> Besoek die volledige 2024 kalender op die webtuiste <

UIT DIE SKOOLHOOF SE KANTOOR

Baie welkom terug aan al ons Jan van Riebeeckers en ons ouers/voogde!
Ek vertrou dat almal goed uitgerus is en gereed is om die nuwe skooljaar met groot entoesiame aan te pak. Ons sien uit na ’n baie opwindende jaar!

’n Spesiale welkom aan ons nuwe graad 8's en hul ouers/voogde. Ons is reeds baie beïndruk met dit wat ons van dié groep die afgelope week beleef het - ons weet dat die 'houtjies' beslis hul merk hier by ons gaan maak. Mag die verbintenis oor die volgende klompie jare heerlik en positief wees!

Ons het ook tydens ons eerste saalbyeenkoms Woensdag die nuwe personeel aan die leerders voorgestel. Baie welkom, kollegas; mag die nuwe hoofstuk by Jan van Riebeeck vir julle opwindend wees:

Me. Alison Monnig - Vakhoof: Engels
Me. Corine Raath - Afrikaans
Me. Elandré Bosch - Afrikaans
Mnr. Jaco Dippenaar - Hoof: Musiek & Kultuur
Mnr. Theon Theron - RTT & Wiskunde
Me. Louise Buhrmann - Wiskunde & EBW
Me. Lumari Velleman - Tegnologie, LO & Geskiedenis
Me. Shardé Roux - Ontwerp

Dit was heerlik om vanoggend die uitstekende matriekuitslae van die 2023-klas bekend te maak. Ons is baie trots op elke leerder!
Sewe leerders slaag met 7A's en nog vier leerders slaag met 6A's.
41% van die matriekklas behaal ’n gemiddeld bo 70%!

Baie geluk ook aan al ons onderwysers - jul harde werk is ook beloon.

Ons vakgemiddeldes is uitstekend: uit die 22 vakke wat ons aanbied, het 14 vakke ’n klasgemiddeld bo 60%, 9 vakke is bo 70% - LO (70%), Wiskunde (71%), Musiek (73%), IGO (73%), Rekeningkunde (75%), Engels Huistaal (76%) en Dramatiese Kunste (78%).
2 vakke spog vanjaar met ’n klasgemiddeld bo 80%: Inligtingstegnologie (82%) en Visuele Kunste (86%).

17% van ons matriekklas het ’n A-gemiddeld behaal en al 10 van ons top tien-leerders het boonop ’n gemiddeld bo 85% behaal.

Baie geluk aan ons drie toppresteerders:
  1. Jenna Kohler (93,86%) - al sewe vakke bo 90% en 97% vir Wiskunde en Rekeningkunde
  2. Adrian Huysamen (93,29%) - 100% vir Ekonomie, 99% vir IGO, 97% vir Wiskunde en 95% vir Fisiese Wetenskappe
  3. Stefan Turkstra (92,14%) - 97% vir Wiskunde, 94% vir Inligtingstegnologie en 92% vir Rekeningkunde en Fisiese Wetenskappe
Ons is baie trots op almal se harde werk en puik uitslae!

Kom kuier volgende Donderdag, 25 Januarie, saam om die jaar op 'n gesellige noot af te skop. Hierdie geleendheid is slegs vir ouers. Ons stel ook dan al ons personeel aan u voor.
Braaipakke kan bestel word en die ete sluit ook bykosse in. Daar sal 'n Snapscan-kroeg beskikbaar wees. Kosbestellings moet teen Dinsdag, 23 Januarie 2024 (om 17:00) op Karri geplaas word.

Ek herinner ook graag ons graad 12-ouers en -leerders aan die matriekinligtingaand eerskomende Maandag (22ste) om 18:00 in die skoolsaal. Belangrike inligting vir die jaar word deurgegee. Leerders woon die aand in volledige skooldrag by.

Mooi wense vir 2024!

