|
|
|
|
Belangrike en dringende sake
|
|
|
|
|
|
‘n Spesiale nuusbrief met alle reëlings rondom die terugkeer van die graad 10’s en 11’s is Dinsdag 30 Junie uitgestuur. Indien u ‘n graad 11-ouer is, vergewis u asseblief van die inhoud daarvan. Alle graad 11’s keer nie Maandag 6 Julie terug skool toe nie - slegs groep 1 meld tussen 07:00 en 07:35 by die skool aan.
|
Leerders moet asseblief nie later as 07:35 by die voordeur aanmeld nie, omdat die siftingsproses afgehandel moet word voordat die skool om 07:40 begin. Leerders wat laat kom sonder dat die skool vooraf hieroor ingelig is, sal ongelukkig nie toegelaat word nie. Ouers word ook weer daaraan herinner dat hulle nie uit hul motors mag klim nie, maar slegs hul kinders mag aflaai.
|
Ons volg vanaf Maandag dieselfde rooster as in kwartaal 1. Leerders moet dus hulle boeke vir ‘n Maandag saambring.
|
Die skool se snoepwinkel is met die nodige toestemming van die SBL, ook weer vanaf Maandag oop. Geen wegneemetes sal te koop wees nie, slegs koeldrank, skyfies, lekkergoed en ander produkte wat vooraf vervaardig is.
|
Ons het gistermiddag laat ‘n direktief van die WKOD ontvang dat slégs graad 11’s op Maandag 6 Julie by die skool mag aanmeld. Hoewel ons voorbereidings getref is en ons gereed is om die graad 10’s te ontvang, sal hulle ongelukkig NIE Maandag na die skool mag terugkeer nie. Ons besef dat baie ouers reeds reëlings vir vervoer getref het en vra om verskoning vir die ongerief.
|
Die WKOD het belowe om binne die volgende 2 dae verdere instruksies deur te stuur. Sodra ons groter klarigheid het, sal ons dadelik met u kommunikeer. Intussen verwelkom ons steeds eerskomende Maandag die eerste groep graad 11’s terug.
|
Ons het vanoggend kennis gekry dat ‘n inwoner van Huis Jordaan positief getoets is vir COVID-19. Die leerder is onder mediese behandeling en ouersorg en is aan die herstel.
|
Die WKOD en Departement van Gesondheid is gekontak en ingelig. In lyn met die riglyne van die Department van Gesondheid en die protokol van die WKOD, word alle leerders wat in nabye kontak was vir 14 dae, vanaf die laaste datum van kontak, geïsoleer.
|
Die koshuis word Saterdag volledig deur ‘n buitemaatskappy ontsmet. Leerders mag daarna weer tot die koshuis toegelaat word. Graad 11’s kan dus Sondagaand tussen 17:00 en 18:00 by die koshuis aanmeld.
|
Ons herinner ouers daaraan om nie u kind skool toe te stuur indien hulle siek is nie. Kontak die skool op die gewone manier om aan te dui dat u kind siek is.
|
Laastens het die WKOD ook aangedui dat ouers sou kon kies om hul kind tuis te laat studeer indien persone in ‘n huishouding komorbititeite het, of die ouer ander bekommernisse het. Sodra ons die amptelike dokumentasie ontvang, sal ons dit per spesiale nuusbrief uitstuur.
|
Pas asseblief vir u en u gesin mooi op en bly gesond.
|
|
|
|
|
|