|
|
|
|
UIT DIE SKOOLHOOF SE KANTOOR
Die skooljaar is nou behoorlik op dreef en ek glo die meeste Jan van Riebeeckers en hul ouers het gemaklik by die 2024-skoolritme ingeval of probeer (steeds!) aangepas.
|
Ek besef maar al te goed hoe besig kinders en 'n skoolprogram 'n mens kan hou, maar vir diegene wat oorweldig voel deur die bedrywige skoollewe hier by JvR, wil ek aanmoedig om 'n oomblik stil te staan en die waarde daarvan te besef. Dis die betrokke leerders wat ook die beste presteer, maar wat veral die gelukkigste skoolervaring kan geniet. Moedig asseblief veelsydigheid by u kind aan - ons is veral trots op ons leerders wat aan elke aspek van die skoollewe aandag gee.
|
Ons skool bied 'n gebalanseerde en uitnemende program waarop ons baie trots is en daarom is dit belangrik dat elke leerder - met die aanmoediging van die ouerhuis - inskakel en sy/haar unieke bydrae in ons skool maak. In hierdie skool is dit werklik belangrik dat elke leerder sy/haar talente gebruik om eerstens self verder te ontwikkel en nog vaardighede te slyp, maar ook om die skool se spanne en groepe sterkter en meer kompeterend te maak. Ek staan verstom oor die vlak van ons prestasie op alle gebiede van die skoollewe die afgelope klompie jare teen skole veel groter as ons. Kom ons bou in 2024 hierop voort!
|
Ons graad 8-leerders is vanoggend tydens die Baadjieseremonie amptelik in ons familie 'aanvaar' en ek kan nie wag om te sien wat hierdie groep oor die volgende vyf jaar gaan vermag nie. Graad 8's, onthou om jou baadjie met trots te dra en te besef dat jy ook 'n verantwoordelikheid het om die JvR-trots op elke gebied van die skoollewe uit te leef.
|
Dit was vir my 'n voorreg om vanoggend in Centurion die SOS-merietetoekenningsgeleentheid te kon bywoon. Die 20 Top-Afrikaanse skole in die land is vereer vir hul 2023-matriekuitslae en dis besonders dat ons nou ook vir die tweede agtereenvolgende jaar in dié geselskap is. Vier van ons vakke (Afrikaans, Wiskunde, Fisiese Wetenskappe en IGo) is verder op die Top 20-presteerderlys van álle skole in die land, gebaseer op die persentasie onderskeidings in die vakke behaal - dis werklik 'n merkwaardige prestasie!
|
Ons sien almal baie uit na môreaand se opening van ons amfiteater met Stef Bos as ons gaskunstenaar. Die kaartjies is reeds uitverkoop, maar ek glo diegene wat môreaand by ons aansluit, gaan geïnspireerd wegstap van die vertoning, gevul met sielskos van Stef.
|
Baie dankie aan almal wat die skool in al ons pogings, inisiatiewe en projekte ondersteun - en ook genade het vir die een of twee dinge wat beter kan gebeur of verloop.
|
Ons is werklik hier om vir al ons Jan van Riebeeckers die opwindendste skoolervaring met die hoogste standaarde moontlik te bied.
|
Geniet die 2024-skoolreis saam met u kind!
|
|
|
|
|
Assesseringsprogram en intervensie vir Kwartaal 1
|
Volg die skakel vir die volledige program vir hierdie kwartaal.
|
|
|
|
|
Vakveranderings 2024
|
U as ouer/voog voltooi die eerste gedeelte van die vorm en daarna moet u kind asb. sorg dat die huidige vakonderwyser, die beoogde vakonderwyser, asook sy/haar graadhoof die vorm teken. Daarna kan u kind die vorm by die akademiese hoof indien. Die akademiese hoof sal vir u kind 'n toestemmingsbrief gee sodra die WKOD die aansoek goedkeur het en eers daarna mag u kind van vak verander. Kontak me. Liza Serrao (liza.serrao@janvanriebeeck.co.za) indien u nog enige vrae het.
