|
|
|
|
|
Die Jan van Riebeeckers het die afgelope week hard gewerk, maar daar was genoeg tyd vir sport, kultuur en ontspanning.
|
Ons het Woensdagoggend ons eerste graad 7-leierskapontbyt aangebied. Dit was heerlik om die jong leerderleiers hier op ons kampus te verwelkom! Hul het in die Welgemeend ’n lekker smoothie geniet en het toe na die skoolsaal beweeg vir hul ontbyt en die aanbieding. Die bekende televisiepersoonlikheid, Kabous Meiring, het die jong leerders met haar uitstekende lewenslesse en wenke geïnspireer en ons matriekraad het interessante spanbou-aktiwiteite aangebied. Dankie aan al die gr.7-leiers wat kom kuier het - volgende jaar maak ons weer so! Gaan loer gerus op ons Facebookblad om na ’n paar ontbytfoto’s te kyk.
|
Die graad 8’s en die nuwe leerders hoor volgende week in watter huisspan hulle ingedeel is. Ons gaan vanaf vanjaar meer fokus op die historiese name van die huise, naanlik Reiger, De Hoop en Drommedaris, eerder as net die spankleure.
|
Ons beplan ook 'n groot geesweek vanaf 23 Maart, wat met die geessportdag op die 26ste afgesluit sal word. Die skool sal volgens ouderdomme in groepe verdeel word en ons beplan 'n swemgala, atletiek en kaskarresies om die beurt tussen die ouderdomsgroepe. Die inskrywingsproses begin ook volgende week.
|
Baie dankie aan elke Jan van Riebeecker wat met trots die gedragskode van die skool gehoorsaam en só dan ’n positiewe beeld na buite uitstraal. Ons is baie trots op jongmense wat nie skaam is om die régte ding te doen nie en ook nie skaam is om met goeie maniere op te tree nie. Dit bly heerlik om ons vriendelike en selfversekerde leerders in die gange en op die kampus raak te loop!
|
Die graadvoogde het hierdie week ’n behoorlike netheidsinspeksie gehou en die terugvoer was positief – dankie vir almal se samewerking!
|
Ek herinner dat oorfone nie saam met die skooluniform toegelaat word nie.
|
Slégs ‘n donkerblou skooltas (met versterkings om handboeke te beskerm) of ‘n stewige donkerblou rugsak met versterkings word toegelaat. Seilrugsakke/bont rugsakke sonder versterking word nie toegelaat nie. Daar mag ook geen graffiti, plakkers, kentekens, Tippex of verf op skooltasse wees nie. Ek vra u samewerking sodat ons eenvormigheid in dié netheidaspek kan verseker.
|
Ek is bekommerd dat sekere leerders nie die reëls ten opsigte van maskerdra en die handhaaf van sosiale afstand gehoorsaam nie. Ons doen alles in ons vermoë om leerders en onderwysers veilig te laat voel, maar ons het almal se samewerking nodig! Ons het meer personeel- en matriekraadtoesig op spesifieke areas pouses toegeken, maar ons leerders moet ook verantwoordelikheid neem vir hul eie veiligheid – asook dié van hul maats. Ons gaan baie streng optree teen leerders wat ander leerders of onderwysers in gevaar stel. Ondersteun ons asseblief om dié boodskap duidelik by u kind tuis te bring!
|
Hier heers ’n gesonde akademiese gees in die skool. Die matrikulante het die week hul groot Fisiese Wetenskappe-prakties afgehandel, die eerste ronde van die wiskunde-olimpiade is geskryf en ek is al heerlik bederf met lekkernye daar uit die Gasvryheidstudieklas! Dit is ook wonderlik om inskryfvorms vir vele akademiese kompetisies en inisiatiewe te kon teken die week. Ons Jannies is aan’t woeker en ons onderwysers is oorgehaal om geleenthede vir verryking en ontwikkeling te gaan soek en te skep. Moedig u kind aan om deel te neem en geleenthede aan te gryp! Ons skop ook die toetsgedeelte van ons formele assessering eerskomende Maandag af. Ek vertrou dat die naweek nie nét ontspanning behels nie… tyd agter die boeke is baie nodig. Begin jul toetsreeks Maandag op ‘n hoë akademiese noot, Jannies!
