By Hoërskool Jan van Riebeeck kry ons leerders puik afrigting in al die onderskeie sportsoorte wat ons aanbied. Die doel is om leerders sekere lewensvaardighede te leer, eerder as om ten alle koste te wen! Ons spog wél jaarliks met leerders wat op provinsiale- en nasionale vlak, uitstekend presteer.
Hoof van Sport – Mnr. Abré van Heerden

Hokkie
Kodehoof – Mnr. Theon Theron
By Hoërskool Jan van Riebeeck poog ons om met behulp van goed gekwalifiseerde afrigters, die beste geleenthede moontlik vir die seuns- en meisieshokkiespanne te skep. Die hokkiespanne woon gereeld afrigtingsklinieke by en daar word toere gereël waartydens leerders die geleentheid kry om vriendskaplik teen ander skole mee te ding.
Netbal
Kodehoof – Me. Billy Wagner
Uitstaande prestasies word jaarliks in netbal behaal. Weeklikse oefeninge vind plaas waartydens spelers se fiksheid, tegniese- en spanspel geslyp word. Ons netbalspanne spog die afgelope paar jaar met topposisies in die A-liga, asook WP-spelers in verskillende ouderdomsgroepe en selfs ‘n SA-speler!
Rugby
Kodehoof – Mnr. Charl Smit
Rugby is steeds die grootste wintersport by Hoërskool Jan van Riebeeck. Professionele koördineerders help om die verskeie spanne fiks te hou en gereelde kondisioneringswerk word gedoen.
Tafeltennis
Kodehoof – Me. Rhonda Jansen van Vuuren
2021 is die eerste jaar waar die skool hierdie nuwe sport aanpak! Die skool het twee spanne ingeskryf vir die 2021-liga, en ons seuns-span het in die tweede liga kompeteer terwyl die meisies in die eerste dames-liga gekompeteer het.
Landloop
Kodehoof – Mnr. Ruswahl Samaai
Ons landloop is by die WP-Skolelandloop geaffilieer en Hoërskool Jan van Riebeeck se atlete kompeteer op provinsiale en nasionale vlak. Leerders word daagliks met behulp van wetenskaplik-saamgestelde programme gehelp en oefeninge vind op verskillende terreine in en om die stadskom, plaas.
Atletiek
Kodehoof – Mnr.Ruswahl Samaai
Die atletiekseisoen spring elke jaar weg met die Interhuisatletiek waar die hele skool by betrokke is. Ons atlete kry wonderlike afrigting en verskeie atlete neem jaarliks aan die WP-Kampioenskappe, die SA-skole Atletiekkampioenskappe en die SA-Klubkampioenskappe in Coetzenburg deel.
Krieket
Kodehoof – Mnr. Theon Theron
Hoërskool Jan van Riebeeck beskik oor goeie krieketfasiliteite en skryf ‘n o.19A- en ‘n o.15A-span vir die liga in.
Swem
Kodehoof – Mnr. Jan Henning
Hoërskool Jan van Riebeeck neem deel aan ‘n weeklikse swemliga en swemmers sien ook baie uit na die WP-skolegala op Nuweland. Ons het die afgelope tien jaar verskeie presteerders op nasionale vlak opgelewer.
Tennis
Kodehoof – Me. Carus Krüger
Ons leerders neem jaarliks aan die WP-Skoleliga deel en die skool het goeie tennisfasiliteite (4 bane en ‘n paviljoen) en afrigters. Ligawedstryde vind drie keer per week in die eerste en vierde kwartaal plaas.
Skaak
Kodehoof – Mnr. Werner Cronje
Elke jaar word ‘n skaakspan vir die WP-Skaakliga ingeskryf. Ons neem tans in die Sentrale Distrik deel en skaakwedstryde vind gewoonlik op Vrydagmiddae plaas. Baie van ons leerders neem aan die CHESSA-individuele toernooie deel.
Bergfietsry
Kodehoof – Mnr. Jan Henning
Die bergfietsklub is aan die einde van 2020 by ons skool gestig. Mnr. Siegfried Rousseau het uit die staanspoor sy gewig hier ingegooi. Verskeie ouers is ook baie betrokke.
Die skool het ongeveer tien aktiewe leerders wat gereeld ry. Me. Katja Steenkamp van Breakaway Rides is aangestel as die vaardigheidsafrigter en dit was ongelooflik om te sien hoe almal hierdie jaar groei en ontwikkel.
In April het die skool sy eie bergfietsbaan gekry.










