> Besoek die volledige 2024 kalender op die webtuiste <

Volg gerus die skakel om te registreer of stuur dit aan vriende: https://forms.gle/uThxaCu4e9A4Fp8v9

UIT DIE SKOOLHOOF SE KANTOOR

Goeiedag Ouers/Voogde

’n Bedrywige tweede week hier by Jan van Riebeeck is verby en dit is heerlik om die entoesiasme en goeie gees van ons leerders in die gange, op die sportveld en die kultuurverhoog te beleef. Die akademiese program is ook volstoom aan die gang en ons begin reeds eerskomende Dinsdag met ons eerste toetsdag. Alle leerders skryf hul formele Afrikaanstoets vir die kwartaal. Die volledige assesseringsrooster sal binnekort aan almal deurgegee word.

Dit was goed om Maandagaand al die graad 12-ouers by ons inligtingsessie te verwelkom. Ons matriekklas toon groot belofte op akademiese gebied en ons sien ook uit na hul bydraes op die sport- en kultuurgebied. Mag dit vir almal ’n besondere laaste jaar van skool wees. Dinsdag se interhuisswemgala het ook vir baie pret gesorg - dankie vir die ouers wat ook kom ondersteun het!

Ons het gister tydens ’n spesiale seremonie ons skool se 98ste bestaansjaar gevier en trots teruggekyk op die pragtige geskiedenis van JvR. Elke Jan van Riebeecker het ook opnuut die verantwoordelikeid besef dat elkeen van ons moet help skryf aan die positiewe Jan van Riebeeck-storie sodat dié wat na ons kom, ook met trots kan terugkyk na die tydperk wat ons tans besig is om te lééf. Ons sien nou reeds uit na ons 100-jaarvieringe oor twee jaar.

Baie dankie aan al die ouers wat gisteraand die ouervergadering en -braai by Welgemeend bygewoon het. Die samesyn was besonders en ons graad 11-ouers saam met me. Razelle Hanekom het baie moeite gedoen om almal gesellig en tuis te laat voel.

Ons het vandeesweek die wonderlike nuus ontvang dat ons vir die tweede opeenvolgende jaar genooi word na die SOS-nasionale toekenningsgeleentheid in Pretoria as een van die Top 20-beste presterende Afrikaanse skole in die land na afloop van die 2023-matriekeksamen. Dit is ’n prestasie waarop ons baie trots is! Ek gee meer inligting rondom die toekennings deur sodra ons dit ontvang.

Baie sterkte aan ons atlete wat môre by Hoërskool Stellenberg aan ’n interskole-kompetisie deelneem. Ons Onze Jan-skoolkoerantredaksie sal ook in die oggend hul beplanningsessie hou.

Baie dankie aan almal wat reeds ingeskakel het en betrokke is by die geleenthede wat deur die skool aangebied word. Ek moedig almal aan om deel te neem - en dalk vanjaar ook iets nuuts te probeer - aan al die verrykingsgeleenthede wat geskep word. Tussendeur die akademie en funksies, oefen die sportspanne flink, die Fame-musiekblyspel is goed op dreef en leerders kan inskryf vir kompetisies, slypskole, kursusse en nog vele meer. Moenie geleenthede misloop nie!

Ons vereer eerskomende Woensdag (31 Januarie) ons 2023-presteerders by ons prysuitdeling en herinner graag dat die seremonie om 8:30 in die skoolsaal begin. Pryswenners se ouers word per SMS in kennis gestel dat u kind ’n prys ontvang. Aangesien die hele skool die geleentheid bywoon, kan ons ongelukkig slegs twee genooide gaste per pryswenner akkommodeer. Dankie vir u samewerking in dié verband.

Baie dankie vir u volgehoue ondersteuning van ons skool.

Mooi naweek!

Pieter Rademeyer
Skoolhoof

AKADEMIE

Nuwe 2024-dagprogram

Ek herinner graag dat die skooldag nou om 07:35 begin en om 14:15 eindig. Die klok lui om 7:35, so dit sal dalk goed wees indien u sommer beplan dat u kind reeds om 7:30 by die skool kan wees. Alle sport- en kultuuraktiwiteite sal steeds om 14:30 begin.

