|
|
|
|
Baie dankie - 'n brief van die Frankens
|
|
|
|
|
Geagte Beheerliggaam, Ouers, Personeel en Leerders
|
Vrydag 20 Maart was my laaste dag as hoof van Hoёrskool Jan van Riebeeck. Ons sou op 1 April na Stellenbosch verhuis en alle aanduidings was toe daar dat ons na die Aprilvakansie sou terugkeer, om tydens ’n spesiale afskeidsfunksie vir die hele skoolgemeenskap totsiens te kom sê.
|
Wie sou op daardie stadium kon dink dat die jaar 2020 slegs ’n paar dae later sou verander in ’n warrelwind van onsekerheid? Met die skielike afkondiging van die COVID-19 inperkingsmaatreёls het die jaar vir ons almal onverwags ’n vreemde loop geneem.
|
Ons was op die ou einde op die skoolterrein ingeperk tot einde Mei, maar kon gelukkig, nadat die tydelike verligtingsmaatreёls vir verhuising aangekondig is, uiteindelik na Stellenbosch verhuis. Terwyl die vervoermaatskappy besig was om ons trek te laai, is ’n pragtige afskeidsgeskenk namens die beheerliggaam, ouers, personeel en leerders op ’n informele wyse aan my oorhandig.
|
Aangesien die beplande saalgeleentheid hom nie voorgedoen het nie, wil ek met hierdie skrywe graag amptelik groet en almal bedank wat bygedra het tot ’n ongelooflike afskeidsgeskenk - ’n vlekvryestaal braaier. Baie dankie! Ek waardeer hierdie gebaar opreg. Elke keer wat ek en my vrou tot dusver ’n vuurtjie gemaak het in my nuwe braaier, het ons aan Hoёrskool Jan van Riebeeck gedink. In die jare wat kom sal ek beslis elke keer wanneer ek vuurmaak en braai, weer met vreugde terugdink aan die besonderse Hoёrskool, in die hartjie van Kaapstad en aan die voet van Tafelberg, waar ek en my vrou sedert 2013 kon woon en werk.
|
Sterkte vir die res van 2020. ’n Jaar wat almal van ons voorwaar nooit sal vergeet nie.
|
Ons groet met mooi herinneringe. Mag Hoërskool Jan van Riebeeck in die toekoms net van krag tot krag gaan en nog hoër hoogtes bereik.
|
Ons beste wense vergesel julle.
|
|
|
|
|
|
|
|