|
Enige Wiskundeleerder (gr.8–12) wat belangstel in wiskunde-olimpiades kan dié skakel gebruik (https://bit.ly/3efvqAb) of klaskamerkode (pvujei3) om deel te raak van die wiskundeklub. Maak net seker dat jy in Google Classroom met jou @janvanriebeeck.org-rekening inteken.
|
Wiskunde-intervensie vind elke week plaas. Gryp hierdie opskerpgeleenthede aan! Graad 12: Donderdagoggend vanaf 7:00 - 7:45 (Me. Serrao se klas) Graad 11: Dinsdagmiddag vanaf 14:30 - 15:15 (Me. Serrao se klas) Graad 10: Maandagmiddag vanaf 14:30 - 15:15 (Mnr. Cronjè se klas) Graad 9: Maandagmiddag vanaf 14:30 - 15:15 (Me. Du Plessis se klas) Graad 8: Woensdagmiddag vanaf 14:30 - 15:15 (Mnr. Oosthuizen) Gr 8–12: Me. Serrao is ook op Maandagmiddae vanaf 14:30 - 15:15 per afspraak vir lesse beskikbaar.
|
Baie dankie aan die baie positiewe reaksie wat ons die week op hierdie versoek ontvang het – ons het baie broodjies en ook heelwat finansiële bydraes ontvang!
|
Dié broodjieprojek behels dat ons vir behoeftige leerders voorsien van ’n dubbelsny toebroodjie met ’n gesonde vulsel soos kaas/kaassmeer, ham of grondboontjiebotter. Die toebroodjie word met gladwrap toegedraai.
|
Hierdie omgeebroodjies word dan elke dag (Maandag tot Vrydag) saam met u seun/dogter gestuur en tussen 7:00–7:40 by die leerder se graadvoog in hul kantore afgelewer. Elke graadvoog is bewus van hoeveel leerders in hulle graad dit benodig en sal dit baie sensitief versprei.
|
U kan ook vir aflewering reël indien vrywilligers weens werksomstandighede of welke ander rede nie die broodjies vroegoggend by die graadvoog kan aflewer nie.
|
Vrywilligers wat met dié baie nodige projek kan help, kan die graadvoogde per e-pos in kennis stel:
|
Indien u eerder ’n finansiële bydrae tot hierdie projek wil maak, kan u dit via KARRI doen. U volgehoue ondersteuning word hoog op prys gestel.
|
Ons eerste aanlyn-opedag gisteraand was ’n reusesukses! Ons het ’n professionele roete ingeslaan en Media24 en Pop!-produksiemaatskappy het aan boord gekom om ’n puik produksie te verseker. Baie dankie aan me. Yvonne de Lange, ons bemarkingkomiteevoorsitter op die beheerliggaam, adjunkhoof me. Lizette Visser, en ons fondsbevorderaar, me. Karien Zulch, wat leiding geneem het met hierdie projek. Ons glo die produksie het ’n pragtige kykie gebied in die unieke skoolervaring wat op voornemende Jan van Riebeeckers wag! Ons nooi elkeen uit om weer en weer na die produksie te kyk en dit so wyd moontlik te deel. Help ons om ons geliefde skool positief daar buite te bemark! Volg die skakel om te registreer en dan na die produksie te kyk. https://www.crowdcast.io/e/JVR_Opedag_2021?fbclid=IwAR0mJKjCL_9xSSKl-IE3S4R0ZqRu_rRB0-UTw2lyF6KOeKd6Lb8WFNjgdIc
|
Graad 7’s moet so gou moontlik aansoek doen vir toelating in 2022 – alle nodige inligting is op ons webblad (www.janvanriebeeck.co.za) beskikbaar.
|
Ons bied ook volgende week kampustoere aan. Leerders kan by hierdie skakel registreer en ons sal die skoolbesoek via e-pos bevestig: HSJVR toer 2021.
|
Dit is vir my besonder aangenaam om hier so ’n paar konsepte met u te deel waaraan ons begin dink vir die toekoms. Ons wil vir die volgende paar jaar opwindende nuwe inisiatiewe aanpak en fasiliteite tot ons kampus toevoeg. Dit gaan gewis nie ’n maklike taak wees nie, maar ons droom groot – en weet dat ons met u ondersteuning groot doelwitte kan bereik. Indien u enige kommentaar of voorstelle het of ons hande wil vat of versterk in enige inisiatief, maak gerus kontak met my by skoolhoof@janvanriebeeck.co.za. Hierdie 3D-voorstellings is werklik slégs ’n wegspringplek en baie beplanning, afronding en strategiese beplanning lê voor.
