>> Besoek die volledige kalender op die webtuiste <<

UIT DIE SKOOLHOOF SE KANTOOR

Dit was heerlik om die afgelope Maandagaand ons nuwe ouers en graad 8-leerders hier by die skool te verwelkom tydens ons 2024-inligtingsessie. Die bestuurspan en graadhoofde het die belangrikste reëlings en verwagtinge met die leerders bespreek en ons kon reeds sien dat dit weer ’n indrukwekkende klompie jongmense is wat volgende jaar by ons aansluit. Ons is ook trots daarop dat die skoolgetalle groei en ons spog volgende jaar met ’n graad 8-klas van 120 leerders. Ons glo hul gaan besondere bydraes tot ons skoollewe lewer. Ons verwelkom die groep ook môre terug hier by ons wanneer hul van 10:00 tot 13:00 aan ’n pretdag van sport- en kultuuraktiwiteite sal deelneem.

Die matriekeksamen is nou goed op dreef en die matrieks is oorwegend positief oor die afgelope week se eksamenvraestelle. Hier en daar was daar bekommernisse oor ‘te min tyd’ maar almal is dit eens dat die vraestelle billik en van ’n hoë standaard is. Baie dankie aan ons akademiese hoof, me. Liza Serrao, en haar span opsieners en toesighouers wat hierdie reusetaak van eksamenbestuur met deeglikheid en groot sukses uitvoer. Die matrieks skryf vandag wiskunde/wiskundige geletterdheid (vr.1) en ons weet dit sal goed gaan!

Die res van die skool skop hul eksamen op 13 November af en belangrike hersiening en konsolidering word tans in die klasse gedoen. Dit is baie belangrik dat u kind volgende week getrou skool bywoon om te verseker dat hul so goed as moontlik voorberei word deur die personeel. Ek vertrou dat alle Jan van Riebeeckers nou hard aan die studeer is om vir hierdie belangrike eksamen gereed te wees. Die rapporte en jaarblaaie sal op Woensdag, 13 Desember uitgedeel word.

NUWE SAMEWERKINGOOREENKOMS MET TAMBOERSKLOOF PRIMARY SCHOOL
Hoërskool Jan van Riebeeck is baie trots en opgewonde dat ons onlangs 'n ooreenkoms met ons uitstekende bure en vriende van Tamboerskloof Primary School gesluit het wat bepaal dat ons die kuratorskap aan hul oordra vir die volle gebruik, bestuur en eienaarskap van die sportvelde in St. Michael'sstraat, Tamboerskloof.

Dié laerskool het vir baie jare reeds 'n groot behoefte aan sportfasiliteite en aangesien hul geen spasie het om hul sportprogram aan te bied en uit te brei nie, het die beheerliggaam en skoolbestuur van JvR dié veld die naaste aan Bo-Kloofstraat in hierdie geskiedkundige mylpaal-ooreenkoms aan hul toegeken vir die volgende 99 jaar!

Tamboerskloof Primary School beplan opwindende ontwikkelingsgeleenthede vir hul leerders en die breër gemeenskap.

Hierdie ooreenkoms, wat vir meer as 'n jaar met onderhandelinge voorafgegaan is, is 'n wonderlike getuigskrif van twee skole en 'n gemeenskap wat wil saamwerk vir die bevordering van jongmense en die gemeenskaplike doel van geleenthede-skep vir die kinders van Kaapstad.
Baie dankie ook aan die WKOD vir hul ondersteuning in hierdie proses. Mag die samewerking tussen ons twee skole vir járe mooi en opwindend bly.

NUWE PERSONEEL 2024
Ons verwelkom graag me. Elandré Bosch in die Afrikaans- en Skeppende Kunste-departement.

Me. Elandré Bosch is gebore en geskool in die Jakarandastad waar sy as hoofdogter en Presidente van Hoërskool Centurion gedien het.
Dis hier waar sy haar vlerke en ondersteuning van haar ouers en broer ontvang het. As dux-leerder besef sy die waarde van goeie onderwysers wat haar bemagtig het - daarom streef sy ook daarna om haar leerders aan te moedig om hoër te vlieg.

Haar studentejare onder die akkerbome van die Universiteit van Stellenbosch was gevul met besieling, op en van die verhoog af. Sy voltooi haar Drama Honneursgraad en NOS (Cum Laude) en haar koshuislewe in Irene, waar sy op die huiskomitee gedien het, sal altyd vir haar spesiaal bly.
Haar onderwysloopbaan word by Grey High School in Port Elizabeth afgeskop, daarna maak sy by Hoërskool Monument in Krugersdorp 'n draai en sy is tans onderwyser by Hoërskool Witteberg in Bethlehem.

