Die ATKV bied vanjaar weer hul opwindende Digi-projektereeks aan. Hierdie inisiatief bied aan leerders die geleentheid om aan ’n wye verskeidenheid aanlyn kompetisies deel te neem en so hul vaardighede te slyp en talente uit te leef.
DigiPRAAT
Om jou sê met selfvertroue te kan sê, is ’n vaardigheid wat jy regdeur jou lewe kan gebruik. Met ATKV-DigiPraat skep hul vir leerders ’n platform waarop hul in Afrikaans kan wys hoe glad hul met die mond is.
Om alles te kroon, hoef jy nêrens heen te ry nie, met sweterige hande op ’n klipharde saalstoel te sit nie, of bewerig te glimlag vir ’n streng beoordelaar nie. Met ATKV-DigiPraat kan jy in die gerief van jou eie huis, of op enige plek in die wêreld, jou toespraak opneem en vir ons stuur.
Loer hier vir al die inligting en sluitingsdatum: https://atkv.org.za/neem-deel/digiprojekte/digipraat/
DigiSKRYF
Of jy jou bevind in ’n snikhete Upington, die Eiffeltoring bewonder in die Franse hoofstad, die Vrystaatse stof inasem of smul aan pasta van ’n Italiaanse “mama” – as jy lief is vir Afrikaans en skryf, dan is ATKV-DigiSkryf net vir jou.
Dié kompetisie is vir oud en jonk, en gee jou die geleentheid om met jou kreatiwiteit en skryftalent te spog. Nie net sal die wenners se werk op een van die ATKV-platforms ten toon gestel word nie, maar daar is ook fantastiese boekpryse op die spel.
Loer hier vir al die inligting en sluitingsdatum: https://atkv.org.za/neem-deel/digiprojekte/digiskryf/
DigiSPEL
As jy ’n S-P-E-L-L-E-R is en in koue sweet uitslaan as jy ’n spelfout sien, is die ATKV se digitale spelkompetisie net vir jou.
Met ATKV-DigiSpel word leerders aangespoor om baie meer aandag aan die gebruik van Afrikaans te gee, en nie net SMS-taal te gebruik nie. As jy dalk ’n T-E-L-L-E-R is en jou spelvermoë wil verbeter, moet jy beslis nie huiwer om in te skryf nie. Jy sal nie net jou spelvaardighede kan slyp nie, maar ook kan meeding met die beste spellers daarbuite.
ATKV-DigiSpel gaan jou uitdaag, jou spelling opskerp en jy gaan boonop jouself gate uit geniet – als in die gemak van jou eie ruimte. Al wat jy nodig het, is toegang tot ’n rekenaar, tablet of slimfoon.
Loer hier vir al die inligting en sluitingsdatum: https://atkv.org.za/neem-deel/digiprojekte/digispel/
DigiGESEGDES
Is jy ’n voorslag met sêgoed? Is jy gekonfyt in Afrikaanse gesegdes, idiome, spreekwoorde en vergelykings? ATKV-DigiGesegdes gee jou die geleentheid om jou kennis van Afrikaans se beste sêgoed in ’n prettige speletjiesformaat ten toon te stel!
Hierdie nuwe projek is oop vir graad 4’s tot volwassenes en selfs bontpraters is welkom. Maak jou leeslitte los en laat jou idioomspiere bult met ATKV-DigiGesegdes!
Boonop hoef jy nie die trekpad aan te durf om deel te neem aan hierdie digitale kompetisie nie. Jy het, so waar as padda manel dra, net toegang tot ’n rekenaar, tablet of slimfoon en ’n internetverbinding nodig. Kry iewers jou sit en laat waai!
Loer hier vir al die inligting en sluitingsdatum: https://atkv.org.za/neem-deel/digiprojekte/digigesegdes/
DigiVOORDRAG
Is jy passievol oor gedigte en wil jy nog altyd groot skares met jou helder voordragstem beïndruk? Wat is dan mooier as Afrikaanse gedigte? Die ATKV wil vir jou die geleentheid gee om hierdie deel van ons taalerfenis te vier deur ATKV-DigiVoordrag.
ATKV-DigiVoordrag gee jou die platform en podium om van die prettigste en pragtigste Afrikaanse poësie met ’n waarderende gehoor te deel.
Dit maak nie saak hoe jou stem klink nie en jy hoef ook nie pennetjieregop met stywe klere op ’n verhoog te staan nie. Kies net jou mooiste Afrikaanse gedig wat jy lekker met gemak en selfvertroue kan voordra. Laat die mense skaterlag met ’n prettige, komiese gedig of laat hulle ’n traan pink met iets roerend.
Klim op ons digitale wêreldverhoog! Kry net jou slimfoon, rekenaar of tablet en skep jou eie ruimte met ’n goeie internetverbinding tuis of elders op die aardbol. Nou kan jy die mense wêreldwyd meevoer deur jou Afrikaanse gedig meesleurend voor te dra, op te neem en die video vir ons te stuur.
Loer hier vir al die inligting en sluitingsdatum: https://atkv.org.za/neem-deel/digiprojekte/digivoordrag/
DigiGEDIGTE
Wag daar diep in jou binneste ’n gedig wat jy net in jou geliefde moedertaal kan uitdruk? Woordkinders, gee jou poësie-pennevrugte vlerke deur in te skryf vir hierdie digitale kompetisie, ATKV-DigiGedigte.
Waar op die aardbol jy ook al jou gedigte skryf, iewers sal jou verse ’n Afrikaanse leser se hart warmer laat klop. Skryf maklik in deur jou gedig in PDF-formaat aan te stuur. As jy toegang het tot ’n internetverbinding en ’n slimfoon, rekenaar of tablet, kan jy inskryf.
Of jy hou van paarrym, omarmde rym of eerder met die vrye vers woeker, ATKV-DigiGedigte en die hele wêreld wag op jou digterlike vernuf!
Loer hier vir al die inligting en sluitingsdatum: https://atkv.org.za/neem-deel/digiprojekte/digigedigte/
Ons moedig graag al ons Jan van Riebeeckers aan om hierdie kreatiewe verrykingsgeleenthede aan te gryp!
Kontak gerus mnr. Rademeyer (pieter.rademeyer@janvanriebeeck.co.za) vir enige verdere navrae of hulp met hierdie projekte.