|
- Graad 11 – Aansoek deur ouer/voog/primêre versorger. Twee veranderinge toegelaat. Sperdatum is 29 Februarie 2024
- Graad 10 – Aansoek deur ouer/voog/primêre versorger. Twee veranderinge toegelaat. Sperdatum is 7 Junie 2024
|
|
|
|
AFRIKAANS-OLIMPIADE (Seniors) 2024
Alle leerders in graad 10 tot 12 word uitgenooi om aan vanjaar se nasionale Afrikaans-olimpiade, aangebied deur die ATKV, deel te neem.
|
Inskrywings vind in die Afrikaansklasse plaas en leerders kan nog tot eerskomende Dinsdag, 13 Februarie, hul naam op die inskrywinglyste in hul Afrikaansonderwyser se klas skryf.
|
Die koste beloop R55 per leerder en die leerders wat ingeskryf het, sal op Karri betalings kan doen.
|
Die Afrikaans-departement wil graag vanjaar massadeelname aanmoedig en ons mikpunt is dat ten minste die helfte van die sowat 250 senior leerders in die skool hierdie olimpiade in Mei-maand sal aflê. Ons wil daarom nie hê dat leerders wat graag wil deelneem, maar nie die koste kan dra nie, van hierdie verrykingsgeleentheid ontneem word nie, en daarom sal daar ook op Karri ’n opsie wees vir ’n verdere finansiële bydrae wat ouers/voogde kan maak.
|
Die graad 8- en 9-leerders sal later vanjaar die geleentheid kry om in te skryf vir die junior afdeling van dié olimpiade.
|
|
|
|
|
SAMF-Wiskundeolimpiade 2024
|
Ronde een van vanjaar se Wiskundeolimpiade vind op 14 Maart plaas en alle graad 8 tot 12 Wiskunde -eerders kan deelneem.
|
Ons wil vanjaar weer graag alle ouers/voogde vra om u kind aan te moedig om aan die Wiskundeolimpiade deel te neem. Verlede jaar het 123 leerders deelgeneem! Hierdie olimpiade fokus op Wiskunde en die waarde van probleemoplossing en ontdekking. Dit bied ook vir u kind blootstelling aan alternatiewe Wiskundeprobleme.
|
Die inskrywingsfooi is op Karri betaalbaar. Die koste per inskrywing is R45 per leerder en die sluitingsdatum is 16 Februarie 2024. Daar is weer vanjaar ’n opsie om ’n donasie te maak. Die skool benodig R9000 om vir alle Wiskundeleerders die wonderlike geleentheid te bied - ondersteun ons om dit vir alle leerders moontlik te maak!
|
|
|
|
|
POORT-Skryfkompetisie
|
Jan van Riebeeck nooi vanjaar weer sy leerders uit om deel te neem aan die POORT-skryfkompetisie.
|
Hierdie kompetisie is ’n inisiatief van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Die kompetisie wil skeppende talent onder hoërskoolleerders ontdek, aanmoedig, waardeer en aan ’n groter gehoor blootstel. Alle leerders wat in 2024 in graad 10, 11 of 12 is, word uitgenooi om deel te neem. Skryf ’n storie of ’n gedig, en jy mag dalk met die eerste prys van R10 000 wegstap!
|
Leerders wie se vingers juk om te begin skryf, kan solank met me. Raath oor die kompetisie gaan gesels. Die kompetisie sluit reeds 28 Februarie, so trek solank jou notaboek of skootrekenaar nader!
|
|
|
|
|
|
JvR-REDENAARSKOMPETISIE 2024
|
Op jou merke, gereed…PRAAT!
|
Die jaarlikse interne redenaarskompetisie is om die draai en ons wil vanjaar ons leerders met woorde laat woeker. Kom sê jou sê op 5 Maart om 18:00. Ons nooi alle belangstellendes en bekkiges wat deel van die kompetisie wil wees om hulle name so gou moontlik by me. Bosch te gaan inskryf.
