|
|
|
UIT DIE SKOOLHOOF SE KANTOOR
DIE EKSAMEN SKOP MAANDAG AF
|
Die eindeksamen vir graad 8 tot 11 skop eerskomende Maandag, 13 November af. Die skool kom vanaf Dinsdag, 14 November daagliks om 12:10 uit en busse vertrek om 12:25.
|
Let wel: eerskomende Maandag, 13 November verdaag die leerders eers om 14:05 (busse vertrek 14:20) en op 27 November verdaag die leerders om 13:00 (busse vertrek 13:15).
|
Die eksamenrooster is weer hier beskikbaar. Neem asseblief kennis dat die skryftye vir graad 10-Musiek verander het.
|
Ouers word daaraan herinner dat hul die eksamenhoof, me. Huibrecht Steyn, dadelik moet kontak by huibrecht.steyn@janvanriebeeck.co.za indien hul kind die dag nie ’n eksamen kan aflê nie. Ouers moet dan ook so gou as moontlik ’n mediese sertifikaat by me. Sterrenberg indien.
|
Leerders moet elke oggend tydens register hul handboeke van die vorige dag se eksamen inhandig. Leerders wat nie handboeke inhandig nie, sal vir die handboeke moet betaal.
|
Baie sterkte aan al ons Jan van Riebeeckers - werk hard om te verseker dat jul uitslae goed is; jou harde werk sal beloon word!
|
Welkom aan me. Alison Mönnig - Vakhoof: Engels
|
Me. Alison Mönnig het in Simonstad grootgeword waar sy ook gematrikuleer het. Sy het later aan die Universiteit van Kaapstad haar BA-graad en onderwysdiploma voltooi. Sy het in 2006 haar Honneursgraad aan dieselfde universiteit voltooi en is as die beste nagraadse student in daardie jaar aangewys.
|
Haar onderwysloopbaan het op Somerset-Wes begin, maar sy het later by 'n skool in die stadskom begin Engels onderrig.
|
Sy is 'n deurwinterde en gesoute onderwyser met 38 jaar in die klaskamer onder die knie en jare se ondervinding by die nasien van Engels Huistaal (Vraestel 3) waar sy ook as hoofnasiener in the Wes-Kaap diens gedoen het.
|
As matriekleerling wou sy graag joernalis word, maar, as gevolg van omstandighede, het sy besluit om 'n onderwysloopbaan te volg. Die eerste keer toe sy as proefstudent in 'n klaskamer staan, het sy geweet sy is 'tuis'. En die klaskamer is nog steeds waar sy op haar gelukkigste is.Sy geniet dit om die leerders se kreatiewe denke te laat vlamvat en die onderrig van letterkunde bly 'n hoogtepunt.
|
Lees is vir haar lekker - veral biografieë en outobiografieë waaruit sy lesse kan leer. Naaldwerk soos borduurwerk en brei hou haar ook besig. Reis en die natuur bly ook groot belangstellings en sy wil in 2024 die Namakwalandse blomme eerstehands besigtig asook die natuurskoon van die Drakensberge. Miskien sal 'n oorsese reis na Frankryk of Italië ook êrens ingepas word. Mev. Mönnig will ook graag 'n mooi clivia (miskien een van die raar variante) aankoop vir haar tuin.
|
Wat sport betref, is tennis 'n groot gunsteling. Roger Federer en Rafa Nadal sal altyd in haar oë kampioene bly, maar sy erken dat Novak Djokovic in 'n klas van sy eie is. Die jong Spanjaard, Carlos Alcaraz, is tans bo aan haar lys van gunstelingspelers.
|
Haar eie twee kinders, albei jong volwassenes, hou haar voete plat op die aarde, maar is ook haar grootste ondersteuners en steunpilare.
|
Mev. Mönnig sien uit om deel te word van die energie, gees en akademiese strewe van ons uitmuntende skool aan die voet van Tafelberg.
|
Ons sien ook baie uit na die wye ervaring en groot bydraes wat me. Mönnig na Jan van Riebeeck bring.
|
|
|
AKADEMIE
|
|
|
|
Handboeke en skryfbehoeftes vir 2024
|
Volg die onderskeie skakels vir die lyste met die handboeke en skryfbehoeftes per graad vir 2024.
