Vakkeuses

Verpligte Vakke

  • Afrikaans Huistaal
  • Engels Eerste Addisionele Taal of Engels Huistaal
  • Wiskunde of Wiskundige Geletterdheid
  • Lewensoriëntering

Keuse-vakke

(3 vakke, een uit elke groep)

Groep 1:

  • Fisiese Wetenskappe
  • Besigheidstudies
  • Gasvryheidstudies
  • Geskiedenis
  • Musiek

 

Groep 2:

  • Lewenswetenskappe
  • Rekeningkunde
  • Toerisme
  • Ingenieursgrafika- en Ontwerp
  • Musiek
  • Dramatiese kunste

Groep 3:

  • Inligtingstegnologie
  • Ekonomie
  • Aardrykskunde
  • Lewenswetenskappe
  • Visuele Kuns
  • Musiek
  • Rekenaartoepassingstegnologie

Graad 10-12 Vakinligting

Afrikaans

Afrikaans is die hartklop van ons skool! Om in ‘n stad soos Kaapstad te woon en skool te gaan, beteken dat jy daagliks ten minste vier verskillende tale rondom jou hoor. Jou gesig helder egter elke keer ‘n klein bietjie op, wanneer jy iemand Afrikaans in die straat hoor praat. Jy jubel wanneer jy hulle in Afrikaans kan groet en die glimlag op jou gesig spreek boekdele. Om mense te soek wat Afrikaans in hierdie multi-kulturele stad besig, is egter nie so moeilik nie. Jy hoef maar net jou hart te volg – die pad lei na Hoërskool Jan van Riebeeck! Hier práát ons Afrikaans, redeneer, debatteer, sing en speel ons toneel in Afrikaans. Hier kan jy jou wiskunde- en ekonomiehuiswerk in Afrikaans voltooi en jou steeds verwonder aan ons leerders se goeie Engelse aksent. In ‘n stad, so groot en divers soos Kaapstad, het jy iets nodig waaraan jy kan vasklou – wortels wat jou stewig kan anker. Hierdie wortels is ons mooiste, mooiste taal – Afrikaans!

 

“Die Afrikaanse taal die klink vir ons so soet; Hy is ons moedertaal, sit in ons murg en bloed…”

C.P. Hoogenhout

Besigheidstudies

Besigheidstudies rus die leerders met die basiese kennis, vaardighede, houdings en waardes toe vir toetrede tot die sakewêreld.

Die vak is ‘n goeie manier om die sakewêreld beter te verstaan om beter oor besigheidsaspekte te redeneer. Die vak hou ook voordele in vir die alledaagse lewe. Leerders win kennis oor loopbane in, leer om spanning en druk te hanteer, om ‘n goeie leier te wees en watter wette op ‘n besigheid van toepassing is.

‘n Nuwe entrepreneursprojek het in 2016 die lig gesien waar leerders die geleentheid gegun word om hul eie sake-ondernemings te begin. Die leerders kry dan ook die kans om hul sake-idees aan ‘n paneel van sakedeskundiges voor te lê ten einde die lewensvatbaarheid van hul idees te toets.

Engels

Hoërskool Jan van Riebeeck bied Engels Eerste Addisionele Taal sowel as Engels Huistaal aan.

Daar word in albei vakke na hoë akademiese standaarde gestrewe. Die doelwit is om die potensiaal van alle leerders, ongeag hul intellektuele vermoë, te erken en ten volle te ontwikkel.

Die beleid van hierdie department is op die volgende beginsels gebaseer:

Om leerders se taal- en kommunikasievaardighede sodanig te ontwikkel dat hulle kreatiewe, aanpasbare, onafhanklike en selfversekerde individue met ‘n morele en sosiale verantwoordelikheidsin sal word.

Om deurlopende self-evaluering van onderwysmetodologieë en assesseringstrategieë toe te pas t.o.v. hul effektiwiteit en geldigheid binne ‘n gedurig-veranderende sosio-ekonomiese omgewing.

Om aanpasbaar en ontvanklik te wees vir innoverende opvoedkundige idees en praktyke wat ons Engels-onderrig voortdurend kan verbeter.

Ekonomie

Ekonomie is ‘n hoogs relevante wetenskap wat in die moderne samelewing sy plek opeis.

Die geheel van ‘n ekonomie word bestudeer met die klem onder meer op die belangrikheid van huishoudings, sake-ondernemings, die staat en die buiteland se interaktiewe bedrywighede. Leerders leer om kontemporêre kwessies te verbind en te analiseer. Die gedrag van rolspelers word ook individueel ondersoek.

