>> Besoek die volledige kalender op die webtuiste <<

UIT DIE SKOOLHOOF SE KANTOOR

Die eerste week van die graad 8-11's se eksamen is verby en ons leerders klink positief en tevrede met die verloop van sake. Ons hou duimvas dat die res van die eksamen glad sal verloop. Ons matrieks het ook reeds hul derde week agter die rug en daar is meestal glimlagte op die gesigte wanneer hul die eksamenlokaal verlaat.

Ek wil vandag graag opreg baie dankie sê aan almal wat verlede Saterdag ons JvR-fondsinsamelingfunksie in ware 1920's-styl bygewoon of op enige ander manier ondersteun het! Die skoolsaal was prentjiemooi, die lewendige musiek nét die regte agtergrondklanke, die kos uit die boonste rakke - en seremoniemeester en kulkunstenaar, PG Engelbrecht, het die gaste laat skater van die lag!

Ons is ongelooflik dankbaar vir die REUSEondersteuning van ons ouers en skoolgemeenskap. 'n Spesiale dankie aan me. Esna Boshoff wat as organiseerder hierdie puik en stylvolle funksie beplan en aangebied het. Me. Razelle Hanekom het, as ons skool se projekbestuurder, haar hierin uitstekend ondersteun - dánkie!

Ons het Saterdagaand ook ons beoogde binnehofprojek bekendgestel het. Dié binnehof (DIE GAT, soos ons leerders daarna verwys) is die middelpunt van die studentebedrywighede – en ’n gunstelingbymekaarkomplek.
Die area bestaan tans uit ’n teerblad met ’n paar banke waar leerders pouses kuier.

Die gedagte is om hierdie area aantrekliker te maak deur verskeie elemente ’n vars voorkoms te gee: groener dele met meer plante/bome, nuwe afwerkings aan die muur, vloeroppervlak en ’n tydelike struktuur wat toegemaak kan word in die geval van slegter weer. Sien hier ’n voorstelling van die beplande projek.

Ons is baie dankbaar teenoor ons hele skoolgemeenskap dat ons Saterdagaand daarin kon slaag om die meeste ‘bakstene’ van ons nuwe binnehofprojek te kon verkoop.
Sien gerus hier hoe die plan in blokke van R10 000 elk verdeel is wat die gaste kon koop om hul stukkie Jan van Riebeeck-grond te besit.

Dit, tesame met ander inkomstes en veiling-items, het ons tot by ’n uitstekende inkomstekerf gestoot. Indien ons egter nog sowat 20 blokke verkoop kan kry, kan ons vroeg in die nuwe jaar reeds wegspring met hierdie opwindende projek.

Indien u ons op enige manier kan ondersteun om die mikpunt te haal, sal dit werklik opreg waardeer word. Ons reik graag Artikel 18A-sertifikate uit vir enige donasies ontvang.

U is welkom om met my te skakel (skoolhoof@janvanriebeeck.co.za) indien u graag sou wou bydra tot die volgende projek hier by Hoërskool Jan van Riebeeck.

Geniet die naweek!

Pieter Rademeyer
Skoolhoof

AKADEMIE

Handboeke en skryfbehoeftes vir 2024

Volg die onderskeie skakels vir die lyste met die handboeke en skryfbehoeftes per graad vir 2024.
Let asseblief daarop dat u sekere handboeke self moet aankoop (aangedui in “aankoop”-kolom) en dat die res van die boeke deur die skool voorsien word vir die akademiese jaar. Die JvR-Rekeningkunde werkboek (graad 8 & 9) is by die skool beskikbaar. Die werkboeke vir Fisiese Wetenskappe en IGO moet op Karri betaal word. Kontak gerus vir me. Turkstra (lize.turkstra@janvanriebeeck.co.za) indien u navrae het oor Fisiese Wetenskappe en vir me. Reineke (carlie.reineke@janvanriebeeck.co.za) indien u navrae het oor IGO.

U kan die boeke aankoop via Snapplify (onthou asseblief om u kind se Google Classroom-besonderhede daarvoor te gebruik). Die boeke sal so gou as moontlik aan die begin van die eerste kwartaal by die skool afgelewer word. U kan die boeke ook aankoop op Takealot, Boost (www.boostprocurement.co.za) of by Van Schaik. Die tak in die stad het ons skool se boekelyste; dus sal hulle u vinnig kan help. U kan ook uitvind of leerders in ander grade nie dalk hul boeke wil verkoop nie en die boeke sodoende tweedehands aankoop.