Pieter Rademeyer
Skoolhoof

AKADEMIE

Nuwe 2024-dagprogram

Ek herinner graag dat die skooldag nou om 07:35 begin en om 14:15 eindig. Die klok lui om 7:35, so dit sal dalk goed wees indien u sommer beplan dat u kind reeds om 7:30 by die skool kan wees. Alle sport- en kultuuraktiwiteite sal steeds om 14:30 begin.

Graad 8-11: Meriete-aansoeke vir 2023

Alle leerders wat in Desember 2023 prestasies behaal het vir sport en kultuur wat buite die skool aangebied word en in aanmerking wil kom vir merietetoekennings vir 2023, moet asseblief die onderstaande skakel voor Maandag, 22 Januarie voltooi:

https://forms.gle/PWQUgmiGrwJRgrMD6

UCT Fisika-lesing op Saterdag, 27 Januarie 2024

Op Saterdag, 27 Januarie 2024, om 09:00 in die hooflesingsaal van die Fisika-gebou van die UK sal Rob Louw (oud-Jan van Riebeecker) 'n aanbieding doen wat gerig is op graad 11- en 12-leerders. Die lesing is getiteld An introduction to Einstein's Special Relativity en die inhoud sal gebaseer wees op sy UCT Summer School-lesings.

Volg die skakel vir meer inligting oor Rob Louw en vir die notas oor sy lesing: https://summerschool.uct.ac.za/interesting-physical-phenomena

Toegang is GRATIS en verversings sal voorsien word. Leerders moet asseblief so gou as moontlik, maar op die laatste teen 22 Januarie 2024, met me. Turkstra bevestig as hul dit wil bywoon.

KULTUUR

ATKV-Tienertoneel 2024

Almal wat belangstel om deel te wees van hierdie opwinding, kom gee jou naam by me. Taljaard in. Oudisies vind plaas Vrydag, 26 Januarie 2024 vanaf 15:00 tot 17:00 in me. Taljaard se klas. Trek gemaklike klere aan.

Monoloog-en Toneelskryfkursus 2024

Die monoloog- en toneelskryfkursus vind op 17 Februarie plaas. Indien jy belangstel om 'n monoloog vir die Digi-Toneelkompetisie te skryf of in die proses is om 'n leerderproduksie te skryf, teken solank hierdie datum aan. Meer inligting sal later verskaf word.

Alma Nel Drama-ateljee

Inskrywings is nou OOP🎤 . . . vir die Alma Nel Drama-ateljee. Volg die skakels vir die omvattende nuusbrief en inskrywingsvorm. Ons lig net die belangrike inligting uit vir maklike terugverwysing.

Na afloop van die opeklasse word leerders in groepe van 4 tot 8 leerders per groep ingedeel en tye per groep word vir die res van die jaar vasgemaak. Stuur asseblief die leerder se buitemuurse-aktiwiteitsrooster saam met die leerder na die opeklas of onmiddellik na afloop van die opeklas aan Alma per WhatsApp: 082 964 9352. Neem asseblief ook winteraktiwiteite in ag en dui ALLE beskikbare ure op 'n Dinsdag en Woensdag aan.

WOENSDAG, 24 JANUARIE (JAN VAN RIEBEECK)
  • 15:00-16:30 GRAAD 7 TOT 9
  • 16:30-18:00 GRAAD 10 TOT 12
Wanneer leerders tussen ‘n magdom buitemuurse aktiwiteite in 2024 moet kies, neem in ag dat Drama, nie net kardinale vermoëns vir leerders en volwassenes aanleer nie, maar dat hierdie aktiwiteit ’n plek van ontlading en genesing word. Daarom die sê-ding: “Die verhoog word ’n heilige spasie waar ’n ontbreekbare span mekaar vashou.” Daar is reeds ’n lang waglys, maar die reeds bestaande leerders kry wel voorkeur indien hulle vinnig spring om hul plekke vas te maak.