|
- Juniors voorbereid (graad 8-9), 5 – 7 minute
- Juniors onvoorbereid (graad 8 -9), 4 – 6 minute
- Seniors voorbereid (graad 10-12), 5 – 7 minute
- Seniors onvoorbereid (graad 10-12), 4 – 6 minute
Temas vir voorbereide toesprake: Juniors (graad 8 - 9):
|
- Kantlyn
- Meulsteen
- Boekmerk
Temas vir voorbereide toesprake: Seniors (graad 10-12):
|
Ons top leerders sal genooi word om aan die ATKV se eerste uitdunronde deel te neem wat tydens die 15-18 April plaasvind. Alle toesprake moet beredenerend van aard wees. Besoek gerus die ATKV se webwerf vir meer inligting oor die toespraakvereistes en die Deelnemersgids: Redenaars | ATKV
|
So, doen solank jou diafragma-oefeninge, warm jou lippe op en kom praat jou hart uit!
|
|
|
|
|
Monoloog-en Toneelskryfkursus 2024
|
Die monoloog- en toneelskryfkursus vind op 17 Februarie plaas. Indien jy belangstel om 'n monoloog vir die Digi-Toneelkompetisie te skryf of in die proses is om 'n leerderproduksie te skryf, teken solank hierdie datum aan. Meer inligting sal later verskaf word.
|
|
|
|
|
Volg die skakel vir Kwartaal 1 se sportprogram. PROGRAM
|
|
|
|
|
Atlete 'Vlieg' by Affies
|
|
Jan van Riebeeck se top 20-atlete het die afgelope naweek by Afrikaans Hoër Seunsskool (Affies) se uitnodigingsbyeenkoms deelgeneem. Die byeenkoms het by die geskiedkundige Pilditch-stadion in Pretoria plaasgevind. Ons atlete het gesamentlik aan 36 items deelgeneem, waarvan ons atlete in nie minder nie as 31 hiervan onder die top 10 geëindig het. Skole wat aan die byeenkoms deelgeneem het was: Waterkloof, Affie-seuns en -meisies, Potch Gimnasium en Nelspruit. Hoërskool Jan van Riebeeck het die slagspreuk "dis nie die grootte van die hond in die geveg nie, maar die geveg in die hond!" behoorlik laat geld.
|
Jan van Riebeeck keer terug huis toe met 14 medaljes: Brons medaljewenners - 4
|
- Fredrich Erasmus (o.16) 400mH
- Angelo Kapel (o.14) 400m
- Helene Greeff (o.15) 400m
- Simoney Jacobs (o.17) Driesprong
Silwer medaljewenners - 4
|
- Erica Marais (o.15) Diskus
- Monique de Beer (o.16) Verspring
- Scarlett v.d Merwe (o.17) 1500m
- Fredrich Erasmus (o.16) 100m
- Erica Marais (o.15) Gewigstoot
- Nehemia Rosen (o.17) 400mH
- Theo Kawe (o.14) 100m en 200m
- Mcalllistor Brown (o.14) Hoogspring
- Angelo Kapel (o.14) 800m
Ons sê ook baie dankie aan Greeff Properties vir die borg van ons top 20-atlete se rugsakke.
|
|
|
|
|
Interhuiskrieket ’n groot sukses
|
Op Woensdag, 7 Febuarie, het ons afgesluit met die interhuiskriekettoernooi. Dit was ‘n 6-a-side-toernooi waar elke huis die geleentheid gehad het om teen mekaar te speel. Daar was ‘n junior- en senior span per huisgroep. Die fokus van die toernooi was om te bepaal watter huisgroep die meeste lopies kon aanteken oor al hul wedstryde - die juniors en seniors se tellings is dus saamgetel.
|
- 1ste De Goede Hoop met 260 lopies
- 2de De Reijger met 190 lopies
- 3de Drommedaris met 115 lopies
Spelers van die toernooi:
|
- Junior kolwer: Logan McChallaghan
- Junior bouler: Kieran Harmse
- Senior kolwer: Peet Karsten
- Senior bouler: Liam van Wyk
|
|
|
|
Tennisspelers vaar goed
|
Ons tennisseisoen het verlede week met mag en mening afgeskop.
|
Ons seuns het teen Rondebosch gespeel en het ongelukkig verloor. Die gr.8's wat vir die eerste keer in die span gespeel het, het hulle wel goed van hul taak gekwyt en toon groot potensiaal. Ons dogters het op 'n snikhete Vrydagmiddag teen Springfield gespeel. Ten spyte van die hitte het hulle alles gegee, maar hulle moes ongelukkig die knie buig teen Springfield. Die gr.8's in hierdie span het beslis ook beïndruk met hul spel.