|
Raak deel van ons toekoms!
|
3D-voorstellings van die volgende areas op ons kampus:
|
’n Nuwe ingang by die boonste skoolhek (Foto 1)
|
Die deurloop vanaf die nuwe ingang in Welgemeend se rigting (Foto 2)
|
’n Parkarea op die huidige parkeerarea bo (Foto 3)
|
’n Nuwe tuiste vir die Welgemeend Musiekskool en ons Kunste Onbeperk-sentrum waar die ou skoolhoofwoning nou is (Foto 4)
|
Nuwe trappe vanaf die parkarea oor die garage-spasie waar die bussies nou parkeer word (Foto 5)
|
’n Buitelugarea en amfiteater net voor daar na die tuine by Welgemeend afbeweeg word (Foto 6)
|
’n Moderne ontspanningarea vir die leerders waar die Gat nou is (Foto 7)
|
’n Opgradering van die swembadgeriewe asook nuwe lokale vir gesondheid, mediese sorg, ’n gesellige koffiewinkel, ens. (Foto 8)
|
Die graad 8’s het uiteindelik verlede Vrydag die groenlig van die res van die skool gekry dat hul dans en kreet aanvaar is. Hul moes omtrent hul storie ken, want die kritiese oë van die graad 9–12’s het hul nie sommer ’n eerste keer laat slaag nie. Mooi so, graad 8’s!
|
Dit was ook ’n besondere voorreg om vanoggend hul streepbaadjies by die Baadjieplegtigheid aan hul te oorhandig. Die hoofleiers het hul streepbaadjies uitgetrek en dit simbolies aan die graad 8’s oorhandig om aan te trek. Hoendervleisoomblikke!
|
Dit is vir my baie belangrik dat die graad 8’s die simboliek van hierdie mooi seremonie besef: met die aantrek van die trotse Jan van Riebeeck-baadjie, omarm hul alle waardes waarvoor ons staan. Hul omhels die geleenthede wat ons aan hul gaan bied... en hul moet in hierdie baadjie ingroei sodat hul oor 5 jaar kan sê: ek weet wie ek is - en ek wil net myself wees!
|
Baie dankie aan graadvoog, me. Nimmo en hulpvoog, me. Meyer, wat uitstekende werk met ons graad 8’s doen. Die matriekleiers en –mentors het ook bygedra tot hierdie vreugdevolle oomblik. Mooi so!
|
Aangesien ons graad 9’s verlede jaar baie tradisies en graad 8-lekkertes misgeloop het, beplan ons om die saak reg te stel!
|
Die graad 9’s sal volgende Donderdag, 18 Maart, tydens periode 7 en 8 ’n gr.9-spanbou geniet. Leerders mag hulle MBK-klere aantrek vir dié lekker skooldag.
|
Ons wil graag vir elke leerder ’n worsbroodjie en koeldrank gee, so enige finansiële bydraes sal ook waardeer word. Bydraes kan direk in die skool se bankrekening oorgeplaas word met verwysing: Gr.9-spanbou. Ons sien uit dat die leerders op ’n prettige manier mekaar beter kan leerken. Covid-protokol sal streng gevolg word.
|
STUDIEKURSUS VIR GRAAD 8- EN 9-LEERDERS
|
Ons is opgewonde om die Tina Cowley-studiekursus vir ons graad 8- en 9-leerders bekend te stel. Dié puik kursus word oor twee dae aangebied en sal leerders help met verskeie aspekte van die studieproses, soos motivering, beplanning en hul sal blootstelling aan kreatiewe memoriseringstegnieke ontvang.
|
Dié kursus sal verseker dat ons Jannies hul akademiese toekoms met selfvertroue en selfstandigheid kan aanpak. Die koste beloop R 1000 per leerder en sluit ‘n studiejoernaal, peuselhappies en nog ‘n paar verrassings in.