Fooie vir 2024 beloop R1400 per leerder per kwartaal. Die eerste kwartaal se paaiement maak die leerder se plek in die ateljee vas. Alle gelde vir die eerste kwartaal moet voor/of op 25 Januarie 2024 betaal word. Ongelukkig is daar beperkte plekke, daarom kan ’n leerder se plek in die ateljee nie gewaarborg word indien hul eerste kwartaal-fooi na afloop van die 25ste betaal word nie. Neem asseblief kennis dat daar wel ’n ekstra fooi vir die eksterne eksamen (deur die SA Kollege van Spraak en Drama eksamens, vir hul nasionale kwalifikasie) in die derde kwartaal betaalbaar is.

Rekening besonderhede vir alle betalings:
MEJ A NEL
ABSA TJEK REKENING
Rekeningnommer: 4079987742
Verwysing: Leerder se naam en DRAMA- Byvoorbeeld: “Alma DRAMA”.

Stuur asseblief die ingevulde inskrywingsvorm elektronies of saam met die leerder na die dramaklas toe. Dit is ook van toepassing op bestaande leerders, asseblief.

🎭WELKOM aan ieder en elk wat in 2024 voortgaan en/of deel word van die drama-familie.

SPORT

Interhuisswemgala, 23 Januarie 2024

Ons Interhuis-swemgala vind eerskomende Dinsdag, 23 Januarie, om 13:15 by die skool se swembad langs die Jubileumsaal plaas. Ouers en alle leerders word uitgenooi om die verrigtinge by te woon. Leerders skryf op die dag in om deel te neem.

Swemoefening vir kwartaal 1

Die eerste swemsessie begin Woensdag, 24 Januarie. Alle leerders en grade is welkom.

Registrasie vir eerste sessie: Direk na skool tot 14:30. Alle leerders moet vooraf registreer by ons hoofafrigter, me. Corlette Heyns. Me Heyns sal by die swembad wees met die nodige registrasiedokumente. Let op: Leerders moet registreer voor hulle verklee.

Die swemsessie begin stiptelik om 14:30. Ons maak gewoonlik 15:15 of op die laatste 15:30 klaar. Leerders sal vir die eerste drie sessies geassesseer word om hulle swemvaardigheid te bepaal sodat leerders in die regte groepe geplaas kan word. Leerders wat nie basiese swemvaardighede het nie, kan registreer vir privaatlesse by Me. Corlette Heyns. Leerders moet voor 31 JANUARIE besluit of hulle wil swem en daar van hulle verwag om getrou oefening by te woon. Geen laatinskrywings kan ongelukkig aanvaar word nie.

Swemprogram vir die res van die kwartaal:
  • Dinsdae: 14:30 – 15:15/15:30
  • Woensdae: 14:30 – 15:15/15:30
Leerders word sterk aangemoedig om albei lesse by te woon. Indien ’n leerder vir twee sessies sonder skriftelike verskoning nie opdaag nie, sal leerders uit die span gelaat word. Stuur asb. ’n e-pos na cheyns@live.co.za en cc abre.vanheerden@janvanriebeeck.co.za of jan.henning@janvanriebeeck.co.za.

Swembrille, pette en sonskerm: Alle leerders moet hulle eie swempette en swembril aanskaf. Onthou asseblief sonskerm ook! Geen leerders sal toegelaat word om sonder 'n swembril en -pet te swem nie.

Galas vir die kwartaal:(opgedateer)
  • 25 Januarie - Reddam Durbanville
  • 1 Februarie - Springfield
  • 8 Februarie - St Cyprians
  • 15 Februarie - Vishoek
  • 22 Februarie - Bishops
  • 9 Februarie - Jan van Riebeeck
  • 7 Maart - Vishoek
Corlette Heyns verkoop Nabaiji-goggles teen R200 per paar. Bestellings moet verkieslik voor die gala van 23 Januarie geplaas word sodat leerders toegerus is vir die gala. (Laaste bestellings vir leerders wat nie gala swem nie - Vrydag, 26 Januarie).

