Hoërskool Jan van Riebeeck bied op Donderdag, 22 Mei 2025, ‘n Loopbaanaand aan vir alle Graad 11-leerders en hul ouers. Die bywoning van die aand is verpligtend en dit sal plaasvind van 18:00 tot 20:00 by die skool.
Ons nooi verskeie professionele persone van Kaapstad en omliggende areas uit om hul beroepe aan ons leerders en ouers bekend te stel. Elke aanbieder sal drie sessies van 20 minute elk aanbied gedurende die aand.
Daar sal dus drie sessies wees, waartydens elke leerder die geleentheid sal hê om na ten minste drie verskillende sprekers te luister, elk oor hul spesifieke loopbaanrigting en professionele ervaring.
Na elke aanbieding sal daar tyd wees vir ‘n kort vrae-en-antwoorde-geleentheid, waar leerders en ouers meer kan hoor oor spesifieke beroepe – soos watter opleiding of studies vereis word, hoe die persoon hul beroepspad gevind het, en wat die daaglikse realiteite van die werk behels.
Vanuit ‘n sielkundige perspektief is dit waardevol vir jong mense om eerstehandse ervarings van ander te hoor oor hoe hulle hul beroepspad gekies en gevorm het. Hierdie persoonlike stories bied dikwels waardevolle insigte, help om realistiese verwagtinge te vorm, en kan selfs nuwe loopbaanrigtings aan leerders bekendstel waaraan hulle nog nie gedink het nie. Die blootstelling aan verskillende beroepe en die mense agter dit help om verwarring te verminder en rigting te bring in die belangrike besluitnemingsproses oor verdere studie en beroepskeuses.
Meer praktiese inligting oor die verloop van die aand sal nader aan die tyd met ouers en leerders gedeel word.