Snapplify

Baie dankie vir u geduld die afgelope week met ons rakende Snapplify. Hierdie is die eerste jaar wat ons saam met hulle werk, dus leer ons baie uit hierdie proses.

Onthou asseblief dat u die leerder(s) se Google Classroom-besonderhede moet gebruik om toegang tot Snapplify te verkry. Indien u die korrekte gebruikersnaam en wagwoord gebruik, maar steeds probleme ondervind, kontak asseblief vir Snapplify by help@snapplify.com. Hulle het ’n span wat flink help om enige probleme uit te stryk.

U sal sien dat sekere boeke as hardekopieë beskikbaar is, en/of as PDF-dokumente. Indien u kind(ers) hardekopieë van boeke gaan gebruik, hoef u slegs die hardkopie aan te koop van boeke wat sodanig op die handboeklys aangedui is. Indien u kind(ers) van e-boeke gebruik gaan maak, moet u asseblief die PDF-formaat aanskaf. U hoef dus nie die boeke wat deur die skool voorsien word aan te koop nie, tensy u kind(ers) van e-boeke gebruik gaan maak.

Indien sekere boeke nog nie hierdie naweek op die platform beskikbaar is nie, behoort dit teen Maandag beskikbaar te wees.

U is welkom om steeds bestellings op Snapplify te plaas. Die bestellings wat van nou af geplaas word, se boeke word vroeg in die eerste kwartaal by die skool afgelewer.

2023 Handboeke

Leerders moet asseblief alle handboeke wat deur die boekestoor aan hul uitgereik is, gedurende die eksamen inhandig. Boeke word ingehandig die dag na leerders 'n vak se vraestel geskryf het. Indien 'n leerder versuim om handboeke in te handig of boeke verloor het, vra die skool R300 per boek, sodat ons die boek(e) kan vervang. Ons vra asseblief u samewerking in hierdie verband sodat u nie nog verdere onnodige uitgawes gedurende hierdie tyd van die jaar het nie.

SPORT

Ouerkomitees vir sport

Die gesegde lui: 'n betrokke leerder, is 'n gelukkige leerder.

Jan van Riebeeck se sportkantoor wil graag 'n nuwe inisiatief loods waar ons ouers meer betrokke wil kry. Die plan is om komitees vir elke sportkode in die skool te stig. Die komitees sal sportdae help fasiliteer, borge vir die sportkode werf / uitwys en betrokke wees by die algemene beplanning vir die toekoms van hul betrokke sportkode.

In kort is dit 'n groep mense wat saam droom om die sportkode na die volgende vlak te neem.

Met die toename in getalle by sport, benodig ons meer infrastruktuur, toerusting, afrigters en meer bereidwillige ouers om te help.

Indien u sou belangstel om deel te word van so 'n groep, e-pos gerus ons sporthoof, Abré van Heerden, by abre.vanheerden@janvanriebeeck.co.za en meld by watter sportkode u graag 'n bydrae wil lewer. Enige insette sal waardeer word!

Netbalskeidsregters: Blaas vir die wenkant

Twee Jan van Riebeeck-skeidsregters is genooi om by die 'Inter Government Netball Tournament' te blaas waar die Wes-Kaapse Premier- en Burgermeesterkantore teen mekaar gespeel het. Die toernooi het Vrydag, 10 November, by die premierwoning, Leeuwenhof, plaasgevind.

Nie net het ons die Top fast-5 span in die Wes-Kaap nie, maar mee. Leandé van Heerden en Razelle Hanekom het gewys hoe goed ons netbalorganisasie van die baan af is. Hulle het gesorg vir ’n heerlike, gemaklike en prettige atmosfeer waar strawwe kompetisie, sowel as hope gees onder die verskillende kantore geheers het.

Dankie aan mnr. Alan Winde, Premier van die Wes-Kaap, en Geordin Hill-Lewis, Burgemeester van Kaapstad, vir die uitnodiging en wonderlike geleentheid.