POORT-Skryfkompetisie

Jan van Riebeeck nooi vanjaar weer sy leerders uit om deel te neem aan die POORT-skryfkompetisie.

Hierdie kompetisie is ’n inisiatief van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Die kompetisie wil skeppende talent onder hoërskoolleerders ontdek, aanmoedig, waardeer en aan ’n groter gehoor blootstel. Alle leerders wat in 2024 in graad 10, 11 of 12 is, word uitgenooi om deel te neem. Skryf ’n storie of ’n gedig, en jy mag dalk met die eerste prys van R10 000 wegstap!

Leerders wie se vingers juk om te begin skryf, kan solank met me. Raath oor die kompetisie gaan gesels. Die kompetisie sluit reeds 28 Februarie, so trek solank jou notaboek of skootrekenaar nader!

KULTUUR

ATKV-Tienertoneel 2024

Almal wat belangstel om deel te wees van hierdie opwinding, kom gee jou naam by me. Taljaard in. Oudisies vind plaas Vrydag, 26 Januarie 2024 vanaf 15:00 tot 17:00 in me. Taljaard se klas. Trek gemaklike klere aan.

Monoloog-en Toneelskryfkursus 2024

Die monoloog- en toneelskryfkursus vind op 17 Februarie plaas. Indien jy belangstel om 'n monoloog vir die Digi-Toneelkompetisie te skryf of in die proses is om 'n leerderproduksie te skryf, teken solank hierdie datum aan. Meer inligting sal later verskaf word.

SPORT

Volg die skakel vir kwartaal 1 se sportprogram. PROGRAM

Atletiekinterhuis-uitslae: 19 Januarie

Hier volg die atletiek-interhuisuitslae - baie geluk aan al ons deelnemers en dankie aan al ons ondersteuners!

Beste prestasies oor 5 items (Foto 1)
  • Senior Victor Ludorum: Nehemia Rosen
  • Senior Victrix Ludorum: Scarlett vd Merwe
  • Junior Victor Ludorum: Francois Joubert
  • Junior Victrix Ludorum: Helena Greeff
Beste prestasies per item (Foto 2)
  • Seuns - Baan
    • Beste prestasie o.14: Theo Kawe - 100m
    • Beste prestasie o.15: Francois Joubert - 100m
    • Beste prestasie o.17: Nehemia Rosen - 400mH
    • Beste prestasie o.19: Charlton Humphreys - 100m
  • Seuns - Veld
    • Beste prestasie o.14: Pierre Jacques Smit - Gewigstoot
    • Beste preatasie o.15: Daniel Williams - Gewigstoot
    • Beste prestasie o.17: Herchelle Christians - Driesprong
    • Beste prestasie o.19: Charlton Humphreys - Verspring
  • Dogters - Veld
    • Beste prestasie o.14: Mieke Bremer - Gewigstoot
    • Beste preatasie o.15: Erica Marais - Gewigstoot
    • Beste prestasie o.17: Carla Snijders - Driesprong
    • Beste prestasie o.19: Marcelle van der Merwe - Gewigstoot
  • Dogters - Baan
    • Beste prestasie o.14: Mieke Nel - 100m
    • Beste prestasie o.15: Helena Greeff - 400m
    • Beste prestasie o.17: Monique de Beer - 200m
    • Beste prestasie o.19: Liezel Snijders - 200m
Gees- en atletiekbekerwenners: De Goede Hoop (Foto 3)

ALGEMEEN

Debietorderbetalings 2024

Ouers wat betaling wil doen deur middel van debietorder, moet hul voltooide vorms voor 29 Januarie aan nicky.hattingh@janvanriebeeck.co.za stuur asseblief. Volg die skakel vir die magtigingsvorm.

Aftrekkings vind plaas op die eerste besigheidsdag van elke maand.