Die basis van ekonomiese strewes word bestudeer en leerders kry weekliks die geleentheid om die ekonomiese prestasie van ons land met ander lande te vergelyk en te ontleed. Die toepassing van hierdie vaardighede ontwikkel ons leerders tot dinamiese redevoerders.

Kontemporêre ekonomiese aktiwiteite word prakties in ons kurrikulumaanbieding vervat. Hoërskool Jan van Riebeeck se Ekonomie-departement is bekend vir die jaarlikse Omgewingsdag in Augustus, markdae en ander skoolfunksies.

Fisiese Wetenskappe

Hoërskool Jan van Riebeeck beskik oor goed-opgeleide onderwysers wat op die bestudering van fisiese en chemiese verskynsels fokus deur van wetenskaplike ondersoeke gebruik te maak.

Deur wetenskaplike modelle, teorieë en wette toe te pas, poog hulle om leerders te help om die gebeure in ons fisiese omgewing te verstaan en te voorspel. Leerders word opgelei om die gemeenskap se behoefte, om te verstaan hoe die fisiese omgewing werk, om voordeel daaruit te trek en op ‘n verantwoordelike wyse daarna om te sien, te begryp.

Geskiedenis

Hoe kan ‘n mens die wêreld ingaan as jy niks van die wêreldgeskiedenis weet nie? In die vak, Geskiedenis, word al ons vrae beantwoord, belangstelling geprikkel, waardes gekweek, kennis van die verlede en ook die hede uitgebrei. Hier gesels en debatteer ons en deur middel van oudio-visuele hulpmiddels lewe ons vak as’t ware vóór ons. Sake en nuus word daagliks bygehou. Ons toekomsvisie word verbreed en met insig en begrip word aktuele sake bespreek.

Uitstappies na historiese plekke in en om ons Moederstad verseker dat hierdie vak onmisbaar bly!

Gasvryheidstudies

Gasvryheidstudies is die studie en praktiese toepassing van verskeie interverwante temas in die gasvryheidsbedryf. Hoërskool Jan van Riebeeck beskik oor ‘n goedtoegeruste kombuis en die Welgemeend-sentrum waar praktiese klasse en eksamens van hoogstaande gehalte voorberei en bedien word. Ons is trots om te kan spog met verskeie oudleerlinge wat tans ‘n suksesvolle deel van die gasvryheidsbedryf uitmaak. Ons poog voortdurend om leerders voor te berei vir hierdie hoogs kompeterende, maar bevredigende industrie.

Geografie

Geografie bied die onderbou vir ‘n groot verskeidenheid beroepe en is daarom ‘n gewilde vak in Hoërskool Jan van Riebeeck. Aspekte soos weerkunde, geologie, ekonomiese ontwikkeling, landelike en stedelike ontwikkeling en omgewingsbestuur is die kern van die vak. Bykans een derde van leerders in die VOO-fase neem hierdie vak. Vyf-en-twintig present van matrikulante behaal deurlopend ‘n A-gemiddeld en presteer altyd 30% bo die provinsiale gemiddeld!

Inligtingstegnologie (IT)

IT word tydens skoolure en nie na-ure, soos by vele ander skole, aangebied nie. IT ontwikkel sekere vaardighede van ‘n leerder soos probleemoplossing en logiese denke. Dit help dus die leerders om die groter prentjie te kan sien, om werklike situasies te modelleer en om ‘n oog vir detail te ontwikkel. ‘n IT-leerder behoort ook ‘n teoretiese kennis van apparatuur, programmatuur en netwerke te verwerf.

 

In graad 10 word basiese programmeringskonstrukte en algoritmes bekendgestel m.b.v. Scratch (‘n opvoedkundige, dog prettige programmeringsomgewing). In graad 11 word daar na Object Pascal oorgeskakel, spesifiek Delphi soos verplig deur die Departement van Onderwys. ‘n Matriekleerder sal die algemeenste programmeringskonstrukte, wat in alle tale voorkom, deeglik ken en kan gebruik met Delphi as taal van verwysing. Deur ‘n ontwikkelingsproses van vereiste-ontleding, ontwerp, implementering en dokumentering te volg, sal ‘n matriekleerder ‘n GUI-program kan ontwikkel, wat d.m.v. SQL-stellings met ‘n databasis kommunikeer.