|
Maandag, 5 Februarie, het ons dogters teen Reddam Constantia gespeel. Die wedstryde was van top gehalte en almal het behoorlik asem opgehou om te sien wie gaan wen. Die dogters speel dan gelykop, maar kan baie trots wees op hulself.
|
Eerskomende Maandag speel ons ons Interskole Tennis teen Dirkie Uys (tuis). Die seuns speel Donderdag teen Bishops (weg). Die dogters se wedstryd teen Herschel (tuis) moet nog bevestig word.
|
Dit is verblydend om te sien hoeveel leerders opdaag vir die oefeninge - dankie aan elkeen van julle! Ons herinner net aan die volgende reëling: alle spanspelers oefen Woensdae 14:30-15:30 en alle ander spelers oefen Maandae 14:30-15:30. Hierdie reëling is in plek sodat die groepe nie te groot word nie en sodat elke leerder die nodige aandag kan kry.
|
|
|
Bergfietsnuus
|
|
|
|
'n Groep skole in die Suidelike voorstede, saam met onder andere Hoërskool Jan van Riebeeck, het einde verlede jaar besluit om 'n bergfietsliga te stig. Die doel was om belangstellende skole twee of meer keer per kwartaal teen mekaar te laat kompeteer. Daar mag nie inskrywingsgelde gevra word nie, die kompetisie moet in goeie gees geskied en dit moet op 'n weeksmiddag gehou word.
|
Woensdag, 6 Februarie, was dit Jan van Riebeeck se beurt om die geleentheid aan te bied. Ons het 'n uitklopformaat gekies en dit was vir ons 'n groot voorreg om Reddam House Constantia, SACS en Herzlia by ons fietsrybaan te verwelkom. Die kompetisie was van die hoogste gehalte.
|
Altus van Niekerk het uitgeblink onder die Jan van Riebeeckers en het in die eerste resies 3de oor die wenstreep gejaag. Algeheel is hy gesamentlik 2de nadat sy fietsryvaardigheidspunte bygetel is.
|
Johan Theunissen het in die onderste helfte van die veld uitgeblink en kon ook daarin slaag om 'n paar resies te wen. Nadat sy vaardigheidspunte bygetel is, is hy gesamentlik 3de geplaas. Cara Swanepoel was die enigste dame op die dag. Sy was suksesvol om 'n hele paar manne stof in die oë te ry.
|
Ons wil ook al ons ouers bedank vir die ondersteuning wat hulle gebied het, asook Katja Steenkamp en haar span van Breakaway Rides, Siegfried en Ina Rousseau en Evie Mclachlan wat gehelp het om die dag glad te laat verloop.
|
Die volgende ronde van die kompetisie word op 12 Maart by SACS aangebied.
|
|
|
|
|
Skaakuitslae: 4 Februarie
|
|
Aiden Kruger, Thomas Boshoff en Cuthan Winter het deelgeneem aan die WP Metro Skole Skaakuitdunne wat op 3 Februarie by Surrey Primary plaasgevind het. Thomas Boshoff het baie goed gespeel vir sy eerste keer in die o.15-afdeling en het twee uit sy vyf wedstryde gewen en Cuthan Winter het as o.16 goed gevaar en 2.5 uit 5 behaal in die o.18-afdeling. Aiden Kruger het uitstekend gespeel en in die proses eerste in die o.15-afdeling geëindig om ’n medalje op die dag te verower.
|
|
|
|
|
Swemuitslae: 1 Februarie
|
Hoërskool Jan van Riebeeck het Donderdag, 1 Februarie, by Springfield Convent deelgeneem en die kompetisie was straf teen Reddam, Rondebosch, SACS, Rustenberg en Springfield.
|
Kianna-Gro Liversage en Mienke Herbst kon elk daarin slaag om tweede plekke te behaal met die100m-vryslag en 50m-borslag. Chaneal van Heerden was derde in die 50m-vryslag. Mooi so!
|
|
|
|
|
Swemuitslae: Interhuisgala
|
Ons wens Reijger geluk met die wen van die interhuisswemgala vanjaar. Hul het De Goede Hoop met slegs twee punte uitgestof.