E-pos gerus swembrilbestelling na Corlette Heyns by cheyns@live.co.za met die volgende besonderhede:
  • Onderwerpreël van e-pos: Goggle-bestelling: Hoërskool JvR
  • Inligting benodig in e-pos:
    1. Leerder se naam, van en graad
    2. Heg bewys van betaling aan e-pos
Bankbesonderhede vir bestellings:
Rekeninghouer: Corlette Heyns
Bank: Capitec Spaarrekening
Rekeningnommer: 113 700 1869
Verwysing: Leerder se voorletters, van en graad

Swembrilbestellings kan Maandag direk na skool of Dinsdagoggend by ontvangs afgehaal word.

Swemlesse teen eie koste: (vir JvR leerders wat meer wil fokus op fiksheid en/of tegniekverbetering)
  • Vrydae: 14:30 – 15:30
  • Volwasse swemgroep: Vrydae 15:30 – 16:30 en moontlik 16:30 – 17:30.
  • Navrae oor privatelesse en fooi kan per e-pos gerig word aan Corlette Heyns by cheyns@live.co.za
  • Let op: Die eerste privaatlesse skop Vrydag, 2 Februarie, af.

Netbal 2024: Laat die doele sink!

Met 'n 2023 seisoen wat vol hoogtepunte was, pak ons netbal in 2024 met ’n hele paar nuwe toernooie aan. Ons sien uit na Jan van Riebeeck se eie Netbal Premier-liga en ons deelname aan die Bredasdorp, Paarl Gimnasium en Menlo Park-toernooie in die eerste kwartaal. Ons o.14A-, o.15A-, o.16A- en o.19B-spanne sal in aksie wees by Bredasdorp en ons o.19A-span sal ons by Paarl Gimnasium en Menlo gedurende die vakansie verteenwoordig. Sien in die brief die kostes vir die Bredasdorp-toernooi sowel as belangrike datums vir 2024 se eerste kwartaal.

Rugby 2024: Jan van Riebeeck...

hulle weet nie wat ons weet nie!

Met Jan van Riebeeck se rugbymanne wat 'n goeie voorseisoen in 2023 agter die rug het, kan die 2024-seisoen maar afskop. Ons sien uit na Jan van Riebeeck se eie Rugby Premier-liga en ook ons deelname aan die Boland Landbou o.19A-toernooi, Wynberg-toernooi sowel as die Paul Roos-skolerugbyfees. Sien in die brief die kostes sowel as belangrike datums vir 2024 kwartaal 1.

Hokkie 2024: Dribble, Shoot, Goal

Met Jan van Riebeeck-hokkie wat van krag tot krag gaan, begin ons 2024 al voor die Maartvakansie met wedstryde en toernooie. Ons sien uit na Jan van Riebeeck se eie Hokkie Premier-liga en ook ons deelname aan die Cape Co-Ed Festival. Ons dogters- en seunsspanne, onder 16 en onder 19, neem aan die fees deel. Sien in die brief die kostes sowel as belangrike datums vir 2024 kwartaal 1.

ALGEMEEN

Fotodag: Individuele foto's

Alle leerders se individuele foto's word eerskomende Maandag, 22 Januarie 2024 geneem. Leerders moet netjies geklee wees in die korrekte skooldrag met 'n skoolbaadjie en das. Leerders se hare en algemene voorkoms moet onberispelik wees, en seuns moet geskeer wees. Graad 8-leerders sal vir die dag 'n baadjie ontvang om vir die foto aan te trek.

SLUITKASSIES 2024

Leerders wat ’n sluitkassie wil bespreek vir 2024, kan hul R200.00 direk by me. Nicky Hattingh in die finansieskantoor betaal. Daar is ’n beperkte aantal sluitkassies, so leerders moet flink reageer.

GRAADDAGKAMPE IN 2024

In ons poging om ’n holistiese en gebalanseerde skoolervaring aan ons leerders te bied, probeer ons voortdurend nuwe verrykingsgeleenthede skep waarin leerders meer omtrent hulself, hul maats en die wêreld waarin hul leef, kan leer.

