Nuusbrief-header
7 Augustus 2020
Geagte ouer / voog

Die skool heropen vir Graad 8 – 11 op Woensdag 12 Augustus. Ons sien daarna uit om die helfte van ons graad 8 – 10’s vir die eerste keer na Maart by die skool terug te verwelkom. Leerders word daaraan herinner om nie later as 7:30 by die skool aan te meld nie sodat daar genoeg tyd is vir die siftingsproses.

Graad 12’s begin reeds Dinsdag 11 Augustus en volg die gewone Dinsdagprogram.

Ouers van koshuisleerders moet asseblief met Me Steyn skakel om aan te dui dat hulle terugkeer koshuis toe. Graad 12’s mag Maandag 10 Augustus aanmeld, en Graad 8 – 11 Dinsdag 11 Augustus. Koshuisleerders moet tussen 17:00 en 18:00 by die koshuis aanmeld.

Ons herinner u aan ‘n paar belangrike COVID protokols.
  • Leerders mag slegs lapmaskers dra, nie ‘buffs’ of serpe nie.
  • Leerders mag wel in die klas ‘n plastiekskerm dra wanneer hulle in hul banke sit. Hulle moet egter te alle ander tye ‘n masker dra.
  • Vanaf Maandag 17 Augustus begin leerders weer uniform dra. Die gewone voorkomsreëls volgens die gedragskode tree dan in werking.
Belangrike datums vir die derde kwartaal is as volg:

Graad 12 Rekordeksamen: 7 September – 2 Oktober
Graad 12 Visuele kuns praktiese eksamen: 13 – 16 Oktober
Graad 12 Afrikaans en Engels mondeling moderering: 17 Augustus
Graad 10 en 11 toetsweek: 14 September – 18 September
Graad 8 en 9 toetsweek: 21 September – 25 September

Eerskomende week is Graad 8 – 11 se groep 2 by die skool. Die week van 17 – 21 Augustus is dit groep 1.

Die Pieter Kooij Musiekkompetisie word hierdie jaar vir die twaalfde agtereenvolgende jaar deur ons skool aangebied. As gevolg van die Covid 19 pandemie, vind die kompetisie hierdie jaar aanlyn plaas. Finaliste word op Saterdag 29 Augustus 2020 in die pragtige Welgemeend verfilm. Hierdie opname sal op Saterdag 5 September 2020 om 19:30 op 'n aanlyn platform uitgesaai word. Meer inligting hieroor sal volg met inligting rakende die virtuele konsert en kaartjie verkope.

ATKV Tienertoneel 2020: Betsy Wilke en Elzaan Daniels neem vanjaar deel aan die digitale ATKV- Tienertoneel. Hulle werk tans kliphard aan hul monoloë saam met Philip Rademeyer. Ons wens hulle sterkte toe.

Lizette Visser
Waarnemende skoolhoof

>> Besoek die volledige kalender op die webtuiste <<
facebook instagram custom 
MailPoet