Ingenieursgrafika en -Ontwerp (IGO)

IGO is die integrasie van kognitiewe en handvaardighede wat gebruik word om te ontwerp en grafies te kommunikeer. Dit is ‘n kombinasie van lyne, simbole en tekens wat gebruik word om dienste, ontwerpprosesse en stelsels te verskaf wat ‘n bydrae tot ekonomiese vooruitgang en verhoogde lewenskwaliteit lewer.

IGO sal ‘n bydrae lewer tot leerders se tegnologiese geletterdheid deur hulle geleenthede te bied tot:

  • Toepassing van die onwerpproses om siviele, elektriese en meganiese probleme op te los;
  • Verstaan en gebruik van konsepte en kennis, en
  • Ontwikkeling en toepassing van spesifieke vaardighede.

Die konteks van die vak is siviel, elektries en meganies. Die implikasies hiervan is dat die grafika en ontwerp wat geteken gaan word, ‘n refleksie van siviel, elektries en meganies moet wees. Die grafika kan vryhand of met instrumente of rekenaargesteunde sagteware gedoen word.

IGO as ‘n vak gee aan leerders die geleentheid om:

  • Idees grafies te kommunikeer deur van tekeninstrumente en rekenaars gebruik te maak;
  • Te leer om probleme op ‘n kreatiewe wyse op te los;
  • Projekte te voltooi deur van die ontwerpproses gebruik te maak;
  • Direk met regs-, sosiale en omgewingskwessies in hul projekte kennis te maak;
  • Kennis op doelgerigte maniere toe te pas;
  • Meer positiewe houdings, persepsies en aspirasies te skep teenoor vervaardiging, ingenieurswese en tegnologies-gebaseerde loopbane.

Lewensoriëntering

By Hoërskool Jan van Riebeeck poog ons om geleenthede te skep vir elke leerder se persoonlike, sosiale, intellektuele, emosionele, geestelike en fisieke groei en ontwikkeling. Lewensoriëntering dra by tot die ontwikkeling van gebalanseerde en selfversekerde leerders. Leerders berei hul voor vir aktuele kwessies asook om die realiteit te hanteer. Dit lei die leerder tot selfaanvaarding.

Lewenswetenskappe

Lewenswetenskappe is die studie van lewe en bestaan uit ‘n verskeidenheid van subdissiplines of spesialiseringsrigtings, wat bekendgestel word.

Deur die bestudering van Lewenswetenskappe sal leerders die volgende ontwikkel:

  • Hul kennis van belangrike biologiese begrippe, prosesse, stelsels en teorieë wat hul belangstellings stimuleer;
  • ’n vermoë om wetenskaplike kwessies en prosesse krities te evalueer en te debatteer;
  • groter bewustheid van die manier waarop biotegnologie en kennis van lewenswetenskappe die mensdom gebaat het;
  • nuttige kennis en vaardighede wat in die alledaagse lewe nodig is;
  • ’n begrip van die manier waarop die mens ‘n negatiewe uitwerking op die omgewing het en die organismes wat daarin is;
  • ’n diep waardering vir die unieke diversiteit van biome in Suider-Afrika en die belangrikheid van bewaring;
  • ’n bewustheid van die betekenis “verantwoordelike burger” in terme van die omgewing en lewenstylkeuses wat hulle maak;
  • ’n bewustheid van die bydrae van Suid-Afrikaanse wetenskaplikes;
  • wetenskaplike vaardighede en maniere om wetenskaplik te dink wat hulle in staat stel om die leemtes te sien; en
  • ’n vlak van akademiese en wetenskaplike geletterdheid wat hulle in staat stel om te lees, praat, skryf en te dink oor die biologiese prosesse, konsepte en ondersoeke.

Musiek

Hoërskool Jan van Riebeeck is ‘n skool waar musiek tradisoneel sterk in die are vloei. Onderrig in klavier, kitaar (klassieke, sowel as rock-kitaar), blokfluit, fluit, klarinet, saxofoon, viool en sang word aangebied.

 

Musiek bied ‘n gulde geleentheid om kreatiwiteit in groepsverband te beoefen en verhoogvaardighede aan te leer. In hierdie verband word musiekleerders aangemoedig om saam met ander leerders aan die skool se ensemble en jaarlikse musiekkonsert deel te neem. Leerders kry ook die geleentheid om aan eisteddfods en eksterne musiekeksamens deel te neem, byvoorbeeld dié van UNISA, Trinity-Guildhall, Rockschool of die Royal School of Music.

