Wedstryde
Ons tennisseisoen het verlede week met mag en mening afgeskop. Ons seuns het teen Rondebosch gespeel en het ongelukkig verloor. Die gr.8’s wat vir die eerste keer in die span gespeel het, het hulle wel goed van hul taak gekwyt en toon groot potensiaal. Ons dogters het op ‘n snikhete Vrydagmiddag teen Springfield gespeel. Ten spyte van die hitte het hulle alles gegee, maar hulle moes ongelukkig die knie buig teen Springfield. Die gr.8’s in hierdie span het beslis ook beïndruk met hul spel.
Maandag, 5 Februarie, het ons dogters teen Reddam Constantia gespeel. Die wedstryde was van top gehalte en almal het behoorlik asem opgehou om te sien wie gaan wen. Die dogters speel dan gelykop, maar kan baie trots wees op hulself.
Eerskomende Maandag speel ons, ons Interskole Tennis teen Dirkie Uys (tuis). Die seuns speel Donderdag teen Bishops (weg). Die dogters se wedstryd teen Herschel (tuis) moet nog bevestig word.
Oefeninge
Dit is verblydend om te sien hoeveel leerders opdaag vir die oefeninge – dankie aan elkeen van julle!
Ons herinner net aan die volgende reëling: alle spanspelers oefen Woensdae 14:30-15:30 en alle ander spelers oefen Maandae 14:30-15:30. Hierdie reëling is in plek sodat die groepe nie te groot word nie en sodat elke leerder die nodige aandag kan kry.