|
Let asseblief daarop dat u sekere handboeke self moet aankoop (aangedui in “aankoop”-kolom) en dat die res van die boeke deur die skool voorsien word vir die akademiese jaar. Die JvR-Rekeningkunde werkboek (graad 8 & 9) is by die skool beskikbaar. Die werkboeke vir Fisiese Wetenskappe en IGO moet op Karri betaal word. Kontak gerus vir me. Turkstra (lize.turkstra@janvanriebeeck.co.za) indien u navrae het oor Fisiese Wetenskappe en vir me. Reineke (carlie.reineke@janvanriebeeck.co.za) indien u navrae het oor IGO.
|
U kan die boeke aankoop via Snapplify (onthou asseblief om u kind se Google Classroom-besonderhede daarvoor te gebruik). Die boeke sal so gou as moontlik aan die begin van die eerste kwartaal by die skool afgelewer word. U kan die boeke ook aankoop op Takealot, Boost (www.boostprocurement.co.za) of by Van Schaik. Die tak in die stad het ons skool se boekelyste; dus sal hulle u vinnig kan help. U kan ook uitvind of leerders in ander grade nie dalk hul boeke wil verkoop nie en die boeke sodoende tweedehands aankoop.
|
Baie dankie vir u geduld die afgelope week met ons rakende Snapplify. Hierdie is die eerste jaar wat ons saam met hulle werk, dus leer ons baie uit hierdie proses.
|
Onthou asseblief dat u die leerder(s) se Google Classroom-besonderhede moet gebruik om toegang tot Snapplify te verkry. Indien u die korrekte gebruikersnaam en wagwoord gebruik, maar steeds probleme ondervind, kontak asseblief vir Snapplify by help@snapplify.com. Hulle het ’n span wat flink help om enige probleme uit te stryk.
|
U sal sien dat sekere boeke as hardekopieë beskikbaar is, en/of as PDF-dokumente. Indien u kind(ers) hardekopieë van boeke gaan gebruik, hoef u slegs die hardkopie aan te koop van boeke wat sodanig op die handboeklys aangedui is. Indien u kind(ers) van e-boeke gebruik gaan maak, moet u asseblief die PDF-formaat aanskaf. U hoef dus nie die boeke wat deur die skool voorsien word aan te koop nie, tensy u kind(ers) van e-boeke gebruik gaan maak.
|
Indien sekere boeke nog nie hierdie naweek op die platform beskikbaar is nie, behoort dit teen Maandag beskikbaar te wees.
|
U is welkom om steeds bestellings op Snapplify te plaas. Die bestellings wat van nou af geplaas word, se boeke word vroeg in die eerste kwartaal by die skool afgelewer.
|
Leerders moet asseblief alle handboeke wat deur die boekestoor aan hul uitgereik is, gedurende die eksamen inhandig. Boeke word ingehandig die dag na leerders 'n vak se vraestel geskryf het. Indien 'n leerder versuim om handboeke in te handig of boeke verloor het, vra die skool R300 per boek, sodat ons die boek(e) kan vervang. Ons vra asseblief u samewerking in hierdie verband sodat u nie nog verdere onnodige uitgawes gedurende hierdie tyd van die jaar het nie.
|
|
|
|
|
Leerders presteer in Afrikaans!
|
Die Jan van Riebeeckers het puik gevaar in die FAK se jaarlikse internasionale Afrikaans-ekspo! 36 uit die 44 leerders het meer as 80% vir hul projekte behaal. Baie geluk aan Sophie Wasserman in graad 8 wat vanjaar ons toppresteerder is. Sy behaal 'n allemintige 98% vir haar opstel met 'trek' as tema. Ons is baie trots op al ons deelnemers!
|
Ons is baie trots op Marcelle van der Merwe en Zazzie Henderson (beide graad 11) wat uitstekend presteer het in Beeld se nasionale Kreatiewe Skryfwerk-kompetisie! Beide leerders eindig in die toppresteerderskategorie vir 'n prestasie tussen 86% en 90% behaal! Wel gedaan aan hierdie twee kreatiewe Jan van Riebeeckers!
|
|
|
|
|
|
|
Sportoefentye gedurende die eksamen: vanaf 13 November 2023
Dit is vir die skool belangrik dat ons leerders gedurende die eksamentydperk goeie oefening, genoeg vars lug en sosiale interaksie op die sportveld saam met hul maats geniet.
|
Sportoefeninge gaan voort soos op die roosters aangedui, maar dit is nie verpligtend nie en die skool het begrip vir leerders wat eerder moet voorberei vir ’n groot eksamenvak die volgende dag of nie die betrokke dag by die skool is om te skryf nie.