|
Baie geluk aan die volgende leerders wat die beste in hul onderskeie ouderdomme presteer het:
|
- o.14 Carmen Barnard
- o.16 Erica Marais
- o.19 Mia Nortje en Kianna-Gro Liversage
- o.14 Alexander Shaw
- o.16 Nicolaas Grutter
- o.19 Benjamin Shaw
Ons sien uit na 'n opwindende swemweek - ons interskolegala is eerskomende Maandag, 12 Februarie teen Hoërskool Dirkie Uys. Die beplanning is dat die gala 15:00 sal begin en teen 16:30 klaar sal wees. Donderdag, 15 Februarie, swem ons in Vishoek.
|
|
|
|
|
ALGEMEEN
|
|
Foto-bestellings
|
Individuele foto's asook prysuitdeling-foto's (graad 8-11 van 2023) kan vanaf Maandag, 12 Februarie, op Karri bestel word. Volg die skakel vir 'n voorbeeld van die verskillende fotopakkette wat beskikbaar is.
|
- A4-pakkette kos R60.00 elk
- A5-foto's (Pakket F) kos R40.00 elk.
Karri-betalings sluit op Vrydag, 1 Maart 2024 om 14:00. Rig enige navrae in hierdie verband aan me. Vrey by magda.vrey@janvanriebeeck.co.za.
|
|
|
|
|
#Klubdag
|
|
Dit is die eerste Klubdag eerskomende Maandag,12 Februarie. Leerders kry die geleentheid om hulle horisonne te verbreed en by een aktiwiteit van ‘n klub aan te sluit.
|
Klubdag vind tydens saalperiode plaas. Leerders moet asb. die volgende skakel volg (https://qkt.io/syjzn9) om hul plek te bespreek by ’n spesifike klub.
|
Daar is beperkte spasie by elkeen. Kaartjies is gratis.
|
|
|
VRL-opleidingsmiddag: Dinsdag, 13 Februarie
|
Die opleidingsmiddag vir alle graad 9 tot 12 VRL-lede word eerskkomende Dinsdag deur ons hoofleiers aangebied. Dit is altyd ‘n leersame en prettige gebeurtenis.
|
Dit vind vanaf 14:15 tot 15:45 plaas - geen kostes verbonde aan hierdie middag nie. Daar sal ligte verversings na die tyd in Café Jan geniet word.
|
Die graad 8-VRL-verkiesing en -opleiding sal eers aan die einde van die eerste kwartaal plaasvind. Ons glo dat ons graad 8's eers hul voete moet vind en mekaar goed leer ken sodat hulle makliker ’n keuse oor hul nuwe VRL-lede kan uitoefen.
|
|
|
Valentynsdag-Sivvies: 14 Februarie
|
|
Eerskomende Woensdag op Valentynsdag wil die Jan van Riebeeckers graag baie mense by die Monte Rosa-aftreeoord se dag opkikker. Die Sosiaal-maatskaplike portefeulje van die matriekraad vra dat alle leerders Woensdag asseblief blomme bring as 'betaling' vir hul sivvies (van rooi/pienk skakerings). Die koste vir die sivviedag is dus blomme!
|
Ons besef ’n bossie blomme is duur en ons wil ook nie dat leerders blomme uit tuine pluk/plunder nie of selfs uit ons eie Welgemeend tuin pluk nie. Daar is daarom ook ’n opsie vir leerders om eerder R10 op Karri te betaal.
|
|
|
|
|
Graad 8-Houtjies hou 'Amazing Race' op 14 Februarie
|
Die matriekraad en matriekkomitee het weer eens ‘n heerlike resies beplan vir eerskomende Woensdag, 14 Februarie. Dit is ’n baie prestige tradisie en vind altyd plaas in die week nadat graad 8’s aanvaar is en ook hulle baadjies ontvang het. Lekker tyd word spandeer saam met matrieks en hulle maats.
|
Tydens hierdie resies (by laaste stasie) sal die graad 8-Houtjies hul name ook in die boek in mnr. Rademeyer se kantoor skryf. So raak die Houtjies van 2024 ook deel van die geskiedenis! Die resies begin net na skool en sal nie later as 16:00 eindig nie. Die resies vind op die skoolkampus plaas.
