|
|
|
|
'n Brief uit die hoof se kantoor
|
|
Graad 12-leerders keer op Maandag 1 Junie terug skool toe. Die personeel (onderwysers en ondersteuningspersoneel) is reeds sedert verlede week besig om alles voor te berei vir 'n soomlose begin van kwartaal 2.
|
Al die skoonmaakpersoneel is deur 'n buite-instansie opgelei in die ontsmetting en sanitasie van alle werksoppervlaktes, klaskamers en gemeenskaplike areas. Die skool het reeds voor die vakansie voorsiening gemaak vir bottels saniteerder vir alle klaskamers, badkamers en gemeenskaplike areas. Ons het ook genoeg ontsmettingsmiddel, sowel as beskermende klere in voorraad. Elke personneellid is opgelei in die nodige protokols soos voorgeskryf deur die Nasionale Departement van Gesondheid. Wees verseker dat die veiligheid van alle Jan van Riebeeckers (leerders sowel as personeel) vir ons 'n prioriteit is.
|
Reëlings rondom die Graad 12's se eerste skooldag sal volgende week per e-pos aan u deurgegee word. Omdat die graad 12's die afgelope 6 weke hard gewerk het deur middel van Google Classroom, het hulle die komende week 'vakansie'. Onderwysers gaan geen nuwe werk in die virtuele klaskamer vir hulle laai nie. Dit gee diegene wat iewers agter geraak het 'n geleentheid om op te vang, en vir ander 'n blaaskans na 'n besige 6 weke. Geniet die laaste week by die huis voor 'n vol akademiese program 'n aanvang neem.
|
Ons wag nog op amptelike kommunikasie vanaf die WKOD rakende koshuise. Huis Jordaan is egter gereed om leerders te ontvang sodra ons die groen lig kry. Ons sal Graad 12-koshuisleerders se voogde dadelik kontak sodra ons die nodige kennis ontvang.
|
Beide Noordhoek Taxi's en die JVR Busfonds het ook reeds hul reëlings in plek vir die graad 12's se terugkeer. Hulle moet voldoen aan die protokols soos voorgeskryf.
|
Ons het nog geen amptelike kennisgewing ontvang oor wanneer die ander grade terugkeer skool toe nie. Onderwysers sal steeds die kurrikulum deur middel van Google Classroom aanbied tot tyd en wyl die leerders terugkeer na die skoolbanke.
|
Intussen herinner ons alle ouers en voogde dat die skoolgronde buite perke is en dat toegang slegs deur middel van 'n afspraak verkry kan word. Ons sal wel volgende week reëlings tref vir diegene wat handboeke wil kom haal. Dit sal volgens 'n baie streng skedule geskied.
|
Ons wil ook alle ouers bedank wat 'n bydrae gemaak het tot die skool se noodfonds. Ons het amper R10 000 ontvang om vir leerders van data te voorsien. Indien u graag 'n bydrae wil maak, kan u ons skool se webbladsy besoek en die skakel volg.
|
Daar is heelwat navrae oor die Matriekafskeid en Witrokdag. Omdat die volgende paar maande baie onseker is, kan ons op hierdie stadium nie finale uitsluitsel rondom hierdie twee geleenthede gee nie. Beide is egter belangrike plegtighede in elke Jan van Riebeecker se skoolloopbaan en ons sal graag ook vir die Matrieks van 2020 op gepaste wyse wil totsiens sê. Ons sal egter aanpasbaar moet wees soos die pandemie hom uitspeel.
|
Alle onderwysers is vanaf Maandag 25 Mei terug by die skool. Ouers kan die skool tussen 08:00 en 14:00 skakel indien u graag met 'n personeellid wil gesels.
|
Ons hoop u is almal gesond en veilig. Geniet die naweek!
|
|
|
|
|
|
|
|