Me. Bosch was op skool die nasionale wenner van die ATKV-redenaarskompetisie en wen talle kultuurtoekennings by verskeie prestige kompetisies. Na skool is sy by talle verhoogproduksies betrokke en werk saam met van die beste akteurs en regisseurs in die land aan opwindende projekte. Stian Ban, Antoinette Kellerman en Marthinus Basson is groot mentors en Susan Beyers lei haar op in radio- en stemwerk. Haar fluweelstem word ook op RSG gehoor.
Al kon sy op skool nie eers die C-atletiekspan haal nie, is sy en haar tekkies deesdae beste vriende. Sy is op haar gelukkigste voor die kospotte besig om etes vir haar geliefdes en vriende voor te berei.

Vandag, as trekvoël wat migreer vanaf die Vrystaat na die Kaap, is sy opgewonde om teen die hange van Tafelberg nes te maak.
Met dankbaarheid sien sy uit om deel van die gemeenskap en familie van Jan van Riebeeck te wees.

Geniet die naweek!

Pieter Rademeyer
Skoolhoof

AKADEMIE

Assesseringsprogram: Kwartaal 4

Volg die skakel vir die Assesseringsprogram en intervensie tye (dit sluit nie die eksamenrooster in nie).

Vakmusiekprakties: November 2023

Sien aangeheg die rooster vir die praktiese eksamens vir alle vakmusiekleerders.

Engels & Afrikaans: vraestel 3-eksamen - tweede geleentheid

Let asseblief daarop dat indien u kind hul Engels (Huistaal en Eerste Addisionele Taal) of hul Afrikaans-vraestel 3-assessering aan die einde van kwartaal 3 misgeloop het, is daar eerskomende Woensdag, 8 November en Donderdag, 9 November ’n finale geleentheid om hierdie belangrike assessering in te haal.

Dit is uiters belangrik vir alle leerders (met of sonder ’n geldige rede vir hul afwesigheid op die dae) om hierdie assessering nou te voltooi.

Die Engelsvraestelle sal op 8 November in mnr. Claassen se klas geskryf word en die Afrikaansvraestelle op 9 November in mnr. Rademeyer se klas.

Die sessies begin om 14:30 en leerders moet asseblief teen 14:20 in die onderskeie lokale aanmeld.

JvR-handboeke op Snapplify

Baie dankie aan die ouers wat terugvoering oor Snapplify gegee het. Hierdie is nog 'n leerskool vir ons almal, so enige terugvoer is baie welkom.

Net 'n paar sake:
  • die handboeke vir Afrikaans en Engels vir 2024 moet nog gefinaliseer word. Hierdie boeke is dus nog nie op die platform gelaai nie. Sodra dit beskikbaar is, sal ons u in kennis stel.
  • u moet asseblief u kind(ers) se Google Classroom gebruikersnaam en wagwoord gebruik om toegang tot die platform te verkry. Indien u enige probleme ervaar met die wagwoord, kontak asseblief vir mnr. Freddie Moyo by freddie.moyo@janvanriebeeck.co.za.
  • Die sperdatum vir bestellings is 7 November. Indien u na hierdie datum u bestelling plaas, sal die boeke later afgelewer word.
  • U hoef nie vir alle vakke handboeke aan te koop nie. Die boekestoor is steeds volstoom aan die gang; dus sal slegs boeke wat aangekoop moet word op die platform gelaai wees. Volledige boekelyste en skryfbehoeftelyste sal later in die kwartaal beskikbaar wees. Ons is in die proses om dit te finaliseer.
Ons het reeds navrae gekry aangaande tweedehandse boeke. Ongelukkig verkoop die skool self nie tweedehandse boeke nie. U kan gerus by tweedehandse winkels en selfs op sosiale media kyk vir tweedehandse boeke.

Indien u enige navrae het, kontak asseblief vir mev. Milandré Bezuidenhout by milandre.bezuidenhout@janvanriebeeck.co.za.

Graad 11-Gasvryheidstudiesuitstappie na Stellenbosch

Magies vol, ogies toe! Nie wanneer die oë met elke oogwink meer wil proe nie. Dan is die magie skielik dolleeg!

