Nuusbrief-header
5 Februarie 2021
Geagte ouer / voog

Akademie
Die opkoms vir afhaal van handboeke was uitstekend. Dit is bemoedigend vir die jaar wat voorlê en ons glo almal gaan hard werk om te verseker dat 2021 ‘n uitstekende jaar is.

Ons herinner u dat die skole op 15 Februarie vir alle leerders heropen. Graad 8’s meld om 7:00 by die Welgemeend aan vir registrasie.

Graad 9 – 12 meld vanaf 7:00 by die skool aan vir sifting. Hul moet op die laatste 7:30 aanmeld om te verseker dat die skool stiptelik om 7:40 vir alle leerders kan begin.

Leerders van graad 9 – 12 begin op Maandag 8 Februarie met Google Classroom. Stuur asseblief ‘n e-pos aan help@janvanriebeeck.co.za indien u kind hul intekenbesonderhede of wagwoord vergeet het.

Sport
Tans mag geen kompetisies plaasvind nie. Alle swemgalas en tenniswedstyde vir die eerste kwartaal is dus gekanselleer. Dit is egter belangrik dat leerders wel oefen en fiks bly. Sport dra by tot liggaamlike en geestelike welstand.

Vanaf 15 Februarie word vier geen kontak sporte by die skool beoefen. Streng Covid kontroles sal by alle sporte toegepas word.

Maandae en Woensdae word swemlesse deur Me Corlette Heyns behartig.

Dinsdae en Donderdae vind 'trial running' plaas onder leiding van Juf Jansen van Vuuren in samewerking met Amieke Schumann.

Yurich Daniels se tennis akademie gaan met die hulp van Juf Bezuidenhout die tennisafrigting oorneem. Die dae moet nog gefinaliseer word. Daar sal egter volgende week reeds tennisklinieke by die skool aangebied word, wat deur Yurich gereël is.

Die bergfietsklub gaan Dinsdae 16h00 bymekaarkom. Mnr Siegfried Rousseau neem die leiding hier, met Katja Steenkamp wat tegniese afrigting verskaf.

Daar is ook ‘n moontlikheid van karate klasse. Sien die advertensie hier.

Kultuur
EKSTERNE DRAMA-klasse
Hoërskool Jan van Riebeeck is baie opgewonde om hierdie jaar ook eksterne drama-klasse aan te bied, weens die groot belangstelling en talent wat die leerders openbaar. `n Opeklas waar leerders kan sien wat die drama-klasse vir hul gaan inhou, word aangebied op Woensdag, 17 Februarie 2021 vanaf 17:00 - 18:00 vir `n groep van 10 leerders. En dan weer vanaf 18:00 - 19:00 vir nog `n groep van 10 leerders. Bespekings vir die opeklasse is baie belangrik. Stuur die tydsgleuf waarin die leerder die klasse sou wou bywoon, naam en graad van die leerder na die volgende nommer, 082 964 9352. Leerders kan ook as die skole open, hulle besprekings vir die opeklasse by Me Taljaard kom maak. Sien asseblief aangeheg die nuusbrief van Alma Nel Drama Ateljee en inskrywingsvorm.

TONEELSKRYFKURSUS
Alma Nel was ook verlede jaar betrokke by die toneelskryfkursus by Jan van Riebeeck Hoërskool. Leerders sou hul eie nuutgeskrewe toneelstukke kon opvoer, maar Kovid het natuurlik `n stokkie daarvoor gesteek. Die uitloop van die kursus was egter dat Alma ons leerders begelei het met die skryf van monoloë. Twee van die monoloë het die top-twintig nasionaal gehaal in die ATKV se digitale monoloogkompetisie. Hierdie kompetisie word weer in 2021 aangebied. Daarom gaan die skryfkursus fokus op die skryf van monoloë. Sien asseblief aangeheg die inligting oor die monoloogskryfkursus.

Klerebank en boekestoor
Die klerebank en boekestoor is eerskomende week Maandag, Dinsdag en Woensdag oop vanaf 7:30 tot 13:00. Ouers moet asseblief vooraf ‘n afspraak maak deur Sanet van Loggerenberg te skakel by 0846902798.

Koshuissake
Inwoners van Huis Jordaan en Huis Van der Merwe meld op 14 Februarie tussen 17:00 en 19:00 by die koshuis aan. Ouers mag, as gevolg van COVID, nie die koshuis betree nie. Verdere inligting word Maandag per e-pos aan alle koshuisouers gestuur.

Skoolkwartale en beplanning
Die nuwe skooljaar en vakansiedatums is nog nie deur die DBE gefinaliseer nie. Sodra ons bevestiging van die nuwe datums ontvang, sal ons dit deurstuur.

Lizette Visser
Waarnemende skoolhoof
facebook instagram custom 
MailPoet