Met die afsluiting van Kwartaal 3, wil ons graag al ons ouers, afrigters, en leerders bedank vir hul toegewydheid en harde werk in ons sportprogram.
Hierdie kwartaal het ons verskeie hoogtepunte beleef, met die grootste een ons oorwinning van Interskole. Die passie, spanwerk, en deursettingsvermoë wat ons spanne gewys het, was iets besonders. Dit is ‘n eer om te sien hoe elke leerder ons skool op die veld verteenwoordig het en ons is ongelooflik trots op elkeen se bydrae. Ons wil ook graag ons afrigters en ondersteuners bedank. Julle het baie moeite gedoen om ons leerders voor te berei en te motiveer. Julle ondersteuning speel ‘n belangrike rol in die sukses wat ons spanne hierdie kwartaal behaal het.
Kwartaal 4 gaan net so opwindend wees, en ons sien uit na ‘n vol kalender. Ons fokus verskuif nou na somersportsoorte, terwyl ons ook met voorbereidings begin vir die volgende seisoen se wintersport.
Verder is ons opgewonde om aan te kondig dat ons in Desember aan die Six Gun Grill Sportfees gaan deelneem! Dit is ‘n wonderlike geleentheid waar al ons sportkodes (winter- en somerkodes) verteenwoordig sal wees. Dit is ‘n geleentheid om teen ander topskole mee te ding, en ons leerders sal weer die kans hê om hul talent en harde werk op nasionale vlak te wys. Ons is vol vertroue dat ons leerders in hierdie fees en Kwartaal 4 net so goed gaan presteer, en ons sien uit daarna om julle langs die kantlyn te ondersteun.
Baie dankie weereens vir elke ouer, leerder, en afrigter wat hierdie kwartaal so suksesvol gemaak het. Ons waardeer julle onvoorwaardelike ondersteuning vir die Goud, Blou en Wit van ons trotse Jan van Riebeeck.
0 Shares
X