|
Moedig asseblief egter u kind aan om by hierdie oefensessies te wees!
|
|
|
|
|
|
|
Peet presteer in tennis!
|
Peet het gekwalifiseer as een van die top 8 TSA Cape Town-spelers in die mansafdeling vanjaar. Hy het gedurende die naweek van 3 tot 5 November aan die Cape Town Masters deelgeneem. Soos ons al daaraan gewoond is, wen Peet ook hierdie afdeling. Ons is baie trots op jou, Peet!
|
|
|
|
|
|
ALGEMEEN
|
|
|
|
ATKV-strepiestak en Toby de Ruiter se projek
|
Toby de Ruiter dien vanjaar op die Junior Stadsraad van Kaapstad en daar vereis word dat elke lid hul eie projek loods in ’n poging om terug te ploeg in hul gemeenskappe om verandering te help bring.
|
Sy projek se naam is The Helping Hand en hy wil met behulp van ons ATKV-Strepiestak en die JvR-familie, graag ’n groot verskil maak. Die projek fokus daarop om sy ou kleuterskool, Jessie Keet, ’n helpende hand te bied. Hy het in die vakansie gaan kuier en ’n behoeftebepaling gedoen.
|
Die volgende word benodig:
|
- Opvoedkundige speelgoed
- Babaprodukte
- Nie-bederfbare kos
- Gelddonasies
Hoe kan die JvR-familie hierdie projek ondersteun?
|
Ons maak hoofsaaklik staat op die ondersteuning van die skoolgemeenskap en sal enige donasie (produkte of `n geldjie) baie waardeer. Die gelddonasielys is op Karri beskikbaar, naamlik "Toby se Stadsraadprojek" en enige ander donasies kan by die skool se ontvangs afgelaai word. Die geld sal dien as ’n skenking vir ’n nuwe naambord vir die kleuterskool.
|
Indien daar enige navrae oor ander benodighede is, kan u vir Toby (toby.deruiter@janvanriebeeck.org) kontak.
|
By voorbaat dankie vir almal se ondersteuning!
|
|
|
|
|
|
JvR-skoolwinkel
|
|
|
|
|
Jan van Riebeeckers se Omgee-projek raak harte
|
|
Sommige skoolmeisies mis maandeliks waardevolle ure in die skoolbanke en daarom het ons leerders besluit om ook 'n bietjie te help deur vandag 'n ernstige veldtog te loods vir dié goeie saak! Verlede Vrydag se sivviedag en invordering van sanitêre produkte was 'n reusesukses. Dankie, leerders vir julle inisiatief en entoesiasme. Groot dankie ook aan ons ouers vir hul ondersteuning en omgee!
|
|
|
|
|
Huis Jordaan braai!
|
Op Donderdag, 9 November, se mooi someraand was dit weer Huis Jordaan se beurt om net so vir oulaas voor die eksamen te ontlaai!
|
Wie het gesê dogters kan nie vuur maak nie? Die nuwe huiskomitee het voorgevat, self slaaie gemaak en self gebraai. Net toe die dogters dink die hoogtepunt is die nagereg, het die Roggies hul verras met 'n buitelugsangvertoning. Dit was net te gou verby, maar dit was groot pret. Die Roggies was baie kreatief en baie "oulik". Hulle het self ook so gedink! Almal is dit eens dat ons meer die boeke moet wegpak en net moet asemskep. Maar nou ja... nou is dit eers tyd vir eksamen!
|
|
|
|
|
|
ADVERTENSIES
|
|
CAD4ALL-opedag: 11 November 2023
|
|
CAD4ALL se opedag vind op Saterdag, 11 November 2023, plaas. Bespreek jou plek vir die opedag en staan 'n kans om pryse ter waarde van R35 000 te wen.
|
As argitektuur jou passie en droom is om te volg, is hierdie een van jou opsies om te oorweeg. Sien ook al die moontlike studierigtings en verskillende kampusse aangeheg. Volg die skakel na hul beroepvoorligting-sessie wat Saterdag by hul kampus in Claremont plaasvind, indien jy nog onseker is oor jou studierigtings en moontlikhede.
|
|
|
|
|
|
Hulpbronne vir Gr 10 tot 12
|
Elke afdeling is kernagtig en hanteerbaar opgesom om maklik te leer, te onthou en weer te gee. Dit bevat voorbeeldsomme met stap vir stap verduidelikings.
|
|
|
|
|
|
|