In ons poging om ’n holistiese en gebalanseerde skoolervaring aan ons leerders te bied, probeer ons voortdurend nuwe verrykingsgeleenthede skep waarin leerders meer omtrent hulself, hul maats en die wêreld waarin hul leef, kan leer.

Na ‘n baie suksesvolle ervaring met ons heel eerste graadkampe vanjaar, wil ons voorgaan in 2024 om in Hoërskool Jan van Riebeeck op skooleenheid, skooltrots, skoolgees en ons waardes te fokus – iets waaraan ons voordurend moet aandag gee. Een inisiatief wat ons in 2024 weer wil aanpak wat hierdie skoolaspek aanspreek, is graaddagkampe vir al ons leerders en personeel. Die doel van die graaddagkampe is veelvoudig: die tema van elke graad se dagkamp en die aanbieding daarvan, is spesifiek gekies om sekere doelwitte in daardie spesifieke graad te bereik. Verder kry leerders ook tydens dié dag die geleentheid om aktiwiteite aan te pak en kan so op ’n informele wyse ook hul klasmaats beter leerken. Ons het geluister na al die insette en terugvoering en het die nodige aanpassings gemaak.

Die hele skool (graad 8 tot 12) sal op Dinsdag, 19 Maart 2024 om 7:30 die oggend aanmeld vir hulle dagkamp. Leerders sal weer om 16:30 verdaag en terugkeer huis toe. Leerders sal op Woensdag, 20 Maart om 7:30 aanmeld en die program word daardie Woensdagoggend om 10:00 afgesluit.

Vervoerreëlings indien nodig sal in die nuwe jaar gekommunikeer word.

Die koste per leerder beloop R300 en verskeie betaalopsies word op Karri gelaai. U kan ’n eenmalige betaling maak of nou reeds begin om kleiner betalings te doen soos dit u pas. Alle betalings moet asseblief teen einde Februarie 2024 gefinaliseer wees.

Ons sien baie uit na hierdie verrykingsgeleentheid vir ons leerders! Na verlede jaar se kamp is dit beslis ‘n nuwe jaarlikse instelling wat sy plek verdien op die JvR-kalender .

By voorbaat dankie vir u ondersteuning van hierdie inisiatief.

0 Shares
X