Aan graad 8-leerders bied ons die geleentheid om musiek as vak te neem, selfs al het die leerders geensins musiek in die laerskool beoefen nie. Die leerders kry die geleentheid om hul te bekwaam tot op minimum graad II-vlak aan die einde van graad 9. In graad 10 kan die leerder kies om met musiek as vak voort te gaan om sodoende by ‘n graad V-standaard, wat die vereiste vir graad 12 is, uit te kom. ‘n Leerder wat ‘n instrument bespeel wat nie deur die skool aangebied word nie, word ook toegelaat om praktiese werk ekstern te doen en die teoretiese werk by die skool te neem.

Kom ontdek of slyp jou musikale vaardighede by Hoërskool Jan van Riebeeck!

Rekeningkunde

Rekeningkunde fokus op die meting van prestasie en die verwerking en kommunikasie van finansiële inligting rakende ekonomiese sektore. Hierdie dissipline verseker dat daar aan die vereistes van etiese gedrag, deursigtigheid en verantwoordelikheid voldoen moet word. Dit handel oor die logiese, sistematiese en noukeurige keuse en optekening van finansiële inligting en transaksies, asook die opstel van finansiële state en bestuursverslae.

Die vak behels rekeningkundige kennis, vaardighede en waardes wat op die finansiële rekeningkunde, bestuursrekeningkunde en ouditeringsvelde fokus. Vaardighede, kennis en waardes word in verband gebring met werklike situasies om gevolglik ‘n balans tussen teorie en praktyk te verseker, om die wêreld van werk te betree en om selfontwikkeling aan te moedig.

Die leerders word vir ‘n verskeidenheid beroepsgeleenthede voorberei en ontwikkel karaktereienskappe soos etiese gedrag, gesonde oordeel, deeglikheid, ordelikheid, noukeurigheid en netheid wat hul met vertroue in enige rekeningkundige beroep kan aanwend.

Rekenaartoepassingstegnologie (RTT)

Die data-ontploffing van die afgelope tyd noop die hedendaagse leerder om die vermoë te hê om data in inligting te kan verander. RTT lê klem op inligtingsvaardigheid: leerders moet data en inligting oor ‘n bepaalde kwessie versamel, sif, ontleed en op ‘n sinvolle manier bymekaar voeg as professionele verslae, aanbiedings en statiese webtuistes.

Voorts rus RTT leerders toe om bestaande programmatuur oordeelkundig te gebruik deur die volgende programme in die Microsoft Office Suite te behandel: Word (woordverwerking), Excel (sigblad), Access (databasis-verwerking) en PowerPoint (aanbiedingsprogrammatuur). Aan die einde van matriek behoort RTT-leerders oor ‘n algemene rekenaargrondslag te beskik om ingeligte besluite oor die aankoop van programmatuur en apparatuur te maak. Voorts behoort hulle ook gestruktureerd navorsing te kan doen om sodoende hul resultate op ‘n kundige wyse aan te bied.

Toerisme

Toerisme is ‘n opwindende en aktuele vak en daaglikse koerantartikels hou direk met die vakinhoud verband.

“Die toerismebedryf is Suid-Afrika se nuwe goudmyn” het Derek Hanekom, Minister van Toerisme, op 16 Junie 2014 aangekondig. Meer as 617 000 mense werk reeds in die Suid-Afrikaanse toerismebedryf en bykans 10 miljoen internasionale toeriste het Suid-Afrika gedurende 2014-2015 besoek.

Met bogenoemde in gedagte word Toerisme as vak aangebied. Dit kan deurslaggewend wees vir leerders wat eendag in toerisme wil spesialiseer. Dit is ‘n beroepsgerigte vak wat jou onbeperkte geleenthede bied en is beslis die vakkeuse vir die toekoms!

Visuele Kuns

Hierdie vak inspireer leerders om op verskillende maniere te dink. Hulle ontwikkel hul liefde vir kuns deur vrye denke en deur emosioneel by hul praktiese werk betrokke te raak. Nuwe idees, konsepte, materiaal en tegnieke word uitgetoets sodat kinders ‘n ondersoekende ingesteldheid kan kweek en kreatief kan groei.

Leerders word uitgedaag om teoretiese temas by hul praktiese kunsskeppings te inkorporeer. Hulle moet besin oor temas en kunswerke wat op die hedendaagse wêreld van toepassing is, sodoende kry hul werk betekenis en dra dit ‘n boodskap uit of lewer kommentaar op die spesifieke probleme in die samelewing. Kennis, waardes en vaardighede word ontwikkel deur die studie van diverse rolle en funksies van die visuele kunste in die moderne lewe, die verlede en in verskillende kulture. Leerders word die geleentheid gegun om die rol van die visuele kunste in hedendaagse kulture, sowel as kulture van die verlede (Afrika en internasionaal) te analiseer en die interafhanklike verhouding tussen kuns en die samelewing te verken.

