|
|
|
|
|
Baie dankie vir die vriendelike verwelkoming die afgelope week. Ek en my gesin waardeer die warmte en omgee van die Jan van Riebeeck-gemeenskap. Ons sien baie daarna uit om u te ontmoet en ’n mooi pad saam te stap.
|
Dit was ’n besige en opwindende skoolweek. Hier heers ’n heerlike atmosfeer in die skoolgange en op die stoepe. Ons kinders lyk gelukkig en ons sien uit na ’n opwindende 2021! Die leerderleiers het ook baie interessante planne om die skoolgees te bou. Dit is heerlik om met elke onderwyser en die leerderleiers ’n geselssessie te kon skeduleer.
|
Ons gaan alles in ons vermoë doen om so spoedig moontlik terug te keer na ‘n meer ‘normale’ manier van doen. Ons vra u ondersteuning in ons pogings om te verseker dat ons leerders ’n verrykende en positiewe skoolervaring kan geniet. Maak asseblief seker dat leerders voorbereid skool toe kom: ’n gesonde ontbyt reeds geniet, netjies aangetrek volgens ons voorskrifte en pak maar genoeg gesonde kos en water in om hul deur die besige dag te help!
|
Ek vra dat u die gedragskode van die skool weer bestudeer en, indien nodig, dit met u kind bespreek. Dit is op ons webblad onder Beleide beskikbaar.
|
’n Paar algemene opmerkings en verwagtinge hieroor:
|
+ Dit is vir my baie belangrik dat ons leerders met respek en selfvertroue optree. Ons
|
wil graag sien dat leerders oogkontak maak en mekaar en onderwysers behoorlik
|
groet in gange en op die kampus. Moedig u kind aan om in hierdie gees ook op te
|
tree. Leerders moet asseblief netjies staan wanneer ’n volwassene ’n vertrek
|
binnekom, verby hul op die kampus loop of wanneer hul aangespreek word.
|
+ Oorfone by ’n skooluniform skep ’n baie slordige beeld en daarom word dit nie toegelaat nie.
|
+ Selfone/Elektroniese toestelle word slegs toegelaat wanneer onderwysers
|
leerders toestemming gee om dit onder hul toesig vir akademiese doeleindes te
|
+ Geen juwele word saam met ons skooldrag gedra nie. Maak asseblief seker dat u kind netjies lyk wanneer hy/sy die huis verlaat of uit u voertuig klim.
|
+ Daar is te veel leerders wat na 07:40 by die skool aankom. Ek vra u samewerking dat
|
die leerders betyds is vir skool. Laatkommers moet by die adminkantoor aanmeld.
|
Baie dankie vir u samewerking in die verband. Skooltrots begin by selftrots! Kom ons ondersteun ons leerders in hul persoonlike en sosiale ontwikkeling.
|
Ons akademiese program is goed op dreef. Akademiese uitnemendheid is ononderhandelbaar by Jan van Riebeeck en dis goed om te sien dat ons leerders entoesiasties is oor hul skoolwerk. Ons onderwysers werk hard om te verseker dat ’n gesonde akademiese atmosfeer hier heers - dankie vir elkeen se bydrae op dié gebied. Vra gereeld vir u kind om sy/haar boeke en werkstukke vir u te wys: daar is nie ’n beter resep vir akademiese prestasie as wanneer die leerders wéét sy onderwyser én ouers/voogde stel belang in hul positiewe vordering nie!
|
Assesseringsprogram: Kwartaal 1
|
Dit is baie belangrik dat u die assesseringsprogram noukeurig saam met u kind bestudeer. Leerders moet vroegtydig en behoorlik voorberei om die beste moontlike uitslae te verseker. Begin nou om aan ’n uitstekende jaarpunt te werk.
|
Ons moedig graag ons leerders aan om hierdie akademiese geleentheid aan te gryp indien hul daarvoor kwalifiseer. Nie alleen is dit verrykend nie, maar dit maak deure na wonderlike akademiese geleenthede oop.
|
Leerders moet 75% of meer in Wiskunde en 70% of meer in Engels HT/ 75% of meer in EAT behaal in die eerste kwartaal van graad 10 om te kwalifiseer om A-levels te neem; ook 75% of meer in Biologie / FW of Engels HT om vir A-levels in hierdie betrokke vakke te kwalifiseer. Dit sal tot 'n leerder se voordeel wees om in graad 9 die Cambridge IGCSE te voltooi indien hul belangstel om in graad 10 met A-levels te begin. Hierdie kursus bied ondersteuning vir leerders wat moontlik na skool in 'n wiskundigerigting wil spesialiseer of oorsee wil studeer.