Sportoefentye gedurende die eksamen: vanaf 13 November 2023

Dit is vir die skool belangrik dat ons leerders gedurende die eksamentydperk goeie oefening, genoeg vars lug en sosiale interaksie op die sportveld saam met hul maats geniet.
Sportoefeninge gaan voort soos op die roosters aangedui, maar dit is nie verpligtend nie en die skool het begrip vir leerders wat eerder moet voorberei vir ’n groot eksamenvak die volgende dag of nie die betrokke dag by die skool is om te skryf nie.
Moedig asseblief egter u kind aan om by hierdie oefensessies te wees!

ALGEMEEN

Lootjie-kompetisie 2023

Al ons leerders het gedurende die week elkeen 'n bladsy met vyf lootjies ontvang om teen R20 elk te verkoop. Hierdie kompetisie, aangebied deur die VRL, is die laaste fondsinsamelingsprojek vir die jaar. Daar is groot pryse om te wen!

Lootjies kos slegs R20 elk en kan met kontant, via SnapScan of op Karri betaal word. Elke leerder se bladsy het 'n SnapScan/Karri-kode op wat kopers kan skandeer om te betaal. Die verwysing wat kopers moet gebruik, is die leerders se unieke betaal-ID (wat op die bladsy sal verskyn).

Ons versoek vriendelik dat elke leerder hul bladsy met die vyf lootjies sal verkoop. Alle bladsye, asook die kontant, moet weer teen Maandag, 4 Desember, by hul registeronderwysers ingehandig word. Indien 'n leerder hul lootjiepapier verloor, sal hul ongelukkig steeds verantwoordelik wees vir die volle waarde van sy/haar lootjiebladsy (5 x R20 = R100).

Ons moedig leerders aan om meer as een bladsy te probeer volmaak - daar is natuurlik ook pryse op die spel vir die leerder wat die meeste lootjies verkoop. Sterkte!

Groepfoto-bestellings

Die groepfoto-bestellings het reeds gesluit en kan nou op Karri betaal word. Neem asseblief kennis dat die Karri-lys op 24 November 2023 vir betalings sluit. Graad 12’s kan hul bestellings op Karri betaal en teen 24 November 2023 die bestelvorm by me.Vrey inhandig of die bestelvorm aan magda.vrey@janvanriebeeck.co.za e-pos.

ATKV-strepiestak en Toby de Ruiter se projek

Toby de Ruiter dien vanjaar op die Junior Stadsraad van Kaapstad en daar vereis word dat elke lid hul eie projek loods in ’n poging om terug te ploeg in hul gemeenskappe om verandering te help bring.

Sy projek se naam is The Helping Hand en hy wil met behulp van ons ATKV-Strepiestak en die JvR-familie, graag ’n groot verskil maak. Die projek fokus daarop om sy ou kleuterskool, Jessie Keet, ’n helpende hand te bied. Hy het in die vakansie gaan kuier en ’n behoeftebepaling gedoen.

Die volgende word benodig:
  • Opvoedkundige speelgoed
  • Babaprodukte
  • Nie-bederfbare kos
  • Gelddonasies
Hoe kan die JvR-familie hierdie projek ondersteun?

Ons maak hoofsaaklik staat op die ondersteuning van die skoolgemeenskap en sal enige donasie (produkte of `n geldjie) baie waardeer. Die gelddonasielys is op Karri beskikbaar, naamlik "Toby se Stadsraadprojek" en enige ander donasies kan by die skool se ontvangs afgelaai word. Die geld sal dien as ’n skenking vir ’n nuwe naambord vir die kleuterskool.

Indien daar enige navrae oor ander benodighede is, kan u vir Toby (toby.deruiter@janvanriebeeck.org) kontak.

By voorbaat dankie vir almal se ondersteuning!

JvR-skoolwinkel

Die skoolwinkel is reeds vanaf Woensdag,1 November, slegs per afspraak oop. Ouers/ Voogde kan vir Sanette (sannette.loggerenberg@Janvanriebeeck.co.za) kontak om 'n afspraak te maak.

ADVERTENSIES

WISKUNDE EN WETENSKAP

Hulpbronne vir Gr 10 tot 12

Elke afdeling is kernagtig en hanteerbaar opgesom om maklik te leer, te onthou en weer te gee.
Dit bevat voorbeeldsomme met stap vir stap verduidelikings.

Besoek gerus hul webtuiste vir meer inligting. https://wenwetenskap.co.za/
facebook instagram 
Email Marketing Powered by MailPoet