Alle Graad 9-leerders van Hoërskool Jan van Riebeeck sal op Woensdag 28 Mei 2025 aan vakkeuse-assesserings deelneem. Hierdie assesserings vind gedurende skooltyd plaas en bywoning is verpligtend.

Die assesseringsproses bestaan onder andere uit ‘n kombinasie van kognitiewe vaardigheidstoetse, akademiese prestasie-data (soos hulle Graad 8 eindjaareksamen punte en hulle Graad 9 Junie-eksamen uitslae), sowel as ’n erkende beroepsbelangstellingsvraelys wat help om leerders se belangstellings aan moontlike studierigtings en beroepe te koppel. Dit alles word saamgevoeg in ’n holistiese beeld van elke leerder se sterkpunte, belangstellings en potensiaal.

Hierdie assesserings is spesifiek daarop gemik om Graad 9-leerders te help om vakke te kies wat die beste pas by hul kognitiewe vermoëns, akademiese belangstelling en langtermyn loopbaandoelwitte. Dit kan help om toekomstige onsekerheid en aanpassingsprobleme te verminder deur:

  • Die identifisering van vaksterkpunte en -uitdagings;
  • Die koppeling van vakke aan moontlike toekomstige studierigtings en beroepe;
  • En die ondersteuning van strategiese beplanning vir universiteitstoelating of beroepsopleiding ná skool.

Elke leerder se assesseringsdata sal geïntegreer word in ‘n omvattende, individuele verslag, wat beskikbaar sal wees voordat vakkeuses later in die jaar gemaak moet word.

Indien ouers graag hierdie verslag wil bekom, kan dit teen ‘n koste van R600 aanlyn betaal word. Die opsie sal via Karri beskikbaar wees, en ouers sal nader aan die tyd daaraan herinner word.

Waarom is hierdie assesserings belangrik?

Die keuse van vakke vir die senior fase van hoërskool is een van die belangrikste akademiese besluite wat ‘n leerder tot dusver moet neem. Vanuit ‘n sielkundige perspektief bied hierdie assessering nie net insig in akademiese vermoëns nie, maar help dit ook leerders om hulself beter te verstaan – wat belangrik is vir selfvertroue, motivering, en langtermyn sukses.

Deur vakke te kies wat sinvol gekoppel is aan ’n leerder se vermoëns én belangstellings, verhoog ons die kans op akademiese sukses en tevredenheid met hul keuses. Die assessering dien dus as ’n waardevolle hulpmiddel in die groter prentjie van beroepsoriëntering en loopbaanbeplanning.

0 Shares
X