Op 25 Oktober het die gr. 11-Gasvryheidstudente die geleentheid gehad om 'n dag te beleef wat op geen ander manier beskryf kan word as 'merkwaardig' en beslis 'onvergeetlik', nie. Ons leerders het hul dag begin by die Devon Valley Hotel waar hul 'n heerlike 3-gang ontbyt kon geniet. By hierdie 4-ster-hotel het die leerders bekendstelling aan die hotelbestuurindustrie en wat dit behels, ervaar. Daarna het hul 'n besoek afgelê by die ongelooflike Aaldering-wynplaas in Stellenbosch waar hul die proses van die vervaardiging van kwaliteit wyn eerstehands kon beleef. En wat sal 'n Gasvryheidsuitstappie dan wees sonder 'n lip-lek-lekker soethappie wat 'n tandaartsafspraak in die nabye toekoms inhou? By die CTIA-sjefskool van Stellenbosch is daar bewys dat kuns nie slegs by 'n kunsdoek en verfkwaste lê nie, maar oorborrel by dié industrie. Beslis die hoogtepunt van die dag en so gou soos nou is elke leerder se mond propvol!

Moenier bekommer nie, ouers! Ons het darem ook gesorg dat u kind goed gevoed is met 'n onbeskryflike toebroodjie by een van ons oudleerders se klein, maar beslis onvergeetlike restaurant- "Toebroodjie". Kleure en geure soos geen ander nie. Definitief die moeite werd. En laastens, maar nie die minste nie, kon ons leerders oor 'n wye spektrum inligting kry oor hul studies na skool by die Internasionale Hotelskool waar hulle ingelig is oor die verskeie kursusse wat aangebeid word en watter kwalifikasies benodig word om in hierdie berdryf sukses te behaal. Wat n lip-lek-lekker-dag!

(Geskryf deur Michelle Schoeman, Gr. 11)

KULTUUR

Welgemeend Skool vir Musiek

Kom sluit die jaar op 'n hoë noot af wanneer die leerders van die Welgemeend Skool vir Musiek volgende Woensdag, 8 November, vermaaklike en uiteenlopende uitvoerings gaan lewer van die hoogste musikale standaard. Kaartjies is teen R50 beskikbaar op Quicket beskikbaar en die konsert vind in Laerskool Jan van Riebeeck se skoolsaal plaas.
https://www.quicket.co.za/events/239384-welgemeend-skool-vir-musiek-konsert-welgemeend-school-of-music-concert/#/

SPORT

Atletiek: Curro Podiumbyeenkomsuitslae

Hoërskool Jan van Riebeeck het Vrydag, 27 Oktober, aan die Curro Podiumbyeenkoms op Dal Josephat in die Paarl deelgeneem. Ons eindig algeheel 7de in die gemengde-skole-afdeling.
  1. Paarl Gimnasium (37 644)
  2. Hoërskool Stellenberg (36 458)
  3. Hoërskool Tygerberg (34 534)
  4. Hoërskool Durbanville (34 493)
  5. Fairmont High School (32 777)
  6. Hoërskool Bellville (30 609)
  7. Hoërskool Jan van Riebeeck (27 649)
  8. Curro Durbanville (22 961)
  9. Charlie Hofmeyr (22 231)
Ons atlete se uitslae was soos volg:

Seuns o.15
  • Mcallistor Brown: Hoogspring, 1.55m - 5de
  • Fredrich Erasmus: Spiesgooi, 43.35m - 5de; Verspring, 5.50m - 13de
  • Albert Griesel: 800m, 2:32.48 - 9de
  • Francois Joubert: 100m, 12.8s - 7de; 300mH, 45.62s - 7de
  • Angelo Kapel: 1500m, 04:38.19 - 8ste
  • Theo Kawe: 100m, 12.08s - 4de; 200m, 23.49s - 4de
  • Jean Petrie: 300mH, 45.44s - 6de
  • Sebastian Senekal: Spiesgooi, 32.18m - 7de
  • Altus van Niekerk: 3000m, 10:12.45 - 9de
Seuns o.17
  • Charlton Humphrys: 100m, 12.0 - 5de
  • Nehemia Rosen: 200m, 24.71 - 6de; 400mH, 59.65s - 5de
Seuns o.19
  • Damian Bosch: 400m, 50.95s - 1ste; 800m, 1:56.99 - 1ste
  • Darren Lee Botha: Verspring, 6.05m - 3de; Driesprong, 13.35m - 1ste
  • Lu Wyk Steyn: 110mH, 17.38s - 2de; 400mH, 59.54s - 1ste
Met die 4x100m-aflosse eindig die seunsspan 5de. Met die sweedse-aflos (400m, 300m, 200m, 100m) eindig die span 3de.

