende debatteerders en spanne te bemagtig om, sélfs sonder intensiewe afrigting deur ’n onderwyser, ’n goeie debat te voer. Leerlinge, afrigters, onderwysers en ouers is almal welkom. Dit is nie nodig dat ’n span volledig moet wees nie.

DATUM: Saterdag 14 Oktober 2023
TYD: 09:00 tot 11:00
FOOI: R100 per persoon

SPORT

Sportprogram: 18 - 29 September 2023

Baie dankie vir almal se ondersteuning gedurende die wintersportseisoen. Ons gaan nou stelselmatig begin oorslaan na ons somersport en vir die wintersportkodes begin met 'n afseisoenprogram. Sien die sessies hieronder:

Dinsdag - Donderdag, 26 - 28 September 2023
  • Sporttoetsings vir alle spanne in die Jubileumsaal, 14:30 - 16:00
Deur die vakansie sal atletiekoefeninge steeds voortgaan ter voorbereiding vir die byeenkomste wat in die vierde kwartaal plaasvind.

Landloop: ASA-Klubkampioenskappe

Scarlett van der Merwe het op Saterdag, 15 September, fantasties presteer by Atletiek Suid-Afrika se landloop klubkampioenskappe wat in PE plaasgevind het. Sy hardloop 'n blitsige 4km en help ook die WP-span om 'n brons medalje te verower in die dogtersafdeling.

Scarlett neem later die maand (29 en 30 Oktober) deel in Polokwane aan die Suid-Afrikaanse skole-landloopkampioenskappe. Dankie aan haar twee afrigters dr. Sors Joubert en Dieter Voigt vir al jul kennis en bystand. In die woorde van 'n langafstand legende, Sir Mo Farah: "It has been a long journey, but if you dream and have the ambition and want to work hard, then you can achieve."

Baie geluk en sterkte Scarlett, jou harde werk is beslis beloon!

Sportafrigters vir 2024 benodig

Na 'n suksesvolle 2023 kan ons net nog groter hoogtes in 2024 behaal. Ons sportkodes se getalle klim jaarliks en ons is op soek na dinamiese afrigters om by ons span van gespesialiseerde afrigters te kom aansluit.

Raak deel van 'n wenspan in 2024. Stuur 'n kort sport-cv na abre.vanheerden@janvanriebeeck.co.za.

ALGEMEEN

Plezier Markt: 23 September 2023

Hoërskool Jan van Riebeeck bied môre die Plezier Markt by ons skool aan. Die Plezier Markt gaan oor die viering van die verskillende kos en kulture binne die Kaapstad-stadskom. Kom geniet 'n wye verskeidenheid van stalletjies en verskeie kosse op ons skoolterrein. Daar vind ook verskeie opvoerings gedurende die dag by ons nuwe amfiteater plaas.

Om solank toegangkaartjies te koop, volg die onderstaande skakel na Quicket:

https://qkt.io/U4kMlO

Sien jul môre!

Huis Jordaan geniet familieaand!

Wat is 'n skool sonder 'n Huis Jordaan-dogterskoshuis? Beslis baie vervelig en sonder enige opwinding! Huis Jordaan is amper drie kwartale al die spesiale tuiste van ons graad 8-koshuissoppies. SOP! SOP!

Daarom het ons koshuismatrieks besluit om die graad 8's oor die naweek van 16 September met 'n spesiale Saterdagaand-uitkamppiekniek te bederf.

Dankie, matrieks, vir 'n spesiale familieaand in die koshuis! Die moeite, omgee, verversings, fliek, geselskap en saamwees het weer opnuut nuwe eenheid onder ons graad 8-dogters geskep.

Koshuis: Uitnaweek - 4de kwartaal

Koshuis-uitnaweek: 20 - 21 Oktober 2023

Advertensies

Besoek gerus hul webtuiste vir meer inligting. https://wenwetenskap.co.za/
facebook instagram 
Email Marketing Powered by MailPoet