Die Jan van Riebeeck Skoolkoor het die 2024 koorjaar afgeskop met ‘n onvergeetlike uitvoering tydens die SchoolsNow!2024-konferensie by die Westin Hotel in Kaapstad. Die geleentheid was georganiseer deur die Britse Raad vir skole en ‘n uitsonderlike geleentheid vir die koor.

Die uitvoering was gekenmerk deur die uitsonderlike talent, toewyding en gees van ons koorlede, wat waardige ambassadeurs van ons skool is. Die volgende soliste verdien ‘n spesiale vermelding vir hulle merkwaardige bydrae tot die sukses van die uitvoering: Lilitha Mhini se uitvoering van die inheemse isiZulu-lied ‘Konke’ was ‘n roerende huldeblyk aan ons ryk kulturele erfenis en het baie in trane gehad. Thomas Boshoff, Michelle Schoeman, Stella Boje, en Ayden Februarie se uitsonderlike bydrae in die opening van die lied, ‘This is Me’, uit die musiekblyspel ‘The Greatest Showman’. Baie dankie ook aan Juffrou Ruthette du Toit en graad 12-leerder, Andrée van Zyl, vir hulle besondere begeleiding op die klawerbord. Die onskatbare bydrae van Mnr. Daniel Nambassi se vaardigheid op die djembe het opwinding en glans aan die uitvoering toegevoeg. Almal se energie en passie was aansteeklik en het die gehoor op hulle voete gehad.

Ten spyte van die vreesaanjaende gedagte om voor ‘n internasionale gehoor van oor die 2000 mense op te tree (in die gehoor asook aanlyn), het die koorlede met oorgawe die gehoor bekoor met hul sang en dinamiese energie. Die gedeelde ervaring skep bande tussen koorlede, selfvertroue en trots en terwyl ons hierdie merkwaardige prestasie vier, herinner dit ons ook aan die potensiaal van ons koor en die positiewe impak wat dit op ons skool en gemeenskap kan hê. ‘n Suksesvolle eerste konsert vorm die basis waarop ‘n koorjaar en koortradisie gebou word en ons wens die koor net die beste toe met hulle planne vir 2024.

0 Shares
X