Dogters o.15
  • Mia Fortuin: 90mH, 18.09 - 5de; verspring 4.02m 9de
  • Helene Greeff: 200m, 29.35s - 6de; 400m, 1:06.16 - 4de
  • Chalsea Johnson: 100m, 13.67s - 4de; 200m, 28.06s - 3de
  • Alexa Kohler: 1500m, 5:55.42 - 15de
  • Erica Marais: Gewigstoot, 11.27m - 6de; Diskus, 23.22m - 15de
  • Kate Mouton: 200m, 30.35 -7de; 400m, 1:11.19 - 6de
  • Clarize Strydom: Hoogspring, 1.35m - 6de
  • Mia van den Berg: 100m, 14.40 - 4de; 300mH, 53.47 - 5de
Dogters o.17
  • Catherine Shaw: Gewigstoot, 9.93m - 11de
  • Lea Solomons: Gewigstoot, 7.45m - 16de
  • Mari Swanepoel: 1500m, 06:07.03 - 9de
  • Scarlett v.d Merwe: 1500m, 04:55.30 - 2de; 3000m, 10:45.33 - 2de+
Met die dogters se aflos het hul met die 4 x 100m en sweedse aflos beide 5de geëindig.

Hierdie uitslae van ons atlete maak ons voorwaar baie opgewonde oor die 2024-seisoen.

Sportoefentye gedurende die eksamen: vanaf 13 November 2023

Stud. van die week!

Ons sport-"STUDS" van die week is ons vier atlete wat die beste prestasies gelewer het by die Curro-podiumbyeenkoms op Vrydag, 27 Oktober!
Seuns
  • Beste veldatleet: Fredrich Erasmus - Spiesgooi
  • Beste baanatleet: Altus van Niekerk - 3000m
Dogters
  • Beste veldatleet: Erika Marais - Gewigstoot
  • Beste baanatleet: Scarlett vd Merwe - 3000m
Dankie aan ons nuwe bure hier in Kloofstraat, Stud The Burger Shop, Tuine, vir ons atlete se geskenkbewyse. Hul sien uit na die heerlike burgers en skyfies!

ALGEMEEN

Groepfoto-bestellings

Die Jan van Riebeeckers het almal verlede week koeverte ontvang met ’n bestelvorm vir die groepfoto’s wat op 11 en 12 Oktober geneem is. Leerders moet slegs die koevert met die bestelvorm teen Maandag, 6 November by me. Vrey inhandig. Daar sal volgende week ’n Karri-lys geskep word wat gebruik kan word om die rekening te vereffen. Graad 12’s kan op dieselfde manier die foto’s van hul prysuitdeling bestel.

ATKV-strepiestak en Toby de Ruiter se projek

Toby de Ruiter dien vanjaar op die Junior Stadsraad van Kaapstad en daar vereis word dat elke lid hul eie projek loods in ’n poging om terug te ploeg in hul gemeenskappe om verandering te help bring.

Sy projek se naam is The Helping Hand en hy wil met behulp van ons ATKV-Strepiestak en die JvR-familie, graag ’n groot verskil maak. Die projek fokus daarop om sy ou kleuterskool, Jessie Keet, ’n helpende hand te bied. Hy het in die vakansie gaan kuier en ’n behoeftebepaling gedoen.

Die volgende word benodig:
  • Opvoedkundige speelgoed
  • Babaprodukte
  • Nie-bederfbare kos
  • Gelddonasies
Hoe kan die JvR-familie hierdie projek ondersteun?

Ons maak hoofsaaklik staat op die ondersteuning van die skoolgemeenskap en sal enige donasie (produkte of `n geldjie) baie waardeer. Die gelddonasielys is op Karri beskikbaar, naamlik "Toby se Stadsraadprojek" en enige ander donasies kan by die skool se ontvangs afgelaai word. Die geld sal dien as ’n skenking vir ’n nuwe naambord vir die kleuterskool.

Indien daar enige navrae oor ander benodighede is, kan u vir Toby (toby.deruiter@janvanriebeeck.org) kontak.

By voorbaat dankie vir almal se ondersteuning!

JvR-skoolwinkel

Die skoolwinkel sal vanaf Woensdag,1 November, slegs per afspraak oop wees. Ouers/ Voogde kan vir Sanette (sannette.loggerenberg@Janvanriebeeck.co.za) kontak om 'n afspraak te maak.

ADVERTENSIES

WISKUNDE EN WETENSKAP

Hulpbronne vir Gr 10 tot 12

Elke afdeling is kernagtig en hanteerbaar opgesom om maklik te leer, te onthou en weer te gee.
Dit bevat voorbeeldsomme met stap vir stap verduidelikings.

Besoek gerus hul webtuiste vir meer inligting. https://wenwetenskap.co.za/
facebook instagram 
Email Marketing Powered by MailPoet