>> Besoek die volledige kalender op die webtuiste <<

UIT DIE SKOOLHOOF SE KANTOOR


Die afgelope week was weer ’n bedrywige een hier by Jan van Riebeeck met so baie leerders op verskeie gebiede betrokke en besig om ons skool te verteenwoordig.

Die nuwe graad 11-leerderleiers is reeds besig om te beïndruk met groot inisiatief en leierskap – dit maak ons baie opgewonde oor die 2024-skooljaar. Sterkte aan ons MR-lede wat vanaand hier in die skool oorslaap terwyl hul hul beplanning vir die nuwe graad 8’s en die skoolgeesprojekte gaan afhandel.

Baie geluk aan ons kultuurleerders wat gisteraand tydens die ExtravaJanza hier in die skoolsaal opgetree het. Almal was beïndruk met ons talentvolle leerders en dit was heerlik om die jeugensemble van die Kaapse Filharmoniese Orkes ook hier te verwelkom.
Ons drama-leerders is ook sedert gister besig met hul nasionale eksamen by die Bordinghuis-teater in Wellington. Dankie aan mee. Alma Nel en Sanet Taljaard wat ons leerders die afgelope jaar vir hierdie uitdagende kommunikasie-eksamen voorberei het.

Op sportgebied het ons gister ons eerste tuisswemgala op ’n perfekte somerdag hier by die swembad aangebied. Ons swemmers het hul baie goed van hul taak gekwyt en ons sien uit na ’n opwindende swemseisoen. Ons top atlete het ook gistermiddag na Oudtshoorn vertrek om aan die Outeniqua Top 10-uitnodigingsbyeenkoms deel te neem. Dit is die eerste keer dat ons atlete hier deelneem en ons sien uit na goeie vertonings die naweek.

Dit was besonders vir ons matrieks om die afgelope week ook terug te keer na hul laerskole vir die jaarlikse matrieksaalbyeenkoms. Dankie aan Laerskool Simon van der Stel wat Maandag hul oudleerders tydens dié spesiale oggend bederf het en Dinsdagoggend het ons oud-Jannies ’n baie mooi geleentheid by ons laerskool bygewoon. Dankie aan mnr. Beets, me. Brink en die span by die laerskool vir die uitnodiging en inspirerende boodskap aan ons leerders.

BELANGRIKE KENNISGEWING: SOMERDRAG
Die leierspan van die skool het dit goedgekeur dat dogters ook voortaan die vlootblou langbroek as deel van hul somerdrag mag dra, mits dit saam met ’n baadjie en das gedra word. Dieselfde geld vir die seuns wat verkies om tydens die somermaande eerder die roomkleurige langbroek te dra.

Hier volg die opsomming van goedgekeurde somerdragopsies:
  • Dogters: skoolrompie en oopkraaghemp – sonder ’n skoolbaadjie (baadjies word egter op saaldae gedra)
  • Dogters: Langbroek met toeknoophemp, das en skoolbaadjie
  • Seuns: kortbroek en oopkraaghemp – sonder ’n skoolbaadjie (baadjies word egter op saaldae gedra)
  • Seuns: Langbroek met toeknoophemp, das en skoolbaadjie
NUWE 2024-PERSONEEL
Ek is baie opgewonde om in die komende weke ons nuwe 2024-personeel bekend te stel!
Ons verwelkom graag me. Louise Bührmann in die Wiskunde-departement!

Me. Louise Bührmann is gebore en getoë in Stellenbosch. Sy het gematrikuleer aan die Hoër Meisieskool Bloemhof met 7 onderskeidings (en 'n 94,3%-gemiddeld!) en studeer daarna aan die Universiteit van Stellenbosch.

Sy slaag haar BCom- (Ekonomiese Wetenskappe met Wiskunde en Statistiek as fokusarea) graad (Cum Laude) in 2021.
Hierna slaag sy haar Nagraadse Onderwyssertifikaat (Cum Laude) in 2022. Sy is tans besig met haar Honneursgraad in Ekonomie.
Me. Bührmann was op die huiskomitee van Nerina Dameskoshuis in 2021 en het in 2022 dié dameskoshuis as Primaria gedien.
Sy glo daarin om balans te handhaaf en het aan netbal, swem, waterpolo, debat, tafeltennis, koor en dans deelgeneem tydens haar skool- en universiteitsjare.

Verder het sy ervaring as ’n netbalskeidsregter (NSA-gekwalifiseerd) en -afrigter, ATKV-debatafrigter en het noodhulp vlak 1-3 geslaag.
Me. Bührmann geniet graag lekker koffie, hardloop, swem of fietsry in die natuur en nou en dan iets opwindend soos valskermspring of rekspring!

Geniet die naweek!

Pieter Rademeyer
Skoolhoof

AKADEMIE

Assesseringsprogram: Kwartaal 4

Volg die skakel vir die Assesseringsprogram en intervensie tye (dit sluit nie die eksamenrooster in nie).

Aankoop van handboeke vir 2024

Ons is bevoorreg om van hierdie jaar af saam met Snapplify te werk om handboeke wat aangekoop moet word se proses te vergemaklik.

Ons wag nog net vir die laaste inligting, dan sal ons op die laatste teen Woensdag 'n e-pos uitstuur om te verduidelik hoe u te werk kan gaan. Hulle voorsien harde kopieë en (indien beskikbaar) die e-boek formaat.

Die afsnydatum vir bestellings is 31 Oktober. Dit sal verseker dat u kind die boeke betyds vir die nuwe skooljaar ontvang.