|
|
|
|
|
Ouerpiekniek Fiesta: Vrydag, 16 Februarie
|
|
Kom kuier saam vanaf 18:00 tot laat terwyl ons kinders sokkie!
|
'n Aand van pret, lag, en heerlike Meksikaanse smake by ons ouerpiekniek! Bring jou kombers en sluit aan vir 'n ontspanne aand van musiek en goeie geselskap.
|
Piekniekboks-besonderhede:
|
Meksikaanse hoender & maalvleis, sagte tortillas, guacamole, suurroom, koolslaai, kaas, jalapenos asook mielieskyfies, salsa, Meksikaanse rys en iets soets.
|
- 1. Volle piekniek: R185 per persoon (sluit piekniekboks en toegang in)
- 2. Slegs Toegang: R50 per persoon (vir diegene wat wil deelneem aan die piekniek sonder om kos te bestel)
Drankies: Kies uit 'n verskeidenheid drankies beskikbaar vir aankoop, (slegs kaart/snapscan – alle drinkgoed moet asb. aangekoop word op die aand)
|
Die Valentynsbal & Ouerpiekniek is beide ‘n belangrike fondinsamelingsprojek vir die matriekdans, aangebied deur die graad 11's.
|
Kom ondersteun beide funksies asb!
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Kreetoefentye
|
NEEM KENNIS dat daar addisionele oefendae bygevoeg is.
|
Die skool is hard aan die werk ter voorbereiding vir die Super 6-atletiekdag wat op Woensdag, 21 Februarie 2024, by Coetzenburg, Stellenbosch, plaasvind.
|
Die kreetoefening vind sekere dae van die week plaas. Op die dae wat die kreetoefening plaasvind, vertrek die busse 14:45 vanaf die skool. Hierdie reëling is geldig tot 20 Februarie 2024.
|
|
|
|
|
Omgeebroodjies: Matriekraad- en VRL-projek
|
Ons vra graag vrywilligers in elke graadgroep om ons in ons omgeetoebroodjieprojek te ondersteun.
|
Dié broodjieprojek behels dat ons vir behoeftige leerders voorsien van ’n dubbelsny toebroodjie met ’n gesonde vulsel soos kaas/kaassmeer, ham of grondboontjiebotter. Die toebroodjie word met 'gladwrap' toegedraai.
|
Hierdie omgeebroodjies word dan elke dag (Maandag tot Vrydag) saam met u seun/dogter gestuur en tussen 7:00–7:40 in die houer in die admin-gang geplaas. Elke graadgroep het ‘n spesifieke dag gekry om broodjies te bring; dus bring ‘n leerder net op een dag van die week sy/haar broodjie. Leerders wat betrokke wil raak kan hulle name by me. Steyn ingee.
|
- Graad 12: Maandag
- Graad 11: Dinsdag
- Graad 10: Woensdag
- Graad 9: Donderdag
- Graad 8: Vrydag
Elke graadhoof is bewus van hoeveel leerders in hul graad iets te ete benodig en sal dit baie sensitief versprei. U kan ook vir aflewering reël indien vrywilligers weens werksomstandighede of welke ander rede nie die broodjies vroegoggend kan aflewer nie. Vrywilligers wat met dié baie nodige projek verder wil help, kan ook me. Steyn per e-pos in kennis stel: huibrecht.steyn@janvanriebeeck.co.za
|
Indien u eerder ’n finansiële bydrae tot hierdie projek wil maak, kan u dit via Karri doen.
|
U ondersteuning word hoog op prys gestel.
|
|
|
|
|
GRAADDAGKAMPE OM DIE DRAAI
|
In ons poging om ’n holistiese en gebalanseerde skoolervaring aan ons leerders te bied, probeer ons voortdurend nuwe verrykingsgeleenthede skep waarin leerders meer omtrent hulself, hul maats en die wêreld waarin hul leef, kan leer.