|
Dit is wonderlik om by graadvoog, me. Ananda Visser, en registeronderwysers, mnr. Cronje, me. Turkstra en me. Janse van Vuuren te hoor hoe trots hul op vanjaar se matriekgroep is! Die meerderheid is volstoom aan die werk en is pligsgetrou in hul dagtaak. Die matrikulante lyk ook spoggerig in hul nuwe matriektruie. Loer gerus op ons Facebookblad na die trotse oomblik toe hul vroeër die week hul truie ontvang het. Dra dit met trots, Matrieks!
|
Ons gaan voort met die reëlings vir die graad 12-spanboudag op 21 April. Dit gaan ‘n heerlike dag wees met hope pret en ons wil hiermee ook poog dat die matrieks leer om as ’n eenheid saam te werk. Jul stel die standaard aan die res van die skool deur jul voorbeeld - onthou dit, Matrieks!
|
Die R350-fooi moet asseblief so gou as moontlik betaal word - voor of op 16 April. Gebruik as verwysing u kind se naam en van en gr.12-spanbou. Baie dankie aan diegene wat reeds betaal het.
|
Die sportprogram het goed voortgegaan die afgelope week - selfs die swem is nie weens die slegte weer gekanselleer nie en die afrigters was op hulle pos.
|
Drie swemmers, Anelia Botha, Elmarie Combrink en Benjamin Shaw, het die koue trotseer en steeds geswem - ons sien julle toewyding raak!
|
Die bergfietsgeselskap raak elke week groter en dit is wonderlik om te sien hoe die leerders ontwikkel. Ons vra steeds dat ouers verseker dat die fietse in ’n goeie; werkende toestand is - dit is belangrik vir ons kinders se veiligheid. Die leerders het gisteraand ’n interessante werkswinkel oor die instandhouding van fietse bygewoon. Ons beplan om die geleentheid volgende Donderdag te herhaal.
|
Jan van Riebeeckers, kom wees volgende week deel van ons opwindende kultuurprogram!
|
- Debatoefening: Maandag 14:15-15:00
- Kooroefening: Maandag 14:15-15:45
- Orkesoefening: Dinsdag- en Donderdagoggend 7:00-8:00 – ons is opgewonde dat ons orkes nou twee oggende per week vir ’n uur lank oefen. Ons wil ’n trotse orkestradisie bou!
- ATKV-Tienertoneel 2021: oudisies vind Woensdag vanaf 14:15 plaas – ons het ’n trotse prestasierekord in dié kompetisie – kom ons bou voort hierop!
BIBLE BREAKFAST CLUB (BBC)
|
BBC is ’n heerlike geleentheid vir ons as leerders om God se woord te verken en saam te lees.
|
Ons nooi graag alle leerders om te kom inloer om 7:15 op Dinsdae- en Donderdaeoggende. Die bymekaarkomplek is in me. Turkstra se laboratorium en Jannies is welkom om hul koffie saam te bring!
|
Ons nooi graag alle ouers uit om eerkomende Woensdag, 17 Maart, om 17:30 ’n OOV-vergadering in die skoolsaal by te woon. Bevestig asb. by ons voorsitter, me. Marelise Snijders, via e-pos (marelise.snijders@gmail.com) of u die veragdering gaan bywoon sodat ons volgens die Covid-getalleprotokol in die skoolsaal kan vergader.
|
Ons vra u samewerking om te sorg dat u betalings op KARRI doen voordat die lyste sluit. Ons ontvang ongelukkig heelwat betalings nadat die inligting reeds verwerk is en dit bring mee dat dinge dan nie so glad verloop soos ons dit wil laat loop nie.
|
Dankie vir u samewerking in dié verband.
|
GIMNASTIEKLESSE IN DIE JUBILEUMSAAL
|
’n Nuwe gimnastiekklub, Ignite, open volgende Dinsdag, 16 Maart, tussen 13:00 en 18:00 daagliks hul deure in die Jubileumsaal.
|
Kontak gerus vir Nicole Dirk by 079 978 1718 vir meer inligting of voltooi die volgende skakel indien u kind belangstel in dié buitemuurse aktiwiteit. Deel ook die nuus met vriende.
|
Ek nooi u uit om met my kontak te maak indien u oor enige skoolaangeleentheid wil gesels.
|
Baie dankie vir u volgehoue ondersteuning van ons geliefde skool. Mooi naweek!
|
|
|
|
|
|
|
|