Wiskunde

Benewens die duidelik-uiteengesette riglyne en standaarde vervat in die NKV oor onderwys in die algemeen, beklemtoon Hoërskool Jan van Riebeeck ook die volgende aspekte met betrekking tot die onderrig van die vak, Wiskunde:

Die oogmerk is om by alle leeders ‘n liefde vir Wiskunde te kweek deur:

  • die voorbeeld en passie wat leerkragte ten toon stel in hul aanbieding daarvan;
  • voortdurende aanmoediging en gepaardgaande erkenning vir suksesse behaal; en
  • geleenthede daar te stel vir addisionele hulp of intervensie.

Die rol wat wiskunde deur die eeue gespeel het in die ontwikkeling en vooruitgang van die mens en sy wêreld, vanaf die ou Grieke soos Pythagoras en Archimedes tot Newton, Einstein en die vele ander wiskundiges word aan leerders uitgewys.

’n Klaskamerkultuur wat aanleiding gee tot effektiewe onderrig en leer, sowel as ‘n gesonde werksetiek wat noodsaaklik is om sukses te behaal word daargestel. Hiermee gaan die volgende gepaard:

  • om gereeld huiswerk te gee en te kontroleer;
  • om toepaslike drilwerk ‘n gereelde en alledaagse praktyk in die klaskamer te maak, en
  • toetse en eksamenvraestelle van ‘n hoë kwaliteit en standaard op te stel.

Goeie en konstante blootstelling (deur die skoolbiblioteek) aan allerhande wiskundige literatuur.

Deelname aan verskeie olimpiades en kompetisies.

Wiskundige Geletterdheid

Wiskundige Geletterdheid bemagtig ons leerders en stel hulle in staat om hulle alledaagse leefwêreld met selfvertroue te kan analiseer. Hulle word op ‘n praktiese manier geleer om numeriese, monitêre, statistiese en ruimtelike scenarios te kan interpreteer.

Deur die gebruik van probleemoplossingsmetodes word hulle geleer dat verworwe kennis toegepas kan word deur die gebruik van basiese wiskundige beginsels. Wiskundige Geletterdheid is hoofsaaklik ‘n toepassingsvak wat daarop gemik is om leerders se redenasievermoëns en reflektiewe vaardighede te ontwikkel deur hul bloot te stel aan hulle leefwêreld.

Dramatiese Kunste

Dramatiese Kunste is nie net ’n vak om te neem as ’n leerder akteur of ’n film- en teatermaker wil word nie. As jou belangstelling daar lê, is dit natuurlik heeltemal in orde.

Dis belangrik om te weet dat Dramatiese Kunste alle mensgeorienteerde beroepe ondersteun. Met ander woorde: die vak leer vir jou kommunikatiewe vaardighede en die vermoë om op jou voete te dink, wat uiters belangrik is as jy met mense gaan werk – veral in `n bestuursposisie.

Die vak is daarop daarop gemik om leerders te ontwikkel wat krities en kreatief kan dink oor die vakkennis wat hulle leer. Om denkende individue te ontwikkel, onderrig, leer en assesseer op elke vlak, is belangrik.

Dramatiese Kunste het ’n teoretiese en ’n praktiese komponent. Die geskiedenis van die teater asook verskillende dramas word bestudeer en geanaliseer. Die leerder ontwikkel sy/haar stem en liggaam as instument wat impak maak. Daar word veral gefokus om kreatiewe denke te ontwikkel wat uit die aard van die saak belangrik is in alle beroepe. In die skeppingsproses vir ’n produksie moet hulle verskillende idees uit verskillende bronne saambind om nuwe perspekstiewe of ’n oorspronklike produksie te skep. Die selfvertroue wat ontwikkel word om mekaar en jou eie werk te evalueer en te verbeter, is uiters belangrik in die selfaktualisering van die leerder om sy plek in die samestelling vol te staan.

Voorskrifte

  • Wiskunde is verpligtend vir Fisiese Wetenskappe.
  • Bo-gemiddelde prestasie in Wiskunde word vereis vir IT en IGO;
  • RTT-kandidate moet gekeur word as gevolg van getallebeperking in die vak;
  • Musiekkandidate word afsonderlik gekeur.
X