Ons vra asseblief dat u solank seker maak dat u kind sy/haar Google Classroom e-posadres en wagwoord het, aangesien u dit nodig het om die boeke op ons skool se platform aan te koop. Let asseblief ook daarop dat u verantwoordelik is vir die kostes van hierdie boeke.

Hou gerus u inboks vroeg in die nuwe week dop vir alle inligting rakende hierdie inisiatief.

Graad 9-vakkeuse en Psigometriese toetse

Die verslae vir die psigometriese toetse sal teen die laatste, Maandag, 23 Oktober elektronies aan alle ouers gestuur word.

U word ook vriendelik herinner dat die vakkeuses (https://forms.office.com/r/YyUCPutw0d) teen/voor 31 Oktober 2023 voltooi moet wees.

Indien u enige verdere navrae het, kontak asb. die graadhoof, mnr.Kastoor (wilbur.kastoor@janvanriebeeck.co.za)

KULTUUR

Debatwerkswinkel

Alle leerders wat op Karri vir die debat werkswinkel geregistreer het word aan die volgende reëlings herinner:

DATUM: Saterdag, 21 Oktober
TYD: 09:00-11:00
PLEK: Hoërskool Bellville
DRAG: Skooldrag

SPORT

Atletiekprogram vir kwartaal 4

Tennisprogram vir kwartaal 4

Krieketprogram vir kwartaal 4

Swemprogram vir kwartaal 4

Bergfiets: 17 Oktober 2023

Hoërskool Jan van Riebeeck se bergfietsryers is Dinsdag, 17 Oktober, direk na skool na Wynberg Boys High, om daar die opening van hulle nuwe baan te vier.

Altus van Niekerk het vir groot opwinding gesorg toe hy in die eerste resies vir die eerste ronde voor gejaag het en letterlik stof in die plus-minus 30 Wynberg- en SACS- jaers se oë geskop het. Hy het ongelukkig op een van die tegniese dele geval en sy voorsprong verloor. Susan Burger, Mari en Cara Swanepoel moes hulle 'man' staan tussen al die manne en het elkeen 'n spesiale pet saam met hulle geskenkpakkie ontvang.

Dit was 'n heerlike dag en iets wat ons hopelik weer volgende kwartaal by Hoërskool Jan van Riebeeck, op ons eie baan, sal kan herhaal.

ALGEMEEN

Graad 12-pryswenners

Alle graad 12-leerders wat kleure, erekleure of spesiale erekleure by die graad 12-prysuitdeling ontvang het en hul dasse en baadjies by die klerewinkel wil bestel, kan vanaf Maandag, 23 Oktober, 'n brief by mev. Nimmo kom afhaal. Hierdie brief word as bewys by die klerewinkel ingehandig om die baadjie of das te bestel.

Klerewinkel TYDELIK gesluit

Die klerewinkel sal tot en met 31 Oktober gesluit wees. Ons is gedurende hierdie paar dae besig om alle voorraad gereed te kry vir die nuwe graad 8-inname.

Vanaf Woensdag,1 November, sal die winkel slegs per afspraak oop wees. Ouers/ voogde kan vir Sanette (sannette.loggerenberg@Janvanriebeeck.co.za) kontak om 'n afspraak te maak. Baie dankie vir u begrip.

Bloedskenk: Maandag, 23 Oktober 2023

Om te gee, is in ons bloed!

Almal wat ouer as 16 jaar is (ouers ingesluit), is welkom om die grootste geskenk te kom gee. Op Maandag, 23 Oktober vanaf 10:30 tot 14:30 kan almal in die skoolsaal kom bloedskenk. Onthou om ’n groot ontbyt te eet die oggend, pousekos in te pak en baie water te drink voor jy kom skenk.

Dankie vir al die gereelde skenkers; julle maak ’n reuseverskil.

LENTESOKKIE: 26 Oktober 2023

Dis met groot opwinding dat ons komende Donderdag, 26 Oktober ons lentesokkie aanbied. Kaartjies is op Karri beskikbaar. Indien enige metgeselle van ander skole die aand wil bywoon moet leerders 'n brief by ontvangs gaan haal om te voltooi. Die voltooide afskeurstrokie asook 'n gesertifiseerde afskrif van die metgesel se ID moet by mnr. Geldenhuys of me. Olivier ingehandig word.

Die volgende skakel kan ook gevolg word vir 'n afskrif van die brief: https://janvanriebeeck.co.za/wp-content/uploads/2023/10/Lentedans_Buitemetgesel-brief.pdf

Datum: 26 Oktober 2023
Tyd: 18:00 - 21:00
Plek: Hoërskool Jan van Riebeeck, Die Gat
Koste: R50 (Jv- leerders) & R80 (buite leerders)

Busprefekte 2023/2024

Baie geluk aan ons busprefekte vir 2023/2024!
  • Daniël Loots
  • Boka Nthumubele
  • Charise Grobbelaar
  • Chané Venter
  • Martin van Bergen
  • Christin Meyer
  • Lisa Schoeman
  • Karla de Villiers
  • Jeanette Groenewald
  • Danielle Brand

ADVERTENSIES

WISKUNDE EN WETENSKAP

Hulpbronne vir Gr 10 tot 12

Elke afdeling is kernagtig en hanteerbaar opgesom om maklik te leer, te onthou en weer te gee.
Dit bevat voorbeeldsomme met stap vir stap verduidelikings.

Besoek gerus hul webtuiste vir meer inligting. https://wenwetenskap.co.za/
facebook instagram 
Email Marketing Powered by MailPoet