Hoërskool Jan van Riebeeck staan wyd bekend as ‘n kultuurskool, nie nét in die Wes-Kaap nie, maar ook nasionaal. Die skool spesialiseer in ‘n groot verskeidenheid kultuuraktiwiteite en iewers op die besige kultuurkalender van Hoërskool Jan van Riebeeck is daar ‘n plekkie vir elke leerder om betrokke te raak, talente te ontwikkel en te presteer.

Redenaars, Debat en Vasvra

Die leerders van Hoërskool Jan van Riebeeck debatteer, redeneer en verryk hul algemene kennis in Afrikaans sowel as Engels. Daar is ‘n wye spektrum van aktiwiteite, kompetisie en Olimpiades waaraan leerders deur die jaar kan deelneem. Ons leerders vaar provinsiaal en Nasionaal uitstekend in ál die aktiwiteite, wat tekenend is van ‘n sterk Afrikaans en Engels Departement!

Toneel

Ons toneelvereniging is een van die bestes in die land en ‘n baie groot trekpleister vir voornemende leerders. Ons het al verskeie kere aan die finaal van die ATKV-Tienertoneelkompetisie deelgeneem én gewen of ‘n tweede plek behaal. Bekende akteurs soos Anneke Weideman (Hanna Hoekom en Die Wonderwerker), Viljé Maritz (Binnelanders, Verraaiers en Sara se Geheim), Ludwig Binge (Boland Moorde) en die susters, Lea en Trix Viviers (verskeie produksies) was hier op die skool se planke!

Kuns en Fotografie

Jan van Riebeeckers en kuns is feitlik sinoniem. Ons leerders het die geleentheid om kuns as vak te neem en om daagliks aan die ryk versameling van kuns in ons skool se eie “kunsmuseum”, Welgemeend, blootgestel te word. Ons het ‘n fotografieklub wat aktief hulle eie kuns skep en weekliks dié kunsvorm slyp.

Musiek

Hoërskool Jan van Riebeeck se ontluikende musikante kan aan ons koor, Sêr-groep, orkes, rock-orkeste of marimbagroep behoort. As kulturele toonaangewer bied ons jaarliks verskeie skoolkonserte, die Tafelberg-koorfees, ‘n eisteddfod en die gesogte Pieter Kooij-kompetisie aan en neem terselfdertyd aan eksterne eisteddfods en musiekkompetisies deel. Onder die vaandel van die Welgemeend Skool vir Musiek ontvang leerlinge onderrig in klavier, sang, kitaar, tromme, viool en tjello, fluit, hobo, klarinet, saksofoon en koperblaasinstrumente. Musiek word ook as ‘n Matriekvak aangebied. Laurika Rauch, Randall Wicomb, Johan Stemmet, Luna Paige, Nina Schumann en Gerhard Joubert tel onder die bekende musikante wat hier gematrikuleer het

Joernalistiek en Skryfkuns

Die skoolkoerant, “Onze Jan” is ’n kwartaallikse publikasie wat deur ons leerders bymekaargesit word. Dit is een van die vele maniere om skryfkuns in ons skool te bevorder. Ons leerders word ook aangemoedig om vir skryfkompetisies in te skryf en verskeie van ons leerders se skryfstukke is al in die ATKV se prestige- joernaal, Poort, gepubliseer. Ons spog met bekende oudleerders wat skryfkuns hulle lewe gemaak het – Freda Linde, Hester Heese, Herman Lategan, Marié Heese en uitgewers soos Leon Rousseau en Dr. Annarie van der Merwe.

X