|
Alle leerders wat aan die minimum vereistes voldoen, ontvang ’n uitnodiging om aan dié program deel te neem.
|
Leerders word aan die einde van graad 8–9 genader as hul 'n finale punt van 80% of meer behaal het. Die kursus word vanjaar aanlyn aangebied. Hierdie kursus bied ondersteuning vir leerders wat moontlik na skool in 'n wiskundigerigting wil spesialiseer.
|
Die Suid-Afrikaans Wiskunde-olimpiade (SAMO) vind volgende Donderdag, 11 Maart, tydens periode 7 en 8 in die skoolsaal plaas. Sterkte aan ons leerders wat hieraan deelneem!
|
Wiskunde-intervensie vind vanaf volgende week plaas. Ons moedig al ons leerders aan om van hierdie intervensiegeleenthede gebruik te maak. Die onderwysers sal veral ook fokus op haakplekkies wat vanweë die onderbreekte 2020-skooljaar ingesluip het. Maak seker dat u kind nie hierdie leergeleentheid misloop nie.
|
Graad 12: Donderdagoggend vanaf 7:00–7:45 (me. Serrao se klas) Graad 11: Dinsdagmiddag vanaf 14:30–15:15 (me. Serrao se klas) Graad 10: Maandagmiddag vanaf 14:30–15:15 (mnr. Cronjè se klas) Graad 9: Maandagmiddag vanaf 14:30–15:15 (me. Du Plessis se klas) Graad 9: Woensdagmiddag vanaf 14:30 –15:15 (mnr. Oosthuizen se klas) Graad 8-12: Me. Serrao is ook Maandaemiddag vanaf 14:30 - 15:15 per afspraak vir wiskundehulp beskikbaar.
|
Radikale redenaars en lees
|
Ten spyte van streng Covid19-regulasies, kry leerders die geleentheid om steeds aanlyn aan hierdie opwindende kompetisie deel te neem. Dit sluit in individuele-, span- en lees deelname. Ons hoop vir goeie nuus dat die streeksfinale en nasionale finaal weer in die lokale aangebied kan word soos in die verlede. Dit sal egter eers nader aan die verskeie datums (soos op die web beskikbaar) bevestig word.
|
Inskrywings beloop R110 per item per inskrywing vir redenaars, R85 per item per inskrywing vir lees, en R350 per span (’n span bestaan uit 2–4 leerders), en daar is geen beperkinge op die hoeveelheid items waaraan ’n leerder kan deelneem nie.
|
Die sluitingsdatum hiervoor is 12 Maart 2021 en betalings kan op Karri gedoen word. Die skool sal die inskrywings behartig.
|
Belangrike datums: Wes-Kaapvideo’s vir redenaars en lees moet op 20 April 2021 ingestuur wees. Die uitslae sal 10 Mei op hul webblad beskikbaar wees. Die Wes-Kaapse finaal vind op 22 Mei 2021 plaas. Meer inligting is beskikbaar op die web of op Google Classroom.
|
Die Suid Afrikaanse Akademie nooi alle leerders in graad 10, 11 of 12 wat ’n skryf- en kunstalent het, uit om deel te neem aan die POORT-kompetisie van 2021. Skryf ’n storie of gedig, of skep ’n voorblad vir die POORT-boekie. Inskrywingsfooi: R50 per skryfstuk / gedig / R30 per ontwerp en is betaalbaar by die finansiële kantoor tot 15 Maart 2021. Meer inligting is beskikbaar op die web of op Google Classroom.
|
Die vraestelle volg grotendeels die patroon van dié in skooleindeksamens; gevolglik bied hierdie eksamen ’n uitstekende geleentheid aan leerders om vroeg in die jaar reeds gewoond te raak aan ’n gestandaardiseerde eksamen.
|
Aangesien dit ’n tweetaligheidseksamen is, word ’n vraestel in beide Afrikaans en Engels geskryf. Dit is die doel en strewe van die SA-Taalbond om die gebruik van Afrikaans as amptelike taal op positiewe wyse naas die internasionale taal Engels te bevorder.
|
Die SA-Taalbond se tweetaligheidseksamen sal op 19 April 2021 by die skool afgeneem word.
