Dis ’n groot plesier om hierdie heerlike personeelresepteboek aan u bekend te stel – ’n versameling disse wat nie net uit ons kombuise kom nie, maar uit die harte van ons personeel.
Dié resepteboek is ’n kleurvolle mengsel van familietradisies, geheime bestanddele, jare se eksperimente, grappies, mislukkings en oorwinnings. Van me. Steyn se legendariese tuisgemaakte mosterd en muesli (dit is wat haar seker so jonk en energiek hou!), tot mnr. Faber se Sosatie-Skaaptjop-marinade, wat die sosaties blykbaar nóg beter laat proe as hy nie gedurig toesigroosters hoef uit te werk nie – hier is iets vir elke smaak en elke kombuis…
’n Baie groot dankie aan Marina Pienaar vir hierdie baie kreatiewe inisiatief! Ons personeel wys hiermee dat ons nie net ’n passie het vir onderrig nie, maar ook vir die eenvoud en vreugde van saam eet, saam kook en saam leef.
Mag hierdie boekie u nie net inspireer om nuwe geregte te probeer nie, maar ook herinner aan die besondere Jan van Riebeeck-gemeenskap.
Geniet dit, beproef als, lag lekker, mors ’n bietjie… en maak sommer baie lékker kos!