Na ‘n baie suksesvolle ervaring met ons heel eerste graadkampe vanjaar, wil ons voorgaan in 2024 om in Hoërskool Jan van Riebeeck op skooleenheid, skooltrots, skoolgees en ons waardes te fokus – iets waaraan ons voordurend moet aandag gee. Een inisiatief wat ons in 2024 weer wil aanpak wat hierdie skoolaspek aanspreek, is graaddagkampe vir al ons leerders en personeel. Die doel van die graaddagkampe is veelvoudig: die tema van elke graad se dagkamp en die aanbieding daarvan, is spesifiek gekies om sekere doelwitte in daardie spesifieke graad te bereik. Verder kry leerders ook tydens dié dag die geleentheid om aktiwiteite aan te pak en kan so op ’n informele wyse ook hul klasmaats beter leerken. Ons het geluister na al die insette en terugvoering en het die nodige aanpassings gemaak.

Die hele skool (graad 8 tot 12) sal op Dinsdag, 19 Maart 2024 om 7:30 die oggend aanmeld vir hulle dagkamp. Leerders sal weer om 16:30 verdaag en terugkeer huis toe. Leerders sal op Woensdag, 20 Maart om 7:30 aanmeld en die program word daardie Woensdagoggend om 10:00 afgesluit.

Vervoerreëlings indien nodig sal in die nuwe jaar gekommunikeer word.

Die koste per leerder beloop R300 en verskeie betaalopsies word op Karri gelaai. U kan ’n eenmalige betaling maak of nou reeds begin om kleiner betalings te doen soos dit u pas. Alle betalings moet asseblief teen einde Februarie 2024 gefinaliseer wees.

Ons sien baie uit na hierdie verrykingsgeleentheid vir ons leerders! Na verlede jaar se kamp is dit beslis ‘n nuwe jaarlikse instelling wat sy plek verdien op die JvR-kalender .

By voorbaat dankie vir u ondersteuning van hierdie inisiatief.

Lootjiewenners 2023

Baie dankie aan een en elk vir hul bydrae tot ons lootjie-kompetisie vir 2023. Daar was heerlike pryse te wen en ons is seker 'n paar wenners het dit baie geniet die vakansie.

Die twee leerders wat die meeste lootjies verkoop het, asook die wenklas, sal binnekort aangekondig word.

Bybelvasvrae 2024

Ons nooi graag alle belangstellende graad 9 en 10-leerders uit om in te skryf vir 2024 se Rapportryers Bybelvasvra.

Kom toets jou kennis van die Bybel in hierdie landswye kompetisie. Leerders neem in spanne van 4 deel; dus kry jy ook die geleentheid om spanwerk te oefen. Kontantpryse is as volg: R7 000, R5 000 en R4 000 onderskeidelik vir die eerste, tweede en derde plekke. Die ander sewe spanne wat aan die finaal deelneem, ontvang elkeen R 1 000. Inskrywings kan op Karri gedoen word en beloop R100 per leerder. Die inskrywings sluit op 16 Junie 2024. Verdere inligting en voorbeeldvraestelle is by me. Nimmo beskikbaar wees. Jy kan reeds die Bybeltekste begin navors.

ADVERTENSIES

Aankope deur Boost Procurement

Boost Procurement is 'n nuwe platvorm / aanlynwinkel waar verskeie produkte aangekoop kan word. Ouers / voogde wat Hoërskool Jan van Riebeeck as hul skool registreer, kan onder die "grade list"-opsie die skool se skryfbehoeftelyste vind en maklik alles aankoop wat u kind/ers benodig. Die skool ontvang kontant terug vir alle aankope wat geregistreerde ouers maak.

Sodra daar 'n grootmaatbestellings deur ouers gemaak is, word die aankope by die skool afgelewer. Aankope kan dan by Roelene van Loggerenberg afgehaal word.

Kyk gerus na die video indien u meer inligting benodig.
facebook instagram 
Email Marketing Powered by MailPoet