|
Inskrywingsfooi: R70 en is betaalbaar op Karri tot eerskomende Dinsdag, 9 Maart 2021. Meer inligting is beskikbaar op die web of op Google Classroom.
|
Ons nuwe inwoners en veral ons graad 8-leerders het gou ingeskakel en daar heers tans ‘n heerlike atmosfeer in ons koshuis. Die leerders speel lekker, swem en kuier, maar die studietye word ook streng gevolg. Die eerste gangvergaderings het hierdie week plaasgevind en dit klink of almal gelukkig is. Ons het ook goeie terugvoer gekry van ons leerders oor die etes en spyskaarte en aanbevelings is aan ons matrone deurgegee.
|
Hierdie kwartaal het twee verpligte uitnaweke: 19–22 Maart (Menseregtedag) en 1 April–5 April (Paasnaweek).
|
Die monoloogskryfkursus vind môre en volgende Saterdag plaas.
|
Ons het vier leerders wat aan die Nasionale Toneelkompetisie deelneem – sterkte aan hulle! Hul repeteer volgende week daagliks om 14:15–15:15.
|
Kooroudisies vind Woensdag, 10 Maart 2021, na skool plaas vir enige graad 8-leerders en graad 9–12 leerders wat nie verlede jaar deel van die koor was nie. 2020-Koorlede hoef nie weer ’n oudisie af te lê nie. Ons sien uit na ’n heerlike koorervaring vanjaar!
|
GEESBOUSPORTDAG: INTERHUISATLETIEK EN -SWEM
|
Ons beplan ’n geesbousportdag vir Vrydag, 26 Maart, gedurende die skooldag. Ons beoog om die interhuisatletiekdag en -swemgala te kombineer. Meer inligting volg volgende week.
|
Die klerebanktye vir volgende week: Maandag, Dinsdag en Donderdag om 12:45 tot 14:15
|
Die graad 9’s se Engelse leesboek, The Wave, sal vanaf 15 Maart by die klerebank beskikbaar wees.
|
Ons vra graag vrywilligers in elke graadgroep wat vanuit hulle eie huise ons met ons omgeetoebroodjieprojek kan help.
|
Dié broodjieprojek behels dat ons vir behoeftige leerders voorsien van ’n dubbelsny toebroodjie met ’n gesonde vulsel soos kaas/kaassmeer, ham of grondboontjiebotter. Die toebroodjie word met gladwrap toegedraai.
|
Hierdie omgeebroodjies word dan elke dag (Maandag tot Vrydag) saam met u seun/dogter gestuur en tussen 7:00–7:40 by die leerder se graadvoog in hul kantore afgelewer. Elke graadvoog is bewus van hoeveel leerders in hulle graad dit benodig en sal dit baie sensitief versprei.
|
U kan ook vir aflewering reël indien vrywilligers weens werksomstandighede of welke ander rede nie die broodjies vroegoggend by die graadvoog kan aflewer nie.
|
Vrywilligers wat met dié baie nodige projek kan help, kan die graadvoogde per e-pos in kennis stel:
|
Indien u eerder ’n finansiële bydrae tot hierdie projek wil maak, kan u dit via Karri doen. U ondersteuning word hoog op prys gestel.
|
Ons gee weer die busreëlings deur. Kliek gerus hier vir meer inligting. Dankie vir u samewerking.
|
Ons eerste aanlyn-opedag vir graad 6 en 7-leerders vind volgende Donderdag, 11 Maart, om 18:30 plaas. Leerders kan op 'n veilige manier alles uitvind oor ons skool en daar sal geleentheid wees om vrae te vra wat intyds deur personeel beantwoord sal word.
|
Ons wil ook graag u aandag daarop vestig dat ons beurse bied aan leerders wat hulself onderskei op akademiese gebied, of in musiek. Die Welgemeend Skool vir Musiek bied 'n wye verskeidenheid instrumente en kundige onderwysers. Veelsydigheidbeurse (akademie, sport, kultuur, leierskap) is ook beskikbaar. Ons ligging in die hart van Kaapstad bied natuurlik aan leerders geleenthede wat hul nie op vele ander plekke in die land sal kry nie.
|
Ons versoek dat u die advertensie, koshuispamflet en onderstaande skakels, so wyd as moontlik met u kennisse en vriende deel!
|
Baie dankie vir u volgehoue ondersteuning van Hoërskool Jan van Riebeeck.
|
|
|
|
|
|
|
|