|
Na ‘n baie suksesvolle ervaring met ons heel eerste graadkampe in 2023, wil ons voorgaan in 2024 om in Hoërskool Jan van Riebeeck op skooleenheid, skooltrots, skoolgees en ons waardes te fokus – iets waaraan ons voordurend moet aandag gee. Een inisiatief wat ons in 2024 weer wil aanpak wat hierdie skoolaspek aanspreek, is graaddagkampe vir al ons leerders en personeel. Die doel van die graaddagkampe is veelvoudig: die tema van elke graad se dagkamp en die aanbieding daarvan, is spesifiek gekies om sekere doelwitte in daardie spesifieke graad te bereik. Verder kry leerders ook tydens dié dag die geleentheid om aktiwiteite aan te pak en kan so op ’n informele wyse ook hul klasmaats beter leerken. Ons het geluister na al die insette en terugvoering en het die nodige aanpassings gemaak.
|
Die hele skool (graad 8 tot 12) sal op Dinsdag, 19 Maart 2024 om 7:30 die oggend aanmeld vir hulle dagkamp. Leerders sal weer om 16:30 verdaag en terugkeer huis toe. Leerders sal op Woensdag, 20 Maart om 7:30 aanmeld en die program word daardie Woensdagoggend om 10:00 afgesluit.
|
Vervoerreëlings indien nodig sal nader aan die tyd gekommunikeer word.
|
Die koste per leerder beloop R300 en verskeie betaalopsies word op Karri gelaai. U kan ’n eenmalige betaling maak of nou reeds begin om kleiner betalings te doen soos dit u pas. Alle betalings moet asseblief teen einde Februarie 2024 gefinaliseer wees.
|
Ons sien baie uit na hierdie verrykingsgeleentheid vir ons leerders! Na verlede jaar se kamp is dit beslis ‘n nuwe jaarlikse instelling wat sy plek verdien op die JvR-kalender .
|
By voorbaat dankie vir u ondersteuning van hierdie inisiatief.
|
|
|
|
|
|
Bybelvasvrae 2024
|
Ons nooi graag alle belangstellende graad 8 -10 leerders uit om in te skryf vir 2024 se Rapportryers Bybelvasvra.
|
Kom toets jou kennis van die Bybel in hierdie landswye kompetisie. Leerders neem in spanne van 4 deel; dus kry jy ook die geleentheid om spanwerk te oefen.
|
Kontantpryse is as volg: R7 000, R5 000 en R4 000 onderskeidelik vir die eerste, tweede en derde plekke. Die ander sewe spanne wat aan die finaal deelneem, ontvang elkeen R 1 000. Inskrywings kan op Karri gedoen word en beloop R100 per leerder. Die inskrywings sluit op 16 Junie 2024. Verdere inligting en voorbeeldvraestelle is by me. Nimmo beskikbaar wees. Jy kan reeds die Bybeltekste begin navors.
|
|
|
|
|
Koshuisnuus: Huis Jordaan
|
Ons nuwe inwoners en veral ons graad 8-leerders het gou ingeskakel en daar heers tans ’n heerlike atmosfeer in ons koshuis. Ons dogterskoshuis is vanjaar propvol en dit is die lekkerste gevoel!
|
Die gees was merkbaar by die eerste gangaktiwiteit Woensdag op die netbalbane. Dogters oefen lekker aan hulle sêrliedjies en is so opgewonde oor die naderende Valentynsweek en Valentynsdans. Die koshuisdogters is tans ook baie besig en is betrokke op vele terreine van skoollewe. Dit is lekker om te sien dogters vorm spontaan hul eie drafgroep wat douvoordag gaan oefen. Die studietye word darem ook streng gevolg. Uit hierdie week se gangvergaderings se goeie terugvoering kon ons aflei dat almal gelukkig is.
|
Ouers word herinner om me. Steyn (huibrecht.steyn@janvanriebeeck.co.za) voor of op Woensdag per e-pos in kennis te stel indien u kind gaan inbly die naweek.
|
|
|
ADVERTENSIES
|
|
|
|
|
|
Gevorderde swemlesse
|
Daar is Vrydae (vanaf 2 Februarie) 14:30 – 15:15 ekstra lesse vir gevorderde swemmers. Kostes beloop R150 per persoon – 48 uur kansellasieperiode.
|
Ouers moet per e-pos bevestig en registreer by cheyns@live.co.za.
|
Beginners kan ook vir Corlette Heyns direk kontak vir ander opsies in die klein swembad.
|
|
|
|
|
|
|