Karri Toep

Die skool gebruik KARRI om betalings in te vorder vir die meeste aktiwiteite en uitstappies. Ouers word gevra om asseblief die toep af te laai en te gebruik. Alle leerders is nou op KARRI ingetrek. Sien die skakel vir meer inligting oor KARRI. https://karripay.com/about-karri/

GRAADDAGKAMPE IN 2024

In ons poging om ’n holistiese en gebalanseerde skoolervaring aan ons leerders te bied, probeer ons voortdurend nuwe verrykingsgeleenthede skep waarin leerders meer omtrent hulself, hul maats en die wêreld waarin hul leef, kan leer.

Na ‘n baie suksesvolle ervaring met ons heel eerste graadkampe vanjaar, wil ons voorgaan in 2024 om in Hoërskool Jan van Riebeeck op skooleenheid, skooltrots, skoolgees en ons waardes te fokus – iets waaraan ons voordurend moet aandag gee. Een inisiatief wat ons in 2024 weer wil aanpak wat hierdie skoolaspek aanspreek, is graaddagkampe vir al ons leerders en personeel. Die doel van die graaddagkampe is veelvoudig: die tema van elke graad se dagkamp en die aanbieding daarvan, is spesifiek gekies om sekere doelwitte in daardie spesifieke graad te bereik. Verder kry leerders ook tydens dié dag die geleentheid om aktiwiteite aan te pak en kan so op ’n informele wyse ook hul klasmaats beter leerken. Ons het geluister na al die insette en terugvoering en het die nodige aanpassings gemaak.

Die hele skool (graad 8 tot 12) sal op Dinsdag, 19 Maart 2024 om 7:30 die oggend aanmeld vir hulle dagkamp. Leerders sal weer om 16:30 verdaag en terugkeer huis toe. Leerders sal op Woensdag, 20 Maart om 7:30 aanmeld en die program word daardie Woensdagoggend om 10:00 afgesluit.

Vervoerreëlings indien nodig sal in die nuwe jaar gekommunikeer word.

Die koste per leerder beloop R300 en verskeie betaalopsies word op Karri gelaai. U kan ’n eenmalige betaling maak of nou reeds begin om kleiner betalings te doen soos dit u pas. Alle betalings moet asseblief teen einde Februarie 2024 gefinaliseer wees.

Ons sien baie uit na hierdie verrykingsgeleentheid vir ons leerders! Na verlede jaar se kamp is dit beslis ‘n nuwe jaarlikse instelling wat sy plek verdien op die JvR-kalender .

By voorbaat dankie vir u ondersteuning van hierdie inisiatief.

Bybelvasvrae 2024

Ons nooi graag alle belangstellende graad 9 en 10-leerders uit om in te skryf vir 2024 se Rapportryers Bybelvasvra.

Kom toets jou kennis van die Bybel in hierdie landswye kompetisie. Leerders neem in spanne van 4 deel; dus kry jy ook die geleentheid om spanwerk te oefen. Kontantpryse is as volg: R7 000, R5 000 en R4 000 onderskeidelik vir die eerste, tweede en derde plekke. Die ander sewe spanne wat aan die finaal deelneem, ontvang elkeen R 1 000. Inskrywings kan op Karri gedoen word en beloop R100 per leerder. Die inskrywings sluit op 16 Junie 2024. Verdere inligting en voorbeeldvraestelle is by me. Nimmo beskikbaar wees. Jy kan reeds die Bybeltekste begin navors.

ADVERTENSIES

Aankope deur Boost Procurement

Boost Procurement is 'n nuwe platvorm / aanlynwinkel waar verskeie produkte aangekoop kan word. Ouers / voogde wat Hoërskool Jan van Riebeeck as hul skool registreer, kan onder die "grade list"-opsie die skool se skryfbehoeftelyste vind en maklik alles aankoop wat u kind/ers benodig. Die skool ontvang kontant terug vir alle aankope wat geregistreerde ouers maak.

Sodra daar 'n grootmaatbestellings deur ouers gemaak is, word die aankope by die skool afgelewer. Aankope kan dan by Roelene van Loggerenberg afgehaal word.

Kyk gerus na die video indien u meer inligting benodig.
facebook instagram 
Email Marketing Powered by MailPoet